Wat behoort werknemers en
werkgewers van silikose te weet?
Hoeveel weet jy van silikose? 
Silikose is ’n gevaarlike, stremmende, onomkeerbare en soms fatale longsiekte. Dit word veroorsaak deur die inaseming van stof wat inasembare kristallynsilika bevat. Silika is die belangrikste komponent in sand, klip en erts. 
Waarom is die inaseming van silikastof so gevaarlik? 
Blootstelling aan stof wat mikroskopiese deeltjies kristallynsilika bevat, kan veroorsaak dat letselweefsel in die longe vorm, wat die longe se vermoë verminder om suurstof uit die lug wat ons inasem, te onttrek. Ernstige fibrose kan tot die dood lei weens ontoereikende asemhaling en hartversaking by mense met gevorderde silikose of silikose met komplikasies. Mense wat in die werkplek aan silika blootgestel word, of diegene wat silikose het, het ŉ veel groter risiko van longtuberkulose. Silikose saam met tuberkulose – of silikotuberkulose – is ŉ belangrike doodsoorsaak by mense wat oor lang tydperke aan silika blootgestel word.
Waar geskied blootstelling aan silikastof?
Silikastof word vrygestel tydens die werkproses waarin klip, sand of betongruis in baie klein deeltjies opgebreek word. Sandspuiting is een van die         hoërisiko-aktiwiteite waar silikastof in die lug beland. Droëvee, of die wegwerk van sand of betonklip, skuur of skoonmaak van messelwerk met saamgeperste lug, kan groot stofwolke veroorsaak.
Hoe sal ŉ werker weet of hy/sy die risiko loop om silikose op te doen?
Alle werkers wat in ŉ stowwerige omgewing werk waar silikastof teenwoordig is, kan potensieel silikose opdoen. Silikose kan baie vinnig ontwikkel met blootstelling aan silika (Akute Silikose) of vinnige (Versnelde Silikose) of stadige (Chroniese Silikose). Dit kan ook gekompliseer word deur massiewe fibrose of tuberkulose. 
In watter werkplekke is blootstelling aan silikastof die waarskynlikste?
Die volgende is nie die enigste werkomgewings nie maar hulle is die waarskynlikste met die grootste risiko: 
●  Enige bedryf waar sandstraling/-spuiting gedoen word, of waar haelspuiting van voorwerpe met silika-inhoud plaasvind om verf en roes van geboue of metaaltenks te verwyder, of waar matglas vervaardig word 
●  In myne of gruisgroewe waar boorwerk in graniet of sandsteen gedoen word 
●  In die konstruksiebedryf waar aktiwiteite soos sandstraling, tonnelwerk,     rots- en hamerboor plaasvind, en waar oppervlakskuurwerk met kraggereedskap gedoen word op oppervlaktes wat silika bevat
●  Gieterye en frieswerk, skudgeut, sand- of haelspuiting, oondskoonmaak en skuurwerk 
●  Bedrywe wat keramiek, stene, klei en pottebakkery vervaardig 
●  Sny van klip of graniet, saagwerk, afbeiteling, skuur en poleer 
●  Vervaardiging van juweliersware 
●  Glasvervaardiging 
●  In die landboubedryf waar reste op landerye of weikampe verbrand word 
●  Skeepsbou 
●  Spoorweë 
●  Vervaardiging van seep en skoonmaakmiddels.
Wat is die simptome wat dui op die moontlikheid van silikose? 
Silikose kan vir jare nie waargeneem word nie; selfs vir 15 jaar of langer as dit chronies is en nie komplikasies het nie. ’n Werker wat tuberkulose het en aan silika blootgestel word, kan ook silikose hê. As silikose erger word of komplikasies ontwikkel (bv. met tuberkulose) kan die volgende simptome voorkom: 
●  Kwaai hoesery 
●  Kort van asem 
●  Moegheid 
●  Aptytverlies 
●  Koors 
●  Borspyn.
Hoe sal jy weet of jy silikose het? 
As jy weet jy is blootgestel aan silikastof behoort jy ŉ kliniek, hospitaal of dokter te besoek wat ondervinding van beroepsiektes het. Die mediese ondersoek behoort ŉ deeglike beroepsgeskiedenis, bors-X-strale en ŉ longfunksietoets in te sluit om te bepaal of jy silikose het. 
Wat kan jy doen om silikose te voorkom?
Die volgende intervensies moet oorweeg word om silikose in die werkplek te voorkom: 
Primêre voorkoming 
Die volgende intervensies kan silikose in die werkplek voorkom: 
●  Maak seker dat ingenieursmasjinerie en ventilasie-apparaat om stof van die werkplek te verwyder in goeie werkende toestand is 
●  Pas maatreëls toe om silikastofvlakke te verlaag 
●  Minimaliseer stofblootstelling deur, waar moontlik, watersproeimetodes te gebruik om oppervlaktes te benat en hou oppervlaktes, insluitende vloere, so skoon van stof as moontlik 
●  Doelmatige stofmaskers moet te alle tye in stowwerige plekke gedra word 
●  Neem deel aan opleidingsprogramme oor die voorkoming van silikose. 
Sekondêre voorkoming 
●  Vra jou werkgewer om vir jou ŉ mediese ondersoek te reël. 
Waarheen om te gaan as jy silikose, silikaverwante tuberkulose of silikaverwante longkanker het wat jy in die werkplek opgedoen het. 
Kontak die naaste Provinsiale Kantoor van die Departement van Arbeid vir advies oor hoe om aansoek te doen vir vergoeding uit die Vergoedingsfonds. 
Wat jy moet doen as jy meer inligting oor silikose verlang: 
Kontak jou naaste kantoor van die Departement van Arbeid of besoek die Departement se webtuiste by www.labour.gov.za
Byskrifte van Fotos
Silika word in houers vervoer om in tenks geberg te word vir die produksieproses.
Die foto toon duidelik hoe die aanleg se stof die skerpte van die foto beïnvloed.
Om silikose te voorkom, moet opgetree word om silikastofvlakke te verlaag.
Een van die potensiële risiko-areas vir silikastof is in die konstruksiebedryf waar aktiwiteite soos sandstraling, tonneling, rotsboor-, hamerboor- en skuurwerk met kraggereedskap gedoen word op oppervlaktes wat silika bevat.
Dra te alle tye ŉ stofmasker in die werkplek!
