 



















sport & rekreasie

_______________ 

Departement: 

Sport en Rekreasie Suid-Afrika

REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA











HANDLEIDING VIR SPORT EN REKREASIE SUID-AFRIKA (SRSA) ingevolge artikel 14 van die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (Wet No. 2 van 2000)









INHOUDSOPGAWE 

The client is responsible for inserting the correct page numbers after the final layout has been done – Ed.



Would you like to change the date below in footer?  Ed.



1. WERKSAAMHEDE VAN SPORT EN REKREASIE SUID-AFRIKA 

(SRSA) 											3 

1.1 Hoofdoelwitte van die SRSA							3

1.2 Sleutelprestasieareas								3

1.3 Bykomende werksaamhede							4

1.4 Missieverklaring								4

1.5 Waardes									4

1.6 Assosiaatraamwerk								5



2. STRUKTUUR VAN DIE SRSA							5 

2.1 Agtergrond									5



3. KONTAKBESONDERHEDE VAN INLIGTINGSBEAMPTE EN 

ADJUNK-INLIGTINGSBEAMPTES						6 

3.1 Inligtingsbeampte								6

3.2 Adjunk-inligtingsbeamptes							6

3.3 Algemene kontakbesonderhede						7



4. GIDS VAN DIE SUID-AFRIKAANSE MENSEREGTEKOMMISSIE OOR HOE OM DIE WET TE GEBRUIK							7 



5. TOEGANG TOT REKORDS 							8 

5.1 Beskrywing van die onderwerpe waarvan die SRSA rekords 

       hou en kategorieë rekords gehou oor elke onderwerp			8 

5.2 Vrywillige bekendmaking en rekords outomaties beskikbaar		10

5.3 Versoekprosedure 								10 



6. DIENSTE BESKIKBAAR AAN DIE PUBLIEK EN HOE OM DAARTOE TOEGANG TE VERKRY							12 

6.1 Dienste										12

6.2 Hoe om toegang tot dienste te verkry					12



7. REËLING WAT OPENBARE BETROKKENHEID BY BELEIDSFORMULERING EN VERRIGTING VAN PLIGTE MOONTLIK 

   MAAK											13 

7.1	 Beïnvloed beleid en wetgewing						XX



8. REGSMIDDELE BESKIKBAAR BETREFFENDE HANDELINGE OF   VERSUIME OM TE HANDEL 							14

8.1 Prosedures vir aanmelding of regstelling 				          	14

8.2 Ander ondersteunende regsmiddele						15

8.3 Plig om aan te meld								15



9. BYWERKING VAN DIE HANDLEIDING					15 



10. BESKIKBAARHEID VAN DIE HANDLEIDING				15 




1.  WERKSAAMHEDE VAN SPORT EN REKREASIE SUID-AFRIKA (SRSA)



Die doel van die SRSA is om die lewensgehalte van alle Suid-Afrikaners te verbeter deur deelname aan sport en rekreasie in die land te bevorder, en deur die deelname van Suid-Afrikaanse sportlui en -spanne aan internasionale sportgebeure. Die SRSA steun die Ministerie in die uitvoering van sy politieke mandaat om toesig te hou oor die ontwikkeling en bestuur van sport en rekreasie in Suid-Afrika. 



1.1  Hoofdoelwitte van die SRSA



Die hoofdoelwitte van die SRSA is om - 

a) 	by te dra tot 'n gesonde nasie deur die getal deelnemers te vergroot en talent binne 'n geïntegreerde ontwikkelingskontinuum te ontwikkel;

b) 	Suid-Afrikaanse sportlui te help om op en van die veld wenners te wees;

c) 	die beeld van sport en rekreasie te bou deur sake van landsbelang aan te pak;

d) 	sportlewering vaartbelyner te maak deur doeltreffende steunstelsels en voldoende hulpbronne; en

e) 	daartoe by te dra dat Suid-Afrika in 2010 die beste Fédération Internationale de Football Association (FIFA)-Wêreldbekersokkertoernooi ooit hou.



