Plaaswerker van die Jaar Kompetisie
Plaaswerker van die Jaar Kompetisie
Geagte seremoniemeester, alle hooggeplaastes, dames en here,
Soos altyd is dit vir my wonderlik om hier saam met u te kan wees. Die enigste probleem is dat ek vyf uur vanmiddag by die premier moet wees, so ek sal ongelukkig nie van u volle gasvryheid gebruik kan maak nie.
Laat my onmiddelik toe om u geluk te wens met hierdie byeenkoms wat die hoogtepunt is van u jaarlikse plaaswerker van die jaar kompetisie en ook 'n datum op die Landboukalender wat 'n mens nie sommer moet mis nie.
Baie dankie aan die HTA vir die vergesig wat u gehad het om reeds in 2002 met hierdie kompetisie te begin om erkenning te gee aan die waardevolle en belangrike bydrae wat die plaaswerker tot die volhoubaarheid en groei van die landbou lewer.
Baie dankie ook aan Sanlam wat aktief betrokke is. Ek verstaan dat dit die vyfde kompetisie is wat Sanlam borg teen die baie mooi bedrag van R30 000 per kompetisie.
Die Departement Landbou in die Wes-Kaap is so oortuig van die positiewe impak wat die kompetisie het, dat ons ook hierdie jaar R20 000 bydra tot die kompetisie.
Dit is verblydend om te sien dat die kompetisie gegroei het van die 36 inskrywings vanaf 6 plase in 2002 tot 97 inskrywings van van 42 plase vanjaar. As ons in ag neem dat daar reeds ander streke is wat vantevore hier deelgeneem het en nou hulle eie kompetisies hou, het die kompetisie gekom om te groei tot iets veel groter as die gedagte wat u hier plaaslik gehad het.
Ek was gisteraand by 'n vergadering van die Kwaggaskloof landbouvereniging by Brandvlei kelder, en die kommentaar oor die ontwikkeling van hulle eie soortgelyke kompetisie was duidelik: "Laat julle werkers aan die kompetisie deelneem, want dit het so 'n geweldige positiewe invloed op die deelnemers, dat hulle outomaties optree as motiveerders van hulle mede plaaswerkers. Moenie bang wees dat jy jou goeie werkers gaan verloor nie, dink eerder aan die goei invloed wat hulle kan uitoefen". Die eerste kompetisie in die Breëriviervallei het 27 inskrywings van 15 plase af gehad. Die wonderlike was, dat daar 5 vroue deelnemers in die kompetisie was.
Voorsitter die afgelope tyd was daar groot reaksie in die media oor 'n uitlating wat ek gemaak het oor beweerde afsettings van plaaswerkers van plase af. Ek wil dit nie nou weer oopkrap nie. Wat van belang is, is dat ek en Georganiseerde Landbou met mekaar ontmoet het en dat daar besluit is dat ons saam daaraan sal werk om na die toename in klagtes te kyk en 'n strategie sal uitwerk om beide boere en plaaswerkers van hulle regte bewus te maak. Ons het saamgestem dat ons nie kan toelaat dat 'n paar vrot appels aan Landbou 'n slegte naam gee nie. U weet wat my standpunt is, naamlik dat boere nie sonder plaaswerkers kan klaarkom nie, maar dat die plaaswerker net soveel die boer nodig het.
Dit het tyd geword dat, veral die onverantwoordelikes in die media moet besef dat hulle vir hulle 'n ander sektor moet gaan soek om sensasie te wek. Vir ons in Landbou is die vehouding tussen werkgewer en werknemer van kardinale belang en ons sal jaloers daaroor waak.
