Wes-Kaapse munisipaliteite lewer beste diens
Die Wes-Kaapse munisipaliteite lewer oor die algemeen baie goeie diens in vergelyking met die res van die land. Só sê mnr. Anton Bredell, minister van Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning.
Kaapstad is as die nommer-een metropolitaanse gebied aangewys met 'n punt van 73,4%, terwyl Johannesburg met 70,8% die tweede plek behaal het. Die navorsing in verband met die 231 plaaslike munisipaliteite, 46 distriksmunisipaliteite en ses metropolitaanse munisipaliteite is deur Empowerdex gedoen.
Volgens die 2001-sensus het 116 258 huishoudings in die Wes-Kaap nie oor basiese sanitasie beskik nie. Die Gemeenskapsopname van 2007 het aangedui dat laasgenoemde syfer tot 93 084 huishoudings gedaal het en volgens die Departement van Waterwese en Bosbou se opname in 2009 is die situasie tans dat 86 759 huishoudings nie toegang tot sanitasie het nie, dus 'n wesenlike verbetering. Die syfers vir toegang tot elektrisiteit en vuillisverwydering toon dieselfde tendens, wat net weer eens daarop dui dat die Wes-Kaap se plaaslike regerings heel goed doen in vergelyking met die res van die land.
Ten spyte van al die positiewe syfers meen Bredell egter dat daar steeds ruimte vir verbetering is. Hy erken dat die meeste burgemeesters en munisipale bestuurders ook hiervan bewus is. "Die uitdagings van plaaslike rade is geweldig groot en ons sal in die opleiding van ons mense moet belê sodat kundigheid teruggebring kan word. Voorts moet politieke inmengery in besluitneming ook gestaak word," het Bredell gesê. Hy meen die boodskap van die president op 20 Oktober was baie positief en die verdere gesprekke op 21 en 22 Oktober het redelik goed verloop. "'n Mens kan jou met baie van die idees wat geopper is, vereenselwig. Dis egter die uitvoering daarvan wat sukses waarborg."
Bredell meen indien mens jou afvra hoekom daar munisipaliteite - ten spyte van die leemtes in die huidige stelsel - suksesvol is, daar na die volgende gedagtes gekyk moet word: Suksesvolle munisipaliteite het kundigheid teruggebring en/of behou; hulle het 'n stabiele politieke omgewing geskep; hulle het korrupsie aangespreek en beperk; en hulle het 'n doeltreffende kredietbeheerstelsel daargestel.
Enige nuwe stelsel is gedoem indien bogenoemde gedagtes nie in berekening gebring word nie. Ons fokus moet in die eerste plek op die opleiding van personeel, die bestryding van korrupsie en politieke volwassenheid gefokus wees. Ek spreek graag my dank uit teenoor alle burgemeesters, munisipale bestuurders, raadslede en amptenare wat dienaars van hul gemeenskappe is," het Bredell gesê.
