GOEWERMENTSKENNISGEWING



DEPARTEMENT VAN HANDEL EN NYWERHEID



No. R.						………………….. 2009



WET OP DIE NIE-PROLIFERASIE VAN WAPENS VAN GROOTSKAALSE VERNIETIGING, 1993 (WET NO. 87 VAN 1993)



REGULASIES BETREFFENDE DIE TOEPASSING VAN BEPALINGS VAN DIE CHEMIESEWAPENSKONVENSIE 





Die Minister van Handel en Nywerheid het, kragtens artikel 24(1)(l) van die Wet op die Nie-proliferasie van Wapens van Grootskaalse Vernietiging, 1993 (Wet No. 87 van 1993), die regulasies in die Bylae uitgevaardig.





BYLAE

Woordomskrywing 



1. 	In hierdie regulasies het 'n uitdrukking waaraan die Wet of die Chemiesewapenskonvensie, na gelang van die geval, 'n betekenis heg, sodanige betekenis en, tensy uit die samehang anders blyk, beteken—



"Chemiesewapenskonvensie" die Convention on the Prohibition of the Development, Production, Stockpiling and Use of Chemical Weapons and on their Destruction (ook sy aanhangsels) wat op 14 Januarie 1993 deur die regering van die Republiek van Suid-Afrika onderteken en op 14 September 1995 deur Suid-Afrika deur die indiening van sy bekragtigingsinstrument bekragtig is, en wat vir algemene kennisgewing as Goewermentskennisgewing No. 754 van 2 Mei 1997 gepubliseer is; 



"die Kennisgewing" Goewermentskennisgewing No. R. ?? van ?? wat in Staatskoerant  No. ???? gepubliseer is;



"die Wet" die Wet op die Nie-proliferasie van Wapens van Grootskaalse Vernietiging, 1993 (Wet No. 87 van 1993); 



"diskrete organiese chemikalie" 'n chemikalie wat behoort tot 'n klas chemiese verbindings wat bestaan uit alle verbindings van koolstof, uitgesonderd sy oksiede, sulfiede en metaalkarbiede of –karbonate, wat identifiseerbaar is deur chemiese struktuur, deur struktuurformule, indien bekend, en deur die Chemical Abstracts Service (CAS)-registrasienommer, indien toegewys, en wat nie vervat is in die chemikalieë wat in enige bylae van die Annex on Chemicals van die Chemiesewapenskonvensie gelys is nie;



"eienaar" die natuurlike of regspersoon wat die geregistreerde, wettige eienaar van 'n fasiliteit of beheerde goedere is; 



"FSF- diskrete organiese chemikalie" 'n diskrete organiese chemikalie wat een of meer van die elemente fosfor, swael of fluoor bevat, en wat nie vervat is in die chemikalieë wat in enige bylae van die Annex on Chemicals van die Chemiesewapenskonvensie gelys is nie;



"persoon in beheer" die natuurlike of regspersoon wat van dag tot dag verantwoordelik is vir 'n fasiliteit of 'n aktiwiteit wat met beheerde goedere verband hou; 



"verbruik", met betrekking tot 'n chemikalie, sy omsetting in 'n ander chemikalie via 'n chemiese, biochemiese of biologiese reaksie of die toepassing van die chemikalie op 'n medium waaruit dit nie verwyder kan word nie;



"Verifikasieaanhangsel" die Annex on Implementation and Verification van die Chemiesewapenskonvensie. 





Nasionale owerheid 



2.	Die Raad word hierby aangewys as Suid-Afrika se nasionale owerheid soos in paragraaf 4 van Artikel VII van die Chemiesewapenskonvensie vereis word. 





Verklarings 



3. (1)	Die jaarlikse verklarings betreffende beheerde goedere vermeld in subregulasie (2) word aan die Raad voorgelê deur die eienaars of persone in beheer van sodanige beheerde goedere en die persone wat die aktiwiteite uitvoer wat in subregulasie (2) uiteengesit word.



(2)	Die beheerde goedere en die verklarings beoog in subregulasie (1) is soos volg:



(a)	Die beheerde goedere gelys in Aanhangsel A by die Kennisgewing, met betrekking tot die produksie, verkryging op enige wyse, gebruik, opberging, vervoer, invoer, uitvoer, heruitvoer of deurvoer van sodanige goedere;



(b)	die toksiese chemikalie risien vermeld in Aanhangsel A by die Kennisgewing, wanneer dit geëkstraheer word uit die plantmateriaal (ru-ekstrak).  Risien moet verklaar word solank die A-S-S-B-binding nie verbreek is nie, ongeag die isovorm(e) aanwesig, en dit is ook van toepassing op die toksiese mutante van risien.  Kasterolieverwerkingsaanlegte is nie onderworpe aan die verslaggewingsprosedures van Deel VI van die Verifikasieaanhangsel nie;



