Kwaggaskloof Landbouvereniging
Kwaggaskloof Landbouvereniging
Geagte voorsitter, dames en here,
Baie dankie vir die uitnodiging om vanaand saam met u te mag verkeer. Dit is gewis vir my lekker om met die Landbousektor in al sy fasette, en met soveel as moontlik van die rolspelers binne landbou in aanraking te kom. U weet dat enige minister van landbou maar sy akkers moet ken om sy brood te verdien en hy moet maar sorg dat hy plat op die aarde bly, of soos hulle sê, 'n man moet maar in touch bly, anders mag hy dalk net te vernaam wees soos in die grappie oor die rol van 'n voorsitter. Hulle sê:
Die rol van 'n voorsitter van 'n maatskappy is soms maar 'n lastige een, veral in die oë van die bestuurder.
Soos Koos gevind het toe hy 'n troeteldierwinkel besoek het. Daar sit drie papegaaie op 'n ry. Aan die eerste een se poot hang daar 'n prys van R5 000. "Hoekom is hy so duur?" wil Koos weet. "Hy kan drie tale vlot praat: Afrikaans, Engels en Xhosa. Dit is 'n voël vir die Nuwe Suid-Afrika."
En hierdie middelste papegaai? Hy kos R10 000. Wat kan hy doen?" "Hy kan Afrikaans, Engels, Xhosa en Zoeloe praat. Boonop kan hy skryf ook. Dit is 'n wonderlike papegaai."
As hy R10 000 kos, moet die derde papegaai seker enig in sy soort in die wêreld wees. Ek sien hy kos R30 000. Wat kan hy doen?" "Ek weet nie eintlik nie," sê die eienaar. "Maar die ander twee noem hom 'Meneer die voorsitter'. Nou wil ek vir u sê ek probeer om my nie as 'n meneer uit te gee nie, want dan sal ek nie Landbou in die Wes-Kaap kan dien as ek n meneer probeer wees nie."
Manie, in Landbouweekblad, sê ek maak die boere die bliksem in. Ongelukkig ken Manie nie die waarheid nie, of hou nie nie van die waarheid nie,of hy hou baie van sensasie, en tweedens steur ek my nie aan gesiglose skrywers wat die waarheid verdraai nie. Hulle sê gewoonlik politici moeti nie met mense bakle wat ink in vate en papier in tonne koop nie, maar ek wil vanaand weereens aan Manie sê, hy is welkom om my te kom besoek en hom eerstehands te vergewis van my standpunt oor die onontbeerlike rol wat boere in landbou speel en die bydrae wat kommersiële boere in die Wes-Kaap maak tot die transformasie van die Landbousektor. Dit wil nie sê dat ek sal swyg oor wat verkeerd is nie. Wanneer daar boere is wat verkeerd optree teenoor hulle wekers, dan is dit my plig om my daaroor uit te spreek. My standpunt was nog altyd dat die plaaswerker gemeenskap 'n integrale deel van landbou uitmaak en dat daar ook omgesien moet word na die welstand van plaaswerkers. Ek glo dat die verhouding tussen produsent en werker, in die Wes-Kaap, nog altyd n basiese gesonde verhouding was. Ons kan egter nie toelaat dat 'n paar vrot appels wat hulle werksmense swak en onmenslik behandel aan die hele boerdery sektor 'n slegte naam gee nie. Nie alleen is dit onmenslik nie, maar sulke optrede hou gevaar in vir Landbou se beeld in die buiteland, wat net skadelik kan wees vir ons verhouding met die EU en gepaardgaande uitvoere.
In die Wes-Kaap is daar twee baie belangrike begrippe, naamlik: "IKAPA ELIHLUMAYO" en "'N TUISTE VIR ALMAL." Hierdie twee begrippe staan nie los van mekaar nie, maar vorm 'n eenheid wat deel is van die breër visie van die regering, in die vorm van 'n volkskontrak met die mense van Suid-Afrika om op alle terreine te veg teen werkloosheid, armoede en sosiale verval.
IKAPA ELIHLUMAYO het as basis die begrippe," waardigheid, billikheid en welvaart", wat voortdurend die dryfveer moet wees vir die groeiende Kaap. Om 'n tuiste vir almal in die Wes-Kaap te skep, is dit noodsaaklik dat daar sekere paradigma skuiwe moet kom wat onder andere vra vir 'n skuif vanaf totale maatskaplike afhanklikheid na ekonomiese selfstandigheid, die groei van die ekonomie, toename in werksgeleenthede en uitbreiding van eienaarskap. In hierdie proses sal ons armoede bestry, ongelykhede uitwis en sodoende die kwaliteit van lewe van al die mense verbeter.