1.2  Sleutelprestasieareas 

	

Die SRSA se werksaamhede word saamgevat in die volgende vyf sleutelprestasieareas: 

a) 	Sportsteundienste: Steun sport- en rekreasieliggame en openbare entiteite, moniteer hulle prestasies en doen verslag daaroor.

b) 	Massadeelname: Verskaf steun en strategiese rigting om die getal deelnemers aan sport en rekreasie in Suid-Afrika te vergroot.

c) 	Internasionale skakeling en gebeure: Koördineer sport- en rekreasieverhoudinge op inter- en intraregeringsvlak, en steun gasheeroptrede vir geïdentifiseerde groot gebeure. 



d) 	Fasiliteer koördinasie: Koördineer die verskaffing en bestuur van 'n volhoubare infrastruktuur vir sport en rekreasie. 

e) 	2010-FIFA-Wêreldbekereenheid:  Koördineer alle inter- en intraregeringsverhoudinge en steun die gasheeroptrede vir die 2010-FIFA-Wêreldbekertoernooi in Suid-Afrika.



Eenhede wat handel met hierdie prestasieareas word administratief deur onder andere die hoofdirektorate Korporatiewe Dienste en Finansiële Bestuur gesteun. 'n Derde hoofdirektoraat, Uitvoerende en Strategiese Bestuursteun, lewer moniterings- en beoordelingsdienste aan die SRSA.  Die oogmerk van hierdie steuneenhede is om die SRSA te administreer, te lei en te bestuur.


1.3  Bykomende werksaamhede



Die SRSA moet onder andere ook - 

verseker dat die SRSA 'n goeie naam het by geïdentifiseerde kontinentale en internasionale organisasies en dat die Departement op die hoogte bly van die jongste ontwikkelings in sport en rekreasie;

sport en rekreasie se begrotingspos in die nasionale regering bestuur;

uit 'n regeringsperspektief, steun verskaf aan alle belanghebbers in sport en rekreasie;

behoorlike samewerking verseker met provinsiale regerings oor sport- en rekreasie-aangeleenthede;

verseker dat geïntegreerde sportbestuursinligting vir alle belanghebbers beskikbaar is;

die breë regeringsbeleid vertolk, regeringsbeleid omsit in beleide vir sport en rekreasie in Suid-Afrika, sodanige beleide soos en wanneer nodig hersien en die implementering daarvan moniteer;

tersaaklike wetgewing vir sport en rekreasie inisieer, koördineer of tot die ontwikkeling daarvan bydra;

ooreenkomstig bestaande wetgewing, die intellektuele eiendom van sport (soos simbole en handelsmerke) beskerm; en

erkenning verleen aan sportlui se uitnemende bydraes tot die Suid-Afrikaanse gemeenskap.



1.4	Missieverklaring



Die SRSA se visie en missie is soos volg:



a) Visie:  'n Aktiewe nasie wat wen.

b) Missie: Om toegang, ontwikkeling en uitnemendheid op alle vlakke van deelname aan sport en rekreasie te maksimeer ten einde maatskaplike kohesie, nasiebou en die lewensgehalte van alle Suid-Afrikaners te bevorder.



1.5	Waardes 



Die SRSA se werksaamhede moet die volgende waardes weerspieël:



Toewyding

Innovering

Integriteit

Deursigtigheid

Spanwerk

Verantwoordbaarheid



1.6	 Assosiaatraamwerk



Die assosiaatraamwerk van die Departement word verdeel in begunstigdes, vennote, belanghebbers en diensverskaffers.  Die assosiate van die Departement sluit in die erkende Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en ander plaaslike en internasionale sport- en rekreasieliggame; SRSA- openbare liggame: Boks SA en die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids); plaaslike sportrade; nieregeringsorganisasies – NRO's (bv. SCORE, Sports Trust, Sports Heroes, LoveLife); die sektorale onderrig- en opleidingsowerhede (SETA's); die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid (SAKO); tersiêre instellings (Universiteitsport Suid-Afrika - USSA); provinsiale akademies; die privaat sektor; die Suid-Afrikaanse bevolking; internasionale en kontinentale organisasies; Parlement; regeringsdepartemente (nasionaal en provinsiaal); SRSA-personeel; atlete; internasionale regerings en openbare entiteite; hoëprestasiesentra; borge; plaaslike owerhede; en die media.