(c)	die beheerde goedere gelys in Aanhangsel B by die Kennisgewing, met betrekking tot die produksie, verkryging op enige wyse, verwerking, verbruik, opberging, invoer, uitvoer, heruitvoer of deurvoer van sodanige goedere;



(d)	die beheerde goedere gelys in Aanhangsel C by die Kennisgewing, met betrekking tot die produksie, invoer, uitvoer, heruitvoer of deurvoer van sodanige goedere; 



(e)	die beheerde goedere bedoel in paragrawe (a) tot (d) is vir verklaringsdoeleindes ook tussenlopers, neweprodukte of afvalprodukte wat binne 'n bepaalde chemieseproduksiesekwensie geproduseer en verbruik word, waar sodanige tussenlopers, neweprodukte of afvalprodukte chemies stabiel is en dus 'n voldoende tyd bestaan om isolering van die vervaardigingstroom moontlik te maak;



(f)	die beheerde diskrete organiese chemikalieë of die FSF- diskrete organiese chemikalieë of hulle soute wat binne 'n chemiesefasiliteit geproduseer word;



(g)	die beheerde goedere gelys in Aanhangsel D by die Kennisgewing, met betrekking tot die uitvoer of heruitvoer van sodanige goedere; en



(h)	die beheerde goedere gelys in Deel A van Aanhangsel E by die Kennisgewing, met betrekking tot die besit, produksie, invoer, uitvoer, heruitvoer of deurvoer van sodanige goedere.



(3) 	Die verklarings beoog in subregulasie (2)(a) tot (d) word, met betrekking tot beide vorige en verwagte toekomstige aktiwiteite, vereis vir elke kalenderjaar wat strek van 1 Januarie tot 31 Desember.



(4)	Die beheerde goedere gelys in Aanhangsel E by die Kennisgewing, hetsy in stoflik suiwer vorm of in 'n mengsel met 'n ander stof, word, wanneer dit as verbruikersgoedere geïdentifiseer word wat verpak is vir kleinhandelsverkoop vir persoonlike gebruik of verpak is vir individuele gebruik, vrygestel van die vereiste van 'n jaarlikse verklaring soos in subregulasie (1) bedoel. 





Fasiliteitsooreenkomste 



4. (1)	Die Raad, as die nasionale owerheid, moet 'n fasiliteitsooreenkoms met die Organisasie aangaan vir elke fasiliteit in subregulasie (2)(d) bedoel.



(2)	Die fasiliteitsooreenkoms beoog in subregulasie (1) moet—



gebaseer word op 'n konsepooreenkoms wat deur die Organisasie goedgekeur is; 



die Raad in staat stel om die verpligtinge na te kom wat in Afdeling A van Deel III van die Verifikasieaanhangsel uiteengesit is; 



die geïnspekteerde fasiliteite binne die Republiek in staat stel om gedurende internasionale inspeksies die maksimum moontlike beskerming verleen te word ten opsigte van hul vertroulike sake-inligting; en 



die inspeksieprosedures in besonderhede uiteensit vir–

 

(i)	elke fasiliteit of plek in die grondgebied of op enige ander plek onder die jurisdiksie of beheer van die Republiek wat besig is met die produksie, verwerking of verbruik van Bylae 1-chemikalieë; 



(ii)	elke fasiliteit of plek in die grondgebied of op enige ander plek onder die jurisdiksie of beheer van die Republiek wat besig is met die produksie, verwerking of verbruik van Bylae 2-chemikalieë, tensy die Raad en die Tegniese Sekretariaat van die Organisasie ná 'n inspeksie ter plaatse ooreenkom dat dit nie nodig is nie; 



(iii)	enige fasiliteit of plek in die grondgebied of op enige ander plek onder die jurisdiksie of beheer van die Republiek wat besig is met die produksie van Bylae 3-chemikalieë, ten opsigte waarvan daar tussen die Raad en die eienaar of persoon in beheer van die fasiliteit ooreengekom word dat 'n fasiliteitsooreenkoms met die Organisasie aangevra moet word ingevolge paragraaf 19 van Afdeling B van Deel VIII van die Verifikasieaanhangsel; en 



(iv)	enige fasiliteit of plek in die grondgebied of op enige ander plek onder die jurisdiksie of beheer van die Republiek wat besig is met die produksie van diskrete organiese chemikalieë, met inbegrip van daardie wat die elemente fosfor, swael of fluoor bevat, ten opsigte waarvan daar tussen die Raad en die eienaar of persoon in beheer van die fasiliteit ooreengekom word dat 'n fasiliteitsooreenkoms met die Organisasie aangevra moet word ingevolge paragraaf 16 van Afdeling B van Deel IX van die Verifikasieaanhangsel. 



