TUISBLAD
JOU LEWE
ONDERWERPE
PUBLIKASIES
GIDSE
JOU REGERING
WERKGELEENTHEDE
Aangaande
Kontak
Hulp
Gevorderde Soektog
Tuisblad
Publikasies
Toesprake
Voorlegging van die Begroting van die Departement van die Premier
Voorlegging van die Begroting van die Departement van die Premier
Kollegas in die Kabinet
Agbare Leier van die Opposisie
Agbare Leiers van Politieke Partye
Agbare Lede
Waarnemende Direkteur-generaal, Departementshoofde, lede van die nuwe Senior Bestuurskorps
Hooggeplaaste gaste
Die mins dogmatiese denkers oor revolusie wat hierdie eeu opgelewer het, was Antonio Gramsci [...] Sy gebrek aan dogmatisme spruit uit 'n soort geduld. Hierdie geduld het absoluut niks te make met traagheid of selfgenoegsaamheid nie [...] Sy besondere geduld spruit uit 'n praktyksin wat nooit tot 'n einde kom nie. Hy het dinge van naby bekyk, en het soms rigting gegee aan die politieke stryd van sy tyd, maar hy het nooit vergeet wat die agtergrond was nie van die ontwikkelende drama waarvan die reikwydte oor onberekenbare eeue heen strek. Dit was miskien wat verhoed het dat Gramsci, soos baie revolusionêre, 'n millennialis geword het. Hy het geglo in hoop eerder as beloftes, en hoop is 'n lang storie.
Hierdie verstandigheid onderlê President Thabo Mbeki se stelling dat Suid-Afrika 'n Tydperk van Hoop betree het, en die Provinsie Wes-Kaap se hoop lê daarin dat ons staan op die drumpel van voorspoed. Hierdie hoop is nóg transendentaal nóg sentimenteel, maar is gegrond op geduld en eindelose menslike gebruike. Dit plaas elkeen van ons in 'n ontvouende menslike drama waarin ons sowel dogmatisme as selfgenoegsaamheid vermy.
Ons rol in die drama neem reeds vorm aan. Ons het die dringendheid van die saak reeds in 2002 besef toe die Desai-kommissie ons gewys het op die uitdaging: "In die loop van die Kommissie se werk het hy bewus geword van 'n omgewing waarin vrees en intrige algemeen was in die Administrasie ; Die Kommissie vertrou dat diegene in gesagsposisies die moed, deursettingsvermoë en visie sal hê om 'n veranderde kultuur in te stel en te kweek wat noodsaaklik is vir deursigtige en verantwoordbare bestuur."
Toe ek my eerste begrotingstoespraak vir die Departement van die Premier in 2004 gelewer het, het ons ons daarvoor beywer om te antwoord op die uitdaging om 'n moderne Afrikastaat te bou deur die filosofiese grondslag te lê van die staat as ontwikkelaar. Ons het besef dat om weg te beweeg van die soort staat waarteen die Desai-kommissie ons gewaarsku het, was om die staat te oriënteer ten opsigte van die bereiking van die doelwitte van die Nasionale Aksieprogram en die Millennium-ontwikkelingsdoelwitte vir ons Provinsie.
Ek het toe aan u voorgehou die bloudruk vir 'n staat wat in homself geïntegreer was, samewerkend in sy verhouding tot ander regeringsfere, simpatiek teenoor sy burgers en vennote, en met die res van die wêreld verbind met die oog op sy eie relevansie.
In my 2005-begrotingstoespraak vir die Departement van die Premier het ek gewaarsku dat die pad na 'n ontwikkelingstaat diepgaande transformasie sou vereis. Ek het 'n proses voorgestel waardeur die staatsentrum hergenieer sou word, en waarin daardie sentrum 'n stel vaardighede byeen sou bring saamgestel uit die beste mense binne en buite die Administrasie en wat in staat sou wees om leiding te gee, die beleidsagenda op te stel en die inwerkingstelling van die strategie te dryf.
Meneer die Speaker, in my derde Begrotingstoespraak as Premier kan ek aan hierdie Huis verslag doen dat ons albei stelle doelwitte bereik het, en dat ons nou gereed is om die volgende toneel te verduidelik in die ontplooiende drama van bouwerk en verwesenliking van die hoop waarvan Antonio Gramsci praat.
