Baie dankie vir die uitnodiging om vandag saam met u te mag wees en te kon sien waarmee u besig is wanneer u gebruik maak van die voordele en hulp wat ons vanaf die Departement van Landbou se kant af vir u beskikbaar stel, om saam met kommersiële boere uitvoering te gee aan die grondhervormingsprogram van die regering. Hierdie projek van u is 'n bewys watter suksesse behaal kan word as ons doelgerig werk daaraan om u wat al ook volwaardige burgers van die land is, deel te maak van landbou en te sorg dat u ook grondbesitters word. Ek hou daarvan om op die grond by u te kom sodat ek eerstehands kan ervaar watter vooruitgang daar ten opsigte van ons mense binne landbou is.
Landbou in die Wes-Kaap speel 'n baie belangrike rol in die ekonomie van die provinsie en die land en u as plaaswerkers het reeds oor baie jare 'n groot rol gespeel om die Wes-Kaap die sterkste landbouprovinsie te maak.
Ek word aangedryf deur die wete dat daar nog so baie van ons mense is wat jare op plase bly en werk of wat oor 'n lappie grond beskik maar nie altyd die finansiële vermoë het om werklik winsgewend te boer nie.
Dit is waarskynlik ook grootliks die rede waarom my tyd as Minister van Landbou een van die verrykendste ervarings van my lewe is, ook omdat landbou my so na aan die hart lê, maar ook omdat landbou soveel fasette het wat 'n rol speel in die ontwikkeling en voortbestaan van ons mense, asook in die ekonomiese groei van die Wes-Kaap.
Die Wes-Kaapse Regering wil hê dat daar verandering in ons samelewing moet kom waar ons nie nodig het om op die staat te wag om ons maatskaplike welsyn te verbeter en ons lewensomstandighede te verbeter nie. Dit moet gebeur deur u ekonomies selfstandig te maak deur middel van projekte soos hierdie, waarvan u deel is. Dit help ook met die groei van die ekonomie en dit bring ook 'n toename in werksgeleenthede. Die belangrikste is egter die uitbreiding van eienaarskap. As ons hierin kan slaag, sal ons armoede behoorlik kan bestry en die ongelykhede van die verlede uitwis en aan u 'n beter lewe kan voorsien.
Die skepping van inkomste en werkgeleenthede is vir ons as regering 'n baie hoë prioriteit en daarom is dit nodig dat daar altyd nuwe projekte aangepak sal word waar al die mense in die omgewing baat by sal vind.
Dit is ook baie belangrik dat bestaande projekte suksesvol moet wees om volhoubaarheid in landbou te verseker.
Ek glo baie sterk daaraan dat om te kan boer nie 'n reg is nie, dis 'n voorreg. Die besit van grond is wel 'n reg wat deur die Grondwet van die land aan u gegee word, maar wanneer ons hierdie twee nl. boerdery en grondbesit bymekaar bring, word dit 'n onderneming wat met groot verantwoordelikheid aangepak moet word en daarom is dit vir ons in die Wes-Kaapse Departement van Landbou baie belangrik dat ons ook aan u die nodige ondersteuning moet bied om toe te sien dat u 'n sukses maak van u boerdery.
Hierdie projek wat u hier van stapel gestuur het, is 'n voorbeeld van wat verwag kan word wanneer produsent en werker hande vat om van die Wes-Kaap en spesifiek dan ook landbou, 'n ware tuiste vir almal te maak.
As ons wil slaag in ons doelwit om ware transformasie binne die landbousektor te weeg te bring, dan sal ons meer van hierdie tipe ontwikkelings moet hê, waarin daar op eie inisiatief voortgegaan word om hande te vat.
As departement is ons daartoe verbind om u op alle terreine binne ons mandaat by te staan en ek wil dan ook in hierdie verband ons dienste en kennis aanbied en u uitnooi om daarvan gebruik te maak.
Ek is bewus daarvan dat Denou Farming 'n bemagtigingsmaatskappy is wat in 2003 gestig is met die Goosen Boerdery Trust wat 'n 49 persent en die Den Haag Werknemers Trust wat 'n 51 persent aandeel in die onderneming het.
Dit is verblydend om te sien dat die 116 begunstigdes, waarvan 59 betrokke is op die plase te Prince Alfred Hamlet en 57 op die plase te Wolseley, ook verteenwoordigend is van beide geslagte, met 67 mans en 49 vroue.
Ek is ook baie dankbaar dat daar behalwe die gronhervorming vir volgehoue boerdery-program (LRAD) fondse van R3,6 miljoen wat beskikbaar gemaak is vir die gedeeltelike befondsing van die projek, my departement R346 000 bygedra het tot die skepping van infrastruktuur.
Ek wil aan Goosen Boerdery dankie sê dat u soveel erns maak met die deelname van u werkers aan landbou, dat u ook nou die oorblywende 30 werkers deel gaan maak van die nuwe onderneming in die Waverley/Goukyk Projek, waar u twee stukke grond Waverley en Goukyk, verder gaan ontwikkel met 50 hektaar steenvrugte, wingerd en olywe.
Dit is ook goed dat u 'n redelike hoeveelheid bevorderingsgeleenthede vir die werkers geskep het, waarvan die belangrikste een die ontwikkeling van 'n produksie-bestuurder is. Anthony Janse (Voorsitter van DHWT en Direkteur van Denou Farming) is dan ook sedert Julie 2007 as produksiebestuurder van Denou Farming aangestel. Ek verstaan dat u ook onlangs akkreditasie by die Fairtrade-handelsmerk verkry het en die eerste premie-fondse wat ontvang is, aangewend word vir sosiale en ekonomiese opheffing van die gemeenskap deur middel van 'n verskeidenheid projekte. Dit is gerusstellend om te weet dat die maatskappy se finansiële posisie geweldig verbeter het en dat die totale omset feitlik verdubbel het sedert die ontstaan van die maatskappy.
Dit is egter so dat u nie dink dat u nou kan agteroor sit en dink u hoef nou nie meer hard te werk of u verder te bekwaam as individue nie.
U moet uself verder laat oplei deur die programme wat die Departement van Landbou beskikbaar stel.
Ons glo baie sterk aan opleiding om jou lewensomstandighede te verbeter en daarom het ons vanjaar weer R30,8 miljoen uit ons begroting beskikbaar gestel vir gestruktureerde landbou-opleiding.
Ek weet dat die Goosens ook baie waarde heg aan opleiding en daarom moet u sorg dat u deel word van die opleidingsprogramme van die onderneming.
Ek wil afsluit deur u geluk te wens met die groei van die projek en die toewyding waarmee u werk om daarvan 'n sukses te maak. Ek wil aan die mense in die nuwe projek sterkte toewens en die vertroue uitspreek dat u as 'n span sal saamwerk om seker te maak dat hierdie projek ook suksesvol sal wees en as 'n voorbeeld sal dien vir ander plase in die omgewing.
Ek wil u weereens bedank vir die geleentheid en die hoop uitspreek dat u goeie tye sal belewe as bewerkers van die grond en dat u saam met ons die stryd sal stry om die draak van armoede die hoof te bied met die wonderlike geleenthede wat die goeie regering vir ons bied om te sorg dat die Wes-Kaap 'n tuiste vir almal sal wees.
Navrae:
Tel: 021 483 4930
