Dit is nou veertien jaar na die eerste demokratiese verkiesing en Suid-Afrika is nog steeds die skynende lig in Afrika, ten spyte van verskeie verwagtinge en persepsies dat daar geen toekoms in die land is nie. Dit is egter 'n feit dat ons nog op koers is ten opsigte van die teikens vir versnelde en gedeelde groei-inisiatief vir Suitd-Afrika (AsgiSA), waarin landbou 'n uiters belangrike rol speel.
Dit is egter ook waar dat landbou veral deur 'n baie moeilike tyd gaan ten opsigte van stygende insetkoste, gekoppel aan die hoër olieprys met sy rippelende effek, kompetisie met goedkoper ingevoerde kommoditeite en ander eksterne faktore soos droogte en op ander plekke weer vloedskade wat miljoene rande beloop.
Die vraag bly egter: Wat is die landbousektor se rol binne hierdie omgewing?
Tradisioneel is die rol van landbou beperk tot:
a werkskepping b vrystelling van arbeid vir die industrie c voorsiening van voedsel vir die mense d voorsiening van markte vir industriële produkte en e voorsiening van buitelandse valuta vir die land.
Dit is egter so dat die wêreld voortdurend verander en die Suid-Afrkaanse landbou is dikwels die pasaangeër in hierdie veranderende omgewing. Gevolglik is daar mettertyd bykomende rolle wat vir landbou geskep word.
Dit is van meet af aan belangrik om in gedagte te hou dat 'n toename in landbouproduksie nie deur die druk van 'n knoppie gebeur of deur 'n nuwe fabriek staan te maak nie. Meer kos kan slegs geproduseer word deur harde en volgehoue inspanning. Ten einde die doelwit van verhoogde kosproduksie te bereik, moet 'n aantal benaderings gevolg word:
a Nuwe tegnologie moet ontwikkel word wat tot meer effektiewe landbouproduksie of opbrengsverhogende tegnologie aanleiding gee.
b Hierdie nuwe tegnologie moet aan boere oorgedra word en daar moet seker gemaak word dat alle boere toegang het tot die mees effektiewe landboutegnologie.
c Toepaslike ondersteunende infrastruktuur tot voedselproduksie moet daargestel word.
Met verwysing na tegnologie-ontwikkeling is die Wes-Kaapse Departement van Landbou een van die leidende skeppers van landboutegnologie in Suid-Afrika. Die tegnologie-ontwikkelingsfunksie van die departement is rondom drie navorsingsinstitute (diereproduksie, plantproduksie en hulpbrongebruik) georganiseer en meer as R54 miljoen word jaarliks op die 180 verskillende navorsingsprojekte spandeer wat op die sewe navorsingsplase uitgevoer word. Driehonderdeen-en-twintig personeellede, van wie ses spesialisnavorsers, 25 navorsers en 38 navorsingstegnici is, wy hulle lewe aan die landbousektor toe. Ek is trots om te noem dat, gedurende die afgelope vyf jaar, hierdie span die volgende afgelewer het:
wetenskaplike publikasies.
semi-wetenskaplike en populêre publikasies.
voordragte tydens boeredae, ens.
Die oordrag van tegnologie kan geskied deur hetsy opleiding of voorligting. Die departement, deur middel van sy opleidingsbeen Cape Institute for Agricultural Training (CIAT), speel 'n uiters aktiewe rol in die opleiding en heropleiding van boere, plaasbestuurders en plaaswerkers. Die kennis en vaardigheidsbasis van (voornemende en huidige) boere word verbreed deur opleiding wat, in sy beurt, 'n direkte impak het op die effektiwiteit van produksie. Die departement verskaf hoër opleiding aan 450 voornemende kommersiële boere en plaasbestuurders per jaar. Verder ontvang tussen 800 en 1 100 plaaswerkers vaardigheidsopleiding per jaar deur middel van kort kursusse en leerlingskappe.
As deel van die tweede been van kennisoordraging bedryf die Wes-Kaapse Departement van Landbou 'n gedesentraliseerde voorligtingsdiens in al ses distrikte van die Wes-Kaap. Die vlak van desentralisasie word geïllustreer deur die feit dat die departement tans oor 54 kantore beskik van waar 67 voorligters hul dagtaak verrig. Jaarliks word daar ongeveer R47 miljoen aan hierdie diens bestee. Die voorligtingsdiens word aktief deur die ander programme van die departement ondersteun deur middel van aktiwiteite soos boere- en inligtingsdae.
Bykomend tot die infrastruktuurelemente wat reeds genoem is, is dit die moeite werd om op rekord te plaas dat my departement jaarliks ongeveer 30 000 plant-, water- en grondmonsters ontleed. Hierdie resultate ondersteun boere om ingeligte plant- en kunsmistoedieningsbesluite te neem.