Ons in hierdie Provinsie staan nie alleen in hierdie ontplooiende drama nie. Ons is deel van 'n wêreldbesorgdheid wat hoop wil konsolideer deur 'n "gedeelde groei"-pad te omskryf - dit wat ons iKapa Elihlumayo noem - en deur maatskaplike kohesie te bou terwyl ons diversiteit koester - wat ons sien in ons visie van 'n Tuiste vir Almal.
Ek is onlangs uitgenooi na 'n vergadering van progressiewe wêreldleiers byeengeroep deur President Mbeki by geleentheid van die Spitsberaad oor Progressiewe Bestuur juis omdat dit waarmee ons in hierdie Provinsie besig is, weerklank vind by die hoop van die wêreld om die weg te vind na maatskaplike geregtigheid, ekonomiese billikheid en 'n manier van saambestaan in die aangesig van terrorisme, onverdraagsaamheid en marginalisering.
Eindelose menslike handeling, soos Gramsci aan sulke wêreldleiers sou verduidelik het, sou daarop aangedring het dat die pad na so 'n toekoms gegrond moet wees op analise, beplanning en strategie. Analise, beplanning en strategie trek van die globale na die plaaslike en lig in van die plaaslike na die globale.
PGOS: Die hoeksteen van voorspoed
In die konteks van Suid-Afrika word van ons provinsie verwag om 'n Provinsiale Groei- en Ontwikkelingstrategie (PGOS) te vorm uit die Nasionale Ruimtelikeontwikkelingsperspektief, en daarvolgens seker te maak dat die geïntegreerde ontwikkelingsplanne van alle plaaslike regerings daarmee ooreenstem. Dit verseker enersyds die samehang, terwyl dit ons andersyds in staat stel om tasbaar te werk aan die skepping van 'n beter lewe vir al ons mense.
Verlede jaar het Minister Mufamadi se departement riglyne gepubliseer oor wat 'n PGOS is. Daaruit blyk die volgende:
Die PGOS is gebaseer op 'n langtermynsiening van die provinsie se ontwikkelingsbaan. Uit die Nasionale Ruimtelikeontwikkelingsperspektief en die Mediumtermyn Strategiese Raamwerk, en binne 'n volhoubare ontwikkelingsparadigma, is die primêre doel met die PGOS om 'n samewerkende raamwerk te bied om implementering in die provinsie te dryf. Dit is nie 'n provinsialeregeringsplan nie, maar 'n ontwikkelingsraamwerk vir die hele provinsie.
Ons is op die punt om dit te finaliseer wat ons dink hierdie ontwikkelingsraamwerk vir die Wes-Kaap is. Dit sal die bestaansrede van my departement en van hierdie regering wees. Volgens die bekroonde beplanningsteoretikus, prof. Patsy Healey, sal dit die mees radikale en verreikende veranderinge teweegbring in die benadering wat ons aanvaar het. Volgens haar:
Aan die kern van die PGOS lê die paradigma van gedeelde groei en geïntegreerde ontwikkeling. Namate ons voortgaan om oor die volgende paar maande ons maatskaplike vennote en die burgery in die breë te betrek, glo ek dat ons in staat sal wees om hierdie ontwikkelingsparadigma hegemonies te maak, ook en veral omdat die saad daarvan reeds gesaai is deur die iKapa Elihlumayo-prosesse wat oor die afgelope paar jaar ontvou het, met inbegrip van die Spitsberaad oor Groei en Ontwikkeling van 2003.
Uit ons paradigma blyk dit dat gedeelde groei en geïntegreerde ontwikkeling net bereik kan word as vyf imperatiewe strategieë gekoppel is, in ewewig verkeer en verhef is tot die vlak van ontwikkelingsbeginsels. Hierdie imperatiewe is: i ekonomiese groei; ii maatskaplike gelykheid; iii omgewingsintegriteit; iv bemagtiging, en v ruimtelike integrasie.
Die PGOS gaan van die standpunt uit dat in die konteks van massiewe werkloosheid, perverse inkomste-ongelykhede, diepe maatskaplike verdeeldheid en die potensiële marginalisering van ons nasionale ekonomie uit die wêreldekonomie, ons prioriteit moet wees die bereiking van veel hoër groeitempo's as die afspringplek vir die aanpak van die vele taai uitdagings waarvoor ons te staan kom.