2. STRUKTUUR VAN DIE SRSA 



2.1 Agtergrond 



Die SRSA word op 'n politieke vlak gelei deur 'n minister (dr Makhenkesi A Stofile) en 'n adjunkminister (mnr Gert C Oosthuizen), terwyl dit administratief gelei word deur 'n direkteur-generaal, mnr Vernon Petersen.



Mnr Monde Mkalipi staan in 'n waarnemende hoedanigheid aan die hoof van die 2010-FIFA-Wêreldbekereenheid - 'n projekgebaseerde eenheid in die SRSA.

 

Die huidige SRSA het tot stand gekom na die samesmelting van die Suid-Afrikaanse Sportkommissie en die Departement van Sport en Ontspanning. Hoewel die provinsiale departemente van sport en ontspanning ook vir kuns en kultuur verantwoordelik is, is dit op nasionale vlak nie die geval nie. Die SRSA en die Departement van Kuns en Kultuur is verskillende regeringsentiteite, elk met sy eie beleide, bestuurstruktuur en personeel.



Die organisatoriese struktuur van die SRSA is saamgestel volgens sy strategiese doelwitte en dus sy prestasieareas. 



Afgesien van die SRSA is daar twee instellings wat aan die Minister van Sport en Rekreasie Suid-Afrika verslag doen, naamlik Boks SA en Saids. 



Boks SA is ingestel ingevolge die Wet op Suid-Afrikaanse Boks, 2001 (Wet No. 11 van 2001), om boks in die Republiek te beheer en te reguleer, boks te bevorder en die belange van boksers en amptenare te beskerm.  Boks SA oorweeg die aansoeke om lisensies van alle belanghebbers in beroepsboks, keur gevegte goed, implementeer die tersaaklike regulasies en lei boksers op, asook bokspromotors, bokskruitamptenare, boksbestuurders en -afrigters.



f) 	Saids is ingevolge die Wet op die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport, 1997 (Wet No. 14 van 1997), ingestel.  Sy hoofwerksaamheid is om sportdeelname vry van die gebruik van verbode prestasieverbeteringstowwe, te bevorder en om sportlui op te voed oor die skadelike gevolge van aanhelppraktyke. Dit maak ook aanhelppraktyke in sport ontoelaatbaar ten einde skoon spel en sportetiek te verseker, en die gesondheid of welsyn van sportlui te beskerm. 





3. KONTAKBESONDERHEDE VAN INLIGTINGSBEAMPTE EN ADJUNK-INLIGTINGSBEAMPTES 



3.1	Inligtingsbeampte



Die Direkteur-generaal van die SRSA, mnr Vernon Petersen, is ingevolge die Wet die inligtingsbeampte. Sy kontakbesonderhede is soos volg: vernie@srsa.gov.za, tel. 012-304-5249. 



    Adjunk-inligtingsbeamptes



Die volgende persone is as adjunk-inligtingsbeamptes aangewys: 



Me Lulu Sizani, Hoofdirekteur: Korporatiewe Dienste – lulu@srsa.gov.za, tel. 012-304-5186       

Mnr Monde Mkalipi, Waarnemende Hoofdirekteur: Nietegnies, 2010-FIFA-Wêreldbekereenheid – monde@srsa.gov.za, tel. 012-304-5222             

Mnr Makoto Matlala, hoof- finansiële beampte – makoto@srsa.gov.za, tel. 012-304-5166              

Me Alison Burchell, Hoofdirekteur: Kliëntesteundienste, Skakeling, Gebeure en Fasiliteite – alison@srsa.gov.za, tel. 012-304-5258 

Dr Bernardus van der Spuy, Direkteur: Uitvoerende Steun en Strategiese Bestuur – bernardus@srsa.gov.za, tel. 012-304-5146                        

Mnr Malusi Mahlulo, Direkteur: Internasionale Betrekkinge – malusi@srsa.gov.za, tel. 012-304-5114                           

Me Thokozile Mkhonto, Direkteur: Gemeenskapsport – kelly@srsa.gov.za, tel. 012-304-5171  

Me Rohini Naidoo, Direkteur: Skolesport - rohini@srsa.gov.za, tel. 012-304-5038                     

Me Hajira Mashego, Direkteur: Wetenskaplike Steundienste – hajira@srsa.gov.za, tel. 012-304-5163                            

Me Mmatlou Moabelo, Direkteur: Finansiële Bestuur – mmatlou@srsa.gov.za, tel. 012-304-5196                            

