Provinsiale Plaaswerker van die Jaar
Provinsiale Plaaswerker van die Jaar
Soos altyd is dit vir my aangenaam om hier saam met u te kan wees. Ek sien sommige van u so dikwels in die laaste tyd dat dit voel of ons familie is. Ek moet onmiddelik sê dat dit is hoe ek dit in elkgeval sou wou hê, dat die Landbou gemeenskap 'n groot familie moet word.
Laat my onmiddelik toe om u geluk te wens met hierdie byeenkoms wat vir die eerste keer in die geskiedenis van Landbou plaasvind en nou die hoogtepunt is van die jaarlikse plaaswerker van die jaar kompetisie. Ek glo dat hierdie kompetisie nog gaan ontwikkel tot een van die grootste en strafste kompetisies binne landbou.
Ek dink nie u sal my verkwalik as ek die HTA gelukwens en bedank vir die vergesig wat u gehad het om reeds in 2002 met hierdie kompetisie te begin om erkenning te gee aan die waardevolle en belangrike bydrae wat die plaaswerker tot die volhoubaarheid en groei van die landbou lewer nie.
Baie dankie ook aan Sanlam wat aktief betrokke is en die verskillende streekskompetisies geborg het, en so ook hierdie een.
Die kompetisie het gegroei van die 36 inskrywings vanaf 6 plase in die Hexvallei in 2002 tot 284 inskrywings in vyf streke vanjaar. Laat ek dan nie nalaat om die produsente uit die Hexvallei, Koue Bokkeveld, die Breede Vallei en die Bergrivier Produsente te bedank vir hulle samewerking om hulle werkers aan die kompetisie te laat deelneem nie. Ek wil vir u vra om ons vennote te word in ons sterwe om die kompetisie te laat groei en werkers in elke uithoek van die Provinsie by die Kompetisie te betrek.
Ek wil spesifiek met u as deelnemers aan hierdie kompetisie praat.
Baie van u is bewus dat plaaswerkeraangeleenthede een van die hoofprioriteite van die Departement Landbou in die Wes-Kaap is. Om gestalte te gee hieraan het ons reeds verskeie aksies geloods. Die eerste was die vestiging van 'n Subprogram: plaaswerkerontwikkeling met die spesifieke doel om dienste, veral sosiaal-ekonomies dienste, wat aan die plaaswerkergemeenskap verskaf moet word, effektief te koördineer.
Om die nuutgestigte subprogram in staat te stel om effektiewe uitvoering te gee aan die doel waarvoor dit geskep is, het ons geluister na die behoeftes wat deur die betrokkenes uitgespreek is. Ons het besluit dat daar 'n behoorlike proses van strategiese besinning moet wees wat sal uitloop op 'n Strategiese Plan met duidelike doelwitte en aksieplanne wat deurgevoer moet word.
Hierdie program van ons moet prakties uitvoerbare prosesse bevat wat werklik die kwaliteit van lewe van plaasweker sal verbeter. Seker die mees belangrikste element van die plan is dat ons gesê het dat u as plaaswekers van die begin af ten volle deel daarvan moet wees. Ons wil hê dat u mede-eienaarskap van u eie toekoms moet opneem.
Wat ons in Landbou in die Wes-Kaap doen, skakel in by die doelwitte van die groter Suid-Afrikaanse strewe wat al sover terug as die opstel van die Vryheidsmanifes kom, en verder vervat is in die Grondwet van die Land. Omdat ons in die Wes-Kaap die regering se visie deel en glo in die kontrak wat ons met die mense gesluit het in die verkiesing, sal ons toesien dat die plaaswerkergemeenskap op elke terrein van u lewe ondersteun word.
Dit is kompetisies soos hierdie, wat meehelp om aan ons plaaswerkers 'n boodskap oor te dra dat u 'n integrale deel is van Landbou en wat ons help om u gelyke toegang tot landbou te verseker en seker te maak dat elke werker wat by landbou betrokke is elke moontlike kans moet kry om hom of haar te bekwaam om die beste werker te wees.
