









                                           





                                                                                       

                                                                                                



WAT IS XENOFOBIE?

Xenofobie is 'n houding van vrees vir of afkeer van vreemde burgers of vreemdelinge wat nie as deel van die plaaslike bevolking geag word nie.  Dit skep onaangename verhoudings en verdelings wat gegrond is op 'n houding van "ons" versus "hulle".



MITES EN STEREOTIPES OOR VREEMDE BURGERS 



Χ: Hulle is almal kriminele

Feit:  Die getal beweerde kriminele onder Suid-Afrikaners is in werklikheid groter as dié onder vreemde burgers.  Migrante, asielsoekers en vlugtelinge loop trouens 'n groter gevaar om deur kriminele aangeval te word.  



Χ: Hulle is almal onwettig hier

Feit:  Dit is onwaar dat alle vreemde burgers onwettig in die land woon, want die Departement van Binnelandse Sake gee toestemming aan vreemdelinge wat in besit is van wettige dokumente om in die land te bly.



'n Vreemde burger wat nie 'n geldige permit het nie, word deur die Immigrasiedienste van Binnelandse Sake na sy of haar land teruggestuur. 



Χ: Hulle bly in HOP-huise

Feit:  Sommige Suid-Afrikaners bevorder korrupsie deur groen Suid-Afrikaanse ID-dokumente wederregtelik te verkry en uit te reik, en HOP-huise aan vreemde burgers te verhuur.







GEBIEDE WAARIN EN VLAKKE WAAROP XENOFOBIE VOORKOM  

Xenofobie kom voor binne - 

gemeenskappe;

Staatsdiensinstellings;

indiensnemingsektore; en

skole en instellings van hoër onderrig.



HOE KOM XENOFOBIE IN SUID-AFRIKA TE VOORSKYN?

Xenofobie kom algemeen tot uiting in - 

gewelddadige aanvalle op asielsoekers, vlugtelinge, migrante of immigrante;

die verwerping en ondermyning van verskillende kulture en die godsdienste van ander nasionaliteite; 

die gee van vernederende en beledigende name aan mense van ander lande.



FAKTORE WAT BYDRA TOT SPANNING TUSSEN VREEMDE BURGERS EN SUID-AFRIKANERS 



Mededinging om toegang te verkry tot gesondheid, opvoeding, maatskaplike toelaes en ander maatskaplike dienste.



Sakewedywering.



Stryd om indiensneming.



'n Gebrek aan 'n gees van ubuntu (medemenslikheid).





HOE KAN HIERDIE SPANNING VERMY WORD?

Indien Suid-Afrikaners ontevrede is met die vlak van basiese openbare dienslewering, moet hulle hul verkose verteenwoordigers nader en hulle aanspreeklik hou.  



Aanvalle op vreemdelinge is nie 'n oplossing nie vir probleme soos die verkryging van toegang tot basiese openbare dienste soos behuising, krag, water, onderrig en gesondheid. 

Vreemdelinge wat entrepreneurs is en plaaslike ondernemers moet aangemoedig word om saam te werk of vennootskappe te vorm.

Stel die plaaslike Immigrasiedienste in kennis van werknemers wat vreemdelinge, wat nie geldige permitte het nie, onwettig in diens neem.

Aanvaar verskeidenheid en meng met vreemde burgers.

Erken dat vreemdelinge ons ekonomie 'n hupstoot gee en bydra tot ons verskeidenheid. 





HOEKOM VERLAAT MENSE HULLE LAND VAN OORSPRONG OM NA SUID-AFRIKA TE KOM?



Mense kom om verskeie redes na Suid-Afrika: 



Asielsoekers en vlugtelinge verlang die beskerming van die Suid-Afrikaanse regering, want hulle vrees vervolging weens oorloë of politieke probleme in hulle land van oorsprong.



Toeriste besoek die verskillende besienswaardighede in ons land en daardeur gee hulle die toerismebedryf 'n hupstoot en word werk geskep.



Besoekers besoek vriende of familie.



Mense besoek die land vir sake- of buitelandsebeleggingsdoeleindes.



Mense kom werk wettig in die land, soos mynwerkers en beroepsmense. 

Persone kom om navorsing of liefdadigheidswerk te doen.



Studente besoek die land om te studeer.









WAAROM AANVAAR DIE REGERING VREEMDE BURGERS IN ONS LAND?



Suid-Afrika is betrokke by internasionale handel en moet vir beleggingsdoeleindes met ander lande saamwerk. 

Die regering het ingestem met 'n aantal internasionale verdrae en konvensies wat die regte van mense beskerm, ongeag of hulle burgers, immigrante, migrante, asielsoekers of vlugtelinge is. 



KAN BUITELANDSE BURGERS AANSPRAAK MAAK OP MENSEREGTE?

Ja, elke mens, ongeag nasionaliteit, is daarop geregtig dat sy of haar basiese menseregte gehandhaaf en beskerm word.  Mense wat van ander lande kom, kan, soos Suid-Afrikaanse burgers, aanspraak maak op menseregte.

Hulle is geregtig op -

gelykheid voor die reg;

bewegingsvryheid;

toegang tot openbare dienste soos gesondheid, opvoeding en die regstelsel.

Hulle is daarop geregtig -

dat hul menswaardigheid eerbiedig word;

om te werk mits hulle 'n geldige permit het wat hulle toelaat om dit te doen;

om te studeer mits hulle 'n geldige permit het. Studente word slegs toegelaat om deeltyds te werk;

om sake te doen indien hulle die regte permit het.



WANNEER WORD 'N PERSOON 'N WETTIGE OF 'N ONWETTIGE IMMIGRANT GENOEM?

Wettige immigrante is in besit van geldige Suid-Afrikaanse dokumente of visums en bly dus wettig in die land. 

Onwettige immigrante het of nie geldige visums of permitte nie, of gebruik vervalste dokumente of hulle permitte het verstryk. 









WAT SÊ DIE WET OOR ONWETTIGE IMMIGRANTE?



Onwettige immigrante word na hulle land van oorsprong teruggestuur, of word gedeporteer, maar op 'n wyse wat hulle menswaardigheid nie aantas nie. 



WAAROM MOET ONS XENOFOBIE BEVEG?



Xenofobie is strydig met menslikheid en die gees van ubuntu.

Dit ontmoedig integrasie.

Dit help geweld aan.

Dit ondermyn die demokrasie en die Grondwet. 

Dit  bevorder nie verskeidenheid en ontwikkeling nie.

Buitelandse burgers dra by tot ekonomiese groei, veral in die beroeps-, tegniese, mynbou- en toerismesektore. 



WIE IS DAARVOOR VERANTWOORDELIK OM XENOFOBIE TE BEVEG?

Dit is die plig van die regering, gewone burgers, migrante, immigrante, asielsoekers en vlugtelinge om xenofobie te bestry. 



HOE MELD ONS VOORVALLE VAN XENOFOBIE AAN ?

Enigeen is welkom om die Teenxenofobie-eenheid van die Departement van Binnelandse Sake te skakel by - 

tel.: 012-810-7141/7102/6107, of pos 'n brief aan hierdie adres: Departement van Binnelandse Sake, Privaat Sak X114, Pretoria, 0001, of besoek ons by hierdie adres: Hoek van Maggs- en Petroleumstraat, Waltloo, Pretoria.



