Toespraak deur die Minister van Landbou in die Wes-Kaap, Cobus Dowry, voor die Rooivleis Abbatoir Vereniging
Ek is intens bewus van die belangrike rol wat u organisasie speel om die produsent en die verbruiker bymekaar uit te bring en die gepaardgaande toewyding waarmee u dit doen.
Die proses waar lewende hawe tot bruikbare vleis omskep word, verg uiteraard hoë standaarde van voedselveiligheid en dit is duidelik uit u missieverklaring dat u dit wil bereik deur die daarstelling van gespesialiseerde opleiding en tegniese ondersteuning. Die bemagtigingsrol wat u deur middel van inligtings verspreiding speel, sorg dat u nie net abattoir eienaars se belange dien nie, maar dat dit bydra tot die hoë standaarde van veiligheid en kwaliteit wat nodig is om die Rooivleisbedryf te laat groei deur die vertroue wat dit by die verbruiker skep.
Dit is egter ook belangrik dat ons sal besef dat dit nie alleen u taak is nie, maar dat die regering ook 'n groot rol moet speel om deur ons ondersteuning, toestande te skep wat bevorderlik is vir groter groei in u bedryf.
Die Departement van Landbou in die Wes-Kaap en ekself plaas nie net 'n baie hoë premie op goeie verhouding met die bedryf nie, maar strewe daarna om sover moontlik 'n groot ondersteunende rol te speel.
Op die oomblik is die kwessie van voedselsekuriteit en hoër voedselpryse van die mees kwellende vraagstukke waarmee ons almal te kampe het. Ek glo dat dit ook 'n baie direkte impak op u bedryf het.
Hierdie is 'n uiters ernstige saak en ons sal iets hieraan moet doen. Vir analitiese doeleindes word Suid-Afrikaanse huishoudings in 10 LSM (LSM = Life Style Measure) groepe ingedeel. In LSM 1 (Die armste groep) word omtrent 70 persent van beskikbare kontant aan voedsel spandeer, terwyl in LSM 10 (die rykste groep) dit net 10 persent is. Die armste mense word dus die meeste geraak deur stygings in voedselpryse en indien dit nie versag word nie sal ons beslis ongewenste reaksie in Suid-Afrika sien. Die vraag is nou wat om hieromtrent te doen:
a Die grootste fout sou wees om voedselpryse veral vir produsente op 'n laer vlak vas te pen. In hierdie stadium het ons juis die aanmoediging nodig sodat soveel as moontlik voedsel geproduseer word. Ry maar net deur die graanproduserende areas van die Wes-Kaap en sien hoe die boere oënskynlik op die gunstige prys-seine reageer. Indien ons voedselpryse vaspen stuur ons die verkeerde sein uit en kry ons nie die nodige produksie respons nie.
b Ons kan landbouproduksie stimuleer. Dit is egter nie 'n korttermyn intervensie nie, maar ons het beslis nodig om die produktiwiteit in die landbou te verhoog. Dus, navorsing, voorligting en opleiding in landbou is noodsaaklik ten einde groter hoeveelhede voedsel beskikbaar te stel.
c Ons sou direkte subsidies aan verbruikers kon betaal ten einde hulle in staat te stel om voedsel te bekom. 'n Hele aantal vrae bestaan egter rondom die bekostigbaarheid van sulke subsidies, die administratiewe koste verbonde aan geteikende subsidies, lekkasie van subsidies, bepaling van parameters en die aanwending daarvan.
Die belangrikheid van navorsing as ondersteuning vir kommersiële boere kan nooit oorbeklemtoon word nie en ek glo dat die plig van die Regering is om te sorg dat ons aan die voorpunt bly as ons markaandeel wil vergroot, ook binne u bepaalde bedryf.
Wat navorsing betref is dit belangrik om te beklemtoon dat dit langtermyn van aard is, met uitkomste gerig op die bevordering van die mededingendheid en volhoubaarheid van die landbousektor, met ander woorde op ekonomiese groei wat weer werkskepping en 'n instandhouding tot gevolg het. Inligting, soos gegenereer deur die navorsingsaktiwiteite van die Departement, vorm dan ook die hoeksteen van tegnologie-oordrag en boerdery-ondersteuningsprogramme aan die totale landbougemeenskap van die Wes-Kaap.
Ten slotte wil ek u bedank vir die baie belangrike rol wat u speel om toe te sien dat ons voldoen aan die internasionale standaarde deur middel van u strategiese doelwitte wat u vir uself gestel het en die dienste wat u lewer ten opsigte van opleiding, voedselsekuriteit, tegnies en aanverwante dienste. Die feit dat u organisasie op soveel forums, beide nasionaal en internasionaal verteenwoordig is, is 'n aanduiding van die groot waarde wat u toevoeg tot die uitbou, nie net van Landbou nie, maar die ekonomie as 'n geheel.
Voorsitter ek wil u weereens bedank vir die geleentheid en ook dan vir die voorreg om so n bietjie breër met u te praat oor sake wat ons almal raak.