Hoër groeitempo's is op sigself nie genoeg nie; dit is die aard van groei wat van kritieke belang is. Ons moet seker maak dat hoër groeitempo's gekombineer word met groter maatskaplike gelykheid wat die armes en ekonomies utgeslote mense in staat sal stel om die middele te bekom om te kan deelneem aan die ekonomie en hul eie bronne van bemagtiging te bou saam met effektiewe beskerming van die natuurlikehulpbronbasis van die provinsie. In die laaste plek moet groei nie ruimtelike apartheid en ondoeltreffendheid vererger soos in die eerste dekade van vryheid nie. Dit moet die lewe geriefliker en meer bekostigbaar maak vir die meerderheid van ons mense wat desperaat is om toegang te verkry tot ekonomiese, maatskaplike en ekologiese geleenthede.
Die PGOS - iKapa Elihlumayo - verduidelik hoe ons Provinsie 'n gedeeldegroei- en geïntegreerdeontwikkelingspad sal kan bereik. Volgens die logika van akupunktuur sal dit 'n meer doelgerigte aksie, meer strategiese belegging, beter leierskap en groter doeltreffendheid en samewerking van die regering in die Wes-Kaap vereis.
Die PGOS is die verdere evolusie van wat alreeds aan hierdie Huis voorgelê is in die vorm van die agt iKapa Elihlumayo-strategieë: Ruimtelike Ontwikkeling, Maatskaplike Kapitaal, Menslike Kapitaal, die Mikro-ekonomie, Strategiese Infrastruktuur, en die drie Bestuurstrategieë. Hierop moet nou weer gefokus word sodat hulle beurtelings die praktiese doelstellings kan verwesenlik wat ek vroeër vanjaar in my Premiersrede uitgestip het as die Strydplan vir Gedeelde Groei.
Hulle is - om u geheue te verfris -
ekonomiese deelname;
infrastruktuur wat inskakel;
effektiewe openbare vervoer;
lewenskragtige gemeenskappe;
n kultuur van verdraagsaamheid, respek en betrokkenheid, en effektiewe bestuursinstellings.
Die wêreld- en nasionale doelwitte wat ons vir 2014 gestel het, vereis egter selfs groter vlakke van galvanisering en inspan van energie, hulpbronne en talente. Dit beteken derhalwe die onmiddellike nastrewing van vyf baanbrekende ingrepe waarvan almal van belang is vir enige groeipad - sommige waaraan al lank gewerk word en ander wat na vore gekom het as dringend vanweë krisisse wat ons in die gesig staar of 'n geleentheid wat hom voorgedoen het. Hier volg nou die vyf ingrepe waarmee die Kabinet geworstel het en wat dringende implementering vereis.
Openbare vervoer
Eers moet die krisis op die gebied van openbare vervoer getakel word wat 'n remskoen is vir die ekonomie, maatskaplike betrokkenheid, gemeenskapsveiligheid en omgewingsintegriteit. Ek glo dat as daar slegs een sukses is wat uit hierdie PGOS voortspruit, dit 'n ommekeer in die stand van openbare vervoer moet wees. Die verskillende planne om 'n geïntegreerde, multimodale, veilige en bekostigbare stelsel te vestig, moet nou in die praktyk tot uiting kom. Die Wêreldbeker daag ons uit om seker te maak dat die eerste elemente van hierdie stelsel voor 2010 in werking gestel word. Konkreet gesien het ons potensieel 'n belangrike mylpaal behaal met die vind van bykomende inkomstebronne om in vervoerinfrastruktuur te belê deur die voorwaardelike goedkeuring van die voorgestelde brandstofheffing vir die Wes-Kaap. Die Finansiële en Fiskale Kommissie het aangedui dat ons op die regte pad is met die aanvulling van ons inkomstebasis en ons uitvoerbaarheidsnavorsing is gesond. Dit is 'n reusedeurbraak na vier jaar. Ons steun natuurlik hul oproep op indringender raadpleging.
In die tweede plek moet geleenthede gemaksimaliseer word ten opsigte van die Wêreldbekergeleentheid in 2010 wat betref die groei in toerisme en verwante sektore van ons streekekonomie, die bevordering van gesonde lewenstylkeuses onder jongmense en die verlening van stukrag aan dringend nodige infrastruktuurbeleggings om die vloei van mense en goedere te verbeter. Hierdie strewe het opnuut stukrag gekry deur die ooreenkoms wat onlangs gesluit is tussen my en die Burgemeester dat die ontwikkeling van 'n spesialedoelvoertuig versnel moet word deur provinsiale wetgewing. Voorts het die nasionale vergadering wat ons bygewoon het van die Plaaslike Reëlingskomitee die besluit om die Wêreldbeker by 'n nuwe Groenpunt-stadion aan te bied, herbevestig. In die lig van hierdie bemoedigende ontwikkelings is ek daarvan oortuig dat die Wêreldbeker-opbou en -nalatenskap ons ontwikkelingsambisies vir die provinsie grootliks sal bevorder. Dis nou tyd dat almal van ons in die provinsie saamstaan in die verwesenliking van Wêreldbeker 2010 en seker maak dat ons inderdaad 'n byeenkoms aanbied wat die Wes-Kaap stewig in die oog van die wêreld sal vestig as 'n plek wat besigtig moet word. Die Kaapse sokkergemeenskap is reeds entoesiasties, gemeet aan die groot skares wat onlangs na Santos en Hanoverpark gaan kyk het. Selfs Vasco da Gama het die naweek 'n begeesterde wenvertoning gelewer teen Bushbucks.
Ons energievoorsiening
In die derde plek is die energiewaarskuwing wat ons onlangs in die Wes-Kaap gekry het, 'n potensiële bedreiging vir groter ekonomiese groei oor die mediumtermyn. Groter beleggings in energie skep ook die geleentheid om 'n meer gediversifiseerde portefeulje van energietegnologie na te streef wat die Wes-Kaap in staat kan stel om die grootte van sy omgewingsindustrieë uit te brei. In dié opsig word groot vordering gemaak deurdat die beplande investering deur Eskom versnel is. Die twee oopsiklusgasturbines word tans in Atlantis en Mosselbaai gebou, en behoort binne 'n jaar gereed te wees. Uitvoerbaarheidswerk aan 'n tweede basisaanleg is so te sê gefinaliseer en sal lei tot groot beleggingsbesluite wat oor die tydperk 2007-2010 uitgevoer sal word. Laasgenoemde inisiatief lei die debat in hierdie provinsie in oor die energiebron vir sodanige basisstasie. Die vervoer van steenkool is duur en die gasvoorraad is nog nie betroubaar nie. Die kernenergiedebat is een waaraan almal van ons moet deelneem.
Vaardigheidsontwikkeling
In die vierde plek het die regstelling van die ernstige vaardigheidswanbalans tussen wat die streekekonomie nodig het en wat uit die onderwysstelsel op die arbeidsmark kom, die vernaamste kwelpunt in ons samelewing en ekonomie geword wat ongelykheid aanblaas. Hierdie kwessie begin tans prioriteitsaandag ontvang en ons provinsie gee die toon aan met die R70 miljoen-herkapitalisasie van ons VOO-kolleges wat onderstut word deur 'n R25 miljoen-leningskema. Die totstandbrenging van fokusskole wat werk aan die verskeidenheid van vaardigheidsbehoeftes in die provinsie is eweneens baanbrekend. Net verlede week was daar die opening van 'n Ingenieursfokusskool in Mitchells-plein, en die beplanning van inrigtings vir kontemporêre musiek dui duidelik daarop dat die Wes-Kaap sterk na vore kom as 'n kreatiwiteitsentrum in die land.
Laastens moet die Wes-Kaap se VGGISA-projek - die Hernuwingsprogram vir die Kaapse Vlakte - tot wasdom kom aangesien die hele land hom skaar agter hierdie buitengewone ingreep om groei te verskerp, primêr deur infrastruktuurgedrewe programme. In die lig daarvan dat hierdie ingreep ruimtelik saamval waar die meeste arm mense in die provinsie woon, is dit ook gepas dat dit deel vorm van die hoogste prioriteite van die PGOS.
Ons konsep-PGOS sal aanstaande maand oopgestel word vir openbare deelname. Dit is ten volle in ooreenstemming met die volgende sentiment in die PGOS-riglyne:
Die PGOS is die kern-rigmeganisme vir die provinsie en dit behoort beskou te word as die koördinerings- en implementeringstrategie. Terwyl dit gedryf word deur die provinsie en bepleit word deur die Premier, moet dit geskied op die basis van 'n gesamentlike poging wat al die partye na die vergadertafel bring.
