As Minister is ek verantwoordelik vir Landbou in die Wes-Kaap en Minister Dugmore is verantwoordelik vir Onderwys, maar saam met die ander lede van die Kabinet is ons verantwoordelik vir die skep van omstandighede waarin elke mens wat in die Wes-Kaap werk en woon en skoolgaan en lewe altyd sal weet dat ons wil hê dat u môre beter moet leef as gister. Met ander woorde ons wil hê dat u hoop moet hê vir die toekoms.
Ek self het grootgeword in 'n baie arm gesin, waar my pa op die spoorweë gewerk het en waar ek by 'n kerslig moes leer en op die ou einde al in standerd sewe uit die skool uit is. Ek was gelukkig dat daar iemand was wat vir my omgege het en my aangemoedig het om te leer en vandag het ek twee grade agter my naam en was die Here so goed vir my dat ek die Minister van Landbou in die Wes-Kaap is.
Ek wonder wie van u het al gehoor van "IKAPA ELIHLUMAYO" en "'N TUISTE VIR ALMAL." Ek wil hê die leerders moet dit agter my aan herhaal en dit nie vergeet nie. Sê saam met my IKAPA ELIHLUMAYO" en "'N TUISTE VIR ALMAL. H ierdie is twee begrippe wat die Wes-Kaapse Regering baie ernstig oor is en net soos wat onderwyser en leerder en plaas en plaaswerker nie los van mekaar kan wees nie, kan ons ook nie hierdie twee gedagtes losmaak van mekaar nie. Dit vorm 'n eenheid met die visie van die regering om aan elkeen van u nuwe hoop op 'n beter lewe te gee.
Ons sê die Wes-Kaap moet 'n ware Wêreldklasprovinsie wees en ons wil ons jeug bemagtig om wêreldwyd mee te ding. Ons wil hê julle as leerders moet goeie slaagsyfers behaal in Wiskunde, Wetenskap en Tegnologie sodat julle eendag die leiers in die wêreld kan wees.
Aan die ouers en senior mense hier teenwoordig wil ek sê dat geen land kan bekostig om agter te raak met die onderrig van sy kinders nie. Geen nasie kan toelaat dat sy toekomstige geslagte grootword met enigiets behalwe die heel beste geleenthede wat gebied kan word nie. Uitnemendheid in onderwys is nie 'n luukse nie, maar 'n absolute noodsaaklikheid as ons die toekoms van ons provinsie en van ons mense in die Wes-Kaap wil verseker.
In vergelyking met die meeste ander lande - en veral met ons hoofhandelsvennote is die standaard van Wetenskap, Wiskunde en Tegnologie en Suid-Afrikaanse skole maar bra power. Tog is dit juis hierdie vakke wat ekonomiese groei, bemagtiging en ontwikkeling aandryf. Ons is laaste op die lys van 39 deelnemende lande in Wiskunde- en Wetenskapgeletterdheid vir graad 8, en die swak slaagsyfer in matriekwiskunde en -wetenskap op hoër graad veroorsaak groot kommer. 'n Deel van die probleem is die wyse waarop hierdie kwessies in die verlede aangepak is. Te dikwels moes onderwysdepartemente te veel vir te veel leerders doen met te min hulpmiddele.
Die rol van ouers is al eeue terug gedefinieër toe George Herbert gesê het; " Een vader is meer werd as honderd skoolmeesters" en Napoleon Bonaparte het gesê: "Die kind se bestemming is altyd die ma se werk." Daar is selfs 'n ou chinese spreekwoord wat lui; " Dit neem 'n hele dorp om 'n kind op te voed."
Wat is die rol van die ouer in die skep van 'n wêreldklas onderwysstelssel in 'n wëreldklas provinsie? As ouer begin u verhouding met die skool op die dag wat u kind geregistreer word by 'n spesifieke skool. Dan is dit nie die staat wat die verantwoordelikheid opneem nie - u kind bly nog steeds u verantwoordelikheid en is dit nog steeds u taak om u kultuur, familie-en-gesinswaardes, morele standaarde en beginsels na u kind en of kinders oor te dra. Die staat het die verantwoordelikheid om 'n behoorlike onderwys grondslag vir u kind te lê. Ons as samelewing moet dus nie ons verantwoordelikhede teenoor ons kinders ontduik nie. Soos wat GK Chesterton gesê het: "Opvoeding is bloot die siel van 'n samelewing wat van een generasie na 'n ander oorgeplaas word."
Die totstandkoming van hierdie wonderlike fasiliteit, waar leerders toegang sal hê tot rekenaars en boeke, is 'n sprekende voorbeeld van die resultate wat behaal kan word deur die proses van mede eienaarskap. As dit nie was vir die betrokkenheid en die bydrae van die departement van Onderwys en die bydrae van die departement van Landbou onder leiding van Me Joyene Isaacs nie, sou ons nie hierdie sentrum kon open nie. Baie dankie vir u toewyding aan hierdie projek en die ruim bydrae wat u gelewer het om nuwe geleenthede aan die leerders van hierdie skool te bied.
Mede eienaarskap beteken ook mede verantwoordelikheid en daarom wil ek 'n beroep doen op elke leerder, onderwyser en ouer om jaloers te waak oor die instandhouding en versorging van elke apparaat in die sentrum. Hierdie sentrum is een van die geleenthede wat geskep is waardeer ons die ongeregtighede van die verlede kan aanspreek in ons poging om die speelveld gelyk te maak. Kom ons herinner onsself aan die spreekwoord wat sê: "Die pen is magtiger as die swaard. Kom ons rus onsself toe vir die toekoms deur die elektroniese pen op te neem en rekenaarvaardig te word, en onsself te verryk deur die geskrewe woord, wat ons gedagtes moet vul om skeppend en vernuwend te dink.
Weereens, aan die hoof, personeel, beheerraad en leerders, mag julle baie vreugde uit hierdie sentrum put, en aan die bydraers tot die projek wil ek namens die regering baie dankie sê vir die hulp om die tuiste vir almal toe te rus.
Navrae:
Tel: 021 483 4930
