Wat elke werker en werkgewer moet weet oor gesondheid en veiligheid in die werkplek
Hierdie gids is geskryf in die belang van die gesondheid en veiligheid van werkers in Suid-Afrika. Die doel hiervan is om die Wet in eenvoudige bewoording te verduidelik aan alle rolspelers op die gebied van Suid-Afrikaanse beroepsgesondheid en veiligheid.
Die rol van die inspekteurs van beroepsgesondheid en veiligheid (BGV) in die Departement van Arbeid word verduidelik. Die pligte en regte van werkers, soos aan hulle verleen in die Wet, word uiteengesit. Die rolle en verantwoordelikhede van werkgewers, vervaardigers, ontwerpers, invoerders, verskaffers en verkopers, ter versekering van die gesondheid en veiligheid van werkers, word uitgelig. En laastens word die werksaamhede van verteenwoordigers vir gesondheid en veiligheid verduidelik.
Elke hoof-uitvoerende beampte moet sover redelik doenlik verseker dat die pligte van sy/haar werkgewer soos beoog in hierdie Wet, behoorlik nagekom word.
Die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid, 1993, vereis van die werkgewer om sover redelik doenlik ‘n werkomgewing in stand te hou wat veilig en sonder risiko vir die gesondheid van werkers is. Dit beteken dat die werkgewer moet verseker dat die werkplek vry van gevaarlike stowwe, soos benseen, chloor en        mikro-organismes, voorwerpe, toerusting, prosesse, ens. is wat besering, skade of siekte kan veroorsaak. Waar dit nie moontlik is nie, moet die werkgewer die werkers inlig oor hierdie gevare, hoe dit voorkom kan word, en hoe om veilig te werk, en ander beskermende maatreëls vir ‘n veilige werkplek.
Daar word egter nie van die werkgewer verwag om alleen verantwoordelikheid vir gesondheid en veiligheid te neem nie. Die Wet is gebaseer op die beginsel dat gevare in die werkplek aangepak moet word deur kommunikasie en samewerking tussen die werkers en die werkgewer. Die werkers en die wergewer moet die verantwoordelikheid vir gesondheid en veiligheid in die werkplek deel. Beide partye moet proaktief gevare identifiseer en beheermaatreëls ontwikkel om die werkplek veiliger te maak. Op hierdie manier is die werkgewer en werkers betrokke by ‘n stelsel waar verteenwoordigers van gesondheid en veiligheid die werkplek gereeld kan inspekteer en dan aan ‘n komitee vir gesondheid en veiligheid rapporteer, wat op hulle beurt die aanbevelings aan die werkgewer kan voorlê. 
Om te verseker dat hierdie stelsel werk, moet elke werker sy of haar regte en pligte ken soos vervat in die Wet. 
Wet en Regulasies
Die Wet bekend as die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid, 1993 (Wet No. 85 van 1993), bestaan uit 50 artikels en is deur die Parlement goedgekeur. Die doel van die Wet is om voorsiening te maak vir die gesondheid en veiligheid van mense by die werk of in verband met die gebruik van ‘n aanleg en masjinerie. Dit maak verder voorsiening vir die beskerming van ander mense as mense by die werk teen gevare wat spruit uit of in verband met die bedrywighede van mense by die werk.
Verskeie Regulasies, oor spesifieke onderwerpe, word van tyd tot tyd deur die Departement van Arbeid gepubliseer ingevolge die Wet. Die Wet en die Regulasies kan van die Staatsdrukker in Staatskoerant-formaat of gebinde formaat by verskeie uitgewers gekoop word.
Departement van Arbeid
Hoofdirektoraat Beroepsgesondheid en Veiligheid
Die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid word geadministreer deur die Hoofdirektoraat Beroepsgesondheid en Veiligheid van die Departement van Arbeid.
Ten einde die gesondheid en veiligheid van werkers te verseker, is provinsiale kantore in al die provinsies geopen.  Met dit ten doel voer inspekteurs van gesondheid en veiligheid van hierdie provinsiale kantore inspeksies en ondersoeke by werkplekke uit. 