Ons wil hê dat u deeglik moet begryp dat u as plaaswerker 'n belangrike rol speel in die ekonomie van die Wes-Kaap en so wil ons ook hê dat daar dienooreenkomstig na u gekyk moet word. U moet verstaan dat hoe beter dit met die ekonomie gaan, hoe beter behoort dit met u te gaan.
Die Wes-Kaap lewer 'n bydrae van meer as 20% tot die totale landbouproduksie in Suid-Afrika. Die Wes-Kaap produseer tussen 55% en 60% van Suid-Afrika se totale landbou-uitvoere, en daarom is Landbou een van die sleutelareas wat 'n bydrae moet lewer tot groei en ontwikkeling in die Wes-Kaap.
As ons wil hê dat die ekonomie moet sterker raak dan beteken dit dat daar 'n paar goed is wat ons moet doen om dit te bewerkstellig. Ons moet onder andere sorg dat ons meer en beter produkte lewer wat kan meeding op die markte oorsee. Ons moet sorg dat ons water oordeelkundig gebruik. Ons moet sorg dat ons voldoen aan die vereistes ten opsigte van chemiese standaarde. Ons moet toesien dat ons administrasie van hoogstaande gehalte is en ons moet die beste bestuurspraktyke op elke vlak op die plaas, toepas.
Elkeen van u wat aan die kompetisie deelgeneem het, speel 'n baie belangrike rol in die aspekte waarna ek nou net verwys het en so speel elkeen van die ongeveer 202 949 werknemers op Wes-Kaapse plase 'n rol in die provinsie se ekonomie.
Dit is nie net die Regering se plig om na u om te sien nie, maar ons het elke produsent en elke besigheid wat 'n voordeel uit Landbou en sy werkers trek, se samewerking nodig om na u en u 1.5 miljoen afhanklikes se totale welstand om te sien.
Ek is besorg oor aspekte soos onder andere behuising en die beskikbaarheid van water en behoorlike sanitêre geriewe. Ek word feitlik weekliks gekonfronteer met bewerings en vingerwysings na Landbou.
In reaksie op die ontydige dood van Ricardo Mowries, wie beswyk het nadat hy deur 'n lem van 'n baalmasjien getref is, het ek gesê elke werker se lewe is kosbaar en dat dit ook ons verlies is. Die veiligheid van werkers in die werkplek is vir alle rolspelers binne landbou van groot belang en dit geniet ook in besonder aandag in die Strategiese Plan wat die Departement opgestel het na afloop van die plaaswerker Indabas wat die afgelope jaar plaasgevind het.
Hierdie voorval het weereens die kollig geplaas op arbeidspraktyke en ek sal dit ook in detail met Georganiseerde Landbou bespreek wanneer ons in die nabye toekoms ontmoet.
Ons moet mekaar help om die skewe beeld van Landbou wat daar by mense bestaan, te verander.
As Minister wat verantwoordelik is vir Landbou is dit vir my noodsaaklik dat 'n kompetisie soos hierdie nie net "windowdressing" moet wees nie. Elke aksie moet daarop ingestel wees om ons mense te bemagtig en toe te rus ten einde te groei in kennis en lewenservaring. Ek was dus bly toe ek Dinsdag by 'n diploma- plegtigheid vir die modulêre kursus in wingerdbou verneem dat daar verskeie vorige wenners en van die huidige finaliste wat vanaand hier is, ook ingeskryf is vir die nuwe kursus.
Ten slotte wil ek u gelukwens met die prestasie dat u vanaand hier is as finaliste. Sterkte met die senuwees wat knaag voor die wenners aangekondig word. Hoewel daar in elke kategorie net een wenner kan wees, wil ek u verseker dat u elkeen in u eie reg 'n wenner is. U moet hiervandaan elke dag soos 'n wenner leef en werk en in u optrede teenoor u mede werkers en werkgewers die beeld uitstraal van mense wie se begeerte is om Landbou in die Wes-Kaap die uiteindelike wenner te maak. Hiermee gaan u ook ons hand as Regering sterk maak om 'n werklike tuiste vir almal in die Wes-Kaap te bou.
Tel: 483 4930
