Beroepsgesondheid en Veiligheid in Landbou en Bosbou
Inleiding
Ongelukke, beserings en siekte kan lewens verwoes en besighede vernietig. Oplossings is dikwels eenvoudig en goedkoop, en die beste mense om plase veilig te maak is boere en hulle plaaswerkers. Gesondheid en veiligheid is ‘n fundamentele vereiste vir ‘n volhoubare boerderyonderneming. Die regering se pogings alleen sal nie die landbousektor veiliger en gesonder maak nie, maar dit is vir elkeen in landbou en die groter voedselketting om hulle deel te doen.  
Elke jaar sterf mense weens landbou- en bosbouwerksaamhede. Talle is ernstig beseer en het by hulle werk siek geword. Die ongelukke en beserings veroorsaak nie slegs menselyding nie; daar is ook finansiële koste betrokke wat onder andere die volgende insluit: 
●  Siekteverlofbetalings en werwings-/opleidingskoste vir die vervanging van personeel
●  Verlies aan produksie
●  Administrasiekoste – ondersoek na die voorval, herstelwerk, ens.
●  Skade aan masjinerie, geboue en produkte
●  Versekeringskoste, regskoste en negatiewe publisiteit.
Al hierdie koste kan voorkom word, wat sodoende kan lei tot verhoogde wins.  Hierdie pamflet het derhalwe ten doel om inligting te verskaf wat werkgewers en werkers in die landbou en bosbou sal help om gesondheid en veiligheid te bevorder en gesondheidsrisiko’s te vermy wat gepaard gaan met werk in hulle sektor. Hierdie pamflet dek nie die wetlike vereistes in die bedryf nie. Daardie inligting kan verkry word van die webwerf: www.labour.gov.za. 
Die bestuur van gesondheid, veiligheid en risiko-evaluering
Die bestuur van die gesondheid en veiligheid van werkers is dieselfde as die bestuur van stelsels om te verseker dat oeste en diere gesond gehou word, optimaal produseer en jou in staat stel om in besigheid te bly. Werkers moet gesond en veilig bly om doeltreffend te werk en altyd by die werk teenwoordig te wees.
Alle organisasies het ‘n beleid nodig om hul aksieplan oor gesondheid en veiligheid uiteen te sit ten einde tot beter standaarde in die werkplek te lei.  
Dit moet skriftelik wees, goed opgestel en gebaseer wees op verbintenis op senior bestuursvlak.
Die beleid moet:
●  Spesifiek op jou plaas betrekking hê 
●  Jou algemene doelwitte vir jou werkers se gesondheid en veiligheid uiteensit.   Die werkgewer moet die beleid onderteken en dateer om sy/haar verbintenis daartoe duidelik te toon  
●  Aandui dat die algehele verantwoordelikheid vir gesondheid en veiligheid by jou as die werkgewer berus 
●  Die stelsels en prosedures beskryf wat in plek is om die gesondheid en veiligheid van jou werkers te verseker 
●  Periodiek hersien word en aangepas word as jou organisasie verander of nuwe gevare ontstaan.
Risikobepaling
Identifisering van gevare en die bepaling van die risiko’s wat hulle skep, is noodsaaklik. Tensy jy weet watter gevare op jou perseel bestaan, en die grootte van die risiko wat hulle inhou, sal jy nie kan weet of hulle beheer moet word nie of hoe om dit te doen nie.  
Riskikobepaling is om  sorgvuldig te kyk wat daar in jou besigheid is wat moontlik skadelik kan wees vir mense, sodat jy kan opweeg of jy genoeg voorsorgmaatreëls getref het of nog verdere maatreëls moet tref. Sodra jy die risikovlak bepaal het, sal jy die nodige voorkomende en beskermingsmaatreëls in plek moet kry . 
Daar is talle adviesbronne vir gevestigde goeie praktyk wat nuttig sal wees wanneer jy jou risikobepaling doen, maar jy kan hierdie eenvoudige proses bestaande uit vyf stappe gebruik om jou te help.
Stap 1: Kyk vir die gevare
Kyk rond by die werkplek en let op hoe mense werk. Bestudeer ook die rekords van vorige insidente, ongelukke of gesondheidsprobleme. Die doel is om beduidende gevare raak te sien wat talle mense ernstig kan beseer of benadeel. 
