Gesondheid en veiligheid in kleinsake-ondernemings
Waaroor gaan beroepsgesondheid-en-veiligheid?
Dit gaan oor die voorkoming dat mense deur werk beseer of siekgemaak word deur voorkomende maatreëls en die verskaffing van 'n bevredigende werksomgewing.
Hoe word mense se gesondheid en veiligheid beskerm?
Daar is reëls wat van ons almal vereis om nie onsself of iemand anders in gevaar te stel nie.  Die wet is ook daar om die publiek teen werksplekgevare te beskerm.
Is gesondheid-en-veiligheidswette ook op kleinsake-ondernemings van toepassing?
Ja, gesondheid-en-veiligheidswette is op alle besighede van toepassing, ongeag hoe klein hulle is.  Dit is ook van toepassing op mense wat vir hulleself werk.
Watter wet is van toepassing?
Die Beroepsgesondheid-en-Veiligheidswet, Nr 85 van 1993.
Wie is verantwoordelik vir die ontwikkeling en toepassing van gesondheid-en- veiligheidswette?
Die Departement van Arbeid is verantwoordelik vir die ontwikkeling van gesondheid-en-veiligheidswette in Suid-Afrika.  Inspekteurs word deur die Departement van Arbeid aangestel om die gesondheid-en-veiligheidswette toe te pas.
Wat doen die inspekteurs?
Hulle besoek werksplekke en kyk dat mense die reëls gehoorsaam.  Hulle ondersoek voorvalle en klagtes.  Hulle help u ook om te verstaan wat u te doen staan.  Hulle dwing die reëls af waar ernstig oortree word.
Wat moet ons doen as daar 'n besering by die werk ontstaan?
Die werkgewer of persoon wat vir homself werk moet voorvalle by die Departement van Arbeid aangee.  Die voorval moet onmiddellik aangemeld word, veral in ernsige gevalle, of binne sewe dae.
Het u gesondheid en veiligheid onder beheer in u werksplek?
Ten einde maatreëls in te stel om risiko's by die werkplek te beheer, moet 'n risiko assessering gedoen word om inligting oor risiko's wat met die werksplek verband hou, te bekom.  Verstandige maatreëls kan dan ingestel word om risiko's te beheer.
Wat is 'n risiko assessering?
Dit is 'n deeglike ondersoek na dit wat moontlik gevaar vir mense in die werksplek inhou.
Watter moontlike risiko's en beserings kan opgedoen word by die werksplek?
Daar is 'n aantal risiko's wat moontlik by die werk aangetref kan word en die volgende is 'n paar voorbeelde daarvan:
Gly of struikel by die werk.  Hierdie is 'n algemene oorsaak van besering wat in alle soorte werksplekke voorkom.
Chemiese stowwe
Val van hoogtes af, bv. lere
Verstuitings, beenbreuke en pyne, meestal as gevolg van hantering of stut van vragte met die hand of liggaamsgewig
Geraas
Vibrasie, meestal waar mense met handgereedskap werk
Elektrisiteit by die werk
Vuur
Die werkgewer of persoon wat vir homself werk het die verantwoordelikheid  om te verseker dat geen persoon beseer word of geraak word deur aktiwiteite by die werkplek nie.  Werkers moet ook seker maak dat geen persoon by die werkplek seerkry as gevolg van hul agterlosigheid of blote gebrek aan samewerking met die werkgewer nie.
Die Departement van Arbeid kan by die volgende kantore gekontak word:
Provinsiale Kantore van die Departement van Arbeid
Arbeidsentra van die Departement van Arbeid