(3)	Die eienaar of die persoon in beheer van die fasiliteit moet alle redelike stappe doen om met die Raad saam te werk wanneer die fasiliteitsooreenkoms aangegaan word. 





Inspeksies deur inspekteurs van die Organisasie 



5. (1)	Ooreenkomstig Deel II van die Verifikasieaanhangsel, saamgelees met die tersaaklike bepalings van die Wet op Diplomatieke Immuniteite en Voorregte, 2001 (Wet No. 37 van 2001), word aan inspekteurs en inspeksieassistente al die immuniteite en voorregte verleen wat in Afdeling B van Deel II van die Verifikasieaanhangsel uiteengesit is en word hulle onderwerp aan die verpligtinge wat in Afdeling E van Deel II van die Verifikasieaanhangsel uiteengesit is. 



(2)	'n Gekwalifiseerde deskundige wat ingevolge paragraaf 7 van Afdeling B van Deel XI van die Verifikasieaanhangsel aangewys is as deel van 'n span gedurende 'n ondersoek van 'n saak van beweerde gebruik van chemiese wapens, geniet dieselfde immuniteite en voorregte as 'n aangewese inspekteur of inspeksieassistent wat in diens van die Organisasie is. 



(3)	'n Persoon in beheer van 'n verklaarde fasiliteit wat aan bepaalde datamonitering en verifikasiemaatreëls op die terrein onderwerp kan word, word—



(a)	binne 30 dae nadat die verklaring deur die Raad by die Organisasie ingedien is, skriftelik deur die Raad in kennis gestel dat die verklaarde fasiliteit, onder bepaalde omstandighede, deur die Organisasie aan datamonitering of verifikasiemaatreëls op die terrein onderwerp kan word; en  



(b)	ten einde te voldoen aan die tydraamwerke wat in die Chemiesewapenskonvensie uiteengesit is, ooreenkomstig paragraaf 31 van Afdeling D van Deel II van die Verifikasieaanhangsel onverwyld in kennis gestel van die ontvangs deur die Raad vanaf die Organisasie van 'n inspeksiekennisgewing betreffende die verklaarde fasiliteit en van die beskikbare besonderhede van sodanige beoogde inspeksie. 



(4)	Die Raad moet, ten einde te voldoen aan die tydraamwerke wat in die Chemiesewapenskonvensie uiteengesit is, die toepaslike getal paslik gekwalifiseerde persone aanstel, met inbegrip van, waar nodig, amptenare van ander toepaslike Staatsdepartemente as lede van die binnelandse begeleidingspan om die inspeksiespan gedurende die binnelandse tydperk te vergesel en by te staan. 



(5)	Die Raad moet die nodige magtiging uitreik aan alle lede van die binnelandse begeleidingspan om hulle in staat te stel om die inspeksie op 'n tydige en doeltreffende wyse te fasiliteer soos in die Verifikasieaanhangsel uiteengesit word. 



(6)	'n Persoon in beheer van 'n verklaarde fasiliteit wat deur die Organisasie aan inspeksie onderwerp word, wat deur die Raad in kennis gestel is dat die verklaarde fasiliteit deur inspekteurs van die Organisasie geïnspekteer gaan word, moet ooreenkomstig die bepalings van die Verifikasieaanhangsel die nodige stappe doen om met die Raad saam te werk in die uitvoering van die inspeksie.





Korrespondensie



7.	Alle korrespondensie met die Raad word—



(a)	wanneer dit per pos aangestuur word, gerig aan—

Die Sekretariaat 

Suid-Afrikaanse Raad vir die Nie-proliferasie van Wapens van Grootskaalse Vernietiging 

Privaat Sak X84 

PRETORIA 

0001; of



(b)	wanneer dit per hand afgelewer word, afgelewer by—

Die Sekretariaat 

Suid-Afrikaanse Raad vir die Nie-proliferasie van Wapens van Grootskaalse Vernietiging 

Meintjiesstraat 77

Sunnyside

PRETORIA.





Herroeping



8.	Goewermentskennisgewing No. R. 705 van 23 Mei 1997, soos gewysig by Goewermentskennisgewing No. R. 77 van 29 Januarie 2004, word hierby herroep.





Kort titel en inwerkingtreding 



9.	Hierdie regulasies heet die Chemiesewapensregulasies en tree op …………………... in werking.





DR ROB DAVIES



MINISTER VAN HANDEL EN NYWERHEID