Stap 2: Stel vas wie moontlik beseer of benadeel kan word en hoe 
Identifiseer watter mense beseer of benadeel kan word, en hoeveel hulle is. Wanneer die “hoe” oorweeg word, moenie vergeet van dinge soos instandhoudingswerk nie, om te voorkom dat nuwe gevare ontstaan. 
Stap 3: Evalueer die risiko’s wat ontstaan uit die gevare en tree op om hulle te verminder of te beheer
Bepaal hoe goed die risiko’s uit elke beduidende gevaar beheer word.  Die beheermaatreëls kan heeltemal voldoende wees of daar kan ruimte vir verbetering wees.  Werkers het dikwels nuttige idees, gebaseer op hulle daaglikse werk, en jy moet hulle betrokke kry by die neem van besluite oor jou beheermaatreëls.
Stap 4: Teken jou bevindings op
Nadat jy besluit het wat gedoen moet word, moet jy beplan hoe om dit te doen en wanneer.  Om jou bevindings op te teken sal vir jou van nut wees.
Stap 5: Hersien jou risikobepaling en verbeter dit indien nodig
Jy sal nodig hê om jou risikobepaling te hersien indien daar ‘n beduidende verandering ingetree het in die wyse wat jy werk of as jy om een of ander rede dink dit is nie meer geldig nie.
Gesondheidsprobleme in landbou en bosbou
Werk in landbou en bosbou kan probleme inhou vir die gesondheid van die werkers om talle redes, insluitende:
●  Kontak met diere
●  Blootstelling aan gevaarlike chemikalieë of ander stowwe
●  Die fisieke aard daarvan
●  Blootstelling aan die weer, geraas of vibrasie.
Fisieke aard van die werk
Die hantering van swaar vragte of werk in ongemaklike posisies kan      muskulo-skelet-gebreke veroorsaak. Dan kan pyn in die ledemate, gewrigte of rug ontstaan wat die gevolg van verstuiting of verrekking kan wees. 
Wat moet jy dan doen?
●  Indien moontlik, moenie swaar laste hanteer nie, of gebruik meganiese stelsels
●  Gebruik goeie hanteringstegnieke – plaas jou voete korrek, hou jou rug regop en hou die las na aan jou liggaam 
●  Maak seker dat jou werkplek so gerangskik is dat voorwerpe en produkte gerieflik bereik kan word sonder om te rek en probeer om take so te verander of beweeg sodat jy ‘n verskeidenheid spiere in die liggaam gebruik 
●  Die dra van plante of saailinge met die hand oor lang afstande moet sover moontlik vermy word, om die gesondheid van die werkers te beveilig. 
Die veilige gebruik van masjiene 
By talle ernstige ongelukke op plase is masjinerie betrokke. Sommige vind plaas omdat ‘n masjien gebruik is vir ‘n taak waarvoor dit ongeskik is; ander omdat skutte nie voorsien is nie of nie aangeheg is nie. Daar behoort ‘n stelsel in plek te wees wat nagaan of werkstoerusting, insluitende masjinerie veilig is om te
gebruik. Indien toerusting in ongunstige omstandighede gebruik word, moet dit gereeld geïnspekteer word vir verswakking wat kan lei tot gevaar, en veral wanneer daar buitengewone omstandighede ontstaan, wat die toerusting onveilig kan maak. 
Wat moet jy doen?
●  Maak  seker dat die masjiene wat jy gebruik, geskik is vir die taak 
●  Hulle word in stand gehou sodat hulle veilig gebruik kan word 
●  Toegerus met die veiligheidskutte soos vereis deur die wet
●  Gereedskap gebruik vir die plant van bome moet vir die doel ontwerp word.  Landbougereedskap is gewoonlik nie geskik vir die plant van bome nie  
●  Handvatsels van plantgereedskap moet ontwerp wees om die verplasing van skok na die hand tot die minimum te beperk  indien die lem ‘n bedekte rots of wortel tref 
●  Die kop van ‘n stuk gereedskap vir sny of splyting moet stewig vasgemaak wees aan die handvatsel  met ‘n doeltreffende stuk gereedskap, bv. ‘n wig, klinknael of bout.
