skepper van stilte
Kultuurhistorikus en argivaris,
In die voorafgaande artikels oor die karikaturis/spotprenttekenaar DC Boonzaier en sy onmiddellike invloed-sfeer, is twee skilders bespreek, naamlik Gregoire Boonzaier en Pieter Wenning. Die ander prominente kunstenaar in die Boonzaier-dampkring, Moses Kottler, was veral bekend as beeldhouer, hoewel hy ook 'n bedrewe skilder was.
Wie was dié Moses Kottler en waarvoor word hy onthou? In Esmé Berman se Art and artists of South Africa word vermeld dat Kottler nooit die erkenning ontvang het wat hom toegekom het nie en profes­sor J du P Scholtz het in 1975 sterk kapsie gemaak in sy rubriek oor kuns in Die Burger teen die stief behandeling wat Kottler van die onkundige publiek ontvang het. Ander kunskenners was dit ook eens dat Kottler een van die beste beeldhouers is wat in Suid-Afrika gewerk het. Erkenning wat hy wel ontvang het, sluit in die Suid-Afrikaanse Akademie se Medalje van Eer vir Beeldhou­werk.
Moses Kottler is circa 1889 in 'n dorpie genaamd Joniskis in Litaue gebore. Daar was 'n groot aantal Joodse inwoners, waarvan die Kottlers deel uitgemaak het. Die jong Moses, Moshé deur sy familie genoem, was die jongste van sewe kinders en baie geheg aan sy moeder, Zirla Kottler, née Solin. Sy vader, Josef, was 'n handelaar in landbou­produkte. Moses het nie aanklank gevind by die religieuse opleiding by die Hebreeuse skool waarheen hy op vroeë ouderdom gestuur is nie, maar het darem ook private onderrig ontvang in sekulêre vakke. Hy was intelligent en het soos Pieter Wenning, ook aanleg getoon in tale. Sy ware nering is egter gou openbaar toe hy begin het met houtsneewerk. Sy familie onthou hom as die seun met die sakmes en hout byderhand, eerder as potlood en papier.
Eers het sy ouers probeer om hom in 'n handelsrigting te stuur, maar hy het geen belangstelling daarin getoon nie en toe is hy na 'n horlosiemaker vir opleiding. Eers nadat 'n oom sy broerskind se tal­ent ontdek het - Moses het 'n sneeuman gemaak wat soos 'n Griekse standbeeld gelyk het - het dinge begin gebeur vir hom en hy het eventueel kunsopleiding ontvang in Jerusalem, München en Parys, waarna hy na Suid-Afrika gekom het. Eers het hy in Oudtshoorn gewerk, waar ander familielede gevestig was en in 1916 het hy na die Kaap verhuis. Hier sou hy woon tot sy dood in 1977, behalwe vir 'n kort periode in Europa (1929-1932).
Op Oudtshoorn het Kottler geteken, geskilder en modelle vir beeldhouwerke gemaak, selfs houtsneewerke geskep en die relatiewe isolasie van die platteland het hom in staat gestel om sy eie styl te ontwikkel. Nogtans is die invloed van sy studies in Europa hier en daar opmerklik, soos dié van die beroemde beeldhouer Aristide Maillol - kunsresensente het Kottler se skilderye soms as 'tapestry-like' beskryf - en Maillol het, onder andere, tapisserieë ontwerp. Die twee jaar op die platteland het Kottler in staat gestel om daardie lewenswyse en mense te leer ken, wat hom goed te pas sou kom om sodanige onderwerpe te interpreteer in sy uitstaande beeldhouwerke. Uiteindelik het hy egter besef dat dit nodig was om bekend te word en dat hy deel van die Kaapse kunskringe moes word - of minstens met hulle in kontak moes kom.
In Desember 1916 het hy dus na die moederstad getrek. Daar was geen kunshande-laars en galerye soos vandag die geval is nie, terwyl daar selfs minder geleenthede vir beeld­houers as vir skilders soos Pieter Wenning en Strat Caldecott was, wat toe ook daar gewerk het. Daar was geen smeltery om werke in brons te laat giet nie. Professionele kunstenaars het meestal aan die Suid-Afrikaanse Vereniging van Kunstenaars behoort en mekaar onder-steun. Hier het Kottler ook vir DC Boonzaier ontmoet - Boonzaier wat sy artistieke lewe sou raak soos dié van sy eie seun Gregoire en Pieter Wenning, nie altyd ten goede nie, dog 'n soort rugsteunende struktuur gebied het.
