Tweede Volstruisveiling Groot Sukses
Tweede Volstruisveiling Groot Sukses
Die tweede volstruisveiling met teeltwaardes is Woensdag, 11 Mei, gehou. Dit volg na die sukses wat behaal is met die eerste veiling van dié soort wat verlede jaar aangebied is.
Nege-en-sewentig jong broeivoëls van die Wes-Kaapse Departement Landbou is opgeveil by die Oudtshoorn Proefplaas. Dit het saamgeval met 'n Volstruis-inligtingsdag wat aangebied is deur die Departement, in samewerking met die Wes-Kaap Volstruisprodusente Vereniging en die Suid-Afrikaanse Volstruis-besigheidskamer. Die dag het, behalwe die veiling, ook verskeie interessante gesprekke opgelewer rondom onder andere Avian Influenza, lugweginfeksie en die ideale slagouderdom.
Die veebemarkingsafdeling van die Klein Karoo Groep het die veiling hanteer en talle boere het weereens van die geleentheid gebruik gemaak om nuwe teelmateriaal aan te skaf om hul bestaande broeitroppe te verbeter.
Die volstruise wat op die veiling aangebied is, is geselekteer op grond van teeltwaardes wat bereken is vanaf die beskikbare stamboomrekords en produksiedata. Teeltwaardes vir massa, eierproduksie en kuikenproduksie is vooraf vir elke volstruis beskikbaar gestel. Daar is ook verepunte aan elke volstruis toegeken. Die teelprogram by Oudtshoorn Proefplaas is reeds sedert 1991 onderweg onder die bekwame leiding van Prof. Schalk Cloete van die Instituut vir Diereproduksie by Elsenburg. Broeipare word in aparte broeikampe aangehou en alle eiers, kuikens en volwasse volstruise word duidelik gemerk om rekordhouding en naspeurbaarheid moontlik te maak.
Alhoewel al die volstruise op die veiling van uitstaande gehalte was, het die pryse gewissel van so laag as R1600 tot so hoog as R4100. Die merkbare laer pryse as verlede jaar is 'n weerspieëling van die moeilike tye waardeur die volstruisbedryf tans gaan. Ten spyte hiervan is al die volstruise verkoop wat 'n positiewe teken is vir die bedryf. Departement Landbou wys met die veiling dat hulle glo in die toekoms van die volstruisbedryf en in die vestiging van goeie teelmateriaal wat tot voordeel van die totale bedryf sal wees.
Die Oudtshoorn Proefplaas beoog om gereeld produksievelings te hou om volstruisprodusente geleentheid te gee om nuwe teelmateriaal aan te koop, en hoop om hiermee die belang van teling, seleksie en rekordhouding in die bedryf te vestig. Die vordering wat gemaak word met die seleksieprogram word ook elke jaar aan die produsente deurgegee.
Volstruisprodusente wat verdere inligting verlang kan direk skakel met die Departement se Instituut vir Diereproduksie by Elsenburg 021 808 5221 of Oudtshoorn 044 272 6077.