Mnr Daniel Mabulane, Direkteur: Mensehulpbronbestuur & -ontwikkeling - danielm@srsa.gov.za, tel. 012-304-5224

Mnr Retief le Roux, Direkteur: Hulpdienste - retief@srsa.gov.za, tel. 012-304-5035

Mnr Manase Makwela, Direkteur: Bemarking en Kommunikasie -manase@srsa.gov.za, tel. 012-304-5017 



3.3	  Algemene kontakbesonderhede 



a) Posadres:  



Privaat Sak X896 

PRETORIA 

0001 

Republiek van Suid-Afrika





b) Straatadres: 



Regent Place-gebou 

Queenstraat 66 

PRETORIA 

(tussen Andries- en Van der Waltstraat, uit Vermeulenstraat) 



c) Faks: 		012-323-8440



d) Webtuiste: 	www.srsa.gov.za 



e) Telefoon:		012-304-5000 



4. GIDS VAN DIE SUID-AFRIKAANSE MENSEREGTEKOMMISSIE OOR HOE OM DIE WET TE GEBRUIK 



Die gids oor hoe om die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000, te gebruik, is verkrygbaar by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie.  Navrae kan gerig word aan die - 



Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie:  PAIA-eenheid 

Afdeling vir Navorsing en Dokumentasie 



a) Posadres: 

Privaat Sak X2700

Houghton 

2041



b) Telefoon: 		011-484-8300 



c) Faks: 		011-484-1360 



d) Webtuiste:	www.sahrc.org.za 



e) E-pos: 		PAIA@sahrc.org.za

 

5. TOEGANG TOT REKORDS 



5.1 Beskrywing van die onderwerpe waarvan die SRSA rekords hou en kategorieë rekords gehou van elke onderwerp 



'n Beskrywing van die onderwerpe waarvan die SRSA rekords hou en die kategorieë rekords gehou van elke onderwerp is, vir die doeleindes van die fasilitering van 'n versoek ingevolge die Wet, soos volg: 



5.1.1 Korporatiewe dienste 



a) Bemarking en kommunikasie:

Aangeleenthede betreffende interne en eksterne publikasies soos nuusbriewe en tydskrifte; die SRSA-jaarverslag; toesprake en boodskappe; mediaberigte; beleide en verwante registers; multimediaprodukte wat sporttoerisme en sportbestuur steun; asook inligting oor bemarkingsadvertensies (uitgesonderd mensehulpbron-verwante advertensies). 



b) Inligtingstegnologie 

Inligting wat betrekking het op die infrastruktuur van die inligtings- en kommunikasietegnologieë [rekenaarnetwerk, voorsiening van rekenaar- en verwante toerusting en programmatuur]; en voorsiening van sake-oplossings in die vorm van rekenaarstelsels en -beleide. 







c) Mensehulpbronbestuur en -ontwikkeling 	 

Aangeleenthede betreffende spesiale programme soos die interne bestuur van MIV/vigs; vroue en jeug; mensehulpbronbeleid en -beplanning; organisatoriese werksaamhede; mensehulpbronontwikkeling (ook -opleiding); prestasiebestuur; personeelwerwing; en die bestuur van die diensvoorwaardes van personeel.



d) Arbeidsverhoudinge

Inligting betreffende die arbeidsverhoudinge van personeel; dissiplinêre gevalle; dispute; griewe en beleide. 



e) Regsdienste

Inligting betreffende regsdienste wat verband hou met prosesvoering en raadgewing; wetgewing en kontrakte; asook beleide.



f) Hulpdienste

Inligting betreffende eiendomsdienste (bestuur van die gebou); veiligheidsdienste; algemene onderhoud; logistiek (vervoer, dienste gelewer deur bodes/motorbestuurders, registrasiedienste en ontvangs- of eerstelyndienste); asook beleide. 



5.1.2 Finansiële bestuur 

 

Inligting betreffende uitgawebestuur; boekhouding; begroting en verslagdoening (soos voorleggings en finansiële state vir die mediumtermynbegrotingsraamwerk - MTEF); asook beleide. 



b) 	Inligting betreffende die voorsieningskettingbeleid (beplanning en verkryging); batebestuur; en voorsieningskettingadministrasie. Dit is, eenvoudig gestel, inligting oor die VAS 2-vorms en die uitreik van bestelnommers.  Die inligting sluit ook in verkrygingsbeleide, die departementele bateregister, tenderdokumente ontvang van verskaffers nadat die tender goedgekeur is, en kontrakte met verskaffers. 



