Baie dankie vir die uitnodiging om vandag hier saam met u te mag wees en deel te hê aan die erkenning wat daar aan u verleen is vir die besondere prestasie wat u behaal het.
Swart Ekonomiese Bemagtiging in die Landbou (Landbou SEB) is 'n inisiatief waarna sommige met groot verwagting uitsien, terwyl ander dit met vrees, bewing en visioene van Zimbabwe ervaar.
Die regering is op die oomblik besig om die Landbou SEB handves te finaliseer wat een doel het om die ongelykhede van die verlede, binne die landbousektor uit die weg te ruim.
Daar is 'n paar baie belangrike aspekte wat ons in aanmerking moet neem.
Dit is 'n feit dat die Landbou SEB handves een doel het: om die basis van SEB te verbreed. Tot op hede is SEB slegs binne die konteks van direkte eienaarskap, bestuursverteenwoordiging en werkplekgelykheid gesien. Hierdie drie punte is nou uitgebrei met die insluiting van elemente soos onder meer ondernemingsontwikkeling sowel as landelike ontwikkeling. Verder word daar ook erken dat die ruimte vir SEB binne kleiner ondernemings beperk is. Wat bedoel ons hiermee? Die resultaat hiervan is dus dat 'n blanke boer, wat uit sy of haar hart uit die regte goed vir die plaasmense en die gemeenskap doen, in die praktyk 'n hoër SEB vlak kan bereik as die 100 persent swart eienaar-buurplaas wat geen bydrae tot die lewenskwaliteit van die plaasmense en gemeenskap lewer nie. In ander woorde, die blanke boer hoef nie meer sy grond te verkoop om SEB te laat werk nie, maar die sukses daarvan is gesetel in die gesindheid waarmee almal hierdie uitdaging aanvaar.
Die fondament waarop ons in hierdie provinsie die groeiende Kaap wil bou het drie begrippe, naamlik 'n waardigheid, billikheid en welvaart.
Vir ons is die waardigheid van elke mens belangrik en u sal met my saamstem dat u betrokkenheid by hierdie projek 'n nuwe betekenis gee aan u menswaardigheid. Dit stel ook nuwe eise aan u waar u waardig teenoor mekaar moet optree en mekaar met dieselfde billikheid en opregtheid sal behandel as waarmee u al die jare behandel wou wees. Die regering wil ook sien dat u as mense wat vir jare verdruk en ontsê is van u regmatige deel, nou ten volle deel moet wees van die geleenthede wat die nuwe Suid-Afrika aan u bied. Wanneer u eers ten volle deel is, sal u dan ook die volle welvaart kan ervaar in elke aspek van u menswees.
As ons sê ons wil 'n tuiste vir almal in die Wes-Kaap skep, dan is dit noodsaaklik dat almal bewus sal wees van die uitdagings. Dit beteken dat die wat tot nou toe bevoorreg was, sal moet deel word van die visie van die regering. Dit beteken ook dat die wat tot nou toe ontsê is van sekere regte en voorregte ook 'n positiewe en verantwoordelike bydrae sal lewer om te bou aan die tuiste vir almal sodra u die geleentheid kry.
As ons dit doen sal ons armoede bestry, ongelykhede uitwis en daarmee saam, die kwaliteit van lewe van al ons mense verbeter.
Suid-Afrika het ongeveer 57 980 kommersiële plase waarvan 8 352 in die Wes-Kaap is. Hierdie plase in ons provinsie verskaf werk aan plus minus 200 000 werkers. Daar is baie van hierdie werkers wat weet hoe om te boer en sal kan wys wat in hulle steek, as hulle net die geleentheid kan kry om te boer.
As Minister van Landbou was ek die afgelope tyd by baie hoogs suksesvolle projekte waar voorheen benadeelde persone, wat vir jare op plase gewerk het, betrokke is, en nou op een of ander wyse die geleentheid gekry het om aktief tot die boerdery toe te tree. Ek was weer gister op Lutzville by so 'n projek gewees.
Daar is 'n groot verskeidenheid van modelle waarin bemagtiging van plaaswerkers besig is om plaas te vind, hetsy individueel of in goed beplande projekte saam met kommersiële boere of saam met ander opkomende boere.