Inspeksies
Inspeksies word gewoonlik beplan op die grond van ongelukstatistiek, die teenwoordigheid van gevaarlike stowwe, soos die gebruik van benseen in wasserye, of die gebruik van gevaarlike masjinerie in die werkplek. Onbeplande inspeksies, aan die ander kant, ontstaan gewoonlik uit versoeke of klagtes deur werkers, werkgewers, of lede van die publiek. Hierdie klagtes of versoeke word vertroulik hanteer.
Magte van Inspekteurs
Indien ‘n inspekteur gevaarlike of ongunstige toestande by die werkplek vind, kan hy of sy vereistes aan die werkgewer op die volgende wyses stel:
•	Verbodskennisgewing
In die geval van dreigende gevaar, kan ‘n inspekteur deur middel van ‘n verbodskennisgewing ‘n verbod plaas op ‘n bepaalde optrede, proses, of die gebruik van ‘n masjien of toerusting. Niemand mag die inhoud van sodanige kennisgewing verontagsaam nie en nakoming moet onmiddellik in werking tree.
•	Oortredingskennisgewing
Indien ‘n bepaling van ‘n regulasie oortree word, kan die inspekteur ‘n oortredingskennisgewing aan die werkers of werkgewer beteken. ‘n Oortreding van die Wet kan uitloop op ‘n onmiddellike vervolging, maar in die geval van ‘n oortreding van die regulasie, kan die werkgewer die geleentheid gebied word om die oortreding reg te stel binne ‘n tydsbeperking soos gespesifiseer in die kennisgewing wat gewoonlik 60 dae is.
•  Verbeteringskennisgewing
Waar die maatreëls vir gesondheid en veiligheid wat deur die werkgewer ingestel is, nie die werkers se gesondheid en veiligheid bevredigend beskerm nie, kan die inspekteur van die werkgewer vereis om meer doeltreffende maatreëls in te stel. ‘n Verbeteringskennisgewing wat die korrektiewe maatreëls voorskryf, word dan aan die werkgewer beteken.
Ander magte
Om die inspekteur in staat te stel om sy of haar pligte uit te voer, kan hy of sy enige werkplek of perseel binnegaan waar masjinerie of gevaarlike stowwe gebruik word en mense ondervra of ‘n dagvaarding aan hulle beteken om voor hom of haar te verskyn. Die inspekteur kan versoek dat enige dokumente by hom of haar ingedien word, kan die dokumente ondersoek of afskrifte daarvan maak, en kan ‘n verduideliking eis oor enige inskrywings in sodanige dokumente. Die inspekteur kan ook enige toestand of artikel inspekteer en monsters daarvan neem, en beslag lê op enige artikel wat as bewys kan dien.
Let wel: Bogenoemde magte van inspekteurs is nie absoluut nie. Enige persoon wat verskil met enige besluit wat deur ‘n inspekteur geneem word, kan appèl aanteken teen daardie besluit deur te skryf aan die Hoofinspekteur, Beroepsgesondheid en Veiligheid, Departement van Arbeid, Privaat Sak X117, Pretoria, 0001.
Algemene pligte van werkgewers teenoor werkers
Wat moet die werkgewer doen om te verseker dat die werkomgewing veilig en sonder risiko is  vir die gesondheid van sy of haar werkers?
Die werkgewer moet alle toerusting wat nodig is om die werk te doen en alle stelsels waarvolgens die werk gedoen moet word, voorsien en in stand hou in ‘n toestand wat nie die gesondheid en veiligheid van werkers sal benadeel of in gevaar stel nie. Voordat persoonlike beskermende toerusting gebruik mag word, moet die werkgewer eers probeer om enige gevaar vir die gesondheid en veiligheid van sy werkers te verwyder of te verminder. Slegs wanneer dit nie doenlik is nie, moet persoonlike beskermende toerusting gebruik word. 