5.1.3 Uitvoerende en strategiese bestuursteun



Inligting betreffende strategiese bestuur, monitering en beoordeling; interne oudit; prestasie-oudit; bedrog, en korrupsievoorkoming; en uitvoerende steun aan die kantore van die Direkteur-generaal en die Hoofbedryfsbeampte/Adjunkdirekteur-generaal (wat ook al op 'n gegewe tyd toepaslik is).



5.1.4 Kliëntesteundienste, skakeling, gebeure en fasiliteite 



a)	Inligting betreffende sportsteundienste wat behels steun aan sportfederasies ten opsigte van finansies en die monitering en beoordeling van hulle werksaamhede. 

b)	Aangeleenthede betreffende die ontwikkeling van klubs in  provinsies; internasionale betrekkinge; gasheeroptrede vir groot gebeure; en die lewering van sport- en rekreasiefasiliteitdienste in vennootskap met die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake. 

c)	Opleiding en onderrig van sport- en rekreasiepersoonlikhede. 

d)	Aangeleenthede betreffende wetenskaplike steun aan atlete. 



5.1.5 Massadeelname

 

Inligting betreffende massadeelnameprogramme wat toegespits is op rekreasie (met inbegrip van spesiale projekte soos die Inheemse Spele) op gemeenskaps- en skolevlak. 

Aangeleenthede betreffende skolesport wat op hoëprestasie toegespits is. 

Aangeleenthede betreffende gemeenskapsrekreasie en eksterne spesiale projekte soos die middestadspele; rekreasionêre rehabilitasie (vir Korrektiewe Dienste-gevangenes); en korporatiewe spele.

Aangeleenthede betreffende gemeenskapsmobilisering ter ondersteuning van die 2010-FIFA-Wêreldbekertoernooi.



Regeringskoördineringseenheid vir die 2010-FIFA-Wêreldbeker

 

Inligting betreffende die implementering van regeringswaarborge om suksesvolle gasheeroptrede vir die toernooi te verseker.

  Inligting betreffende die erfenisinisiatiewe wat aan die toernooi verbind word. 



5.2 	Vrywillige bekendmaking en rekords outomaties beskikbaar 



5.2.1 'n Artikel 15-lys van rekords of -kennisgewing betreffende die kategorieë rekords van die SRSA wat beskikbaar is sonder dat 'n persoon nodig het om ingevolge die prosedures in die Wet toegang te versoek, is opgestel en sal minstens een maal per jaar bygewerk en in die Staatskoerant gepubliseer word.  Hierdie lys van rekords sal ook op die SRSA se webtuiste, www.srsa.gov.za, geplaas word. Die lys van rekords op die SRSA se webtuiste sal toegang verleen tot onder andere al die wetgewing, jaarverslae en die strategiese plan sonder dat 'n persoon nodig het om ingevolge die Wet toegang te versoek.  



5.2.2 Let daarop dat dokumente van openbare liggame wat aan die Minister verslag doen, federasies en provinsiale departemente verantwoordelik vir sport en rekreasie beskikbaar is by die onderskeie liggame/departemente en nie by die SRSA nie.  In gevalle waar sodanige dokumente egter ingesluit is in 'n SRSA-dokument wat openbaar gemaak is, is die inligting wat verband hou met sodanige dokument beskikbaar in die vorm van 'n SRSA-verslag/dokument. Daarby is die eksterne tydskrif van SRSA (Your Sport) en ander publikasies maklik verkrygbaar by die Direktoraat: Bemarking & Kommunikasie, by me Tersia Grobler, e-posadres tersia@srsa.gov.za of tel. 012-304-5016. Die artikel 15-lys van rekords waarna hierbo verwys word, bevat verdere besonderhede van dokumente wat maklik toeganklik is. 



5.3	Versoekprosedure 



5.3.1	Wanneer word 'n versoek toegestaan of geweier? 



'n Versoeker moet toegang verleen word tot 'n rekord van 'n openbare liggaam indien - 



die versoeker voldoen aan al die prosedurevereistes in die Wet betreffende die versoek om toegang tot daardie rekord; en 



toegang tot daardie rekord nie geweier word op enige grond vir weiering genoem in die Wet nie. 