Daar is wonderlike suksesverhale waarop ons in die Wes-Kaap trots kan wees, soos Trevor Abrahams naby Ceres en die Koekedouw-boere, wat al vrugte pluk vir die uitvoermark; Vuki waar die werkers 'n trust gevorm het, 'n bankrot boerdery oorgeneem het en nou reeds die buurplaas ook bestuur op die selfde beginsels as die wat van Vuki in alle opsigte 'n suksesverhaal maak. Bouwland en 'n paar ander plase wat al wyn bemark in die buiteland. Verskeie plase wat spog met wynmakers en kaasmakers wat in Boergondië opgelei is en wat reeds kampioenwyne en -kase op die mark het. So kan ek aangaan vir u een na die ander projek op noem waar daar of deur die regering, of deur privaat inisiatief, of gesamentlik, hulp verleen is aan mense wat die grond lief het en nou ook die geleentheid kry om hulle ideale te verwesenlik.
Ek is ook trots op hierdie projek wat bestaan uit mense, wat bewys het dat hulle die geleentheid aangegryp wat vir hulle geskep is. Dit bevestig die woorde van ons vorige President, Nelson Mandela wat gesê het, en ek haal hom aan:
Grondhervorming en bemagtiging deur boerdery is die voertuig wat ons in landbou moet gebruik om die lewensomstandighede van al ons mense te verbeter. Tydens die verkiesing in 2004 het die regering met u 'n kontrak aangegaan om saam met u te veg teen werkloosheid, armoede en sosiale verval. Op ons beurt het die Departement van Landbou hom daartoe verbind om ook deur ons programme van bemagtiging, opleiding en ondersteuning 'n bydrae te lewer om ons kant van die kontrak na te kom.
Hierdie projek dien werklik as 'n werkbare voorbeeld waarin plaaswerkers se kwaliteit van lewe sal verbeter en hulle die volle voordeel sal trek van mede-eienaarskap van die onderneming. Hierdie projek maak nou nie net van u as werkers mede-eienaars van grond nie, dit maak ook van u mense wat 'n nuwe visie moet hê en dit maak van u mense wat 'n nuwe hoop op die toekoms moet hê. U kry nou 'n nuwe plek in die tuiste vir almal waarna die regering van die Wes-Kaap strewe.
Ek sal my plig versuim as ek nie ook erkenning verleen aan die kommersiële boere wat hulle reeds verbind het tot die visie van die regering om saam met ons te werk om landbou in al sy fasette te transformeer nie. Daarom wil ek ook my dank uitspreek vir die pragtige inisiatief wat u hier geneem het.
In die Wes-Kaap is ons baie ernstig oor hierdie proses en daarom wil ons hê dat ons eerder met mekaar moet saamwerk om die transformasie binne landbou so glad en so vinnig as moontlik te laat geskied.
Hierdie geleentheid wat vandag hier is, is om aan u dankie te sê dat u aan die Agri-Black Economic Empowerment (Agri BEE) spoggeleentheid op 21 Februarie 2008 in die Kaap deelgeneem het en ook om erkenning te verleen aan die besondere prestasie wat u behaal het deur ons wenner te wees. Ons wil vir u dankie sê vir die toewyding waarmee u werk om van hierdie De Goree Boerdery 'n sukses te maak, terwyl u besig is om in baie opsigte die pas aan te gee oor hoe dit gedoen moet word.
Ek wil afsluit met die gedagte dat, wanneer ons mense binne landbou bemagtig, is daar een baie belangrike doel wat ons na streef en dit is dat die proses volhoubaar moet wees. Ek wil vandag 'n beroep op u doen dat u in hierdie opsig, saam met ons daardie doelwit sal nastreef. Die ondervinding het geleer dat mense ongeduldig raak oor die vordering wat gemaak word en dat daar somtyds onrealistiese verwagtinge by party deelnemers is. Moet asseblief nie dat u 'n baie belowende projek laat skipbreuk ly deur groepvorming en verdagmakery nie.
EK wil ten slotte vir u baie sterkte toewens met die doelwitte wat u vir uself gestel het. Wees verseker dat ons u vordering met belangstelling sal dophou omdat ons graag wil hê dat u ook moet help bou aan die tuiste vir almal en wil sien dat daar ook uit hierdie projek, deurlopend, nuwe toetreders tot die landbou sal kom en sodoende 'n positiewe bydrae sal lewer om te bou aan die tuiste vir almal in die Wes-Kaap.
Navrae:
