Agbare Speaker
President Zuma se besluit om grondsake en landbou te skei, het positiewe en negatiewe reaksies uitgelok. Net so het die president se aankondiging van sy kabinet, en spesifiek die landbouministers, positiewe en negatiewe reaksies uitgelok. Die media se kommentaar daarop het gewissel van verbasing tot skok maar ook groot lof. Kommentators was dit egter eens dat die President met die skeiding van die departemente van grondsake en landbou, asook met sy keuse van Ministers 'n besliste boodskap aan die landbousektor maar ook aan die hele Suid-Afrika wou stuur.
Ek sien hierdie boodskap van die President as dat hy besef hoe belangrik 'n suksesvolle landboubousektor vir die toekoms van Suid-Afrika is, en dat ons oor politieke en ander grense heen genoeg met mekaar in gemeen het om saam hieraan te kan werk omdat die krisis in die landbousektor so ernstig is.
Dat die landbousektor voor vele probleme staan en dat die toekoms groot eise aan ons almal hier teenwoordig gaan stel, is nie te betwyfel nie. Ek het die aanstelling as adjunk-minister na deeglike oorweging aanvaar wetende van die groot eise wat dit gaan stel asook die risiko's wat so 'n besluit inhou.
Johan van Wyk, oud-joernalis, maak my besluit nie makliker nie as hy in 12 Junie se Landbouweekblad 'n humoristiese artikel oor al die oud-ministers van landbou skryf. Daarin skryf hy hoe landbou-ministers in Suid-Afrika glad nie lank hou nie -- volgens sy syfers het Suid-Afrika die afgelope 100 jaar reeds meer as 30 landbou-ministers gehad -- en toon hy aan hoe hulle baie gou ongewild raak.
As van voedselsekuriteit in die Suid-Afrikaanse konteks gepraat word, is dit dikwels nie soseer 'n tekort aan voedsel nie, maar eerder die voedselpryse wat die probleem is. Voedsel word so duur dat selfs basiese voedselsoorte ver buite bereik van 'n groot deel van die bevolking is.
Die vraag is waarom die prys van voedsel op die winkelrakke steeds duurder word, terwyl sommige landboukommoditetispryse daal?
Een voorbeeld: Volgens statistiek van die Nasionale Landboubemarkingsraad het die prys van koring van April 2008 tot April 2009 met 36% gedaal. In hierdie tyd het die Safex-prys vir koring van R3 962 per ton tot R2 526 per ton gedaal.
Terwyl koring se prys met 36% gedaal het, het bruinbrood se prys in dieselfde tyd met 22% gestyg. Hoe verklaar 'n mens dit?
Volgens dr Andre Jooste, senior bestuurder van die Nasionale Landboubemarkingsraad, is die groot les wat almal hieruit moet leer, dat daar 'n verband is tussen voedselsekuriteit en die winsgewendheid van landbou. As koring winsgewend verbou kan word, sal boere dit plant en so verseker dat daar genoeg kos bekostigbaar geproduseer word. Die omgekeerde is natuurlik ook waar.
Die Departement van Landbou, die kommersiële boere en die opkomende boere is van die belangrikste rolspelers om van landbou in Suid-Afrika 'n sukses te maak en voedselsekuriteit te waarborg. Die groot uitdaging in die volgende paar jaar gaan wees om die regte balans te kry tussen hierdie rolspelers.
In hierdie opsig is kommersiële boere net so deel van die oplossing as die opkomende boere. Te dikwels word kommersiële boere as die probleem en nie as deel van die oplossing gesien nie. Verantwoordelike vennootskappe tussen kommersiële- en opkomende boere kan baie van die huidige probleme aanspreek. Verantwoordelike vennootskappe behels egter begrip vir die verwagtinge van opkomende boere aan die een kant maar ook begrip vir die probleme en onsekerhede van kommersiële boere aan die ander kant.
n Kommersiële boer keer my onlangs voor en kritiseer my dat ek net praat van opkomende en kommersiële boere. Volgens hom is daar naas kommersiële- en opkomende boere ook nog 'n derde groep boere naamlik "ondergaande kommersiële boere"!
Van die probleme en onsekerhede van boere waarvoor daar ook begrip moet wees is onder andere verhoogde insetkostes en lae winsgewendheid; ondoeltreffende steunstelsels; volhoubare hulpbronbestuur en veral veiligheid en sekuriteit.
Hoewel almal in Suid-Afrika met misdaad te kampe het, het landelike misdaad 'n skokkende statistiek geword. Misdaad op plase bly 'n ernstige probleem. Onlangs het ons byvoorbeeld die ongelukkige voorval by Bultfontein gehad waar na bewering polisiereserviste by so 'n plaasaanval betrokke was. Die kernprobleem bly die veiligheidsvakuum wat ontstaan het na die afskaffing van die kommando's. Daarom is die veiligheid- en sekuriteitsforum, tussen die landbou-unies en die polisie, waarna in die hersiene landboustrategie plan verwys word, belangrik.
Die uitnodiging van die President van die Republiek van die Kongo aan Suid-Afrikaanse boere om daar te kom boer, sê ook iets van hoe Afrika die belangrikheid van Suid-Afrikaanse boere sien. Die regering van die Republiek van die Kongo is bereid om kosteloos vir Suid Afrikaanse kommersiële boere eksklusiewe gebruiksreg oor plase vir 99-jaar termyne te gee. Boonop kry boere 'n vyf-jaar belastingvakansie, en word hulle vrygestel van invoerbelasting op alle landbou-insette en -toerusting. Winste en beleggings kan ter enige tyd weer uit die land uitgeneem word. Die regering van die Kongo het staatsplase in die vrugbare Niarri-Vallei, wat gesamentlik meer as 135 000 ha groot is, uitsluitlik vir Suid Afrikaanse boere geoormerk, en 'n verdere 10 miljoen hektaar kan ook beskikbaar gestel word.
Om 'n Suid-Afrikaanse boer wat winsgewend boer te verloor, vind ek altyd 'n groot jammerte en 'n verlies vir Suid-Afrika. Ons moet dit voorkom. Tog moet die Suid-Afrikaanse bevolking en die regering kennis neem van die waarde wat Afrika-regerings aan hierdie boere heg in hulle pogings om Suid-Afrikaanse boere na ander Afrikalande te lok.
President Zuma glo dat ten opsigte van landbou ons oor politieke grense heen genoeg met mekaar in gemeen het om saam die uitdagings van die landbousektor te kan aanpak. Hierdie uitdaging het hy aan ons almal hier teenwoordig gestel. Die toekoms sal leer tot watter mate ons, in belang van almal in Suid-Afrika, hierdie uitdagings aanvaar en suksesvol aangepak het.