5.3.2	Hoe word toegang tot 'n rekord versoek? 



'n Versoeker moet die vorm (Vorm A) gebruik wat in die Staatskoerant gepubliseer is (Goewermentskennisgewing No. R. 187 van 15 Februarie 2002). 



Die versoeker moet ook aandui of die versoeker 'n afskrif verlang van die rekord en of die versoeker die kantoor van die openbare liggaam (SRSA) wil besoek om na die rekord te kyk. Indien die rekord nie 'n papierdokument is nie, kan dit, waar moontlik, in die vorm versoek besigtig word. 



Indien 'n persoon toegang versoek in 'n spesifieke vorm (bv. 'n papierafskrif, elektroniese afskrif, ensovoorts), kan die versoeker toegang verkry in daardie vorm, tensy, indien dit gedoen word, dit onredelik met die bedryf van die betrokke openbare liggaam (die SRSA) sal inmeng, of die rekord beskadig, of sal neerkom op 'n skending van outeursreg wat nie aan die Staat behoort nie. Indien toegang om praktiese redes nie in 'n bepaalde vorm nie, maar in 'n ander vorm, verleen kan word, moet die geld bereken word ooreenkomstig die wyse waarop die versoeker die eerste keer toegang versoek het. 



Indien die versoeker, benewens 'n skriftelike antwoord op sy of haar versoek om 'n rekord, op enige ander wyse oor die besluit ingelig wil word, bv. telefonies, moet dit aangedui word. 



Indien 'n versoeker namens 'n ander persoon inligting versoek, moet die hoedanigheid waarin die versoeker die versoek rig, aangedui word. 



Indien 'n versoeker nie kan lees of skryf nie, of 'n gebrek het, kan die versoek om 'n rekord mondeling gerig word. Die inligtingsbeampte moet die vorm namens sodanige versoeker invul en aan hom of haar 'n afskrif van die ingevulde vorm gee. 



5.3.3 Gelde betaalbaar 



Versoekgelde en toegangsgelde (betaalbaar indien die versoek toegestaan word) is ingevolge die Wet betaalbaar. 



Daar word nie van 'n versoeker wat toegang verlang tot 'n rekord wat persoonlike inligting oor daardie versoeker bevat, vereis om die versoekgelde te betaal nie.  Elke ander versoeker moet die versoekgelde van R35,00 (betaalbaar aan openbare liggame) betaal. 



Die inligtingsbeampte moet die versoeker (behalwe 'n persoonlike versoeker) by kennisgewing in kennis stel dat daar van die versoeker vereis word om die voorgeskrewe versoekgelde (indien enige) en toegangsgelddeposito (indien enige) te betaal voordat die versoek verder verwerk word. 



Die versoeker kan, waar toepaslik, 'n interne appèl aanteken of 'n aansoek by 'n hof indien teen die aanbied of betaling van die versoekgeld of die aanbied of betaling van 'n deposito. 



Nadat die inligtingsbeampte 'n besluit geneem het oor die versoek, moet die versoeker van sodanige besluit in kennis gestel word op die wyse wat die versoeker ingelig wil word. 



Indien die versoek toegestaan word, moet verdere toegangsgelde betaal word vir reproduksie, en vir soek en voorbereiding vir enige tyd wat meer as die voorgeskrewe ure vereis word om die rekord vir openbaarmaking te soek en voor te berei. 



Toegang tot 'n rekord moet geweier word totdat die versoeker al die toepaslike gelde betaal het. 



6. 		DIENSTE BESKIKBAAR AAN DIE PUBLIEK EN HOE OM DAARTOE TOEGANG TE VERKRY 



6.1 	Dienste 



Die SRSA se kliënte is regstreeks in verbinding met die Departement.  Daar word egter aanbeveel dat die provinsiale departemente verantwoordelik vir sport en rekreasie gekontak word vir navrae en dienste wat spesifiek op die provinsie van toepassing is. Die provinsiale departemente werk nou saam met die SRSA, en op 'n gekoördineerde wyse. 