Kottler het die ouer Boonzaier hoog geag en was, ten spyte van geldnood, bereid om Boonzaier se portret (sien bladsy 38) gratis te skilder. Hierdie voorval het Scholtz in sy monogra.e van Kottler beskryf (Moses Kottler: his Cape years, pp 22-24) en hieruit kan afgelei word dat Kottler, soos Wenning, ook 'n perfeksionis was wat soms skilderye ver-nietig het in 'n poging om dit voortdurend te verbeter. Die skilder, Gwelo Goodman, asook Wenning self, het hierdie skildery gesien gedurende die tyd­perk waartydens Kottler in Boonzaier se kantoor gewerk het en beide van hulle was, soos Boonzaier, dit eens dat dit 'n goeie interpretasie van laasgenoemde was. Kottler was egter nooit tevrede nie en Boonzaier moes ingryp om te verhoed dat dit ver­nietig word. Boonzaier het dikwels oorwoë menings van sy eie kennis en smaak gehad, maar hy had reg dat spontaneïteit behou moes word.
Kottler het werklik 'n sukkelbestaan ge-voer en dikwels nie geld vir kos gehad nie. Boonzaier het hom gehelp waar hy kon deur, byvoorbeeld, te reël dat hy 'n kommis­sie gekry het om illustrasies vir 'n kinderboek (Wonderstories deur Fred Dormehl en Alice Angus) te doen. Dit was egter altyd duidelik dat Kottler gesmag het daarna om beeldhouwerk te doen, nie 'tweedimen­sionele' kuns nie. Wanneer hy na Gregoire se tekeninge gekyk het, het hy veral gaande geraak oor vorm, eerder as enige ander aspek van die werke, wat op sy voorkeur vir ware driedimensionele kuns dui. Kottler was 'n ware intellektueel en het graag met Boonzaier oor Russiese skrywers gesels. Hy het ook baie aande in die Suid-Afrikaanse Biblioteek deurgebring en graag een maal per week na die Kaapstadse orkes gaan luister.
Geleidelik het Kottler meer kommissies ontvang om beeldhouwerk te doen. In 1918 het hy 'n borsbeeld van 'n seun van een van DC Boonzaier se vriende gedoen, getiteld D'Arcy Cartwright. Dit was die eerste beeld­houwerk wat Kottler in Suid-Afrika verkoop het. Hierna het dit beter gegaan met hom, maar hy het steeds verplig gevoel om terug te trek na Oudtshoorn omdat hy nie die huurgeld vir sy studio kon betaal nie. Twee maande later, in Februarie 1919, het hy teruggekeer na Kaapstad. Dit was op hierdie tydstip wat Wenning hom bestempel het as '...the greatest artist in South Africa, [...] my own humble personality included'. Nieteenstaande Wenning se nederigheid, was dit hoë waardering komende van iemand wat geweet het waarvan hy praat. Wenning het hoofsaaklik verwys na Kottler se beeldhou­werke, hoewel Kottler steeds tussendeur por­trette geskilder het om aan die lewe te bly. Nie almal was so waarderend nie - Gwelo Goodman, wat homself as die 'enigste kunstenaar in Suid-Afrika' bestempel het, het by 'n byeenkoms van kunstenaars opgemerk dat bykans enigeen kan doen wat Kottler geskep het.
Kottler het nogtans naam gemaak en borsbeelde van bekendes gedoen, soos dié van generaal De Wet. Toe Kottler, wat na Dewetsdorp gereis het vir die onderneming, uiteindelik klaar was met die werk, het De Wet ook verklaar: 'Ik is gedaan,' wat beslis dubbelsinnig bedoel was. Kottler het ook vir generaals Botha, Smuts en Hertzog in beeld­houwerke verewig.
Kottler was terug in Kaapstad in Mei 1929 en min is bekend oor wat hy daar gesien en gedoen het, be­halwe dít wat hy in drie briewe aan Boonzaier geskryf het. Een van die eerste beeldhouwerke wat hy gedoen het na sy terugkoms was van Gregoire Boonzaier. Boonzaier Senior was klaarblyklik nie in sy skik met die idee nie, en ook nie toe Kottler 'n borsbeeld van hóm wou doen nie, want hy was van mening dat 'n borsbeeld van afgestorwenes moet wees, nie lewende mense nie. Kottler het Boonza­ier ook (tevergeefs) gewaarsku om nie in te meng in die ontwikkeling van sy seun se kun­stenaarsloopbaan nie en dit kan aanvaar word dat die oukêrel nie hiermee genoeë was nie. Nogtans het hul vriendskap gegroei. Boonzaier het selfs beweer dat benewens Kottler, Anton van Wouw die enigste beeldhouer in Suid-Af­rika was vir wie hy respek gehad het. Volgens Boonzaier het Van Wouw meestal van foto's gewerk, terwyl Kottler van lewende modelle gebruik gemaak het.