Die werkgewer moet maatreëls tref om sy of haar werkers se gesondheid en veiligheid te beskerm teen gevare wat kan ontstaan uit die produsering, prosessering, gebruik, hantering, berging of vervoer van artikels of stowwe, met ander woorde enigiets waarmee werkers in kontak kan kom by die werk. Om te verseker dat aan hierdie verpligtinge voldoen word, moet die werkgewer:
•	potensiële gevare identifiseer wat aanwesig kan wees terwyl werk gedoen word, iets geproduseer, geprosesseer, gebruik, geberg of vervoer word, en enige toerusting gebruik word
•	voorkomende maatreëls instel wat nodig is om sy of haar werkers teen die geïdentifiseerde gevare te beskerm en die middele te verskaf om hierdie voorkomende maatreëls te implementeer
•	voorsiening maak vir die nodige inligting, instruksies, opleiding en toesig terwyl die mate van werkersbekwaamheid in gedagte gehou word. Met ander woorde, wat hulle kan of nie kan doen nie
•	nie toelaat dat enigeen voortgaan met enige taak nie tensy die nodige voorsorgmaatreëls getref word
•	stappe doen om te verseker dat elke persoon onder sy of haar beheer aan die vereistes van die Wet voldoen
•	die nodige beheermaatreëls in die belang van gesondheid en veiligheid afdwing
•	toesien dat die werk wat gedoen word en die toerusting wat gebruik word, onder die algemene toesig van ‘n werker is wat opgelei is om die gevare te verstaan wat met die werk gepaard gaan 
•	toesien dat sodanige werker verseker dat die voorsorgmaatreëls geïmplementeer en in stand gehou word.
Alle werkers het die reg om ingelig te word
Die werkgewer moet toesien dat elke werker ingelig is en die gesondheids- en veiligheidsgevare duidelik verstaan van enige werk wat gedoen word, enigiets wat geproduseer, geprosesseer, gebruik, geberg, gehanteer of vervoer word, en enige toerusting of masjinerie wat gebruik word. Die werkgewer moet dan inligting verskaf oor voorsorgmaatreëls teen hierdie gevare.
Die werkgewer moet verteenwoordigers van gesondheid en veiligheid in kennis stel wanneer ‘n inspekteur hom of haar verwittig van inspeksies en ondersoeke wat by die perseel uitgevoer gaan word. Die werkgewer moet ook die verteenwoordigers van gesondheid en veiligheid inlig oor enige aansoek om vrystelling, of enige vrystelling wat hom of haar ingevolge die Wet verleen word. Vrystelling beteken om vrygestel te word van sekere bepalings van die Wet, regulasies, kennisgewings of opdragte ingevolge die Wet.
Die werkgewer moet so gou moontlik die verteenwoordigers van gesondheid en veiligheid in kennis stel daarvan as ‘n insident in die werkplek voorgekom het. ‘n Insident is ‘n gebeurtenis wat by die werkplek voorkom waar ‘n persoon gedood of beseer is of siek geword het. Dit is ook die storting van ‘n gevaarlike chemiese produk, byvoorbeeld wanneer formaldehied             (‘n chemiese produk wat in die nywerheid gebruik word) uit ‘n tenk lek weens ‘n foutiewe klep, of waar masjinerie uit beheer raak sonder om enigiemand te dood of te beseer.
Algemene pligte van vervaardigers, ontwerpers, invoerders, verkopers of verskaffers betreffende die gebruik van artikels en stowwe by die werk
Artikels
Vervaardigers, ontwerpers, invoerders, verkopers en verskaffers moet verseker dat:
•	hulle artikels veilig en sonder risiko vir gesondheid is en aan al die voorgeskrewe vereistes voldoen
•	wanneer ‘n struktuur opgerig of ‘n artikel geïnstalleer word op ‘n perseel, moet dit op so ‘n wyse gedoen word dat daar nie ‘n onveilige situasie of ‘n gesondheidsrisiko geskep word nie.
Stowwe
Vervaardigers, ontwerpers, invoerders, verkopers en verskaffers van stowwe moet verseker dat:
•	sodanige stowwe veiliger en sonder risiko is vir gesondheid wanneer dit behoorlik gebruik word
•	inligting beskikbaar is oor die:
	-  gebruik van die stof by die 		werk
	-  gesondheids- en 				veiligheidsrisiko 				geassosieer met die stof 
	-  toestande wat moet heers 		om te verseker dat die stof 		veilig en sonder risiko vir 			die gesondheid is wanneer 		dit behoorlik gebruik word 
	-  prosedures in die geval 			van ‘n ongeluk.
Indien ‘n persoon aan wie ‘n artikel of stof verkoop of verskaf is, skriftelik onderneem om stappe te doen om te verseker dat die artikel of stof aan al die voorgeskrewe vereistes voldoen, en veilig en sonder risiko vir die gesondheid is, skuif die pligte van die invoerder, ontwerper, verkoper, verskaffer of vervaardiger daarna na die persoon wat onderneem om sodanige stappe te doen.