Die koop of huur van masjiene
Wanneer jy masjiene koop of huur, vereis die wet dat die verskaffer die nodige veiligheidskutte moet voorsien.  Maak seker dat jy en jou werkers:
●  Masjiene gebruik in ooreenstemming met die instruksie wat saam met hulle verskaf word
●  Skutte in posisie en doelmatig hou
●  Alle toerusting nagaan en alle defekte regstel voordat dit gebruik word  
●  Verseker dat alle kontroles duidelik gemerk is om te toon wat hulle doen en watter masjien hulle beheer, en dat hulle so ontwerp en geplaas is dat jy hulle nie per ongeluk kan aanskakel en laat werk nie 
●  Opgelei is om veilig te werk en voorsien is van die nodige beskermende klere, en dit gebruik.
Onderhoud en ontblokking  
Vele insidente met masjiene kom voor gedurende onderhouds- of ontblokkingsoperasies. Maak seker dat:
●  Personeel behoorlik opgelei is vir die taak 
●  Voldoende gereedskap en instruksies voorsien word vir die onderhoud, verstelling, skoonmaak en die ontblokking van masjiene
●  Opgebergde energie van byvoorbeeld saamgeperste materiaal, vere of hidroulika, weg/verspil is voordat jy begin werk
●  Voorkom dat hidrouliese hysmasjiene of onderdele neerdaal deur die gebruik van meganiese toestelle soos stuiters of domkragte wanneer mense onder hulle werk.
Alle operateurs moet seker maak dat:
●  hulle weet hoe om die masjien te stop voor hulle dit aanskakel
●  hulle dit altyd aanskakel vanuit die regte posisie
●  alle skutte aangeheg is en behoorlik werk
●  die gebied rondom ‘n vaste masjien skoon, netjies en vry van obstruksie is
●  die toesighouer onmiddellik ingelig word as ‘n masjien nie behoorlik werk nie 
●  hulle geskikte beskermende klere en toerusting dra.
Moet nooit:
●  ‘n Masjien gebruik nie, tensy jy gemagtig en opgelei is daarvoor 
●  Probeer om blokkasies te verwyder of ‘n masjien skoon te maak nie, tensy die aandrywer ontkoppel en die masjien stilstaande is 
●  Swaaiende kettings, los klere, handskoene of ringe dra of lang hare nie wat in die bewegende dele vasgevang kan raak nie  
●  Van ‘n bewegende trekker of ander selfaangedrewe masjien afklim nie 
●  Mense wat besig is om masjiene te gebruik, se aandag aftrek nie.
Vervoer en die hantering van materiale
‘n Ander besering in landbou is trekkers wat omval. Ernstige en fatale besering is algemeen, en bestuurders, ander werkers en voetgangers is betrokke by insidente. Ander insidente kom voor wanneer mense uit ‘n voertuig klim sonder om seker te maak dat dit nie kan beweeg of  andersins besering veroorsaak nie.  
Maak altyd seker dat:
●  Bestuurders behoorlik opgelei is en dat ongemagtigde persone nie toegelaat word om te bestuur nie 
●  Voertuie en voetgangers geskei word waar moontlik 
●  Vragte stabiel en vasgemaak is 
●  Bestuurders  beskerm is teen vallende voorwerpe 
●  Bestuurders medies geskik is om te bestuur 
●  Jou voertuie of ander masjiene met werkers wat op hulle ry of werk, toegerus is met rolbeskermende strukture 
●  Sleutels veilig bewaar word wanneer voertuie nie in gebruik is nie.
Hysoperasies
Beplan en organiseer die hysproses behoorlik, deur gebruik te maak van geskikte toerusting en bevoegde persone, om die risiko’s te minimaliseer. Maak seker dat: 
●  Alle hystoerusting gereeld deeglik nagegaan word deur ‘n bevoegde persoon 
●  Veilige werklaste gemerk is op hystoerusting.  Moet nooit daarde werklaste oorskry nie 
●  Oorladingsaanduiders op bedieningsmasjiene in goeie werkende toestand is 
●  Wanneer bestuur word, die bak van ‘n laaigraaf in ‘n opgeligte posisie is wanneer dit leeg is, en laat sak word wanneer dit vol is, tensy waar dit ‘n risiko kan skep, bv. op openbare paaie.