Die rol van landbou in die breë en die van kommersiële boere is van kardinale belang in ons skep van 'n tuiste vir almal.
Daar word algemeen aanvaar dat die skepping van inkomste- en werkgeleenthede in Suid-Afrika 'n hoë prioriteit in ontwikkelingstrategieë moet geniet. Die volle rol van landbou in so 'n ontwikkelingstrategie word egter selde goed verstaan.
Omdat voedsel die oorgrootte gedeelte van marginale uitgawes uitmaak onder laer-inkomstegroepe, bied boerdery die fisiese goedere om toenemende werksverskaffing, hoër loon-inkomste en verbeterde lewenstandaarde te verseker.
Toenemende landbouproduksie genereer beide indiensneming- en inkomste binding dwarsdeur die ekonomie, wat weer op sy beurt aangewend kan word in werkverskaffingstrategiëe in industrieë en besighede.
Die verhouding tussen landbouproduksie, ekonomiese groei, werkverskaffing en sosiale harmonie is duidelik: Indien 'n toename in werksgeleenthede, veral van laer-inkomstegroepe nie saamval met gepaardgaande stygings in landbouproduksie nie, sal daar 'n ontoereikende vraag na voedsel en reële landbouproduksie en die verwante inter-sektorale skakel-effekte en vermenigvuldiger wees. Dit is belangrik om skepping van werksgeleenthede in verband te bring met entrepreneur ontwikkeling, omdat dit reeds bewys is dat so 'n benadering 'n betekenisvolle bydrae lewer tot die opwekking van werksgeleenthede en inkomste. Deurlopende landbou ontwikkeling is 'n voorvereiste vir hierdie bydraes.
Meneer die voorsitter as ek dit nou gesê het, moet ek dadelik byvoeg dat bogenoemde slegs kan plaasvind binne 'n omgewing waarin die toestande geskep word om dit vir ons boere moontlik te maak om volhoubaar te boer. Vir ons in die Departement van Landbou in die Wes-Kaap is dit 'n baie hoë prioriteit dat alles moontlik gedoen moet word om boere op hulle plase te hou.
In die eerste plek moet ons sorg vir die korrekte posisionering van die kommersiële landbou wat groter waardering by verskeie belangegroepe en selfs die owerheid moet te weeg bring,ten opsigte van die bydrae en waarde van kommersiele boere in die behoud van stabiliteit van die sektor en die bydrae wat landbou lewer om die ekonomie te rugsteun.
In die tweede plek moet ons sorg dra dat wit boere ten volle hulle plek inneem in die proses van grondhervorming en die vestiging van nuwe toetreders, ten einde te verseker dat hulle van die begin af suksesvol en volhoubaar sal boer. Ek het so onlangs as verlede week weer aan die topbestuur van die Departement gesê dat dit my en hulle taak is om deur ons optrede te verseker dat kommersiële boere nooit bedryg sal voel deur die prosesse van transformasie nie.
Vir my is daar twee defnitiewe groeperings, naamlik, gevestigde boere en opkomende boere. Hoewel ek graag sou wou sien dat ons net van boere sal praat as ons van Landbouers praat,is dit tog nodig om onderskeid te tref, aangesien daar wel 'n verkil ten opsigte van bepaalde behoeftes is. Binne die Departement sal ons egter so optree dat ons nooit die een ten koste van die andersal dien nie.
Een van die hoekstene van landbou se bydrae tot die ekonomie is doelgerigte voorpunt navorsing en daarom het ek hierdie jaar byna R46 miljoen vir Tegnologie, Navorsing en Ontwikkeling in die Landboubegroting bewillig.
Wat navorsing betref is dit belangrik om te beklemtoon dat dit langtermyn van aard is, met uitkomste gerig op die bevordering van die mededingendheid en volhoubaarheid van die landbousektor van die Provinsie, met ander woorde op ekonomiese groei wat weer werkskepping en -instandhouding tot gevolg het. Inligting, soos gegenereer deur die navorsingsaktiwiteite van die Departement, vorm dan ook die hoeksteen van tegnologie-oordrag en boerdery-ondersteuningsprogramme aan die totale landbougemeenskap van die Wes-Kaap. Ons het dit as volg opgedeel.
R25,4 miljoen word aangewend vir die befondsing van direkte navorsing, waarvan R9,8 miljoen spesifiek vir diereproduksienavorsing, R8,8 miljoen vir plantproduksienavorsing en R2,6 miljoen vir hulpbrongerigte navorsing aangewend word. 'n Verdere bedrag van ongeveer R2,0 miljoen word spesifiek geoormerk vir die ontwikkeling en opgradering van navorsingsinfrastruktuur op die sewe proefplase van die Departement. Die rol wat proefplase as buitelug laboratoria speel vir die demonstrasie van beste landboupraktyke, kan nie onderskat word nie. Dit speel ook 'n sleutelrol in die opleiding van die groeiende opkomende landbousektor van die provinsie.