In 1929 het Kottler besluit om tydelik in Europa te gaan werk. Dis interessant dat Kottler se besluit om oorsee te gaan, gemengde reaksie ontlok het - Gregoire Boonzaier was een van diegene wat vir Kottler in die bresse getree het toe laasgenoemde in die koerante gekritiseer is. Een van die kom­mentators het selfs beweer dat Kottler tog nie moet dink dat hy meer geld in Europa sal ver­dien nie en buitendien is rykdom én roem 'n kunstenaar nie beskore nie. Hoekom sou dit die geval wees; die ryk bourgeoisie is immers nie beroemd óók nie, dus sou rykdom vir 'n kunstenaar op gierigheid neerkom: 'None of us is entitled to everything; something is al­ways lacking in life' - aldus dié wysgeer.
Kottler en sy vrou Eva Goldberg (hulle is in 1928 getroud) het na ongeveer drie jaar na Suid-Afrika teruggekeer. Kottler het hom uitgeleef in sy beeldhoukuns en is as gerespekteerde kunstenaar hier oorlede. Al­mal wat hom geken het, maak melding van sy integriteit, talent en helaas, ook afkeer aan publisiteit, die vernaamste rede waarom hy nie die eer ontvang het wat sy kreatiewe genialiteit verdien het nie. Dit is opmerklik dat daar ooglopende raakpunte tussen hom en Pieter Wenning was, hoewel hulle, ten spyte van hul gemeenskap­like vriendskap met DC Boonzaier nie veel kon­tak gehad het nie. Albei was onwrikbaar eerlik, innemend, toegewyd en het sterk standpunt ingeneem oor aangeleenthede waarin hulle geglo het. Bowenal het hulle geglo in hulle vermoëns as oorspronklike kunstenaars met 'n eie visie.
As Kottler hom op die skilderkuns toegelê het, sou hy waarskynlik onthou word as een van die land se beste skilders, maar Kottler het reeds in 1924 besluit om palet en kwas weg te pak en het blykbaar nooit weer daaraan geraak nie. Toe daar in 1974 'n groot oor­sigtentoonstelling van sy werk beplan is, het hy ingestem om slegs een selfportret te laat vertoon.
In die ongeveer sestig jaar wat Kottler beeldhouwerk gedoen het, het hy 'n uitgebreide oeuvre opgebou, maar die goue draad wat deur sy skeppingswerk waarneembaar is, is die element van eenvoud en, soos Scholtz dit in 1977 in sy rubriek uitgedruk het, 'stilte'.
Kottler het veel van sy per­soonlikheid in sy werk getoon en juis hierdie stille eenvoud, wat nie met eenvoudigheid verwar mag word nie, het sy uitstaande kenmerk geword.
Naskrif
Die onlangs-ontslape Vader Frans Claerhout het eens opgemerk dat 'n digter met verse werk, 'n skilder met kleure en 'n beeldhouer met lyne. Dis uiteraard 'n vereenvoudigde stelling, want skilders werk beslis nie nét met kleure nie en digters en beeldhouers ook met méér as net verse en lyne. Claerhout het natuurlik verwys na voorkeur en fokus, nie na die totaliteit van wat die verskillende genres behels nie.
Kottler het vroeg in sy lewe besluit wat sy voorkeur was en het eventueel uitsluitlik daarop gefokus. En dis tipies van die man dat hy beeldhouwerk gekies het; sy eksen­trieke koppigheid in ag geneem. Was hy 'n woordkunstenaar sou hy sekerlik ook poësie gekies het, want soos dig die stiefkind van die lettere is, is beeldhou die ekwivalent daarvan in die visuele kunste.
Bronneverwysings
Lantern. Ons kuns.- Stigting vir Onderwys, Wetenskap en Tegnologie, 197-.
Scholtz, J du P. Oor skilders en skrywers.- Tafelberg, 1979.
Wanneer hy na Gregoire se tekeninge gekyk het, het hy veral gaande geraak oor vorm, eerder as enige ander aspek van die werke, wat op sy voorkeur vir ware driedimensionele kuns dui
Bo: Selfportret. Olieverf, 1924
Bo middel: Liggende naak.guur. Beeldhouwerk, 1936
Bo regs: Meidjie. Sipreshout, 1926
In die ongeveer sestig jaar wat
Kottler beeldhouwerk gedoen het, het hy 'n uitgebreide oeuvre opgebou, maar die goue draad wat deur sy skeppingswerk waarneembaar is, is die element van eenvoud en... 'stilte'
