Toespraak gelewer deur die Wes-Kaapse LUR vir Landbou en Landelike Ontwikkeling Minister Gerrit van Rensburg by die Stellenbosch Landbougenootskap: Landbou in die Wes-Kaap
Dames en here, dit is 'n voorrreg en 'n plesier om vannaand by u te kan wees. Landbou is weereens, of moet ek sê, alweer, of, soos gewoonlik in ongekarteerde terrein. Die faktore wat ons sektor beïnvloed daag telkens in nuwe verhoudings met mekaar op, en sorg dat 'n boer nooit gerus kan raak in Suid Afrika nie.
Op die oomblik is daar verseker 'n wêreldwye voedseltekort op die horison. Ons eet meer as wat ons produseer, maar tog word dit nog nie in kommoditeitspryse weerspieël nie. Uitvoerders word gestraf deur die sterk Rand en swak vraag vanuit oorsese markte. Klimaatsverandering is besig om 'n realiteit te raak vir ons hier in die Wes-Kaap, en volgens alle aanduidings is ons die Provinsie wat die meeste geaffekteer gaan word in die land. En dan is daar nog 'n nuwe regering in die Wes-Kaap asook 'n nuwe nasionale Minister van Landbou.
U kan dus tereg vannaand die vraag vrae: Waarheen nou?
Dames en here, niemand ken u onderskeie industrieë beter as uself nie, so ek gaan my nie daaroor uitlaat nie. Laat my egter toe om 'n paar opmerkings te maak oor landbou vanuit my perspektief as Minister van Landbou in die Wes-Kaap. Ek hoop dat ek daarmee moontlike vrae wat u mag hê sal beantwoord.
Na die onlangse verkiesings het die politieke landskap in Suid Afrika interessante veranderings ondergaan. Direk op u van toepassing is die nuwe regering in die Wes-Kaap en ook die nuwe nasionale Minister van Landbou, Tina Joemat-Pettersson.
Ek en die Nasionale Minister is besig om 'n baie goeie verhouding op te bou. Ons is die enigste Afrikaanssprekendes by die MinMEC vergaderings. Sy het 'n landbou agtergrond en verstaan kommersiële landbou. Sy werk hard en verwag vinnige resultate van haar amptenare. Laasgenoemde kan dalk 'n probleem wees, maar dit lyk asof sy ook onder hulle begin inklim as daar nie gewerk word nie.
Ek en Minister Joemat-Pettersson is tans in gesprek oor die moontlike herinstelling van die destydse Kredietraad. U kan self dink watter groot kopskuif dit binne ANC geledere moet wees, aangesien dit grondhervorming soos ons dit tans ken heeltemal op sy kop draai. Voornemende boere sal met behulp van die Kredietraad geld by die regering kan leen teen basies geen rente nie, maar dit moet terugbetaal word. Produksielenings kan met dieselfde beginsel bekom word.
In hoe 'n mate hierdie tipe van denke by Lethuli Huis afgaan sal mens nog moet sien, maar ek kan met die Minister se denke vereenselwig.
Politiek in die Wes-Kaap
In die Wes-Kaap is daar nou ook 'n nuwe regering met Hellen Zille as Premier. U sal die moddergooiery aan die begin van ons termyn onthou t.o.v geslag en die manlike kabinet. Wat mense nie weet nie, is dat terwyl hierdie geveg in die media gewoed het, was die Premier saam met President Zuma by 'n bosberaad. Hulle praat met mekaar, en hy vra haar opinie oor sake. Sy uitlatings oor onderwys in sy intreerede was byvoorbeeld gegrond op ons Premier se opmerkings aan hom.
En hier in die Wes-Kaap sal haar manlike kabinet hul vingers stomp werk vir haar. En ons doen dit. Sy het 'n ongelooflike talent om tegelykertyd aan groot sake en klein detail aandag te gee.
Verlede week het die Premier met die munisipale bestuurders en burgemeesters van die Wes-Kaap vergader. 'n Raadslid noem toe dat daar 'n opdrag van die nasionale Minister van Plaaslike Regering gekom het om 'n anti-korupsie veldtog te "launch". Dit moet dan sorg dat korrupsie in munisipaliteite teen 2014 uitgeroei is.
Die Premier was nie ingenoeë hiermee nie, en voer toe aan dat daar gans te veel "launches" is, en dat dit net 'n verskoning vir 'n partytjie is. Sy sê dat in die Wes-Kaap doen ons eerder eers die werk, en dan hou ons 'n partytjie in 2014 as die korrupsie uitgeroei is. Die Raadslid byt vas en wys die brief met die instruksie dat die veldtog "gelaunch" moet word. "Goed" sê die Premier. "Ek launch die Wes-Kaap se anti-korrupsie veldtog nou. Dit is nou gelaunch".
Ek dink dat hierdie voorval skets 'n goeie opsomming van wat tans in die Wes-Kaap aan die gebeur is. Daar word gefokus op werk en dienslewering en nie beeldpoets nie.
Die Premier verwag van haar Ministers om saam met mekaar te werk en duld nie Departemente wat nie met mekaar wil skakel nie. Dit is van belang vir landbou, aangesien kwessies soos arbeid en behuising altyd voor die deur van Landbou gegooi word, maar die relevante departemente, soos behuising, (Arbeid slegs Nasionaal) raak nie betrokke nie. Hierdie stand van sake sal verander in die toekoms.
Departement van Landbou.
