Beroepsgesondheid en Veiligheid in die Landbou

Hierdie pamflet verskaf inligting oor die gesondheidsrisiko's wat met werk in die landbou, tuinbou en bosbou gepaardgaan.
Ons het ons daartoe verbind om ongelukke en swak gesondheid te voorkom, en dis vir ons 'n voorreg om geassosieer te word met alle individue en maatskappye wat by gesondheid en veiligheid in die landbou, tuinbou en bosbou betrokke is.

Gesondheids- en veiligheidsrisiko's in die landbou
Werk in die landbou kan om baie redes bedreigings vir jou gesondheid inhou, soos:
 Die fisiese aard daarvan
 Blootstelling aan die weer, geraas en vibrasie
 Aanraking met diere
 Blootstelling aan gevaarlike chemikalieë en ander stowwe.

Fisiese aard van jou werk
Byvoorbeeld, om swaar vragte te hanteer of in moeilike posisies te werk, kan probleme rakende spiere en die skelet veroorsaak. Probleme van hierdie aard is pyne in die ledemate, gewrigte of rug, wat die gevolg kan wees van verstuiting of verrekking (skade aan ligamente of spiere), verskuifde werwels (rugpyn), iskias (pyn aan die agterkant van die been), of artritis van die heupe, knieë of ander gewrigte.
 Vermy die hantering van swaar vragte waar moontlik, of gebruik meganiese stelsels.
 Gebruik goeie hanteertegnieke – plaas jou voete reg, hou jou rug reguit en hou dit wat jy optel naby jou liggaam.
 Maak seker dat jou werkplek so ingerig is dat voorwerpe en produkte gerieflik bereik kan word sonder om te strek, en probeer om take af te wissel of om te beweeg sodat jy 'n verskeidenheid spiere in die liggaam gebruik.

Die veilige gebruik van masjiene op die plaas
Maak seker dat die masjiene wat jy gebruik:
 Geskik is vir die werk.
 In stand gehou word sodat dit veilig gebruik kan word.
 Toegerus is met veiligheidstoestelle wat by wet vereis word, en maak seker dat dit:
- sterk genoeg is en, as dit vasgeheg is, nie maklik verwyder kan word nie;
- van die regte materiaal gemaak is. Plastiek bied goeie sig maar kan maklik beskadig word.
- nie maklik omseil of oorkom kan word nie.
As skerms onderling gegrendel is, byvoorbeeld as jy verskeie kere per dag toegang tot 'n gevaarlike onderdeel moet kry, maak seker dat:
- die masjien nie kan begin werk voordat die skerm in posisie is nie;
- die masjien of onderdeel ophou werk wanneer die skerm oopgemaak word;
- die grendelskakelaar of klep stewig genoeg vir die taak is;
en dat die manier hoe dit werk, dit moeilik maak om te omseil.

Kragaftakkers se asskerms
By die asskerms van kragaftakkers, maak seker dat die veiligheidskerm:
 Volgens 'n erkende standaard gemaak is.
 Die korrekte grootte en lengte vir die as is, wanneer dit toe en oop is.
'n Niedraaitipe, met die keertoestel (bv. hegkettings) in plek, moet:
 Behoorlik gebruik en in stand gehou word – veiligheidskerms moet gereeld skoongemaak en gesmeer word.
 Gestut word wanneer dit nie gekoppel is nie – moenie dit op die trekstang laat rus of op die grond laat val nie, en moenie dit aan die keertoestel laat hang nie.
 Beskerm word teen beskadiging, bv. deur vee, wanneer die masjien nie gebruik word nie.

Koop of huur van masjiene
As jy masjiene koop of huur, vereis die wet dat die verskaffer die vereiste veiligheidsmaatreëls voorsien. Maak seker dat jy en jou werkers: 
•	Masjinerie gebruik volgens die instruksies wat daarmee saam ontvang is. 
•	Sorg dat veiligheidskerms in posisie is en 'n doeltreffende veiligheidskontrole van alle toerusting doen en alle defekte regstel voor dit gebruik word.
•	Nagaan dat kontroles duidelik gemerk is om aan te dui wat dit doen en watter masjien dit beheer, en dat dit so ontwerp en geplaas is dat dit nie per ongeluk geaktiveer kan word nie.
•	Nagaan dat vaste masjiene toereikend verlig is.
•	Nagaan dat elektriese masjiene geïsoleer en afgesluit is wanneer veiligheidskerms verwyder word.
•	Opgelei is om veilig te werk en voorsien is van die nodige beskermende klere en dit gebruik. 