Toegang kan deur die provinsiale departemente verantwoordelik vir sport en rekreasie verkry word tot dienste van die SRSA soos massadeelname aan sport op gemeenskaps- en skolevlak, die ontwikkeling en toerusting van sportklubs en tegniese raadgewing oor die voorsiening van fasiliteite vir sport en rekreasie. Die voorsiening van fasiliteite is egter die verantwoordelikheid van munisipaliteite. Die SRSA dra by tot hierdie program deur die munisipale infrastruktuurtoelae wat deur die munisipaliteite self bestuur word.



Sekere inligting oor die SRSA, byvoorbeeld sy produkte soos verslae en ander publikasies, kan egter verkry word van die Direktoraat: Bemarking & Kommunikasie, by amptenare gelys onder item 6.2 hieronder.  Die publiek het ook toegang tot die SRSA se webtuiste, www.srsa.gov.za.  



6.2 	Hoe om toegang tot dienste te verkry 



6.2.1 Die SRSA se kliënte kan toegang verkry tot sy dienste deur versoeke te rig aan die  -  



Direkteur-generaal: Sport en Rekreasie Suid-Afrika 



a) Posadres:  

Privaat Sak X896 

PRETORIA 

0001 

Republiek van Suid-Afrika






b) Straatadres: 

Regent Place-gebou 

Queenstraat 66 

PRETORIA 

(tussen Andries- en Van der Waltstraat, uit Vermeulenstraat) 



6.2.2 Navrae oor 2010-FIFA-Wêreldbeker-verwante aangeleenthede kan gerig word aan: Die Hoof: 2010-FIFA-Wêreldbekereenheid (posadres soos hierbo).



6.2.3 Vir algemene navrae, kontak die skakelbord by 012-304-5000 of skakel Tersia by -



a) Telefoon: 012-304-5016 



b) E-pos: tersia@srsa.gov.za



c) Faks: 012-323-7872 



d) Webtuiste: www.srsa.gov.za 



7. 	REËLING WAT OPENBARE BETROKKENHEID BY BELEIDSFORMULERING EN DIE VERRIGTING VAN PLIGTE MOONTLIK MAAK 



7.1 	Beïnvloed beleid en wetgewing 



Die SRSA het deur sy massadeelnameprogram regstreeks skakeling met gemeenskappe wat dié gemeenskappe in staat stel om hulle kommernisse uit te spreek of voorstelle te maak oor hoe sport en rekreasie in Suid-Afrika bedryf moet word.  Hulle insette beïnvloed die wyse waarop die Departement sy beleide saamstel. 



Die massadeelnameprogram is daarop gerig om meer Suid-Afrikaners aan te moedig om gereeld aan sport- of rekreasie-aktiwiteite op skole- en/of gemeenskapsvlak deel te neem.



Die Departement het ook regstreeks skakeling met die federasies en ander sportorganisasies, sportnavorsingsliggame en instellings vir hoër onderwys wie se insette vir beleidsvorming oorweeg word.



Die Departement het in vennootskap met die Portefeuljekomitee oor Sport en Rekreasie ook regstreeks skakeling met gemeenskappe om hulle menings oor konsepwetgewing aan te hoor. 



Die Minister en Adjunkminister neem ook deel aan uitreikprogramme en ministeriële izimbizo (volksvergaderings).



8. 	REGSMIDDELE BESKIKBAAR BETREFFENDE HANDELINGE OF VERSUIME OM TE HANDEL 



Die volgende prosedures bestaan vir persone om beweerde onreëlmatige, onbehoorlike of onwettige amptelike handelinge of versuime deur die SRSA of enige van sy werknemers aan te meld of reg te stel. 



8.1 Prosedures vir aanmelding of regstelling 



Regsmiddele ten opsigte van handelinge of versuime om te handel ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000:  Die interne appèlowerheid vir die doeleindes van hierdie Wet is die Minister van Sport en Rekreasie Suid-Afrika (artikel 74 tot 77). Nadat die interneappèlregsmiddel uitgeput is, kan 'n aansoek by 'n hof gebring word (artikel 78 tot 82). 



'n Staatsdienswerknemer kan 'n grief of klagte aangaande 'n amptelike handeling of versuim (artikel 35 van die Staatsdienswet, 1994 (Proklamasie 103 van 1994)) vir ondersoek by die Staatsdienskommissie indien. Reëls oor hoe om sodanige klag/grief in te dien, is in Staatskoerant 23635 van 19 Julie 2002 gepubliseer. 



