Bestuurbrokkies









SAVI Bestuur se jongste vergadering is op 27 September 2008 gehou. Hieronder volg ’n opsomming van die vernaamste besprekingspunte.



SAVI-struktuur en verkiesing vir 2009



Heelwat van die besprekings by die vergadering het gehandel oor die grondwet en die toekomstige struktuur van Instituut. Lede sal weldra van die beoogde wysigings tot die grondwet in kennis gestel word en ’n versoek om nominasies tot die bestuur en die komitees vir die volgende twee jaar sal binnekort gedoen word.



SAVI-prys vir Voortreflike Vertaling



Die kategorieë en reëls vir die prys is gefinaliseer en die versoek om benoemings in elk van die kategorieë sal in Maart uitgestuur word. Onthou dat die algehele prys afgeskaf is en dat individuele pryse nou toegeken sal word in die volgende kategorieë: literatuur, niefiksie, kinderliteratuur, diensvertaling en woordeboeke. Lede word aangemoedig om die prys en die versoek om benoemings bekend te maak onder kliënte en ander belangstellendes.



Die toekenningsplegtigheid sal in September 2009 (naby Internasionale Vertaaldag) plaasvind.



Beurse



SAVI-beurse van altesaam R25 000 is aan vyf studente toegeken vir die 2009 akademiese jaar. Bydraes van lede tot die Ontwikkelingsfonds word gebruik om studente te help wat andersins moontlik nie in staat sou wees om vertaalstudies te onderneem nie. Daar is besluit dat aansoeke van eerstejaarstudente van volgende jaar af aanvaar sal word.



Lede word daaraan herinner dat aansoeke om beurse vir kortkursusse ook oorweeg sal word.



Komitees



Die Opleidingskomitee werk aan ’n opname om die opleidingsbehoeftes van lede te bepaal, veral in verband met vertalingsverwante kortkursusse. Dit sal binnekort aan die lede gestuur word.



Die Webwerfkomitee het berig dat die volle Afrikaanse weergawe van die SAVI-webwerf teen die middel van April beskikbaar sal wees. Vertalings in Tswana en Xhosa is ook onderweg, maar vorder stadiger. Lede wat in die ander amptelike tale werk, word gevra om hulle dienste aan te bied om te help verseker dat die webwerf verteenwoordigend is van al die tale.



Akkreditering



Die ooreenkoms wat SAVI met NAATI (die Australiese Nasionale Akkrediteringsowerheid vir Vertalers en Tolke) gehad het, wat die akkreditering moontlik gemaak het van vertalers wat in klein vreemde tale werk, is ongelukkig beëindig as gevolg van ‘n nuwe bestuur by








NAATI en die buitensporige koste van die eksamens.



2010 Sokker Wêreldbeker



Lede word daaraan herinner dat daar op die SAVI-webwerf ’n spesiale bladsy sal wees met die kontakbesonderhede van tolke wat hulle dienste vir die Wêreldbeker aanbied. As jy nog nie jou besonderhede ingedien het nie en jy graag wil hê dat jou naam op hierdie bladsy moet verskyn, kontak die SAVI-kantoor asseblief so gou moontlik.



Die volgende vergadering van die Bestuur sal in Junie 2009 plaasvind.





Terugvoer  oor  die  jongste  Bestuursvergadering
 
Vol.  4  No.  1
 

 

 

 
Fenruarie  2009
 

 

 

 

 

 

 


