Baie dankie vir die geleentheid om die aand met u te deel. Dit is altyd lekker om ons kinders te sien toneel speel en die gehoor te vermaak.
Die eerste keer toe ek die skool besoek het, het die leiers van die Leerling Raad my meegedeel hul tema vir vanjaar is, "shifting horizons". Ek het vir hulle gevra: "Wat bedoel julle daarmee?".
Ek kan nie hul presiese antwoord onthou nie, maar ek weet dit was iets tot die effek dat hulle buitekant hul gemak-sone wil uitbrei. Dit het my baie beindruk. So, vir die ouers wil ek sê, julle het baie om op te trots te wees, jul kinders is wonderlik.
Die feit dat u kinders ingestem het om te help met die transformasie van ons onderwys stelsel, is 'n wonderlike gebaar. Die skool se hoof, leerling leierskap en skoolbeheerraad het ingestem om 'n ekstra sowat 60 leerders van minder bevoorregte gemeenskappe te huisves weens akkommodasie probleme wat ons elders ondervind.
Ek weet die ouers van die kinders wie aanvanklik om plekke aansoek gedoen he, het aangedui dat hul kinders reeds tuis is by die skole waar hulle is, so ek is dankbaar daarvoor dat die probleem opgelos is. Die feit dat almal van julle egter bereid was om die toegewing te maak, is 'n duidelike bewys dat julle bereid is om jul tema in die praktyk uit te leef.
Ons as 'n Regering se sentrale filosofie in ons werk, is Transformasie. Baie mense het 'n wanopvatting van wat die filosofie "Transformasie" beteken. Eintlik is dit niks anders nie as om ons horisonne te verskuif - "Shifting Horizons".
Toe die nuwe Wes-Kaapse Regering verlede jaar ingesweer was, het die Premier ons visie vir die provinsie baie duidelik uitgespel, en dit is om die Provinsie te Bou as 'n Tuiste vir Almal.
Die manier hoe ons by die visie wil arriveer, is met ons Ekonomiese Ontwikkelingsplan wat ons noem Ikapa Elihlumayo - om die Kaap te Groei en te Deel. En hierdie skool het 'n geweldige belangrike bydrae om te maak om die Kaap te Groei as 'n Tuiste vir Almal.
U weet, een van die grootste kwessies op die oomblik wat baie mense bespreek, is moedertaal onderrig. Daar is 'n persepsie dat die Regering 'n oorlog teen Afrikaans verklaar het.
Daar skyn 'n persepsie te wees dat ouers se soeke na onderrig vir hul kinders 'n bedreiging vir Afrikaans en die kultuur wat daarmee gepaard gaan, is. Daar is ook 'n persepsie by sommige skoolgemeenskappe dat sekere skole, wat eintlik staatbeheerde openbare skole is, net vir sekere kinders bedoel is.
Die Kaapse Hooggeregshof het onlangs in die guns van die Laerskool Mikro se Skoolbeheerraad beslis, toe dié skool 'n opdrag van die Wes-Kaapse Onderwys Departement teengestaan het om 'n klas met engelse kinders te akkommodeer. Ek is seker die beslissing het ál daardie persepsies versterk.
Laat ek vanaand vir een en elke ouer die versekering gee dat dit nie die geval is nie. Die beslissing van die hof, na my mening, bevorder geensins die saak van Afrikaans nie. Ons as Regering het 'n plig om in alle kinders se belange te voorsien.
Indien 'n aantal Afrikaans sprekende ouers my more sou nader om in hul behoeftes te voorsien in 'n oorwegend engelse woonbuurt, sal ek verplig wees om hul naaste skool te vra om dit te doen.
Daarom verskil ons met die uitspraak van die hof, en gaan ons ons tot die Appelhof wend. Dit is van nasionale belang en in die belang van miljoene ander kinders dat hierdie kwessie opgeklaar word, want dit het 'n geweldige impak op die Regering se grondwetlike plig om toegang tot onderwys vir al ons kinders te verseker.
Ons beskou die Kaapse Hooggeregshof se uitspraak dus as 'n tydelike terugslag in ons strewe om 'n leer tuiste vir alle kinders te skep.
Die antieke Grieke het nege Muses gehad, elkeen met 'n spesifieke spesialiteit. Elke area van kuns, wetenskap en algemene studie is deur hulle geinspireer en beskerm.