Voorsitter daar kan met reg gevra word hoe belangrik is die plaaswerker vir die Regering van die Wes-Kaap en, meer spesifiek dan, vir die Departement van Landbou in die Wes-Kaap. Om vir u aan te dui, haal ek graag vir u aan uit die my toespraak tydens die Landbou begrotingsdebat. Ek het die volgende gesê en ek haal aan:
Soos u bewus is, staan Landbou ook nou "pa" vir die omstandighede van die plaaswerkers van hierdie Provinsie. Verskeie provinsiale en streeksindaba's is gehou om 'n stem aan die plaaswerkers te gee en vanjaar se begroting van sowat R7 miljoen sal aangewend word om hul bekommernisse deur middel van projekte aan te spreek. Op hierdie manier verseker ons ook dat die Wes-Kaap 'n tuiste vir die meer as 220 000 plaaswerkers en hul families is. Ek wil van hierdie geleentheid gebruik maak om ander rolspelers soos Gesondheid, Onderwys en Maatskaplike Dienste uit te daag om na die tafel te kom met inisiatief en vasberadenheid om hierdie groep, wat vir so lank aan die agterste speen gesuig het, op te lig en volwaardig deel te maak van die Wes-Kaap tuiste".
Voorsitter dit is by baie van u bekend dat die belangrikheid van die welstand van die paaswerker en sy gesin vir my, my genoop het om te vra dat ons as 'n vertrekpunt 'n plaaswerker indaba sal hou en daarna nog 5 streeks konferensies, waartydens ons met plaaswerkers en alle ander rolspelers 'n oop en eerlike gesprek sou voer. Dit het plaasgevind en daarna is daar 'n verslag opgestel wat onlangs voor die kabinet gedien het.
Ons sê onder andere in die verslag dat die plaaswerkergemeenskap, 'n spesifieke sektor van die landelike gemeenskap, deur die jare heen gemanipuleer, benadeel en teen gediskrimineer is. Die negatiewe gevolg is dat die plaaswerkergemeenskap nie net fisies (materieel) verkneg is nie, maar ook psigies (geestelik). Hierdie realiteit is ook bevestig deur die navorsingsbevindinge, soos uitgebring in 'n verslag deur die Departement van Arbeid in samewerking met die onderskeie Landbou-unies, Agri SA, die Universiteit van Stellenbosch en die Centre for Rural Studies in Stellenbosch.
Met plaaswerkeraangeleenthede as een van die hoofprioriteite, het die Department Landbou: Wes-Kaap nou verskeie aksies geloods. Die eerste was die vestiging van 'n Subprogram: plaaswerkerontwikkeling met die spesifieke doel om dienste, veral sosiaal-ekonomies dienste, wat aan die plaaswerkergemeenskap verskaf moet word, effektief te koördineer.
Ten einde die nuutgestigte subprogram in staat te stel om effektiewe uitvoering aan sy koördineringsfunksie te gee, is die behoefte deur die betrokkenes uitgespreek dat 'n proses van strategiese besinning, wat sal uitloop op 'n Strategiese Plan met duidelike doelwitte en aksieplanne, prioriteit sal geniet. Hiermee sal die effektiewe uitrol van die planne verseker word.
Ons wil hê dat die proses waarin ons die kwaliteit van lewe van plaasweker wil verbeter een sal wees van MET MENSE, VIR MENSE. Met ander woorde, diegene vir wie daar beplan word, dit is u, is vanaf die begin en sal tot die einde deel van die beplanningsproses wees. Op hierdie manier wil ons sorg dat almal mede-eienaarskap van die Plan neem, wat weer die suksesvolle uitvoer daarvan sal verseker.
In lyn met die gees en doelwitte van die groter Suid-Afrikaanse strewe, en spesifiek dié van die Wes-Kaapse premier, premier Ebrahim Rasool, word met hierdie proses beoog om die plaaswerkergemeenskap te ondersteun om beheer oor julle eie lewens en toekoms te neem sodat julle as demokratiese agente die Wes-Kaap kan help omskep in 'n tuiste ook vir die plaaswerkergemeenskap. Die proses en plan moet gedryf word deur die basis waarop Ikapa Elihlumayo gebou is, naamlik waardigheid, billikheid, en welvaart.
Dit is kompetisies soos hierdie, wat meehelp om aan ons mense 'n boodskap oor te dra dat hulle 'n integrale deel is van Landbou en dat die bydrae wat die plaaswerker lewer nie ongesiens verbygaan nie.
Baie dankie nogmaals en baie geluk aan die wenners. Mag dit die begin wees van nog groter dinge vir julle binne die tuiste vir almal.
Ek handig met trots hierdie tjek aan julle oor.
