Uittreksels Uit Toespraak by die Caledon Noord Landbouvereniging
Uittreksels Uit Toespraak by die Caledon Noord Landbouvereniging
Voorsitter ek wil net eers met u praat oor die breë visie van die Wes-Kaapse Regering. In die Wes-Kaap wil ons n tuiste vir almal skep in ons poging om om ons ideaal te dereik van"IKAPA ELIHLUMAYO", wat beteken,"die Groeiende Kaap". Hierdie twee begrippe kan nie los wees van mekaar nie, maar vorm 'n eenheid wat deel is van die breër visie van die regering.
Hoofman Albert Luthuli het in 1958, toe hy sy visie vir ons land vir die eerste keer beskryf het, dit beskryf as 'n "Tuiste vir Almal" Hy het ook gepleit vir die ruimheid van gees en 'n oproep om eenheid onder al ons mense gedoen. Hy het gevra dat ons almal saam sal bou aan 'n toekoms met groter gelykheid,nie-rassigheid,multikulturaliteit,godsdiensverdraagsaamheid, veeltaligheid en nie-seksisme.
Die Regering van die Wes-Kaap het dit aangegryp en ons eie gemaak en met u 'n kontrak aangegaan in ons visie van "'n Tuiste vir Almal". Met ons visie sê ons dat ons nie mekaar hoef te vrees nie; dat ons verskille en diversiteit nie verdelend hoef te wees nie, maar dat ons juis daaruit moet put om 'n groter eenheid te vorm waarin ons mekaar kan aanvul met die rykheid van dit waaroor ons elkeen beskik. Terwyl ons aan 'n verenigde Provinsie bou, moet daar ruimte wees vir al ons identiteite om verstaan, gerespekteer en gewaardeer te word. Ons moet almal kan sê, dat ongeag ras, klas, geslag, ouderdom, godsdiens, kultuur, taal, etnisiteit, geografiese of seksuele oriëntasie, die Wes-Kaap 'n Tuiste vir Almal is. Die harde werklikheid is dat ons mekaar nodig het en dat nie een van ons op ons eie sal oorleef nie.
Ek wil vir u dankie sê dat u as kommersiële boere lankal reeds ook besig is om u bydrae te maak om ons te help om te bou aan hierdie tuiste vir almal en dat u nie wegskram van hierdie verantwoordelikheid nie.Die volle rol van landbou word egter selde goed verstaan en dit is soms moeilik om die belangrikheid en bydrae van landbou tot die ekonomie en die samelewing by mense tuis te bring.
Omdat voedsel die oorgrootte gedeelte van marginale uitgawes uitmaak onder laer-inkomstegroepe, bied boerdery die fisiese goedere om toenemende werksverskaffing, hoër loon-inkomste en verbeterde lewenstandaarde te verseker.
Ons is deeglik bewus daarvan dat die verhouding tussen landbouproduksie, werkverskaffing en sosiale harmonie die bestanddele is vir volgehoue ekonomiese groei. Deurlopende landbouontwikkeling is 'n voorvereiste vir hierdie bydraes.
Meneer die voorsitter dit is daarom vir ons uiters noodsaaklik dat die toestande geskep word om dit vir ons boere moontlik te maak om volhoubaar te boer. Vir ons in die Departement van Landbou in die Wes-Kaap is dit 'n baie hoë prioriteit dat alles moontlik gedoen moet word om boere op hulle plase te hou.
In die tweede plek moet ons sorg dra dat wit boere ten volle hulle verantwoordelikheid sal opneem in die proses van grondhervorming en die vestiging van nuwe toetreders, ten einde te verseker dat hulle van die begin af suksesvol en volhoubaar sal boer.
Vir my is daar twee defnitiewe groeperings, naamlik, gevestigde boere en opkomende boere. Biede u en ons by die Departement van Landbou het n verpligting om om te sien na opkomende boere en die verantwoordelike verdeling van grond om die ongelykhede van die verlede uit te skakel. Binne die Departement sal ons egter so optree dat ons nooit die een ten koste van die andersal dien of afskeep nie.
Opkomende boere moet van die staanspoor af die nodige ondersteuning kry om volhoubaar te boer en daarom moet alle rolspelers, in die proses van bemagtiging van voorheen benadeelde persone, hulle verantwoordelikheid van die staanspoor af opneem.
U het ook'n baie belangrike rol wanneer dit kom by die vestiging van nuwe boere wat soms nie die vermoë het nie, en soms nie die vrymoedigheid het om tot u organisasie toe te tree nie. Ek wil vanaand vir u vra dat u dit 'n staande punt van bespreking sal maak oor hoe u, u rol in die Agri SEB proses sien en hoe om opkomende boere by u organisasie te betrek.
Voorsitter ek is in voortdurende gesprek met georganiseerde landbou en ander rolspelers binne die sektor oor die uitdagings en probleme wat produsente ervaar. So het gister byvoorbeeld met verteenwoordigers van die Sagte Vrugte Bedryf n lang sessie gehad. Behalwe vir hulle eiesoortige probleme het ons ook na die algemene probleme van insetkoste teenoor opbrengs en prys gepraat. Belangrike kwessies soos arbeidskoste, behuising, subsidies invoerheffings, water, eiendomsbelasting, veranderende markvereistes en hoë landbouskuld is van die sake wat ons aangeraak het. In hierdie verband is ek van plan om binne die volgende twee weke n gesprek met Agri Wes-Kaap te voer oor die pad vorentoe, die samestelling van 'n taakspan en 'n moontlike ekonomiese landbouberaad vroeg in die nuwe jaar.
Ten slott, wil ek twee belangrike kwessies aanraak naamlik gedurige berigte oor die dopstelsel wat nog na bewering op sommige plase toegepas word en die ongetoetste bewerings oor onwettige afsettings van plase af.
Ek het by herhaling die versekering gegee dat ons dit nie sal duld nie, maar ek het ook by herhaling gesê dat mense nie net kan rondgaan en wilde bewerings maak nie. Ek nooi weereens, soos in die verlede die mense wat hierdie bewerings maak uit om die name te verskaf. Ons ondersoek sulke bewerings behoorlik en het die samewerking van beide die Georganiseerde Landbou en die Departement van Grondsake. Die probleem is egter dat daar geen substansie gevind is in die bewerings wat gemaak word en wat onafhaklik ondersoek word nie , of dat diegene wat die bewerings maak, nie na vore kom met die name van die beweerde aandadiges nie.
Ek wil ook weereens n versoek rig aan produsente sowel as plaaswerkers om verantwoordelik op te tree wanneer dit by behuising en afsettings kom en om hulle te vergewis wat die wet toelaat en nie toelaat nie, na beide kante toe. Dit word ook al hoe duideliker datdie beweging van plaaswerkers na dorpe toe, groter druk op behuisingsprojekye plaas. Ek is van mening dat ons as Regering ook weer opnuut sal moet kyk na die skep van Agri - villages waar beide permanente sowel as seisoenale plaasarbeiders gehuisves kan word.
NAVRAE:
Tel: 021 483 4930