Instandhouding en ontstopping
Baie voorvalle met masjinerie vind plaas tydens instandhouding of ontstopping. Onthou “veilige stop” en maak seker dat: 
•	Personeel behoorlik opgelei is om die taak te verrig. 
•	Voldoende gereedskap en aanwysings gegee word vir instandhouding, verstelling, skoonmaak en ontstopping van masjiene.
•	Veilige werkpraktyke ontwerp en gebruik word. 
•	Opgegaarde energie, byvoorbeeld van saamgeperste materiaal, vere of hidroulika, ontlaai word voor met werk begin word. 
•	Masjinerie of onderdele wat hidroulies opgelig is, teen val beveilig word deur middel van meganiese toestelle soos stutte of domkragte as mense daaronder werk.

Alle operateurs moet seker maak dat: 
•	Hulle weet hoe om 'n masjien te stop voor hulle dit aan die gang sit.
•	Hulle dit altyd vanuit die regte posisie aan die gang sit.
•	Alle veiligheidskerms aangebring is en reg werk.
•	Die gebied om 'n vaste masjien skoon, netjies en vry van obstruksies is.
•	Die toesighouer dadelik ingelig word as 'n masjien nie behoorlik werk nie. 
•	Hulle toepaslike beskermende klere en toerusting dra. 

Moet nooit: 
•	'n Masjien gebruik tensy jy gemagtig en opgelei is om dit te doen nie. 
•	Probeer om verstoppings te verwyder of 'n masjien skoon te maak nie tensy die aandrywing ontkoppel is en die masjien stilstaan. 
•	Loshangende kettings, los kledingstukke, handskoene, ringe of lang hare dra wat in bewegende dele vasgevang kan word nie. 
•	Mense wat masjinerie gebruik, se aandag aftrek nie. 
•	Van 'n bewegende trekker of ander selfaangedrewe masjinerie afklim nie. 

Gebruik elektrisiteit veilig
Elektrisiteit kan dood maak. Elke jaar word drie of vier mense in die landbou deur elektrisiteit gedood. Bogrondse kraglyne is by baie van hierdie voorvalle betrokke. In ander gevalle is dit handtoerusting of verlengkabels wat swak in stand gehou word. Swak elektriese installasies en toerusting kan ook brande veroorsaak.

Bogrondse kraglyne
Elektrisiteit kan oor gapings spring wanneer toerusting of masjinerie naby genoeg is. Jy hoef nie aan bogrondse kraglyne (BKL's) te raak om beseer te word nie. As BKL's oor jou grond loop, vind by jou elektrisiteitverskaffer uit of dit verskuif, verhoog of ondergronds geplaas kan word. As dit nie moontlik is nie, maak seker dat jy 'n kaart het van die roetes van die lyne (kry dit by jou verskaffer) en dat besoekende werkers soos kontrakteurs afdrukke daarvan kry.

Moet nooit:
 Sonder 'n veiligheidstelsel onder 'n BKL werk nie of toelaat dat enige deel van 'n masjien (bv. spuittoestel of wipbakvragmotor) of leer, besproeiingspyp, ens. binne 15 meter van so 'n lyn kom nie. Waarskuwingstekens kan op hoë masjiene gebruik word.
 'n Heining langs dieselfde roete as 'n BKL oprig nie, en moenie heiningdraad verskuif of span waar dit kan opspring en met die BKL in aanraking kan kom nie. Lang stukke draad op ongelyke grond hou 'n spesiale risiko in.
 Hooimiedens, stapels of geboue oprig of stortplekke onder of naby BKL's of ankerdrade skep nie.
 Masjinerie teen bogrondse kragtorings, kragpale of ankerdrade laat staan nie.

Kontak met 'n BKL kan meebring dat die kragtoevoer tydelik uitskop – maar dit kan deur 'n outomatiese aansluittoestel weer aangesluit word. Moet nooit probeer om toerusting los te maak totdat die eienaar van die lyn bevestig dat die lyn dood is nie. As jy naby 'n BKL moet werk, skakel met jou elektrisiteitverskaffer en reël tydelike ontkoppeling.

Ondergrondse kabels
As jy waarskynlik naby ondergrondse kabels werk, kry inligting oor die roete van die kabels by jou elektrisiteitverskaffer. Kry 'n bevoegde persoon om seker te maak dat daar nie kabels is nie voordat jy in paaie of naby geboue begin gate grawe.