Algemene pligte van die werker
Dit is die plig van die werker om:
•	na sy of haar eie gesondheid en veiligheid om te sien, sowel as na dié van ander mense wat deur sy of haar optrede of versuim om op te tree, nadelig geraak word. Dit sluit speletjies by die werk in. Baie mense is beseer en selfs gedood weens ruwe spel by die werk, en dit word as ‘n ernstige oortreding beskou
•	sy of haar samewerking met die werkgewer te gee waar die Wet ‘n plig op die werker lê of vereistes aan hom of haar stel
•	inligting aan ‘n inspekteur van die Departement van Arbeid te gee indien hy of sy dit vereis
•	‘n wettige opdrag uit te voer wat die werkgewer of gemagtigde persoon voorskryf met betrekking tot gesondheid en veiligheid
•	aan die reëls en prosedures te voldoen wat die werkgewer aan hom/haar gee
•	om die voorgeskrewe veiligheidsklerasie te dra of die voorgeskrewe veiligheidstoerusting te gebruik waar dit vereis word
•	onveilige of ongesonde toestande so gou moontlik aan die werkgewer te rapporteer of aan die gesondheids- en veiligheidsverteenwoordiger 
•	indien hy of sy in ‘n voorval betrokke is wat sy of haar gesondheid kan raak of ‘n besering kan veroorsaak, daardie voorval by die werkgewer, en by die gemagtigde persoon of die gesondheids- of veiligheidsverteenwoordiger so gou moontlik maar nie later nie as die einde van die skof aan te meld.
Regte van die werker
Die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid het werkersregte uitgebrei om die volgende in te sluit:
Reg op inligting
Die werker moet toegang hê tot –
•	die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid en die Regulasies
•	gesondheids- en veiligheidsreëls en prosedures van die werkplek
•	gesondheids- en veiligheidstandaarde wat die werkgewer by die werk moet handhaaf.
Die werker kan die werkgewer versoek om hom of haar in te lig oor –
•	gesondheids- en veiligheidsgevare in die werkplek
•	die voorkomingsmaatreëls wat getref moet word
•	die prosedures moet gevolg word as ‘n werker blootgestel is aan gevaarlike stowwe wat gevaarlik is vir gesondheid.
Die werker kan versoek dat sy of haar privaat mediese praktisyn sy of haar mediese en blootstellingsrekords ondersoek.
Indien die werker ‘n gesondheids- en veiligheidsverteenwoordiger is, kan hy of sy ondersoek instel en skriftelik kommentaar lewer oor blootstellingsevaluerings en moniteringsverslae.
Die reg om deel te neem aan inspeksies
Indien die werker ‘n gesondheids- en veiligheidsverteenwoordiger is, kan hy of sy ‘n gesondheids- en veiligheidsinspekteur van die Departement van Arbeid gedurende ‘n inspeksie van die werkplek vergesel en enige vrae wat die inspekteur mag vra, beantwoord.
Reg om kommentaar te lewer op wetgewing en vertoë rig
Die werker kan kommentaar lewer op of vertoë rig in verband met enige regulasie of veiligheidstandaard gepubliseer ingevolge die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid.
Reg om nie geviktimiseer te word nie
‘n Werkgewer mag nie ‘n werker uit sy/haar diens ontslaan nie, ‘n werker se salaris verminder of ‘n werker se diensvoorwaardes verminder nie omdat –
•	die werker inligting verstrek het wat van hom of haar vereis is ingevolge die Wet, aan iemand wat belas is met die administrasie van die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid
•	die werker voldoen het aan ‘n wettige kennisgewing, (bv. ‘n verbod, oortredingskennisgewing, ens.)
•	die werker iets gedoen het wat ingevolge die Wet gedoen moes word
•	die werker nie iets gedoen het wat ingevolge die Wet verbode is nie
•	die werker getuienis afgelê het voor die Arbeidshof of ‘n Geregshof oor aangeleenthede rakende gesondheid en veiligheid.
Reg op Appèl
Die werker kan appèl aanteken teen die besluit van ‘n inspekteur.  Appèlle moet skriftelik verwys word  na die Hoofinspekteur, Beroepsgesondheid en Veiligheid, Departement van Arbeid, Privaat Sak X117, Pretoria, 0001.