Alhoewel sekere veranderlikes wat in die landbousektor voorkom ook in sommige van die ander sektore van die ekonomie aanwesig is, is die landbousektor uniek in dié sin dat dit die enigste sektor is waar ál hierdie veranderlikes gelyktydig teenwoordig is. Meer spesifiek:
a Boerdery voorsien in een van die mees basiese behoeftes van die mens, naamlik voedsel.
b Sonder voldoende voedsel in 'n gebalanseerde dieet kan die res van die ekonomie nie funksioneer nie.
c Die sektor is afhanklik van die klimaat met al die gepaardgaande risiko's.
d Die natuurlike hulpbron grond, water, klimaat bepaal die aard van die besigheid.
e Die hulpbron waarvan boerdery gebruik maak is beperk en daar is toenemende druk vanuit ander oorde om van hierdie hulpbron beskikbaar te stel vir ander gebruike. Byvoorbeeld, druk om grond beskikbaar te stel vir behuising en verstedeliking, water vir menslike en nywerheidsgebruik, ens.
f Boerdery is in wese gebaseer op biologiese prosesse. Dit beteken dat dieselfde mate van deterministiese produksie nie moontlik is as in die geval van die nywerheidsektor is nie.
g Boerdery is versprei oor groot geografiese areas wat die beheer en kontrole oor die produksieprosesse bemoeilik.
h In Suid-Afrika is landbougrond gelaai met politieke en sosiale emosie en verwagtinge. Dit is dus noodsaaklik dat grondhervorming so spoedig moontlik kan voortgaan terwyl daar terselfdertyd so min as moontlik ontwrigting in die ander funksies van landbou moet intree.
i Dit verskaf werksgeleenthede en sinvolle ekonomiese aktiwiteit vir 'n groep mense wat op weinig ander plekke in die ekonomie geakkommodeer kan word.
j Landbou is egter nie net daar vir voedselproduksie nie, maar het ook 'n rol in die generering van buitelandse valuta, ekonomiese aktiwiteit, 'n mark vir die vervaardiging sowel as vir die skepping van kapitaal wat in die sektor, maar ook in die res van die ekonomie, belê kan word.
k Die keersy van die munt is dat boerdery nie net 'n finansieel/ekonomiese rol het nie, maar ook 'n sosiale rol. Dit word dikwels gesien as 'n maatstaf of riglyn waarteen die waardes en norme in die veral stedelike samelewing gemeet word.
l Boerdery verskaf lafenis vir die mens se siel - die feit dat dit daar is, die landskap en die geleentheid om in die landelike area te ontspan verskaf 'n sekere waarde aan die landbou.
Die kombinasie van hierdie veranderlikes vereis dat daar unieke voorsiening vir landbou gemaak moet word. Hierdie voorsiening is nie beperk tot Suid-Afrika nie, maar kom wêreldwyd voor. Dit is dan ook die rede waarom die landbousektor 'n unieke bank het wat na die spesifieke behoeftes kan omsien, die Landbank. As gevolg van die belangrike rol wat van die Landbank verwag word, is dit dus hartseer dat die bank onlangs deur 'n reeks van krisisse gegaan het. Ek is egter vol vertroue dat die huidige stel intervensies die bank in die gewenste rigting sal stuur. Soos wat die landbousektor uniek is, verdien die Landbank ook unieke behandeling en is dit noodsaaklik dat die fiskus ook sekere verantwoordelikhede teenoor die Landbank neem. Dit is, na alles, vir die bank moeilik om sy ontwikkelingsverantwoordelikhede te balanseer met die vereiste om fondse in die hoogs mededingende kapitaalmark te beding.
Die hele kwessie van stygende kommoditeitspryse en die impak daarvan op die landbousektor is egter 'n ander onderwerp wat my dae lank kan besig hou. Dit is so dat voedselpryse die afgelope jaar vinniger as inflasie gestyg het. So byvoorbeeld het die Verbruikersprysindeks vir voedsel (VPI-voedsel) oor die tydperk April 2007 tot April 2008 met 15,7 percent gestyg. Dít is heelwat hoër as die inflasieteiken van tussen drie en ses persent. Aangesien Suid-Afrika 'n oop ekonomiese beleid volg, is ons voedselpryse die afgeleide van internasionale voedselpryse. Dus is dit belangrik om daarop te let dat die nominale wêreldpryse van al die belangrikste voedselgroepe hul hoogste vlak in vyftig jaar bereik het en die reële pryse van hierdie voedselgroepe die hoogste in dertig jaar is.