U sou in die pers gesien het dat daar verskeie hoë profiel koppe, ook Departementshoofde, gerol het met die nuwe regering se oorname in die Wes-Kaap. Gelukkig was dit nie die geval by die Departement van Landbou nie. Ek vertrou my Departementshoof, Joyene Isaacs, ten volle. Ek het haar immers agt jaar gelede in haar huidige pos aangestel. Sy bestuur haar departement uiters professioneel, en haar amptenare hou hulle uit die politiek en doen hul werk.
Daar gaan 'n klemverskuiwing kom by die fokusareas van die Departement oor die volgende vyf jaar, deurdat ons meer aandag aan landbou gaan gee en minder aan politiek. Dit is moontlik omdat Helen Zille my toelaat om op landbou te fokus. Dit is 'n luukse wat my voorganger, Cobus Dowry nie altyd gehad het nie.
Die eerste klem verskuiwing wat ek wil noem, is dat ons beslis meer aandag aan navorsing en tegnologie gaan gee. Die huidige begroting maak slegs 16% van die totaal voorsiening hiervoor. Dit sal meer raak in die volgende paar jaar. Ek dink dat grondhervorming en sosiale sake die fokus weg van landbou geneem het die laaste ruk, en ek wil dit regstel.
Maar: Ondersteuning van ons nuwe boere bly egter van kritieke belang. Ek wil nou sien dat die nuwe boere wat reeds gevestig is gehelp moet word om te ontwikkel tot kommersiële produsente. Mense kan vir altyd nuwe boere bly nie. Ons sal ook kyk na projekte wat kronies sukkel, en dan harde besluite neem. Miskien is daar gevalle waar iemand anders nou 'n kans moet kry.
Ons begroting is onder druk, so ons gaan vir eers poog om dit wat ons reeds doen, beter te doen. So gaan ons ernstig kyk na die kwaliteit van ons voorligtingsdienste. Ons voorligters word ook eersdaags met nuwe tegnologie toegerus wat ons in staat sal stel om hulle beter te bestuur.
Klimaatsverandering gaan baie aandag geniet. U weet ons provinsie is water arm, en die gewasse wat ons verbou is uiters sensitief ten opsigte van klimaat. Ek dink aan vrugtebome en hul koue behoeftes, en u weet watter impak die weer op die kwaliteit van 'n wyn oesjaar kan hê. Die departement is reeds besig met navorsing oor die effektiewe gebruik van besproeiingswater asook verbouiingstegnieke, soos geen-bewerking, waar grondvog bewaar word.
Ons het pas ons Human Capital Development Strategy bekend gemaak. Dit fokus op samewerking tussen die Departement en alle ander rolspelers in die landbou sektor om menslike kapitaal op te bou. Dit fokus ook op die Departement se personeel, want beter opgeleide amptenare sal ook beter diens aan u lewer.
Ek soek dringend studente vanuit minderbevoorregte gemeenskappe met wiskunde en wetenskap om in landbou te studeer. Ons het beurse en ek waarborg vir suksesvolle studente werk in die Departement. Ons benodig landbou-ingenieurs, ekonome en veeartse. Daar sal beslis aandag gegee moet word om talentvolle jongmense te oortuig dat landbou 'n goeie loopbaangeleenheid kan wees.
Dames en here, ek weet daar word altyd baie gekla oor die slegte beeld wat landbou het en hoe onregverdig die pers ons hanteer. Die probleem is meestal daai een vrot appel wat dit vir ons almal moeilik maak. Roofdierbeheer is tans 'n sensitiewe kwessie. So moet nou nie met dooie jakkalse agter aan jou bakkie se tralies dorp toe ry nie.
Net so is arbeidskontrakteurs besig om 'n politieke speelbal te raak. Ek wil u vra om u kontrakteur versigtig te kies. Daar is reeds verskeie inisiatiewe om die bedryf te reguleer, maar gebruik asseblief gesonde oordeel en bly weg van kontrakteurs wat ons bedryf in 'n slegte lig kan plaas.
So gepraat oor die beeld van landbou: Ek was ongelooflik trots met ons begrotingsrede, waar boere en plaaswerkers na uitgenooi was, toe die opposisie my beskuldig dat daar net boere in die gallery sit. Ek kon toe vir die Huis regwys, en aandui dat daar verskeie arbeiders ook sit, onder andere die huidige Plaaswerker van die Jaar, wat oppad Frankryk toe is vir 'n wingerd en wyn opleidingskurses. Boere en werkers lyk nie noodwendig anders nie, en dit is iets positiefs wat tans aan die gebeur is.
Landelike ontwikkeling is nog 'n fokus wat baie aandag gaan geniet. Ons gaan eersdaags 'n senior Landelike Ontwikkelingspos skep, wat nou saam met my Ministerie en Departement gaan werk om te kyk hoe ons die platteland weer lewensvatbaar kan maak. Ons het reeds twee moontlike areas, Matzikamma of Oudtshoorn Munisipaliteite, geïdentifiseer waar werkskeppingsprojekte geloods kan word. Ons wil voor die einde van die jaar die eerste landelike ontwikkelings projek bekend maak.
Ek sluit af: U kan 'n regering in die wes-Kaap vir die volgende 5 jaar verwag wat nie gaan inmeng waar dinge goed werk nie. U boer, en ons gaan probeer om dienslewering op te skerp en te verbeter waar moontlik. Praat asseblief met my as u probleme het en dan kyk ons of ons dit saam kan oplos. Ek dank u.