Waar ons in ons provinsie gevorder het in die rigting van 'n PGOS, wil ek nou aandag skenk aan die implementeringsmeganismes wat ons tot stand sal moet bring en heroorweeg om ons ontwikkelingstrategie vir die Provinsie toe te pas.
Implementeringsraamwerke en institusionele meganismes
Die PGOS handel fundamenteel oor koördinering, inlynbrenging en integrasie tussen provinsialeregeringsdepartemente, tussen regeringsfere in verskillende staatsliggame en tussen die regering en sy sosiale vennote.
Verbeterde kabinetstelsel:
Dit sal net werk met 'n sterk beleidsentrum in die hart van die regering. Daarvoor is 'n meer gefokusde Kabinet nodig wat die strategie-agenda van iKapa Elihlumayo sistematies kan dryf, aangesien dit oorvloei in die prioriteite en aksies van alle rolspelers in die provinsie. In dié verband het ons die nuwe, meer strategies gefokusde kabinetstelsel ingestel wat gerig is op 'n implementeringsgeörienteerde en riglyngefokusde benadering.
n Beleidsentrum in die regering:
Die nuwe kabinetstelsel word onderlê deur 'n veel meer samehangende beleidsentrum in die regering. Die hergeniëringsproses van my departement het tot gevolg gehad die daarstelling van 'n formidabele beleidspan aan die sentrum van die regering. In sy totstandkoming en operasionalisering sal die nuwe beleidsenusentrum in my departement hand aan hand werk met die ekonomiese en begrotingsbeleidsanaliseervermoë in die Provinsiale Tesourie en die span munisipale analiste in die Departement van Behuising en Plaaslike Regering. Die drie entiteite het reeds geleer om saam te werk, en grond hul ontwikkelingsvaardighede op die PGOS.
Interowerheidbetrekkinge:
Ons kabinetstelsel en die beleidsvermoë is bepaal met die oog op wat oor die afgelope jaar 'n aansienlike omwenteling teweeggebring het in interowerheidsbetrekkinge en beplanning in Suid-Afrika, en gekonsolideer is deur die Wet op Interowerheidsbetrekkinge van 2005. Kragtens dié wet het die President se Koördinerende Raad die hoogste forum vir die dryf van 'n gerigte agenda van dienslewering oor die verskillende regeringsfere geword. Die agenda van die President se Koördinerende Raad is die prioriteite wat in die Mediumtermyn Strategiese Raamwerk en die Nasionale Ruimtelike Ontwikkelingsperspektief uitgespel is, en wat grootliks die inhoud weerspieël van die Nasionale Aksieprogram. Daar word aanvaar dat alle provinsies en munisipaliteite die implikasies van die Nasionale Aksieprogram in hul onderskeie ontwikkelingsagendas (PGOS en GOP's) moet weerspieël. Ek is deur die Wet op Interowerheidsbetrekkinge verplig om die Premier se Koördineringsforum aan te wend om sodanige inlynbrenging presies te verseker.
In die volgende jaar sal ons dus sien dat veel groter klem geplaas word op sterk en sinvolle interowerheidsbeplanning en betrokkenheid in die provinsie gegrond op die Nasionale Ruimtelikeontwikkelingsperspektief en die PGOS. In die lig van die politieke broosheid in talle munisipaliteite in die provinsie is ek vasbeslote om die instrumente van die Wet op Interowerheidsbetrekkinge aan te wend om kalmte en stabiliteit te bewerkstellig en te verseker dat gefokus word op dienslewering sodat ons almal doelgerig kan werk in die rigting van die strategiese doelwitte van die PGOS, iKapa Elihlumayo. Net omdat ons plaaslike regerings het wat bestuur word deur koalisies, met die voortdurende moontlikheid van verandering na gelang van die wisseling van koalisies, beteken dit nie dat die publiek benadeel mag word vanweë ondoeltreffendheid, swak dienslewering of waagpolitiek nie.