Plig om nie met voorwerpe te peuter of dit verkeerd te gebruik nie
Niemand mag peuter met ‘n voorwerp wat voorsien is in die belang van gesondheid en veiligheid nie, of dit verkeer te gebruik nie. Niemand mag byvoorbeeld ‘n veiligheidskut van ‘n masjien verwyder nie of die masjien gebruik of iemand toelaat om dit sonder sodanige skut te gebruik nie.
Gesondheids- en veiligheids-verteenwoordigers
Wat is gesondheids- en veiligheidsverteenwoordigers?
Hulle is voltydse werkers wat genomineer of gekies is en skriftelik aangewys is deur die werkgewer nadat die werkgewer en werkers met mekaar oorleg gepleeg het en ‘n ooreenkoms bereik het oor wie gesondheids- en veiligheidsverteenwoordigers wil wees. Hulle moet minstens vertroud wees met die omstandighede en toestande by daardie deel van die werkplek waarvoor hulle aangewys is. 
Ooreenstemming moet ook bereik word oor die tydperk diens en funksies van die gesondheids- en veiligheidsverteenwoordiger en moet onderling tussen die werkgewer en die werkers geskik word.
Hoeveel gesondheids- en veiligheidsverteenwoordigers moet aangewys word?
Een gesondheids- en veiligheidsverteenwoordiger moet aangewys word vir elke werkplek wat bestaan uit 20 of meer werkers. Dus is dit nie nodig om ‘n verteenwoordiger aan te wys waar daar 19 werkers in diens is nie.
In die geval van winkels en kantore moet een verteenwoordiger aangewys word vir elke 100 verteenwoordigers of deel daarvan.
Byvoorbeeld, een verteenwoordiger moet aangewys word in die geval van 21 tot 100 werkers. Maar twee verteenwoordigers moet aangewys word waar daar 101 tot 200 werkers in diens is, ens.
In die geval van ander werkplekke moet een verteenwoordiger aangewys word vir elke 50 werkers of deel daarvan. Een verteenwoordiger moet byvoorbeeld aangewys word in die geval van 21 tot 50 werkers. Maar twee verteenwoordigers moet aangewys word waar 51 tot 100 werkers in diens is.
Afhangende van omstandighede kan ‘n inspekteur die aanwysing vereis van meer verteenwoordigers, selfs in die geval waar die getal werkers minder as 20 is. Byvoorbeeld die uitleg van ‘n aanleg kan van so ‘n aard wees dat die aanwysing van slegs een werker vir 50 werkers onvoldoende is. Die inspekteur kan dan die aanwysing van meer verteenwoordigers vereis. Indien die werkgewer en werkers ooreenstem, kan meer as die voorgeskrewe getal verteenwoordigers aangewys word.
Wanneer moet gesondheids- en veiligheidsverteenwoordigers aangewys word?
Binne vier maande na die inwerkingtreding van die werkgewer se sakeonderneming. ‘n Werkgewer met meer as 20 werkers, wie se besigheid minder as vier maande in bedryf is, het nie nodig om verteenwoordigers aan te wys nie. In die geval waar seisoenswerkers byvoorbeeld in diens is op plase, wat die getal werkers vir ‘n tydperk van minder as vier maande 20 laat oorskry, is die aanwysing van verteenwoordigers ook nie nodig nie.
Wanneer moet gesondheids- en veiligheidsverteenwoordigers hulle werksaamhede uitvoer?
Alle werksaamhede betreffende die aanwysing, funksionering en opleiding van verteenwoordigers kan gedurende normale werkure uitgevoer word.
Wat kan gesondheids- en veiligheidsverteenwoordigers doen?
Gesondheids- en veiligheidsverteenwoordigers is daarop geregtig om die volgende te doen:
•	Gesondheids- en veiligheidsoudits
Verteenwoordigers kan die doeltreffendheid van gesondheids- en veiligheidsmaatreëls deur middel van gesondheids- en veiligheidsoutdits nagaan.
•	Identifiseer potensiële gevare
Verteenwoordigers kan potensiële gevare in die werkplek identifiseer en hulle aan die gesondheids- en veiligheidskomitee of die werkgewer rapporteer.
