Vriende en landbouers, dankie vir die uitnodiging om hierdie skou vannaand te open. Landbouskoue het 'n lang en keurryke geskiedenis in Suid Afrika. Ook in die Wes-Kaap hoef ons nie terug te staan nie. Dankie aan almal wat agter die skerms werk om hierdie skou moontlik te maak.
En vanjaar is 'n ekstra besonderse jaar, aangesien die Wêreld Sokker Beker ons oor 'n paar maande gaan tref. Die hele planeet se oë gaan op ons wees, en ook die Breëriviervallei gaan internasionale aandag geniet.
So net soos u hier met die streek se landbou skou, moet ons ook met ons dorpe, ons provinsie, en ons land, skou tydens die toernooi.
Ek is persoonlik 'n groot voorstaander van landbouskoue. En wil vannaand vir u sê hoekom ek so voel. Maar voor ek dit doen, laat my toe om iets te sê oor xenofobia en water.
Ons het verlede jaar die onsmaaklike episode in De Doorns gehad met beweerde Xenofobia en bewerings van arbeidsvergrype aan die kant van boere. Die situasie blyk steeds te sluimer, en ons hou dit dop. In retrospeksie is ek steeds trots op die boere van die Hexriviervallei en staan ek by my oortuiging dat hulle niks verkeerd gedoen het nie. Ek skroom ook nie om dit in die openbaar te sê nie.
Maar ek doen ook 'n beroep dat die aanhitsers van xenofobia, ook as dit politici is, swaar gestraf sal word. Ek sien hierdie dade in dieselfde lig as `n bomplanter of brandstigter, wat geen beheer het oor die uiteindelike effek van sy dade nie. Ons moet immers met ons politici ook kan skou.
U is besproeiingsboere. Toekomstige waterskaarste gekoppel aan ESKOM se tariefverhogings gaan u dwing om in die nabye toekoms oor elke kubieke meter water wat gepomp word te besin. Ek wil ook graag met ESKOM kan skou.
Ek het aan die einde van 2009 die eerste, en Bergriviere besoek met die fokus op besoedeling. Daar is nog baie werk wat in hierdie verband gedoen moet word. Ek was egter verras deur die goeie gesindheid van die verskillende rolspelers, en ek is versigtig optimisties dat daar lig in die tonnel is.
Ek is bewus daarvan dat daar ook by die Breërivier kommer is oor die gehalte van die water. Dit is 'n kwessie wat ons in hierdie jaar sal aanspreek. Ek is oortuig dat indien die verskillende vlakke van regering saam werk en fokus op die probleem en nie op onderlinge verskille nie, dit suksesvol bestuur kan word.
Suid Afrika behoort met al sy riviere te kan skou. Kom ons aanvaar die uitdaging om die voortou te neem in die Wes-Kaap. Kom ons maak werk daarvan om skouriviere in ons provinsie te hê.
Ek noem dit net kortliks om 'n aanduiding te gee van die kwessies wat reeds op die tafel is vir 2010. Daarby kom `n betoog vanaf die Wes-Kaap dat aandeelhoudingskemas as 'n manier van grondhervorming weer ingestel moet word.
Daar is tans 'n moratorium op hierdie transaksies, maar ek glo dat dit tot op hede seker die beste en mees suksesvolle model vir grondherverdeling was. Ek wil ook met grondhervorming kan skou, en daarvoor benodig ons meer suksesverhale. Maar vannaand is ons hier omdat dit Worcester se landbouskou is. En soos ek aan die begin gesê het: Skou is belangrik.
Landbouskoue spog met landbou
Dit is slegs mense wat iets het om mee te spog wat skou. By implikasie kan slegs 'n landboustreek skou indien dit gesond en suksesvol is. Mense wat skou is trots op hul handewerk.
My oë het onlangs gerek toe 'n werkskolega, wat 'n gesoute wêreldreiseger is, vir my meedeel dat sy nog nooit op 'n plaas in Suid Afrika was nie. Ek sluit nou nie besoeke aan wynkelders met proelokale hierby in nie. Maar dit het my aan die dink gesit. Die algemene publiek het nie toegang tot plase nie.
Daar is 'n hek; dit is privaat grond, en indien jy nie vriende het wat boer nie, gaan jy dit nooit beleef hoe dit op `n gewone plasswerf gaan nie. Dalk minder so hier op die platteland, maar vir stadsmense is dit wel die realiteit.
So hier by die skou is die perfekte geleentheid vir stadsjapies om kennis te maak met regte landbou. Dit is ook ons geleentheid, as landbouers, om die publiek positief in te stem teenoor landbou. Miskien is dit `n aspek van landbouskoue wat meer aandag kan kry. Landbouskoue word deur landbou beheer. Ons bepaal die agenda.
By verlede jaar se From the Earth skou in Kaapstad was daar byvoorbeeld karoo boere wat inligting oor skaap verliese as gevolg van roofdierprobleme aan die publiek bekend gemaak het.
Dit is daardie kant van die saak wat nie altyd die algemene pers haal nie. Dit is by skoue wat ons as boere die geleentheid het om landbou aan die verbruiker aan te bied soos dit is, en nie soos Woolworths of Pick and Pay se reklame afdeling dink dit moet wees nie.
So hier is ons kans om ook ons kant van die saak te stel. By skoue kan al die werk wat agter die skerms gedoen word vir sosiale opheffing erkenning kry. Dit is 'n geleentheid om aan verbruikers te wys dat ons nie monsters is wat hulle probeer vergiftig met gevaarlike chemikalieë nie. Ons is mense wat lief is vir die natuur.
Boere is immers die eerste linie van natuurbewaarders in die land. En elke boer weet dat hy sy brood en botter net uit 'n gesonde natuurlike omgewing kan verdien.
Nuwe tegnologie word ten toon gestel
U ken almal die kosteknyptang wat ons elke jaar dwing om meer produktief te boer. Nuwe tegnologie en navorsing is die wapen waarmee ons hierdie uitdaging die hoof kan bied. Die ekonoom, Roelof Botha het twee weke gelede by Vinpro se konges gesê dat ons ekonomie slegs kan herstel as ons goed koop. En jy kan volgens hom maar op skuld koop, solank jy die rente kan diens. Ek neem aan dat hy u dus sal aanmoedig om na die nuwe trekkers en bakkies te kyk en patriotiese besluite met die beursie sal maak.
Netwerk geleentheid
Ten slotte: Die jaar is so vol dat wanneer jy jou oë uitvee is dit weer verby. Ons leef by mekaar verby, so gebruik ook die geleentheid om weer op te vang met ou vriende. Die skou is ook die ideale geleentheid om nuwe kontakte op te bou. Gesels weer met jou verskaffers en gaan dan terug plaas toe met nuwe moed vir die jaar wat voorlê.
