Baie dankie dat ek, as die Provinsiale Minister vir Gemeenskapsveiligheid vanaand by die gedenkdiens vir Nadine Jantjies, 'n kind uit die gemeenskap, 'n kort woord kan lewer.
Ek doen dit met gemengde gevoelens - intense hartseer én groot kommer. Veral gesien teen die gewetenlose wyse waarop haar jong lewe beeïndig is.
Ek wil weereens my Departement se innige meegevoel aan die ouers en familie van Nadine oordra. Mag die Hemelse Vader u deur hierdie routyd dra en u net omring sal wees met baie liefde en omgee van geliefdes.
Nadine was maar vir sewe jaar op aarde, maar is sy nie 'n regverdige kans gegee om haar potensiaal uit te leef nie.
Sy moes vanaand knus in haar ouerhuis gesit het en die tyd met haar ouers en susters gedeel het.
Die gemeenskap van Wesbank en Delft, asook die provinsie, het uitverloor op 'n kans om 'n unieke bydrae van hierdie meisie te kon ontvang.
Dié geweldsmisdaad teen haar is nog vars in ons geheue en herinner ons weer dat gemeenskappe nié gerus kan slaap nie.
Die aanslag op ons kinders is fel en altyd teenwoordig.
Die groot bekommernis is egter dat hierdie doodsaanslae veral kom vanuit die spesifieke woning waarin die slagoffer gebly het.
Dat die familie-hande wat die kind moet oppas, ingespan word om geweldsmisdade te pleeg.
Die vraag moet weereens gevra word: Met wie kan ons ons kinders nog deesdae vertrou?
Mammas kan met reg nou vra: Kan ek my kind met my broer, neef, pa en selfs oupa en ja, selfs my man, vertrou?
Wat het ook geword van die manne wat hul en ander se huise moet beskerm?
Waar is die mans, dat hul huise kwesbaar gelaat word vir die wolwe in die gemeenskap?
Ek en die Wes-Kaapse Premier, mev. Helen Zille, is baie bekommerd oor die feit dat kinders hull lewe op so 'n jong ouderdom, op so 'n wyse moet inboet.
Net verlede Vrydag het die geagte Premier, mev. Zille, tydens haar toespraak in die parlement, oorlog verklaar teen misdaad en veral misdaad teen kinders.
Een van haar planne is om so gou moontlik 'n Kommissaris vir die Beskerming van Kinders aan te stel.
Eerskomende Vrydag lewer ek die Gemeenskapsveiligheid Departement se begrotingsrede, waarin ek planne sal aandui oor hoé ons gemeenskappe in die Provinsie veiliger wil maak.
Ook hoe u, as gemeenskapslede, deur u betrokkenheid, 'n betekenisvolle en kritieke rol kan speel om gemeenskappe veiliger te maak.
Ek wil daarom die Wesbank- en Delft-gemeenskap vra om nie na dié voorval terug te deins nie.
Werk saam met jul gemeenskapsleiers, die polisie en die Departement van Gemeenskapsveiligheid.
Laat ons hande neem en op 'n georganiseerde wyse die baie uitdagings, om misdaad te bekamp, aanvat.
Laat die dood van Nadine Jantjies nie verniet wees nie.
