Ek wil begin deur vir u baie dankie te sê dat u hierdie geleentheid kom bywoon het. Dit is 'n bewys van die erns wat u in u omdra om van landbou 'n sukses te maak en ook omdat u 'n bydrae wil lewer om saam met ons die doelwitte wat die regering gestel het, ten opsigte van bemagtiging, te bereik.
Ek wil dadelik vir u sê dat die pad wat u saam met ons ingeslaan het, nie 'n maklike pad is nie. Die uitdagings wat daar vir ons voor die deur lê is nie kinderspeletjies nie en nog minder is dit vir mense wat nie ernstig is om 'n sukses van Landbou te maak nie. Daar is baie mense wat vol moed en met baie groot verwagting wil boer maar dan skielik met die harde werklikheid van boerdery kennis maak. Daar is ook baie mense wat op 'n stadium kom waar hulle moed opgee omdat hulle nie kans sien om aan te pas by die nuwe verantwoordelikheid en veranderende omstandighede waarmee hulle te make het nie.
So vertel hulle die storie van die ou oom wat al lank geboer het en gewoond was om op die ou manier aan te gaan en te sukkel en toe op n punt gekom het waar hy nie meer verder wou gaan nie.
Die oom het toe maar na baie jare se gesukkel besluit om op te gee en sy goed op 'n vendusie te verkoop. Hy gee toe die volgende verduideliking:
Dit het alles in 1961 begin," sê die oom, "toe die geldstelsel van ponde na rande verander en my oortrokke rekening dus verdubbel het."
Ek was net besig om daaraan gewoond te raak, toe bring hulle kilogram in die plek van ponde en onse en my oes verminder met die helfte. Daarna verander hulle die reënval van duime na millimeters en ons het sedert daardie tyd nog nie weer 'n duim reën gehad nie."
Wat doen hulle toe? Hulle bring 'n ding genaamd Celcius in en die temperatuur verminder met vyftig grade. Geen wonder my mielies wil sedertdien nie groei nie."
Asof dit nie genoeg was nie, verander hulle my grond boonop van morge na hektaar en my plaas verminder oornag met tien persent."
Dit is toe wat ek besluit om te verkoop. Ek het pas my plaas in die mark gesit, toe verander hulle myle na kilometer en nou is my boerdery so ver uit die dorp dat niemand daarin belangstel nie."
U sien hierdie byeenkoms is juis daarop gemik om u blootstelling te gee aan die pad van verandering wat die Departement, as instrument van die regering, ingeslaan het. Ons is hier om vir u te verduidelik en terselfdertyd te luister na die probleme waarmee u te make het, sodat ons saam met u die uitdagings die hoof kan bied en u ook bewus te maak van die hulp en ondersteuning wat ons aan u kan bied.
Ons wil tydens hierdie konferensie met u deel wat die regering se visie is ten opsigte van die vermeerdering van produksie om 'n toename van tussen 10 en 15 persent in produksie teweeg te bring.
As regering wil ons n toename sien van ten minste 10 persent in swart ondernemerskap.
Ons wil aan u toon watter ondersteuning u van die Departement kan verwag deur middel van ons verskillende programme binne die departement.
Dit is een van die Departement se doelwitte om landbouhandel en -markte met tussen 10 en 15 persent te verhoog en ons wil saam met u beraadslaag hoe om dit te bereik en hoe om u te help om deel daarvan te wees.
Ons moet teen 2014, 30 persent van landbougrond aan voorheen benadeelde gemeenskappe oordra en ons moet saam met u beraadslaag hoe om hierdie doelwit te bereik en aan u toon wat die verskillende opsies is en watter maatreëls daar in plek is om hierdie doelwitte te bereik.
Sekerlik een van die belangrikste uitkomste van hierdie konferensie moet die stigting van 'n vereniging vir nuwe boere wees, waarin u u kan saamsnoer om op 'n georganiseerde wyse op 'n gereelde grondslag met ons te beraadslaag oor sake wat spesifiek vir u van belang is. Ek wil in hierdie opsig dit baie duidelik maak dat die doel van so 'n vereniging nie is om mense nou in verskillende kategorieë te plaas of om 'n nuwe organisasie te stig wat 'n georganiseerde landbouliggaam vir nuwe boere is nie. Ons wil hê dat u by bestaande strukture sal inskakel en sodoende maksimum voordeel trek uit die kundigheid wat daar reeds binne georganiseerde landbou bestaan.
Ek is opgewonde oor die konferensie omdat dit die eerste van sy soort is waar u as nuwe boere en ander rolspelers bymekaar kom saam met die Departement sodat ons saam die uitdagings van landbou kan aanspreek.
Ons wil hê dat u onbevange moet deelneem aan die gesprekke wat hier sal plaasvind en openlik en met eerlikheid u mening sal lig ten opsigte van die kwellende vrae wat u het en ook die probleme wat u ondervind, met ons sal bespreek.
Ek wil u graag versoek om egter ook te luister na die belangrike inligting en raad wat u hier mag ontvang sodat u met verrykte kennis hier sal weggaan. Ek hoop dat u saam met ons hierdie konferensie as n nuwe en verrykend ervaring sal meemaak.