Die Premier se Koördineringsforum sal sorg vir die koördinering van die aktiwiteite van die regering, nasionale departemente, staatsondernemings en eendoelagentskappe wat werksaam is in die provinsie, om betrokke te raak by die unieke streekdinamika van die Wes-Kaap sodat dit paslik weerspieël en geakkommodeer word in nasionale beleidsraamwerke, programme, projekte en befondsingsprotokolle, asook die kumulatiewe impak van ontwikkeling in die Wes-Kaap moniteer, namate ons vorder met versnelde dienslewering.
Drie nuwe beplanningstreke:
Die Provinsiale Ruimtelikeontwikkelingsraamwerk het ons verlede jaar gewaarsku oor die geografiese wyse waarop ons bevolkings beweeg, die ekonomiese geleenthede waarop gekonsentreer word en die impak daarvan op die natuurlikehulpbronbasis van die provinsie. Indien hierdie faktore sleuteldrywers moet wees vir die implementering van die PGOS, mag politieke grense dalk nie die nuttigste manier wees waarop ontwikkelingsbeplanning vir gedeelde groei gegrond moet word nie. Gedeelde groei en geïntegreerde ontwikkeling sal 'n geografiese logika hê wat verder sal strek as die politieke grense van munisipaliteite.
Wat in dié stadium na vore kom, is drie ontwikkelingsbeplanningstreke. Die Premier se Koördineringsforum sal binnekort die formalisering van hierdie streke moet bespreek om toepaslike groei en ontwikkeling te fasiliteer met die oog op beter koördinering en die meer intelligente bestuur van uitgawes en investering.
Die Kaapstadse Funksionele Streek, met inbegrip van Saldanha, Paarl, Worcester, Stellenbosch en dele van die Overberg, as ons sy toekoms saam sal beplan, sal van die produktiefste industriële hulpbronne van die provinsie aanwend en homself konsolideer as ons ekonomiese stukrag. Uit hierdie gebied kom alreeds 85% van die algemene waarde wat tot die provinsiale ekonomie toegevoeg word.
Die Suid-Kaapse bewoonde strook van Plettenbergbaai tot by Mosselbaai toon merkwaardige groeipotensiaal wat gekoördineerde beplanning en doelmatige en gereelde investering vereis.
Die res van die Provinsie - die Kaapse Hinterland - moet effektief versterk word op landbougebied. Beplanning is nodig om sy burgers te bemagtig met maatskaplike ingrepe en die ontwikkeling van hul menslike vermoëns.
Ons wil vandag hierdie debat moedig wyer oopstel sodat ons die toekoms van al ons mense kan verseker en sodat die vinnigste manier gevind kan word om groei- en ontwikkelingsdoelwitte te bereik.
Vennootskappe: Die hefboomeffek van investering
Ons Provinsie het die afgelope twee jaar 'n bestendige groeitempo van 5,3% getoon en was in staat om betekenisvolle beleggings te lok. Die jongste aankondiging deur MAN Ferrostaal van R1,7 biljoen oor vyf jaar vir 'n olieboordiensfasiliteit in die Kaapstadse hawe en 'n fabrieksaanleg by Saldanha is bloot 'n aanduiding van ons potensiaal in die Provinsie.
Dit beteken dat ons nouer sal moet saamwerk met die sakegemeenskap, maar nie net in die Provinsie nie. Die Wes-Kaap staar toenemende mededinging in die gesig met produkte wat ons tradisioneel uitgevoer het en ons ervaar kwaai uitdagings van lande soos Nieu-Seeland (in die filmbedryf) en Indië (op die gebied van besigheidsprosesuitbesteding). Die goedgesindheid teenoor ons is egter so groot dat belangrike wêreld-, nasionale en plaaslike sakeleiers gretig is om ons van raad te dien. Sodanige adviespaneel sal teen die einde van die jaar byeengeroep word as 'n platform vanwaar ons ons ekonomiese prestasie kan verbeter en ons groeidoelwitte kan bereik.
