GOEWERMENTSKENNISGEWING



DEPARTEMENT VAN HANDEL EN NYWERHEID



No.  								……………… 2009



WET OP DIE NIE-PROLIFERASIE VAN WAPENS VAN GROOTSKAALSE VERNIETIGING, 1993 (WET NO. 87 VAN 1993)





BYKOMENDE VERKLARING VAN SEKERE KERNVERWANTE DUBBELDOELIGE TOERUSTING, MATERIAAL EN PROGRAMMATUUR EN VERWANTE TEGNOLOGIE TOT BEHEERDE GOEDERE, EN BEHEERMAATREËLS WAT OP SODANIGE GOEDERE VAN TOEPASSING IS 



Verklaring

1.	Ek, Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid, kragtens artikel 13(1) van die Wet op die Nie-proliferasie van Wapens van Grootskaalse Vernietiging, 1993 (Wet No. 87 van 1993), en op aanbeveling van die Suid-Afrikaanse Raad vir die Nie-proliferasie van Wapens van Grootskaalse Vernietiging, verklaar hierby—



	(a)	die goedere gelys in paragraaf 4(1) tot beheerde goedere; en



	(b)	dienste met betrekking tot die goedere gelys in paragraaf 4(1) tot beheerde goedere.





2.	Voorts bepaal ek—



(a)	ingevolge artikel 13(2)(b) van die Wet dat die invoer, uitvoer, heruitvoer en deurvoer (ook oorlaai) van die beheerde goedere gelys in paragraaf 4(1) slegs mag plaasvind kragtens 'n permit wat deur die Raad uitgereik is; 



(b)	ingevolge artikel 13(2)(c) van die Wet dat die Raad 'n eindgebruiker- of eindgebruiksertifikaat kan vereis vir die uitvoer of heruitvoer van sodanige beheerde goedere; en 

(c)	ingevolge artikel 13(2)(f) van die Wet dat die vervaardiging van, en die verskaffing van dienste met betrekking tot, sodanige beheerde goedere slegs mag plaasvind kragtens 'n permit wat deur die Raad uitgereik is.





Woordomskrywing

3.	In hierdie kennisgewing het 'n uitdrukking waaraan die Wet 'n betekenis heg, daardie betekenis en, tensy uit die samehang anders blyk, beteken– 



"ander elemente" alle ander elemente as waterstof, uraan en plutonium;



"dienste" ook vragversending, -berging en -opberging (indien nie deel van die vervaardigings- en oordragprosesse nie), vervoer, onderhoud (herstel, opknapping, heropknapping), handel, oorlegpleging, beskikking en tegniese bystand;



"die Wet" die Wet op die Nie-proliferasie van Wapens van Grootskaalse Vernietiging, 1993 (Wet No. 87 van 1993);



"fabrikasie" ook die produksie, prototipering, installering, ingebruikneming en kontraktuele naverkopediens;



"mikroprogram" 'n sekwensie van elementêre instruksies, gehou in 'n bepaalde geheue, waarvan die uitvoering geïnisieer word deur die invoering van sy verwysingsinstruksie in 'n instruksieregister;



"onderdele" 'n integrerende deel van aanlegte, stelsels, opstellings of toerusting waarsonder die aanleg, stelsel, opstellings of toerusting nie die beoogde werksaamheid sal verrig of die eienskappe sal vertoon of die werkverrigtingsvlak sal bereik nie wat maak dat die aanlegte, stelsels, opstellings of toerusting beheerde goedere is;



"ontwerpnavorsing" 'n eksperimentele of teoretiese werk wat hoofsaaklik onderneem word om nuwe kennis te verkry van die grondbeginsels van fenomene en waarneembare feite, en wat nie hoofsaaklik op 'n bepaalde doel of doelwit gerig is nie;



"ontwikkeling"– 

  ontwerp;

  ontwerpnavorsing;

  ontwerpanalise;

  ontwerpkonsepte;

  opstelling en toetsing van prototipes;

   loodsproduksieskemas;

  ontwerpdata;

  die proses om ontwerpdata in 'n produk te omvorm;

   konfigurasieontwerp;

   integrasieontwerp; en

  uitlegte;



"program" 'n sekwensie van instruksies om uitvoering te gee aan 'n proses in 'n vorm, of wat omsitbaar is in 'n vorm, wat deur 'n elektroniese rekenaar uitgevoer kan word; 



"programmatuur" 'n versameling van een of meer programme of mikroprogramme  wat in 'n tasbare medium van uitdrukking vasgelê is;



"vervaardiging" ook navorsing, ontwikkeling en fabrikasie. 



'transit' is defined in the Act and, as the introductory sentence states, has the meaning so assigned, and should therefore not be included here.  Ed.





Kernverwante dubbeldoelige beheerde goedere 

4. (1)	Kernverwante dubbeldoelige toerusting, materiaal en programmatuur, en verwante tegnologie, wat in die geheel of gedeeltelik vir die skeiding van uraanisotope gebruik kan word, is soos volg: 



(a)	Die toerusting, opstellings en komponente van 'n aanleg of onderdele van sodanige aanlegte, ook die skeidingselemente, wat aan al die volgende voorwaardes voldoen: 

 

(i)	wat ontwerp is vir die skeiding van ander elemente;



(ii)	wat regstreeks gebruik of verander kan word om uraanisotope te skei; en 



(iii)	wat van materiaal gemaak is wat uraanheksafluoried (UF6)-weerstandig is;



(b)	programmatuur wat spesifiek ontwerp is vir die gebruik van toerusting gemeld in paragraaf (a); en



(c)	tegnologie wat regstreeks van toepassing is op die ontwikkeling, produksie of gebruik van toerusting, materiaal of programmatuur vermeld in paragraaf (a) of (b).



(2)	Aanlegte, toerusting en tegnologie wat in die besonder ontwerp of berei is vir die skeiding van uraanisotope, soos in paragraaf 4(1) beoog, het in baie gevalle 'n regstreekse verband met aanlegte, toerusting en tegnologie wat vir die isotoopskeiding van ander elemente ontwerp of berei is.  Die beheer oor aanlegte, toerusting en tegnologie vir die isotoopskeiding van ander elemente is, ingevolge die Wet, bykomend tot die beheer oor aanlegte, toerusting en tegnologie wat ingevolge die Wet op Kernenergie, 1999 (Wet No. 46 van 1999), in die besonder ontwerp is vir die verwerking, gebruik of produksie van spesiale kernmateriaal.





Aansoekvorms

5.	Aansoekvorms vir permitte bedoel in paragraaf 2 van hierdie kennisgewing is verkrygbaar by enige van die volgende adresse:



Posadres:

Die Sekretariaat

Suid-Afrikaanse Raad vir die Nie-proliferasie van Wapens van Grootskaalse Vernietiging 

Privaat Sak X84

PRETORIA

0001; of



fisiese adres:

Die Sekretariaat

Suid-Afrikaanse Raad vir die Nie-proliferasie van Wapens van Grootskaalse Vernietiging 

Meintjiesstraat 77

Sunnyside

PRETORIA.



Herroeping

6.	Goewermentskennisgewing No. 310 van 11 April 2007 word hierby herroep. 







DR ROB DAVIES 

MINISTER VAN HANDEL EN NYWERHEID 

 





