

GOEWERMENTSKENNISGEWING



DEPARTEMENT VAN HANDEL EN NYWERHEID



No. R.					………………….. 2009



WET OP DIE NIE-PROLIFERASIE VAN WAPENS VAN GROOTSKAALSE VERNIETIGING, 1993 (WET NO. 87 VAN 1993)



REGULASIES BETREFFENDE DIE REGISTRASIE VAN PERSONE IN BEHEER VAN 'N AKTIWITEIT WAT VERBAND HOU MET BEHEERDE GOEDERE OF WAT BEHEERDE GOEDERE IN SY OF HAAR BESIT OF BEWARING OF ONDER SY OF HAAR BEHEER HET 





Die Minister van Handel en Nywerheid het, kragtens artikel 24(1)(n), gelees met artikel 13(3)(a) van die Wet op die Nie-proliferasie van Wapens van Grootskaalse Vernietiging, 1993 (Wet No. 87 van 1993), die regulasies in die Bylae uitgevaardig. 





BYLAE



Woordomskrywing 

In hierdie regulasies het 'n uitdrukking waaraan die Wet 'n betekenis heg, sodanige betekenis en, tensy uit die samehang anders blyk, beteken—



"aktiwiteit wat verband hou met beheerde goedere" die vervaardiging en oordrag van, of handel in, beheerde goedere en die verskaffing van dienste wat daarmee verband hou;  



"die Wet" die Wet op die Nie-proliferasie van Wapens van Grootskaalse Vernietiging, 1993 (Wet No. 87 van 1993);

"persoon" ook 'n staatsorgaan soos in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, omskryf word.





Registrasie

2. (1) 'n Persoon wat in beheer is van 'n aktiwiteit wat verband hou met beheerde goedere of wat beheerde goedere in sy of haar besit of bewaring of onder sy of haar beheer het, moet by die Raad registreer deur die registrasievorm vervat in die aanhangsel by hierdie kennisgewing in te vul en by die Raad in te dien.



Die Raad moet skriftelik ontvangs van die registrasievorm erken.



Die Raad moet binne twee maande na ontvangs van 'n registrasievorm wat korrek ingevul is of van verdere inligting wat deur die Raad vereis kan word, die persoon bedoel in subregulasie (1) registreer.



(4)	Die Raad moet by registrasie beoog in subregulasie (3) 'n unieke registrasieverwysingsnommer aan die betrokke persoon toeken. 



(5)	Die Raad moet die persoon bedoel in subregulasie (1) skriftelik verwittig van die datum waarop sodanige persoon by die Raad geregistreer is en van die unieke registrasieverwysingsnommer.





Registrasievorm

3. (1)	Die registrasievorm vervat in die aanhangsel by hierdie kennisgewing kan by die Raad verkry word by enige van die volgende adresse:



(a)	Posadres:



Die Sekretariaat

Suid-Afrikaanse Raad vir die Nie-proliferasie van Wapens van Grootskaalse Vernietiging 

Privaat Sak X84

PRETORIA

0001; of



(b)	fisiese adres:



Die Sekretariaat

Suid-Afrikaanse Raad vir die Nie-proliferasie van Wapens van Grootskaalse Vernietiging 

Meintjiesstraat 77

Sunnyside

PRETORIA.



(2)	Die ingevulde registrasievorm word by die Raad ingedien by enige van die adresse in subregulasie (1) vermeld.





Geldigheid en hernuwing van registrasie

4. (1)	Registrasie by die Raad is geldig vir 'n tydperk van twee jaar vanaf die datum beoog in regulasie 2(5).



(2)	Registrasie by die Raad word hernu deur twee maande vóór die verstrykingsdatum in subregulasie (1) beoog, 'n nuwe registrasievorm in te dien.



(3)	Regulasie 2(2), (3) en (5) is, met die nodige veranderinge, van toepassing op die hernuwing van 'n registrasie in subregulasie (2) bedoel.





Wysiging van registrasie

5. (1)	 'n Persoon wat by die Raad geregistreer is, moet die Raad binne 14 dae in kennis stel van enige veranderinge in die inligting wat in sodanige persoon se registrasievorm vervat is.



(2)	Die Raad kan die registrasievorm wysig om die veranderinge bedoel in subregulasie (1) weer te gee.



(3)	Regulasie 2(2), (3) en (5) is, met die nodige veranderinge, van toepassing op die wysiging van 'n registrasievorm.





Inwerkingtreding

6. Hierdie regulasies tree op ……………….. in werking.





DR ROB DAVIES

MINISTER VAN HANDEL EN NYWERHEID