Geraas en vibrasie
Blootstelling aan hoë geraasvlakke kan permanente gehoorverlies veroorsaak, dikwels sonder dat die persoon wat daaronder ly, dit agterkom of eers as dit te laat is. Dit kan ook lei tot tinnitus (oorsuising) of doofheid. 
Verminder blootstelling aan geraas:
●  Kies masjiene of prosesse wat geluidloos loop wanneer produksiemetodes of nuwe masjiene gekies word 
●  Sluit raserige masjiene of prosesse af met klank-isolerende panele of plaas hulle in aparte vertrekke.  Verminder die duur van blootstelling deur werkrotasie 
●  Waar blootstellings 90 dB of hoër bereik, merk hierdie gebiede as  ”oorbeskermingsones” met tekens om aan te dui dat oorskutte gedra moet word en maak seker dat elkeen wat hierdie sones binnegaan oorbeskerming dra. 
Vibrasie
Herhaalde of langdurige gebruik van vibrerende gereedskap soos kettingsae, struikruimers of slypmasjiene kan lei tot hand-arm-vibrasiesindroom – ‘n groep siektes insluitende vibrasie-witvinger, senuwee-, spier- of gewrigskade. Waarskuwingstekens sluit in tinteling of gevoelloosheid in die vingers, vingers wat wit word in koue of klam toestande, gevolg deur vingers wat klop en gloei. 
Die bestuur van trekkers of ander selfaangedrewe masjinerie kan die liggaam aan vibrasie of stampe onderwerp wat gepaard gaan met chroniese rugpyn of pyn in die heup of knie. Waarskuwingstekens sluit in pyn en styfheid in die rug, heup of knie na werk op ‘n trekker. 
Wat kan jy doen?
●  Gebruik die regte masjien vir die taak 
●  Hou toerusting korek in stand, bv. teenvibrasiemonterings op kettingsae  
●  Maak ten volle gebruik van die trekkersitplekposisie- en suspensie-verstellings 
●  Ry teen ‘n geskikte snelheid vir die grondtoestande, vermy slaggate ens.
Om skade aan jou bloedsomloop, senuwee, spiere en bene in hande en arms te voorkom weens hand-arm-vibrasie:
●  Beplan take om die gebruik van vibrerende gereedskap te voorkom
●  Kies gereedskap met lae vlakke van vibrasie  
●  Gebruik taak-rotering waar moontlik en neem gereelde pouses
●  Maak hande warm voordat die werk begin en hou hulle warm.
Weer
Blootstelling aan die weer, veral sonskyn of uiterste koue kan nadelig wees.
Wat jy moet doen
●  In sonskyn moet ligte klere gedra word en ‘n wyerandhoed  
●  Moenie sonder klere werk nie; wend hoëfaktorsonskerm aan aan blootgestelde vel 
●  Hou moesies, vratjies of velverkleuring dop. Spreek jou dokter as moesies, ens., groei, bloei of jeuk. Werksklere moet vervaardig wees van materiale wat die werker se liggaam droog hou en teen ‘n gemaklike temperatuur. Vir werk in warm en droë klimate, moet geskikte klere gebruik word om oormatige termale isolering te voorkom 
●  Voldoende beskermende klere moet verskaf word waar daar ‘n risiko is van uv-bestraling of biologiese gevare, soos giftige plante, diere en infeksies. 
Diere
Kontak met diere kan lei tot soönose (siektes oorgedra van dier na mens).  Mikro-organismes soos bakterieë, virusse, parasiete en fungusse kan siekte veroorsaak deur die liggaam te infekteer wanneer hulle ingeasem of gesluk word, of wanneer hulle die vel deurdring. Simptome wissel van velprobleme tot aanvanklike toestande wat voel soos griep en wat kan lei tot langdurige siekte tensy dit behandel word.
Wat om te doen om die risiko te verminder?