Een van die duidelike vergelykende voordele van die Wes-Kaap is dat hier vier universiteite gesetel is, terwyl Unisa ook 'n groot rol vervul. Ons het egter lank getalm om hierdie hulpbron van onskatbare waarde in te span. Ons het laat verlede jaar samesprekinge gevoer met al die Visekanseliers om te probeer vasstel hoe ons mekaar van hulp kan wees tot onderlinge voordeel. Sedertdien was daar by verskeie geleenthede noue skakeling met die Kaapse Hoëronderwyskonsortium (KHOK), wat die universiteite verteenwoordig, om te werk in die rigting van 'n Gesamentlike Aksieprogram met die oog op Gedeelde Groei in die provinsie. Hierdie werk sal kulmineer in 'n spitsberaad tussen die Provinsiale Regering en die betrokke hoëronderwysinrigtings later vanjaar. By die spitsberaad sal ons 'n samewerkingsooreenkoms aanvaar wat dit makliker sal maak om die prioriteite van die universiteite en ons skaarsvaardigheidstrategieë in lyn te bring met die oog op die bereiking van ons Ikapa Elihlumayo-doelwitte.
Vennootskappe: Die Provinsiale Ontwikkelingsraad
Strategiese vennootskappe met sleutelinvesteerders en die universiteite komplementeer die geïnstitusionaliseerde, vennootskapgebaseerde, maatskaplikedialoogvennote in die Provinsiale Ontwikkelingsraad. Gedurende 2006 sal ons ons skakeling rig op die PGOS. Hierdie proses behels uitgebreide skakeling met alle segmente van die samelewing sodat ons 'n lewenskragtige demokratiese grondslag kan lê vir konsensus oor en die implementering van ons gedeeldegroei- en geïntegreerdeontwikkelingsagenda. Die prioriteite en moniteringsaanwysers van die PGOS sal ook die werk van die Provinsiale Ontwikkelingsraad bevorder omdat skakeling gegrond sal wees op begrotingsprioriteite en departementele optrede.
Al ons doelwitte, strategieë en vennootskappe sal op niks uitloop nie tensy ons die vermoë van die Staat aanspreek. Ons het van die eerste dag van my ampstermyn aan hierdie uitdaging begin werk op 'n radikale en stelselmatige wyse. Ek is uiteindelik in staat om aan te kondig dat aansienlike vordering op dié gebied gemaak is.
Op 1 April 2006 het die nuwe, ten volle hergenieerde Departement van die Premier werklikheid geword. Van toe af het die nuwe, verteenwoordigende en uitstekend gekwalifiseerde leiers in die Departement met hul werk begin. Meer as twee derdes van die nuwe SBD het nagraadse kwalifikasies, wat 'n aanduiding gee van die diverse en diep vaardigheidsgrondslag wat ons graag wou betrek. Saam beskik hulle oor vele jare se ervaring in sowel die openbare as die private sektor. Hul kundigheid beslaan gebiede soos personeel, finansies, die reg en IT-bestuur, maar ook vaardighede verwant aan beleidsontwikkeling, -toepassing en -hersiening.
Hulle sal aan die regering die vermoë verleen om beleidsake volledig in samehang en in lyn met mekaar te sien deur die lens van die PGOS. Hulle sal leiding gee in 'n reeks menslike- en maatskaplikekapitaalingrepe ten opsigte van die vaardigheids-, oriënterings-, gedrags- en bestuursvermoëns van die Administrasie om seker te maak dat die Gedeeldegroei-agenda effektief toegepas word.
Die nuwe SBD is ook breedweg verteenwoordigend van die provinsiale demografie van die arbeidsmag in die Wes-Kaap. Ons het nou 46 van die 53 poste gevul. Van die 46 is 31% swartmense, 45% kleurlinge en 24% blankes. In die 46 poste het ons die verteenwoordiging van vroue verbeter van 9% in 2004 tot 33% tot dusver. Waar ons dringend moet optree oor die hele regering heen, is in die verteenwoordigendheid van mense wat gestrem is. Hierdie demografiese syfers verteenwoordig 'n totale breuk met die skewe en uitsluitende patrone wat ek twee jaar gelede geërf het, veral waar ons slegs 'n enkele swart persoon in die SBD gehad het. Wat die oorblywende aanstellings betref, sal ons probeer om selfs verder te verbeter op die verteenwoordiging van veral kleurlinge en vroue sonder om oordrewe meganies te wees.
Ten slotte
Mnr. die Speaker, in die kern van hierdie derde begrotingstoespraak van my as Premier staan die PGOS waardeur gedeelde voorspoed vir die Wes-Kaap in toenemende mate werklikheid kan word. Dit word al meer moontlik omdat ons reeds die harde werk van diepgaande institusionele transformasie in hierdie Provinsie aangepak het.