Jou elektriese stelsel
Maak seker dat:
 Daar 'n toeganklike en duidelik geïdentifiseerde skakelaar naby elke vaste masjien is om die krag af te skakel in 'n noodgeval.
 Kragkabels na masjiene gepas beskerm is (pantserkabel, bedek met dik buigsame rubber of neopreen, of in geleipype gelê) en 'n goeie aardverbinding het.
 Gloeilampe beskerm word (byvoorbeeld deur skotlamptipe toebehore).
 Daar genoeg kontaksokke is – die oorlading van sokke deur pasproppe is 'n brandgevaar. Op geskikte plekke (bv. die plaaskantoor) kan 'n meervoudige propsokblok gebruik word.
 Driepuntproppe se kragdraad stewig vasgeklem is sodat die drade (veral die gronddraad) nie uit die aansluiters getrek kan word nie.
 Sekerings, kringbrekers, ens. van die regte gradering is vir die kringbaan wat hulle beskerm. Sekerings mag nooit omseil of met foelie bedek word nie.
 Jy 'n geskikte prop en sok het vir toerusting wat 'n swaar stroom trek (bv. sweismasjiene).
 Buitenshuise sokproppe, of proppe in 'n vogtige of korrosiewe atmosfeer of waar stoom- of waterstrale gebruik word, van 'n geskikte tipe is (kry advies – moet nooit 'n huishoudelike tipe sok gebruik nie) en beskerm word deur 'n stroomrestoestel (SRT).
 Deksels vir elektriese toerusting toe en (indien moontlik) gesluit gehou word, en dat die sleutel deur 'n verantwoordelike persoon gehou word.
 Hoofskakelaars geredelik toeganklik en duidelik geïdentifiseer is, en dat almal weet hoe om dit in 'n noodgeval te gebruik.
 Bedrading in geleipype of iets dergeliks gelê word om beskadiging deur rotte en muise te voorkom.
 Installasies periodiek nagegaan word en dat herstelwerk deur 'n bevoegde elektrisiën gedoen word.
 Beskadigde kabels onmiddellik herstel of vervang word.

Draagbare toerusting
Elektriese gereedskap wat buitenshuis gebruik word of waar daar baie geaarde metaalwerk is, moet teen verlaagde spanning vanaf 'n veiligheidsisoleertransformator (bv. 110 volt na aarde getap) gebruik word, of verbind word deur 'n SRT wat die krag vinnig sal afsny as daar 'n aardfout is. Oorweeg dit om heeltemal sonder elektrisiteit klaar te kom, byvoorbeeld deur lugdrukgereedskap in die werkwinkel te gebruik (maar let op die geraasvlakke). 
Maak seker dat jy en jou personeel:
 Proppe en toebehore gebruik wat stewig genoeg en geskik is vir die nat of stowwerige toestande wat waarskynlik in die landbou ondervind sal word.
 Alle draagbare gereedskap gereeld ondersoek. Moenie gehuurde of geleende gereedskap vergeet nie.
 Nie verdagte of foutiewe gereedskap gebruik nie en dit op 'n veilige plek plaas en seker maak dat dit nie gebruik word nie voordat dit deur 'n bevoegde persoon herstel is.
 Iemand aanwys om die "Toets"-knoppie op SRT's gereeld te druk om seker te maak dat dit reg werk.
 Gereedskap en kragsokke afskakel voor dit ingeprop word.
 Toestelle uitprop of isoleer voor dit skoongemaak of verstel word.
 Genoeg kragsokke verskaf om die gebruik van verlengkabels tot die minimum te beperk. Wanneer 'n verlengkabel gebruik moet word, maak seker dat dit in 'n goeie toestand is en dat dit lê waar dit nie beskadig kan word nie.
 By sweistoestelle net geïsoleerde kragleidings en onbeskadigde elektrodehouers gebruik.

Elektriese skok
Dit is belangrik om te weet wat om te doen as iemand 'n elektriese skok kry. Onthou altyd om die kragtoevoer eers af te skakel. As dit nie moontlik is nie, moet nooit aan die geskokte persoon raak nie behalwe met niegeleidende items – nooit metaal nie. Om iemand by te bring, vereis opleiding en oefening – maak dus seker dat jou personeel elementêre noodhulpopleiding kry. Plak 'n plakkaat oor elektriese skok iewers op sodat almal kan sien wat om te doen.
Geraas
As jy aan baie geraas blootgestel word, kan dit permanente gehoorskade veroorsaak. Oorweeg die volgende:
 Werk weg van die geraasomgewing.
 Verminder die geraas, byvoorbeeld deur isolasie.
 Gebruik gehoorbeskerming.