●  Beperk die risiko tot die minimum deur vee gesond te hou.  Ent in waar gepas 
●  Verseker goeie persoonlike higiëne. Was hande  altyd voor jy eet, drink of rook 
●  Dra geskikte beskermende klere soos oorpakke wanneer diere hanteer word, veral as hulle siek is, en handskoene en ‘n waterdigte voorskoot as moontlik geïnfekteerde materiaal hanteer word soos produkte van geboorte 
●  Bedek alle snye en skrape met waterdigte verbande of waterdigte pleisters.
Gevaarlike stowwe
Blootstelling aan gevaarlike chemikalieë of ander stowwe, bv. aan plaagdoders, veterinêre medisyne (insluitende skaapdip) stof, dampe of materiaal soos  slyk, rioolslyk of kunsmis; die inaseming van dampe van brandende plastiek of van stof wat ontstaan wanneer graan, kunsmis, strooi, hooi verskuif word; kontak maak met slik, mis ens.; of as plaagdoders of skaapdip op jou spat, kan alles swak gesondheid veroorsaak.
Waarskuwingstekens sluit in:
●  Irritasie/oë water en neus loop
●  Verstopte neus
●  Keelseer
●  Hoes met of sonder slym
●  Seer spiere of koors na werk met muwwerige hooi
●  Uitasem
●  Benoude bors gedurende werk, na werk of terwyl ‘n oefening gedoen word wat voorheen moeiteloos gedoen is 
●  Aamborstigheid.
Hierdie simptome kan van korte duur wees ten tyde van ‘n werk, of hulle kan erger word en langer duur totdat hulle byna altyd teenwoordig is.  Hulle kan aan die gang gesit word deur selfs baie klein blootstellings aan enige stof waarvoor jy allergies, of gesentiseer geword het. Indien jy rook, is jy ook aan hierdie stowwe blootgestel en sal jy meer waarskynlik ernstige borsprobleme ontwikkel.
Dit is belangrik om jouself en jou werkers te beskerm.  Voorkom die inaseming van skadelike stowwe deur:
●  Die gebruik van alternatiewe stowwe waar moontlik
●  Verandering na materiale wat ‘n lae stofinhoud het, bv. korrels/pilletjies
●  Bronne van stof of sproei af te sluit
●  Stortings op te stofsuig in plaas van op te vee – gebruik ‘n hoëdoeltreffendheidsfilter.
Verminder die hoeveelheid wat jy inasem deur:
●  Lokale uitlaatventilasie te gebruik, bv. wanneer gesweis word
●  Doeltreffende filters in trekker-/voertuigkajuite
●  Filters in stand te hou volgens die vervaardiger se vereistes
●  Ventilasie in geboue te verbeter
●  Doeltreffende asemhalingsbeskermingstoerusting.  Maak seker dat jy die geskikte masker of respirator gebruik vir stof, dampe of aerosols (spuitkanne).
Maskers en respirators moet altyd geberg word in ‘n skoon droë plek – moenie hulle aan hake of spykers in ‘n vuil, stowwerige plek hang nie.
Wanneer veterinêre medisyne gebruik word, onthou altyd om:
●  Spatsels dadelik af te was van die vel en klere, en was voordat jy eet, drink of rook. Moenie tussen pas behandelde diere werk as jy gekontamineer kan raak nie
●  Enige noodmaatreëls te volg wat deur die vervaardiger aanbeveel word, bv. met oliebasis-entstowwe
●  Die instruksies op die etiket te volg, veral dié wat betrekking het op   Persoonlike Beskermende Toerusting
●  Alle vermoedelike gevalle van vergiftiging aan te meld sodat hulle deeglik ondersoek kan word.
Hantering en plant van chemies behandelde plante
●  Vir die hantering en plant van bome wat met gevaarlike chemikalieë behandel is voor die verstryking van toksisiteit, moet werkgewers persoonlike beskermende toerusting verskaf en werkers moet dit gebruik 
●  Behandelde plante moet versigtig hanteer word om persoonlike kontaminasie tot die minimum te gebruik. Hulle moet op die werkterrein gepak en vervoer word op so ‘n manier dat toegang tot die plante maklik is, en sodoende dus voorkom dat plante meer as nodig hanteer word.  