•	Ondersoek voorvalle
Verteenwoordigers kan tesame met die werkgewer voorvalle ondersoek, of klagtes van werkers betreffende gesondheids- en veiligheidsaangeleenthede en skriftelik daaroor verslag doen.
•	Rig vertoë
Verteenwoordigers kan aan die werkgewer of gesondheids- en veiligheidskomitee vertoë rig betreffende die veiligheid van die werkplek of, waar die vertoë onsuksesvol is, aan ‘n inspekteur.
•	Inspeksies
Wat inspeksies betref, kan verteenwoordigers:
-  die werkplek inspekteer nadat die werkgewer van die inspeksie verwittig is
-  deelneem aan besprekings met inspekteurs by die werkplek en inspekteurs op inspeksies vergesel
-  dokumente inspekteer
-  met die toestemming van sy/haar werkgewer, vergesel word van ‘n tegniese adviseur gedurende ‘n inspeksie.
•	Komiteevergaderings bywoon
Verteenwoordigers moet gesondheids- en veiligheidskomiteevergaderings bywoon.
Gesondheids- en veiligheidskomitees
Wat is die doel van gesondheids- en veiligheidskomitees?
Lede vergader om maatreëls te inisieer, bevorder, handhaaf en hersien ten einde die gesondheid en veiligheid van werkers te bevorder.
Wanneer moet gesondheids- en veiligheidskomitees ingestel word?
Minstens een komitee moet ingestel word wanneer twee of meer verteenwoordigers aangewys word.
Uit hoeveel lede bestaan ‘n gesondheids- en veiligheidskomitee?
Die werkgewer bepaal die getal komiteelede, gebaseer op die volgende:
•	indien slegs een komitee ingestel is vir ‘n werkplek, moet al die verteenwoordigers lid wees van daardie komitee
•	indien twee of meer komitees ingestel is vir ‘n werkplek, moet elke verteenwoordiger lid wees van minstens een van daardie komitees.
Derhalwe moet elke verteenwoordiger lid wees van ‘n komitee. Die werkgewer moet ook ander mense nomineer om hom of haar te verteenwoordig op ‘n komitee maar sodanige genomineerdes mag nie meer wees as die getal verteenwoordigers aangewys op daardie komitee nie. Indien ‘n inspekteur egter van mening is dat die getal komitees in ‘n werkplek onvoldoende is, kan hy of sy die instelling van bykomende komitees bepaal.
Hoe dikwels vergader gesondheids- en veiligheidsverteenwoordigers?
Hulle vergader wanneer dit ook al nodig is, maar minstens een keer elke drie maande. Die komitee bepaal die tyd en plek. 
Indien 10% of meer van die werkers egter by die inspekteur ‘n versoek rig om ‘n vergadering, kan die inspekteur bevel gee dat sodanige vergadering gehou moet word op ‘n tyd en plek wat hy of sy bepaal.
Wie bepaal die prosedure by die vergadering?
Die lede van die komitee kies die voorsitter en bepaal sy of haar dienstydperk, vergaderingsprosedures, ens.
Kan gesondheids- en veiligheidskomitees deskundiges raadpleeg vir advies?
Ja, komitees kan mense koöpteer as adviserende lede as gevolg van hulle kennis en kundigheid rakende gesondheids- en veiligheidsaangeleenthede. ‘n Adviserende lid het egter nie stemreg nie.
Wat doen gesondheids- en veiligheidskomitees?
Die komitees hanteer slegs gesondheids- en veiligheidsaangeleenthede by die werkplek of dele daarvan waarvoor sodanige komitees ingestel is. Gewoonlik het gesondheids- en veiligheidskomitees die volgende werksaamhede:
•	Doen aanbevelings
‘n Komitee moet aanbevelings doen aan die werkgewer rakende die gesondheid en veiligheid van werkers.  Waar hierdie aanbevelings nie lei tot die oplossing van die saak nie, kan die komitee aanbevelings doen aan ‘n inspekteur.
•	Bespreek voorvalle
‘n Komitee moet enige insident bespreek wat lei tot die besering, siekte, of dood van ‘n werker en kan skriftelik aan die inspekteur daaroor verslag doen.
•	Rekordhouding
‘n Komitee moet rekord hou van elke aanbeveling aan die werkgewer en van elke verslag aan ‘n inspekteur.
Ander werksaamhede
Komiteelede moet enige ander werksaamheid verrig wat by regulasie van hulle vereis word.