Vibrasie
Dit kan 'n uitwerking hê op die hande en arms (tipies van kettingsae of slypmasjiene) of op die hele liggaam (tipies van trekkers en vurkhyswaens). Om chroniese rugpyn of pyn in die heupe of knieë  deur vibrasie van die hele liggaam te voorkom:
o	Gebruik die regte masjien vir die taak, byvoorbeeld 'n moderne trekker met 'n sitplek wat behoorlik in stand gehou en verstel word. 
o	Ry teen 'n geskikte spoed vir die grondtoestande; vermy slaggate, ens. 
o	Om skade aan jou bloedsomloop, senuwees, spiere en bene in die hande en arms weens hand-arm-vibrasie te voorkom, moet jy: 
o	Take so beplan dat vibrasiegereedskap nie gebruik hoef te word nie.
o	Gereedskap met lae vibrasievlakke kies, byvoorbeeld 'n kettingsaag met teenvibrasiemontering.
o	Werkrotering toepas waar moontlik, met gereelde onderbrekings.
o	Hande voor werk warm maak en hulle warm hou. 

Weer 
Blootstelling aan die elemente kan skadelik wees, veral sonskyn of uiterste koue. 
Onthou: 
•	Dra ligte klere en 'n breërandhoed in sonskynweer. Moenie klere uittrek nie; smeer 'n hoëfaktorsonskerm aan blootgestelde vel. 
•	Let op vir moesies, vratjies of velverkleuring. Spreek 'n geneesheer as vratjies ens. groei, bloei of jeuk. 
•	Dra natweerklere – nattigheid vererger die uitwerking van koue.

Diere 
Aanraking met diere kan lei tot soönose (siektes wat van dier na mens oorgedra word), insluitende orf/vuilbek, omlope of leptospirose van beeste of rotte. Simptome wissel van velprobleme tot 'n aanvanklike griepagtige toestand wat op 'n uitgerekte siekte kan uitloop tensy dit behandel word. 
o	 Was altyd jou hande en arms deeglik nadat jy met diere of in plekke waar daar rotte is, gewerk het.
o	 Bedek alle snye en skaafplekke met waterdigte pleisters. 
o	 Dra geskikte beskermende klere soos handskoene waar nodig.

Gevaarlike stowwe 
Blootstelling aan gevaarlike chemikalieë of ander stowwe, bv. plaagdoders, veterinêre medisynes (insluitend skaapdip), stof, dampe of materiaal soos flodder, rioolslyk of kunsmis; inaseming van dampe van brandende plastiek, of stof afkomstig van die hantering van graan, kunsmis, strooi of hooi; kontak met flodder, mis, ens.; of spatsels plaagdoders of skaapdip kan alles swak gesondheid veroorsaak. 
Werkgewers en mense wat vir hulself werk, moet dit oorweeg of hulle of hulle werkers:
 Die stof moet gebruik of daarmee moet werk.
 Ingenieursmaatreëls soos spatborde, induksievoerbakke of stofuitsuigtoerusting kan gebruik.
In sommige gevalle sal werkgewers en mense wat vir hulself werk, beskermende toerusting moet verskaf en seker maak dat werkers dit gebruik.

Aanmelding van werkverwante siektes
Sekere siektes wat deur die werk veroorsaak word, moet by die Departement van Arbeid aangemeld word.
Jy kan 'n aanmeldbare siekte opdoen as jy werk met:
 Diere – soönotiese siektes soos brusellose, leptospirose, Lyme-siekte (borreliose) of Streptococcus suis, of enige ander infeksie wat aan werk met diere toegeskryf kan word.
 Plaagdoders – vergiftiging met organofosforverbindings of metielbromied.
 Natuurlike stowwe - beroepsasma van graanstof of insekte wat vir biologiese bestryding van plae gebruik word; boerelongsiekte en werkerslongsiekte as gevolg van skimmel of spore van hooi, strooi of sampioenkompos; of tetanus.
 Ander stowwe – beroepsdermatitis as gevolg van werk wat gepaardgaan met blootstelling aan oplosmiddels of ontsmettingsmiddels.
 Masjiene - hand-arm-vibrasiesindroom as gevolg van kettingsae, bossiesnyers of handbediende sirkelsae.
Verdere inligting
Inspekteurs kan by die volgende kantore van die Departement van Arbeid geskakel word:

Word count 2,271