Waar ons vandag hier praat, is ons deeglik bewus van die dringendheid van wat ons nog oor die hele provinsie moet doen. Die lewens van talle word nog steeds oorheers deur armoede, werkloosheid, geweld en siektes wat daarmee saamhang. Daar is daagliks 'n stryd tussen gewone burgers en hul instrumente soos die polisie aan die een kant, en magte wat glo dat die toestande van armoede hulle die reg gee om hulle wetteloos en onordelik te gedra. Ek verwys hier na bendelede en dwelmbase, maar ook na diegene wat aanvanklik ons simpatie gehad het omdat hulle gevaarlike werk doen om ons te beskerm teen 'n baie klein vergoeding. In die loop van 'n wettige staking met legitieme doelwitte het hulle hul egter gedra op 'n manier wat ons laat wonder of hulle vertrou kan word met die bewaking van wat ons beskou as kosbaar in ons provinsie. Ek twyfel nie daaraan nie dat ons onder die leiding van die polisie sal kan voortgaan om ons leiers, ons burgers, ons pendelaars en ons voorspoed te beskerm teen enige onwettige optrede.
Meneer die Speaker, die afgelope tyd is ons visie van hierdie Provinsie as 'n Tuiste vir Almal ernstig onder druk geplaas. Die aanloop na die plaaslikeregeringsverkiesings het 'n ommekeer gebring in die rasseharmonie en maatskaplike eenheid wat ons graag wou bou. Die uitslae van die verkiesings en die bestaan van onstabiele koalisies het van die swaargewonne stabiliteit wat in die provinsie bewerkstellig is, begin bedreig. Wat belangrik is, is dat ons 'n gees van polarisasie, uitsluiting en verdeling in die Wes-Kaap sien.
Beteken dit nou dat die visie van 'n Tuiste vir Almal misluk het en onuitvoerbaar is? Toe Opperhoof Albert Luthuli die eerste keer hierdie visie in woorde gestel het, het dit gelei tot drie dekades van absolute staatsbrutaliteit. In die gees van die verstandigheid van Gramsci dat hoop langdurig van aard is, moet ons eenvoudig meer vasberade wees en harder werk om die visie van 'n Tuiste vir Almal te verwesenlik.
Die jaar 2006 gee ons twee betekenisvolle geleenthede om stukrag te gee aan ons visie van 'n Tuiste vir Almal. Saam met die res van die land sal ons in Junie die moed en opoffering gedenk wat gemaak is deur jongmense in 1976. Die Wes-Kaapse Jeugkommissie beplan saam met regerings- en jeugorganisasies 'n maand van aktiwiteite om die verlede te gedenk en die grondslag te lê vir eenheid vir die toekoms.
Net so sal ons die optog vyftig jaar gelede van vroue na die Uniegebou herdenk, waarmee hulle hul ontevredenheid met apartheid, as vroue, te kenne gegee het, terwyl hulle, vir ewig, ten volle aangedring het op hul reg om gelyke burgers te wees wat volledig by ons samelewing ingeskakel is.
In albei hierdie vieringe is die Provinsiale Regeringsdepartemente hard aan die werk om konkreet dienste te lewer aan jongmense en vroue wat ek onderneem het as deel van ons Siyabulela-veldtog. Ek doen nou 'n beroep op hierdie Huis en die burgers en organisasies van hierdie Provinsie om mense te benoem - hetsy reeds oorlede of nog in lewe - uit die geledere van jongmense en vroue wat na hul mening die hoogste eerbewys wat die Wes-Kaap aan sy burgers kan toeken, waardig sal wees, sodat ons hulle as voorbeelde kan neem en vereer as simbole van ons vryheid en eenheid, en die argitekte van ons Tuiste vir Almal.
TOESPRAAK-ARGIEF
Die inhoud van hierdie bladsy is laas op 27 Mei 2006 hersien
Onbekende staatstaal of akroniem? Kyk in die WOORDELYS.
Gebruiksvoorwaardes
Privaatheidsbeleid
Kopiereg
Cape Gateway is 'n diens wat die regering hoofsaaklik aan die burgers van die Wes-Kaap bied deur die voorsiening van inligting oor plaaslike, provinsiale en nasionale regering