Ontledings het aangetoon dat die waterverbruik van die Kaapse Metropool binnekort die voorsiening vanuit die beskikbare waterbronne gaan oortref. Kompetisie tussen die verskillende verbruikersektore om die beskikbare water gaan nog toeneem. Die besproeiingssektor is verantwoordelik vir ongeveer 50% van totale huidige verbruik en moet dus betrokke raak by die vind van gebalanseerde oplossings.
Die Departement tree pro-aktief op met onder andere 'n program om die werklike waterverbruik deur besproeiing in die belangrikste sektore in die Wes-Kaap te bepaal en te vas te stel hoe die waterverbuiksdoeltreffendheid verbeter kan word. Die koste van die projek beloop R 615 000 per jaar. Die Provinsie het ook n bedrag van R3 miljoen beskikbaar gestel vir n ondersoek na alternatiewe waterbronne. Dr van Rooyen die hoof van ons Departement staan aan die hoof van die werkgroep wat die proses moet dryf.
Opkomende boere moet van die staanspoor af die nodige ondersteuning kry om volhoubaar te boer en daarom moet alle rolspelers, in die proses van bemagtiging van voorheen benadeelde persone, hulle verantwoordelikheid van die staanspoor af opneem.
U het ook'n baie belangrike rol wanneer dit kom by die vestiging van nuwe boere wat soms nie die vermoë het nie, en soms nie die vrymoedigheid het om tot u organisasie toe te tree nie. Ek wil vanaand vir u vra dat u dit 'n bepaalde punt van bespreking sal maak oor hoe u, u rol sien in die Agri SEB proses
Die kwessie van opleiding oor die hele spektrum geniet by ons hoë voorrang. Nadat Kromme Rhee en Boskop as aanbieders van opleiding in die vorm van kortkursusse van die opleidingstoneel verdwyn het, was daar aanvanklik 'n lugleegte in die Wes-Kaap ten opsigte van opleiding aan plaaswerkers en hulpbronarm boere. Met die nuwe mandaat van Elsenburg is hierdie leemte gevul met die vestiging van 'n Sentrum vir Voortgesette Onderwys en Opleiding in die Landbou as subprogram van die Program: Gestruktueerde Landbou Opleiding. Hierdie onder-afdeling van die Instituut bied tans opleiding aan sowat 2000 plaaswerkers en hulpbronarm boere per jaar.
Ten einde opleiding aan te pas by huidige behoeftes, word die opleiding gedesentraliseer om veral nader aan die hulpbronarm kliënte te kom en om beter in hul behoeftes te voorsien. 'n Opleidingsentrum te George is gebou en is sedert Januarie 2004 in gebruik. 'n Soortgelyke sentrum te Oudtshoorn word tans ontwikkel. Kursusse word in Engels, Afrikaans en Xhosa aangebied.
Die skepping van 'n fasiliteit in Clanwilliam in Augustus verlede jaar bevestig ons verbintenis tot die suksesvolle en volhoubare vestiging van hulpbronarm boere, begunstigdes van die nasionale grondhervormingsprogram en plaaswerkers. Dit kan tot 'n groot mate positief beïnvloed word deur effektiewe ondersteuning in terme van behoefte gerigte opleidingsprogramme.
Ons eie ondersoeke het aangedui dat hierdie kliënte van die Departement van Landbou dit uiters moeilik vind om selfs vir 'n paar dae weg van hul gemeenskappe en standplase te beweeg vir opleiding. Vir hierdie rede het die Departement van Landbou: Wes-Kaap begin met 'n proses van desentralisasie van opleiding, veral ten opsigte van die kortkursusse wat aangebied word. Ek het reeds opdrag gegee dat ons moet kyk na die kostestruktuur en metodes van befondsing om die opleiding nog meer toeganklik te maak.
Ek het reeds by verskeie ander geleenthede gevra dat alle ander betrokkenes by Landbou, hulle verantwoordelikheid sal opneem, hetsy dit verskaffers is of kettingwinkels wat landbouprodukte op hulle rakke het. Elkeen wat deel vorm van die waarde ketting van die bedryf sal 'n bydrae moet maak en nie net die kommersiële boer nie.
Ten slotte wil ek u weereens bedank vir die geleentheid en aan u die versekering gee dat my kantoor en die Departement te alle tye tot u beskikking is, om saam met u te werk aan die uitdagings wat Landbou bied om van die Wes-Kaap 'n tuiste vir almal te maak. Ons deel is om die kos op die tafel te sit in die groeiende Kaap.