Dit word vertel dat Euterpe, een van die nege wat verantwoordelik was vir musiek, die gunsteling Muse onder baie Grieke was. Dit is ook van haar wat ons woorde soos "eufories" kry, omdat dit die gevoel is wat haar spesifieke kunsvorm laat opwel het.
Selfs die woord "musiek" het direk sy ontstaan uit die Muses, aangesien musiek, soos die ander Muses, die bron van groot inspirasie, krag en emosies is.
Daar bestaan rotstekeninge in Frankryk wat terug dateer na 13,500 Voor Christus waar primitiewe musiekinstrumente gebruik word om die vyand mee te bedwelm en tot 'n val te bring.
Uit hirogliewe in Egipte, weet ons dat die Egiptenare reeds 6,000 Voor Christus, agtergrondmusiek in hulle tempels gehad het om die Faros van te vermaak en die Gode te vereer. Daar word ook herhaalde kere in die Ou Testament verwys na die kalmerende invloed van musiek op Koning Salomo.
Wanneer dit by die skep van musiek kom, is die wêreld al vir baie jare uitgesproke en erg verdeeld. Musiekstyle raak meer en meer gevariëerd en die uitvoering daarvan nog meer so.
Daar word gesê dat die voordeel van luister na Bob Dylan op jou Walkman, is dat jy nie kan hoor as die batterye pap word nie, want dit klink dieselfde! En dat as Yoko Ono se invloed op popmusiek 'n boksgeveg was, hulle dit reeds in die eerste rondte sou stop!
Die werklik wonderlike ding van musiek, is hoe dit ons lewens binnegedring het en nou 'n totaal onmisbare deel daarvan geword het. Probeer een dag lank geen musiek luister nie. Dis onmoontlik, want dis oral om jou, sonder dat jy dit agterkom.
Musiek vorm en beïnvloed ons lewens drasties en doen dit daagliks. Dit spreek tot ons liggaam en siel. In die boek "The Mozart Effect" word wetenskaplike bewys gelewer hoe musiek ons brein kan stimuleer en help om beter te konsentreer en leer.
Dit kan ook help om die liggaam te help genees en siektes te voorkom. Dit mag wel soos goeëlary klink, maar die wat hulle met musiek ophou, is werklik besig met die dinge van die gode.
En as jy dink die storie raak nou te esoteries en die bewerings te vergesog, dink gerus maar aan die sukses van die wonderlike skool wat julle hier het, met al sy prestasies deur die jare. Dit is 'n sprekende bewys van wat musiek in die praktyk, onder jong, talentvolle mense kan doen.
Nie net het DFM vir jare lank elke jaar al wat koortrofee is, ingepalm nie, maar het ook verskeie wereldklas konsertpianiste, dirigente en musiekregiseurs opgelewer. Dit is nie moontlik om die naam DFM in musiek, teater of vermaaklikheidskringe in Suid Afrika te noem, sonder om 'n oud Dee Effer raak te loop nie.
Boonop het DF twee lede van die Springbok Nude Girls, een van Suid Afrika se mees suksesvolle rockgroepe tot op hede, opgelewer. Baie meer onlangs, het DF ook gesorg vir Fokoffpolisiekar, wat die koerante, TV stasies en radios aan die praat het.Hulle kry alreeds gereelde lugtyd op landswye radiostasies soos 5 FM, en het so onlangs soos verlede week 'n gesogte toekenning gekry.
n Mens sou vir ure kon aangaan en uitbrei oor musiek en hoe intens DF daarin betrokke was en steeds is, maar al wat mens sou doen is om nog voorbeelde op te noem en voor-die-hand-liggende feite te herhaal. DF is 'n puik skool met ongelooflike potensiaal wat op gereelde basis ontgin word. Op die Kaapse Vlakte sê ons: DF is duidelik!
Mag julle so voortgaan en steeds hoër hoogtes bereik. Wees verseker, dat geen D Effer onaangeraak en onopgevoed - musikaal gesproke - dié skool verlaat nie. Of jy nou polisie karre rondjaag, en of jy Rachmanioff bestreel of bestraf - musiek sal deel van jou lewe wees en bly.
Koester dit en waardeer geleenthede soos vanaand.