Aftrekkings
‘n Werkgewer mag geen aftrekkings doen van ‘n werker se salaris met betrekking tot enigiets wat van hom of haar verwag word om te doen in belang van gesondheid en veiligheid ingevolge die Wet nie.
Verslag aan die Hoofinspekteur betreffende beroepsiektes
Indien ‘n mediese praktisyn iemand ondersoek of behandel vir ‘n siekte wat na sy of haar vermoede ontstaan het uit die werker se werk, moet die mediese praktisyn die geval by die werker se werkgewer en by die Hoofinspekteur aanmeld.
Samewerking met die inspekteur
Nakoming van aanwysings, dagvaardings, versoeke of bevele
Werkgewers en werkers moet die aanwysings, dagvaardings, versoeke of bevele van inspekteurs nakom. Daarbenewens mag niemand iemand anders verhinder om genoemde na te kom nie.
Die beantwoording van vrae
Die inspekteur se vrae moet beantwoord word, maar niemand word verplig om ‘n vraag te beantwoord waardeur hy of sy homself of haarself sal inkrimineer nie. Om jouself te inkrimineer beteken jy gee te kenne dat jy verantwoordelik is vir ‘n oortreding.
Ondersoeke
Wanneer die inspekteur dit vereis, moet hy of sy voorsien word van die nodige middele en die bystand verleen word wat hy of sy nodig mag hê om ‘n ondersoek te hou. Die inspekteur kan ook versoek dat die ondersoeke bygewoon word deur individue wat die inspekteur kan bystaan met die ondersoek. Niemand mag die inspekteur beledig nie of met opset die ondersoek onderbreek nie.
Vervolgings
Wanneer die werker iets doen wat ingevolge die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid beskou word as ‘n oortreding, is die werkgewer verantwoordelik vir daardie oortreding, en hy of sy kan skuldig bevind word en daarvoor gevonnis word, tensy die werkgewer kan bewys dat:
•	hy of sy nie sy of haar toestemming gegee het nie
•	hy of sy alle redelike stappe gedoen het om dit te voorkom
•	die werker nie opgetree het binne die bestek van sy of haar bevoegdheid nie, met ander woorde die werker het iets gedoen wat hy of sy geweet het hy of sy nie behoort te doen nie.
Voorgenoemde is ook van toepassing op ‘n magtiging van ‘n werkgewer, byvoorbeeld ‘n subkontrakteur, tensy die partye vooraf skriftelik ooreenkom oor hoe die magtiging aan die bepalings van die Wet sal voldoen.
Bystand van ‘n inspekteur
Inspekteurs kan by die volgende kantore van die Departement van Arbeid genader word:
Captions
‘n Inspekteur van die Departement van Arbeid het gedurende ‘n inspeksie ‘n gassilinder gevind wat los staan in plaas van vasgeheg te wees teen die muur of ‘n pilaar.
Die Departement se inspekteurs het die ineenstorting van die Coega-brug waar 2 mense gedood is en 23 mense beseer is.
Slegs twee mense het beskermende klere aan en die derde persoon werk in dieselfde omgewing sonder ‘n beskermende masker oor die neus.
Beskerm jou eie liggaam deur die voorgeskrewe beskermende klerasie te alle tye te dra vir die kop, hande, liggaam en voete ens.
‘n Gassilinder het ontplof weens ‘n brand.
‘n Voorbeeld van die gebruik van steierwerk op ‘n totaal onanvaarbare en gevaarlike wyse
Die skep van ‘n potensieel gevaarlike situasie by ‘n punt vir twee kragproppe en nie vyf nie soos getoon in die prent.
Stapeling van materiaal moet op so ‘n wyse gedoen word dat dit nie ‘n gevaar vir die werkers skep nie.
Het jy geweet dat die veiligheid van kabelweë slegs een van die take van ‘n beroepsgesondheids en veiliigheidsinspekteur is?
‘n Gevaarlike situasie. Die stellasies is nie aan die gebou vasgemaak nie en geen beskermende klere word gedra nie.
‘n Nooduitgangsdeur mag nooit toegepak en gesluit wees soos hierdie een nie
Die plek waar 11 mense gesterf het in ‘n brand met geen manier om te ontsnap nie, omdat die werkplek aan die buitekant gesluit was.
