TUISBLAD
JOU LEWE
ONDERWERPE
PUBLIKASIES
GIDSE
JOU REGERING
WERKGELEENTHEDE
Aangaande
Kontak
Hulp
Gevorderde Soektog
Tuisblad
Jou Regering
Nuus
Kampong : 'n Musiekblyspel Keer Wanpersepsies Oor Plaasweker Gemeenskappe Om
Kampong : 'n Musiekblyspel Keer Wanpersepsies Oor Plaasweker Gemeenskappe Om
OORSIG
DIENSTE
PROJEKTE
NUUS
PUBLIKASIES
FASILITEITE
KONTAK
Die prèmiere van Kampong vind op 1 Desember om 19:00 in die H.B. Thom-teater in Stellenbosch plaas. Op Vrydagaand 2 Desember kom die publiek aan die beurt en Saterdag om twaalfuur, vieruur en agtuur word die produksie vir plaaswerkers aangebied. Daar is reeds ongekende belangstelling in die produksie met versoeke wat instroom dat die produksie ook in ander dele van die land opgevoer word.
Die plaaswerkergemeenskap sou met die toetrede van minister Cobus Dowry tot die portefeulje Minister van Landbou vir die eerste keer tot sy reg kom en sou nie net in woord nie, maar ook in daad prioriteit word.
Nie net is daar 'n Subprogram: Plaaswerkerontwikkeling in die lewe geroep nie, maar is daar ook met 'n proses begin om met plaaswerkers vir plaaswerkers te verseker dat plaaswerkergemeenskappe die erkenning geniet vir die rol wat hulle in landbou en daarmee saam in die land as geheel speel.
Vele studies onder plaaswerkergemeenskappe het 'n geskiedenis van marginalisering, diskriminasie en manipulasie blootgelê, wat tot fisiese en psigiese verknegting van die plaaswerkergemeenskap gelei het en wat nie sonder daadwerklike ingryping herstel sal kan word nie.
Daar is derhalwe besluit op 'n proses om 'n strategiese plan daar te stel om die wanpraktyke van die verlede reg te stel. Een van die strategiese prioriteite van die plan, gefasiliteer deur dr Christa van Louw, sou wees om die kunste as instrument aan te wend om die skewe waarhede rondom plaaswerkergemeenskappe te dekonstrueer en te rekonstrueer.
Die musiekblyspel, Kampong, geskryf deur Charl Frank met Jacoline Frank as choreograaf, doen juis dit. Werklose jongmense afkomstig van plase is die akteurs in 'n verhoogproduksie wat gevestigde persepsies oor plaaswerkergemeenskappe omkeer en 'n nuwe waarheid kom bring.
Kampong toon dat die plaaswerkergemeenskap nie gelyk is aan die populêre mites van drankverslaafdes (produkte van die dopstelsel nie), die laag geskooldes en mense met geen potensiaal nie. Hierdie stereotipe beelde word weerlê met die ontsluiting en ontginning van sluimerende uitvoerende-kunstepotensiaal.
Die verhaal van die skep van die musiekproduksie toon hoe eens verknegtes en reeds bemagtigdes na mekaar kan uitreik tot voordeel van beide partye. Randall Wicomb met sy eie unieke styl en besonderse kundigheid sou die geskrewe teks toonset soos net hy kan en daardeur enersyds in liriek en klank die ervaringe en belewenisse van plaaswerkergemeenskappe versinnebeeld en andersyds die sluimerende talente van agtergelates ontgin. Sy grootste frustrasie is die feit dat soveel talent vir jare onontgin gebly het. Die proses om dit om te keer, het nou maar net begin.
Kampong, wat tydelike woning beteken, versinnebeeld 'n groter proses: om in die gees van versoening en in lyn met die doelwitte van die groter Suid-Afrikaanse strewe te verseker dat Suid-Afrika 'n tuiste vir almal word, ook en veral vir plaaswerkergemeenskappe.
Vir besprekings en navrae kan met Dalene Burger geskakel word by 082 922 4534.
Tel: 483 4930
NUUSARGIEF
Die inhoud van hierdie bladsy is laas op 1 Desember 2005 hersien
Onbekende staatstaal of akroniem? Kyk in die WOORDELYS.
Gebruiksvoorwaardes
Privaatheidsbeleid
Kopiereg
Cape Gateway is 'n diens wat die regering hoofsaaklik aan die burgers van die Wes-Kaap bied deur die voorsiening van inligting oor plaaslike, provinsiale en nasionale regering