●  Plantsakke of –harnasse of ander houers vir die vervoer van behandelde plante by die werkterrein, moet skoongemaak word deur dit daagliks leeg te maak en uit te was.
Werkplekveiligheid en welsyn
Talle beserings in landbou en bosbou ontstaan wanneer werkers gly, oor iets struikel en val.  Maak seker dat werkgebiede vry van obstruksie is soos kabels, sakke of palette en dat daar genoeg spasie is vir die berging van stukke gereedskap en materiale.  Hou jou geboue in goeie toestand, maak seker dat vloere nie oorlaai is nie, veral in voerhokke of ouer geboue.
Veminder die risiko dat iemand kan val, struikel en gly.  Jy moet die volgende verskaf:
●  Handrelings op trappe en op hellings is nodig 
●  Goeie dreinering in nat prosesse soos areas waar groente gewas word of melkerye 
●  Voldoende en geskikte lig 
●  Voldoende temperatuur en ventilasie insluitende vars lug in binnenshuise werkplekke 
●  Veiligheidstekens waar ‘n beduidende risiko vir gesondheid en veiligheid steeds bestaan nadat jy alle ander beheermaatreëls getref het soos geïdentifiseer deur jou risiko-evaluering.
Noodhulp en noodredding
●  Aangesien dit algemeen voorkom dat bosbou- en landbouwerkers in klein groepies op verskillende plekke werk, moet elke werker opgelei wees in basiese noodhulp.  Hierdie opleiding moet insluit die behandeling van oop wonde en resussitasie (bybring).  In gebiede waar die werk die risiko inhou van bedwelming deur chemikalieë of rook, slange, insekte of spinnekopbyte of ander spesifieke gevare, moet noodhulp dienooreenkomstig verleng word in oorleg met ‘n geskik gekwalifiseerde persoon of organisasie  
●  Noodhulpkissies moet geredelik beskikbaar wees en goed in stand gehou word en moet beskerm word teen vog of stof   
●  Voorsiening moet gemaak word vir die vinnige ontruiming van ‘n persoon in die geval van ‘n besering of siekte wat mediese hulp vereis
●  Vervoer of ‘n wyse van kommunikasie moet beskikbaar wees by die werkterrein om kontak te maak met reddingsdienste in ‘n geval van nood.
Ablusiegeriewe
Daar bestaan ‘n risiko van siekte as gevolg van gevaarlike stowwe en van mis of ander diereprodukte wat potensieel gevaarlike mikro-organismes bevat.  Indien jy voltydse, deeltydse, tydelike of permanente personeel het, verskaf rusfasiliteite wat die volgende insluit:
●  Skoon, goed geventileerde toilette 
●  Wasbakke met warm en koue water, seep en handdoeke (of handdroër)
●  Draagbare fasiliteite, of klam afveedoekies vir werkers wat ver van die wasfasiliteite werk
●  Aantrekkamers indien spesiale klere gedra word 
●  ‘n Skoon drinkwatervoorraad (gemerk om dit te onderskei van enige ander niedrinkbare watervoorraad).
Rapportering van werkverwante siektes
Sekere siektes wat deur werk veroorsaak is, moet by die Departement van Arbeid aangemeld word. Jy kan ‘n aanmeldbare siekte opdoen indien jy met die volgende werk:
●  Diere – soönotiese siektes soos brussellose, leptospirose, Lyme-siekte of Streptococcus suis, of enige ander infeksie toe te skryf aan werk met diere 
●  Plaagdoder-vergiftiging deur organofosfate of metielbromied 
●  Natuurlike stowwe – asma weens graanstof of insekte wat gebruik word vir die biologiese beheer van peste; “farmer’s lung” / sampioenkompos; of tetanus 
●  Ander stowwe –dermatitis as gevolg van werk wat blootstelling behels aan vloeistowwe of ontsmettingsmiddels 
●  Masjiene – hand-arm-vibrasie-sindroom weens werk met kettingsae,  struikruimers of handgedrewe sirkelsae.
Vir meer inligting kontak ‘n arbeidsentrum of provinsiale kantoor.
