Geagte programdirekteur, verskeie verteenwoordigers van organisasies wat betrokke is by die projek, begunstigdes van die projek, senior amptenare van die Departement van Landbou in die Wes-Kaap, dames en here.
Soos altyd is dit vir my 'n voorreg om op plekke te kom waar die Departement van Landbou in die Wes-Kaap intens betrokke is by ons mense wat voorheen nie deel was van landbou anders as om net maar gewone werkers te wees en nie die hoop gehad het om eendag ook as volwaardige boere 'n lewe te maak uit landbou nie.
Dit is nog lekkerder as ek weet dat dit nie net die regering is wat by projekte betrokke is om die ongelykhede van die verlede uit te wis nie, maar dat kommersiële boere en georganiseerde landbou en privaat instansies, almal betrokke is om seker te maak dat ons 'n vennootskap het wat werk en wat toesien dat bemagtiging in landbou in die Wes-Kaap volhoubaar plaasvind.
Ek is absoluut oortuig daarvan dat hierdie projek 'n sprekende voorbeeld hiervan is.
Die Elim Melkeryprojek het sy ontstaan te danke aan die Elim-gemeenskap se behoefte om natuurlike hulpbronne tot hul beskikking optimaal te benut. So is daar ses jaar gelede 'n melkery op Elim geïdentifiseer en is die Departement van Landbou in die Wes-Kaap genader om met die beplanning van die melkery te begin. Daarna moes die skep van die nodige infrastruktuur kom en uiteindelik moes die produksie-eenheid behoorlik in werking gestel word.
Soos dit soms maar gaan het skepping van die infrastruktuur langer as die beplande skedule geneem en is daar besluit om na strategiese vennote te soek om te help met die inwerkingstelling van die produksie-eenheid.
Die vennootskap wat uit hierdie behoefte gebore is, bestaan uit 'n groot verskeidenheid van rolspelers naamlik:
Die Departement van Landbou in die Wes-Kaap, met verskeie van ons programme en amptenare van die Departement
Insetkosteverskaffers wat bestaan uit Overberg Agri-Landbou Besigheid, die veevoermaatskappy mMeadow, die chemiese maatskappy Terrason, kunsmisverskaffer Omnia, Erasmus Petroleum wat brandstof voorsien en die maatskappy wat drade en pale verskaf, Cape Gate. So u sien dat daar 'n groot aantal rolspelers is wat 100 persent aan die projek verbind is.
Ek glo die projek bevat al die elemente om 'n sukses te maak. Dit het al die bestanddele van 'n suksesvolle boerdery.
Die oogmerk was om met 40 koeie te begin en die projek so uit te bou dat dit as 'n volwaardige besigheidseenheid kan opereer.
Daar is twee besigheidsentiteite geskep. Een waarin die melkery gesetel sal wees en tweede waarin koeie wat ingehuur sal word, opgeneem sal word. Albei gevalle met volwaardige direksies.
Ons glo dat die projek homself daartoe leen vir uitstekende toepassing van swart ekonomiese bemagtigingsprojek (SEB) binne landbou en spesifiek ten opsigte van die fasilitering van spesiaal gestruktureerde lenings deur banke waardeur die opkomende gemeenskap melkkoeie kan aankoop. Hierdeur kry die gemeenskap die geleentheid om volwaardig tot landbou toe te tree soos enige kommersiële boer.
Suiwel sal as gesonde voedsel direk in opkomende markte se huise ingedra word deurdat hulle eienaarskap opgeneem het en op die manier kan suiwel deel wees van die regering se strewe om deur middel van sy Accelerated and Shared Growth Initiative for South Africa (AsgiSA)-program ses persent groei in die ekonomie te laat plaasvind.
Kommersiële suiwelprodusente kan volgens die unieke konsep ook koeie verhuur aan die projek en daardeur punte op hul SEB-telkaart kan verwerf. Werkers van suiwelprodusente kan deur middel van 'n lening of deur 'n skenking van die werknemer beeste verhuur aan die Elim-projek.
Ons skep dis hier 'n unieke geleentheid vir verskeie rolspelers binne landbou om deel te hê aan die bemagtigings prosesse van die regering.
Die projek het op 6 September 2007 sy eerste beeste van die Departement van Landbou in die Wes-Kaap ontvang. Ons het 30 Jersey stoetbeeste vir die projek aangekoop van die Outeniqua-kudde van die departement.
Ek noem graag vir u wat die departement se direkte en indirekte bydrae tot die projek beloop.
Die koste van die eerste 30 koeie was R2 535 elk wat n totaal van R76 050 beloop.
Ons het nou nog n verdere 40 koeie geskenk.
Die koste van die melkstal is R920 000 en die melkmasjien kos R160 000.
Die besproeiingstoerusting wat reeds geïnstalleer is beloop tot op datum R400 000.
Program direkteur, ek wil afsluit deur vir u te sê dat hierdie projek die Elim-gemeenskap volwaardig deel maak van landbou. Hierdie is n geleentheid wat deur die regering geskep word om aan u te sê dat ons ernstig is om die ongelykhede van die verlede uit te wis. Ons wil hê dat u volwaardige deelnemers aan die ekonomie van die land moet wees en dat u werklik moet voel soos ware landbouers wat deel is van die groter landboufamilie van die Wes-Kaap.
Ek wil my dank aan al die rolspelers betuig vir die toewyding aan die projek, nie omdat u gedwing voel nie, maar omdat u glo dat dit die regte ding is om te doen deur ook aan ander die geleentheid te bied wat vir baie jare van hulle ontneem is. Ek wil u alle voorspoed toewens en vir u die versekering gee dat ons u vordering met belangstelling sal dophou.
Navrae:
