Premier Vra dat Wes-Kaapse Kunstenaarstalent Bevorder Word
Premier Vra dat Wes-Kaapse Kunstenaarstalent Bevorder Word
Dit is baie belangrik dat ons in die tiende jaar van demokrasie in Suid-Afrika voortbou op die vennootskappe wat die afgelope dekade tussen onder meer die regering, kultuursektor, sakesektor, toerisme-sektor en die publiek gevorm is, veral vennootskappe soos dié wat met die Klein Karoo Nasionale Kunstefees gevorm is. Elke sektor kom met sy unieke bydrae tot die skeppingsproses van 'n Wes-Kaap en Suid-Afrika wat vir ons mense die ruimte én gereedskap gee om hul hoogste potensiaal te bereik.
Die afgelope tien jaar was vir Suid-Afrika 'n dekade agter die pottebakkerswiel; 'n dekade waartydens 'n nuwe land geskep, gebrei en geslyp is uit 'n ongevormde klomp. Oor die tien jaar is daar ver gevorder met die skeppingsproses van hierdie nuwe land en nasie, wat te danke aan sy kreatiewe waagmoed om verander en gevorm te word, ver ontluik het as erdewerk-pragstuk - 'n unieke werk wat eg Afrika is, gloeiend met die land en kontinent se oorvloed talent.
Die KKNK sluit vanjaar by Suid-Afrika se tienjaarvieringe aan as 'n fees wat vir soveel jare reeds 'n integrale rol speel in die kreatiewe groeiproses van ons jong land. Danksy net soveel kreatiewe waagmoed en bereidwilligheid om aan te pas, uit te vind en in te pas, het dié fees die afgelope dekade 'n lewende verhoog gebied vir sy aanbieders, deelnemers en toeskouers om saam te skep aan die Suid-Afrikaanse erdewerk-wonderwerk.
Dit is 'n fees waarmee die Wes-Kaap vreeslik graag spog, en wat die Provinsiale Regering sonder huiwering ondersteun - nie net as 'n viering van Afrikaanse kuns en kultuur nie, maar ook as 'n egte entrepreneursfees, immer-groeiende toerismefees en waardevolle werkskeppingsfees.
n Fees van die KKNK se kaliber kan slegs ná 'n dekade nog in 'n posisie wees om op 'n uitsonderlike wyse te vermaak, te inspireer en te floreer as hy bereid was om soms die hitte van die pottebakkersoond aan te durf. Terwyl ons vanjaar met oorgawe die mylpaal van tien jaar van demokrasie in Suid-Afrika vier, vier ons juis ook dít: om, deur bereidwillig te wees om op te offer, aanpassings te maak en te belê, te kan toeneem in krag en groeipotensiaal.
Ten einde die potensiaal van kunstenaars van die Wes-Kaap se talent ten volle te ontwikkel is daar enkele uitdagings wat die hoof gebied moet word.
Volgens die jongste statistiek van die "Coastal Artiste Network" kom ongeveer 46% van die openbare uitsaaier se televisiebegroting uit die advertensie- en lisensie-inkomste van Suid-Afrika se kusgebiede, maar 90% van die sogenaamde Suid-Afrikaanse uitsaai-inhoud het sy oorsprong in Gauteng.
Dit is belangrik dat elke provinsie in Suid-Afrika, insluitend die Wes-Kaap, sy regmatige aandeel in televisiedekking kry. Die Wes-Kaap het al keer op keer bewys dat hy beslis beskik oor wat dit verg: unieke kunstenaarstalent. Ons kunstenaars is een van ons provinsiale bates en moet bevorder word.
Daarom glo ons dat daar in Suid-Afrika 'n sterk behoefte aan 'n streekuitsaaidiens bestaan om programme en streeknuus van bepaalde belang vir plaaslike gemeenskappe te lewer. Streekuitsendings oor televisie en radio sal die kulture en amptelike tale van die onderskeie provinsies ook aansienlike steun gee.
Daarom is ons baie verheug oor die SABC se aansoek vir bykomende streekstelevisielisensies. Ek wil 'n beroep doen op alle Wes-Kapenaars om voor eerskomende Maandag, die 9de Februarie, kommentaar hierop by ICASA in te dien, asook om later vanjaar aan die openbare verhore oor streekstelevisielisensies deel te neem. Veral die kunstenaars in die Wes-Kaap moet hierdie geleentheid aangryp, want streeksuitsendings sal vir hulle deure oopmaak en verseker dat die kultuur-, kunste- en taalverskeidenheid van die Wes-Kaap behoorlike blootstelling kry en tot sy volle potensiaal as instrument van nasiebou ontwikkel.
Sel: 083 778 9923
