Feesbestuurders Tessa Doyle en Pieter Bekker, dames en here, feesgangers, vriende*
Julle weet, vandag se lewe is so gejaag en gespanne, veral in hierdie laaste lopie na die einde van die jaar toe, dat dit vir my heerlik is om te sien daar is nog Wes-Kapenaars wat tyd maak om fees te vier. Dit is verblydend om te sien dat 'n gemeenskap self inspring om 'n geleentheid soos hierdie VIR die gemeenskap te organiseer. Dit is vir my en Hazel 'n voorreg om hier by julle op Lambertsbaai te kom kuier. Baie dankie vir die eer om julle fees vanoggend amptelik te open.
Eintlik is ons vroeër die week ook al bederf met 'n besoek aan die platteland. Die Wes-Kaapse kabinet het die week vir die eerste keer 'n kabinetsitting op die platteland gehou. Ons vergadering op Pacaltsdorp naby George was deel van die provinsiale regering se strewe na deursigtigheid en verantwoording. Dit was ons eerste eksperiment en na my mening 'n baie geslaagde een, ondanks sekere groepe wat dinge vir ons probeer moeilik maak het. Die Wes-Kaapse regering wou graag die mense van die provinsie die geleentheid gee om die kabinetslede te ontmoet, uit te vind wat die ministers doen en wat hulle planne vir die volgende vyf jaar is. Ons as kabinet wou ook graag self die mense van die Wes-Kaap ontmoet en hoor wat hulle probleme en tekortkominge is. Ons wil hê die inwoners van ons provinsie moet mede-regeerders wees. Dit is waarom ons die kabinetsvergadering op die platteland 'n kwartaallikse instelling gaan maak. Volgende keer, dit is in Februarie volgende jaar, kom ons Weskus toe !
Dit laat my dink aan die drie plattelandse seuns wat die huis verlaat en elkeen op sy eie uitgegaan en gaan geld maak het. Nadat hulle na jare weer bymekaar kom, praat hulle toe oor wat hulle vir hulle bejaarde moeder gedoen het. Die eerste seun sê, "Ek het 'n groot huis vir Ma gebou." Die tweede seun sê, "Ek het vir haar 'n Mercedes met 'n bestuurder gestuur." Die derde een glimlag en sê, "Nee wat, ek het beter as julle albei gevaar. Onthou julle hoe lief Ma daarvoor was om die Bybel te lees? En julle weet mos sy kan nie nou meer so lekker sien nie. So toe stuur ek vir haar 'n baie slim pappegaai wat die hele Bybel kan opsê.
Dit het die ouderlinge van die kerk 12 jaar gevat om hom dit te leer. Hy is enig in sy soort. Ma hoef net die Bybelhoofstuk en versie te noem, dan sê hy dit op."
Nie te lank daarna nie begin die bejaarde moeder haar bedankingsbriewe uitstuur na haar seuns: "Frans," skryf aan die eerste seun, "Die huis wat jy vir my gebou het is so groot. Ek bly net in die een kamer, maar ek moet die hele huis skoonmaak."
Gert," skryf sy aan die tweede, "Ek is te oud om te reis. Ek bly die meeste van die tyd by die huis, so ek gebruik byna nooit die Mercedes nie. En dan is die bestuurder nog so onbeskof ook!"
Liewe Willem," skryf sy vir haar derde seun, "Jy weet darem net hoe om jou ma se hartsnare te roer. Daai hoender was heerlik !"
Dit wys jou net, 'n mens moenie 'n dier se waarde onderskat nie. So moet ons ook nie die waarde van kreef vir Lambertsbaai, die Weskus en die Wes-Kaap onderskat nie. Die hou van 'n kreeffees, en vanjaar is dit al die sewende een, gee erkenning aan die waarde van kreef. Ek moet julle gelukwens met die fees. Die waarde van so 'n fees vir die groei van toerisme in die streek kan nie in rande gemeet word nie. Die waarde van die Lambertbaaise Kreeffees sal hopelik nie net in julle sake-ondernemings se November-winste gesien word nie, maar nog lank deur die gemeenskap gevoel word.
Dames en here, behalwe dat kreef vir die meeste van ons een van die heerlikste lekkernye onder die son is, is die seedier se grootste waarde waarskynlik daarin dat dit die brood en botter van menige Weskusser is. Maar die Weskussers sukkel om by die brood en botter uit te kom. Hierdie afgelope week was dit weer baie duidelik hoe ontevrede vissers is omdat hulle nie handelskwotas gekry het nie. Hulle moet nou soos sportvissers seisoenpermitte koop om kreef te kan uithaal. Party was so ongelukkig dat hulle die week die see ingevaar en onwettig kreef gaan uithaal het.
Dames en here, dit is nie die oplossing nie. Onwettige optrede was nog nooit die antwoord nie. Daar is ander maniere wat gevolg kan word en gevolg moet word. Nou sal julle vir my sê, maar Premier jy weet nie wat hier aangaan en hoe swaar ons kry nie. Jy weet nie wat dit is om saans jou honger kinders en vrou in die oë te moet kyk en weet jy kan nie kos op die tafel sit nie. Jy weet nie watter frustrasie dit is om 'n boorling van die Weskus te wees, 'n gebore visser, 'n kind van geslagte en geslagte se vissersfamilies, en jy kan nie jou lewe maak uit jou omgewing nie. Jy weet nie wat dit is om jou hele lewe op die see deur te bring en geen ander lewe te ken nie.
En ek sou sê, miskien nie, maar wat ek wel weet, is dat die vissers van die Weskus se ongelukkigheid en probleme my na aan die hart is. Die afgelope jaar se katastrofe met die viskwotas die beskuldigings van korrupsie in die bedryf, die beweerde nepotisme dit alles is onaanvaarbaar. Die kreef- en visbedryf is 'n eeue-oue bedryf van die Kaap. Dit is een waarop ons trots is. Ons kan nie toelaat dat die bedryf deur sulke vrot kolle bederf word nie. As die nasionale regering wat die wette maak, nie die gemors kan uitsorteer nie, gaan die Wes-Kaapse regering ingryp. As dit beteken dat ons moet inmeng, dan meng ons in.
Dit is in elk geval hoog tyd dat die magte by die provinsie berus. Wat weet Pretoria wat langs die Weskus aangaan? (Hulle het dan nie eers 'n see nie.) Ons kan nie langer toelaat dat ons mense ly nie.
Maar intussen moet ek julle vra om die wet te gehoorsaam. Ons sal saam met julle aan die regte deure klop om by die oplossing uit te kom.
Toerisme is vandag een van die Wes-Kaap se grootste bates. Ons moet dit reg bestuur en ons bemarking doen. Dit is tyd dat die Weskus sy regmatige prominensie in Wes-Kaapse toerisme-brosjures kry. Toeriste moet weet buite Kaapstad is nie net die Stellenbosse wynlande, Tuinroete en die Kango-grotte nie, maar ook die Weskus met al sy skatte sy parke, sy skilderagtige kusdorpe, sy diepblou see en seker sy grootste bate, sy mense met hul harte van goud. Die Here het die Weskus geseën met hierdie skatte. Dit is Hy wat die eer verdien. Ons wil ook aan Hom dankie sê dat Hy hierdie fees moontlik gemaak het.
Nou het ek genoeg gepraat. Dit is tyd vir die fees om te begin. Baie dankie dat julle Lambertsbaai kom ondersteun het. Geniet die propvol feesprogram wat die organiseerders vir ons voorberei het.