'n Persoon kan arbeidsregsmiddele gebruik betreffende amptelike handelinge of versuime van 'n arbeidsaard, naamlik geskille oor regte (Staatsdienswet, 1994, en die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995 (Wet No. 66 van 1995)). 



'n Persoon kan 'n klagte indien by 'n arbeidsinspekteur aangaande enige beweerde oortreding van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, 1997 (Wet No. 75 van 1997 - artikel 78(1)(a)), of die "Employment Equity Act" (wet op diensgelykheid), 1998 (Wet No. 55 van 1998 - artikel 34(e)). 



'n Persoon kan 'n klagte indien by die Openbare Beskermer aangaande 'n vermoedelik onwettige of onbehoorlike amptelike handeling of versuim (Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, en die Wet op die Openbare Beskermer, 1994 (Wet No. 23 van 1994)). 



'n Persoon kan 'n klagte indien by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie aangaande 'n amptelike handeling of versuim wat vermoedelik 'n skending of 'n bedreiging is van 'n fundamentele reg (Wet op die Menseregtekommissie, 1994 (Wet No. 54 van 1994)). 



'n Persoon kan, ten einde beskerm te word teen weerwraak weens 'n bekendmaking betreffende onwettige of onreëlmatige optrede deur 'n werkgewer of 'n medewerknemer, die bekendmakingsprosedures in die Wet op Beskermde Bekendmakings, 2000 (Wet No. 26 van 2000), volg. 



Die gebruik van ander regsmiddele soos die instel van verrigtinge vir die regsoorsig van 'n administratiewe handeling ingevolge die "Promotion of Administrative Justice Act" (wet op bevordering van administratiewe geregtigheid), 2000 (Wet No. 3 van 2000). 



8.2 	Ander ondersteunende regsmiddele



8.2.1	'n Persoon kan ingevolge die wet op bevordering van administratiewe geregtigheid, 2000 (artikel 5), redes versoek vir 'n administratiewe handeling. 



8.2.2 	'n Persoon kan ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (artikel 11), toegang versoek tot die rekords van 'n regeringsdepartement of ander openbare liggaam. 



8.3	Plig om aan te meld 



8.3.1	'n Staatsdienswerknemer is in die loop van sy of haar amptelike werksaamhede, kragtens die Gedragskode vir Staatsdienswerknemers, verplig om bedrog, korrupsie, nepotisme, wanadministrasie en enige ander handeling wat 'n misdryf is of wat skadelik is vir die openbare belang, by die toepaslike owerhede aan te meld. 'n Werknemer wat versuim om hieraan te voldoen, is aan wangedrag skuldig (Regulasies B.3 en C.4.10 in Hoofstuk 2 van die Staatsdiensregulasies, 2001). 



8.3.2	Die verantwoordelikheid van elke werkgewer en werknemer om kriminele en ander onreëlmatige gedrag in die werkplek bekend te maak, lê die Wet op Beskermde Bekendmakings, 2000 (Aanhef), ten grondslag. 



9.  BYWERKING VAN DIE HANDLEIDING 



Die SRSA sal, indien nodig, die handleiding bedoel in artikel 14(1) van die Wet met tussenposes van hoogstens een jaar bywerk en publiseer. 



10.  BESKIKBAARHEID VAN DIE HANDLEIDING 



Hierdie handleiding word ingevolge regulasie 4(1) van die Regulasies betreffende die Bevordering van Toegang tot Inligting (GK No. R. 1244 van 22 September 2003), uitgevaardig kragtens artikel 92 van die Wet, in minstens drie amptelike tale op die volgende wyse beskikbaar gestel: 



Ingedien by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie. 



b)	Geplaas in elke kantoor van die SRSA, indien die SRSA in meer as een kantoorgebou geakkommodeer word, en by ontvangs in die huidige gebou wat die kantore van die SRSA huisves (Regent Place-gebou), asook op die SRSA se webtuiste, www.srsa.gov.za. Die handleiding sal ook gestuur word aan openbare instellings wat aan die Minister van Sport en Rekreasie Suid-Afrika verslag doen.

