Baie dankie vir die uitnodiging om vandag saam met u te mag wees en te kon sien waarmee u besig is wanneer u gebruik maak van die voordele en hulp wat ons vanaf die regering van die Wes-Kaap en die Dept. van Landbou se kant af vir u beskikbaar stel. Dit is altyd vir my aangenaam en besonderse voorreg om op plekke te kom waar ons praktiese uitvoering kan gee aan die bemagtigingsproses binne landbou. Ek hou daarvan om op die grond by u te kom sodat ek eerstehands kan ervaar watter vooruitgang daar ten opsigte van ons mense binne landbou is.
Wanneer ek elke dag by projekte en gemeenskappe kom of in my kantoor met vergaderings besig is word ek aangespoor deur die besef watter belangrike rol landbou binne hierdie provinsie van ons speel, en ook binne die land.
Ek word aangedryf deur die wete dat daar nog so baie van ons mense is wat jare op plase bly en werk of wat oor 'n lappie grond beskik maar nie altyd die finansiële vermoë het om werklik winsgewend te boer nie.
Dit is waarskynlik ook grootliks die rede waarom my tyd as Minister van Landbou een van die verrykendste ervarings van my lewe is, ook omdat landbou my so na aan die hart lê, maar ook omdat landbou soveel fasette het wat 'n rol speel in die ontwikkeling en voortbestaan van ons mense, asook in die ekonomiese groei van die Wes-Kaap.
Dit klink al teen hierdie tyd of ek my self herhaal wanneer ek vir mense sê daar in die Wes-Kaap twee baie belangrike begrippe is wat ons in die harte van ons mense wil ingraveer, naamlik: 'n Ikapa Elihlumayo en 'n tuiste vir almal. 'n Ikapa Elihlumayo beteken groeiende Kaap en daarmee saam beteken dit dan dat ons ook wil hê dat ons mense wat vir so baie jare swaar gekry het, ook moet groei. Ook binne die Departement van Landbou probeer ons dit 'n werklikheid maak met die hulp wat ons vanaf die regering se kant vir u wil verleen. Maar ons wil ook terselfdertyd hê dat die twee begrippe 'waardigheid, billikheid' wat die basis vorm van ons visie om aan al ons mense hoop vir die toekoms te gee by u 'n werklikheid moet wees.
Ons wil hê dat daar verandering in ons samelewing moet kom waar ons nie nodig het om op die staat te wag om ons maatskaplike welsyn te verbeter en ons lewensomstandighede te verbeter nie. Dit moet gebeur deur u ekonomiese selfstandig te maak deur middel van projekte soos hierdie, waarvan u deel is. Dit help ook met die groei van die ekonomie en dit bring ook 'n toename in werksgeleenthede. Die belangrikste is egter die uitbreiding van eienaarskap. As ons hierin kan slaag, sal ons armoede behoorlik kan bestry en die ongelykhede van die verlede sal uitwis en aan u 'n beter lewe kan voorsien.
Die skepping van inkomste- en werkgeleenthede is vir ons as regering 'n baie hoë prioriteit en daarom is dit nodig dat daar altyd nuwe projekte aangepak sal word waar al die mense in die omgewing baat by sal vind.
Ek glo baie sterk daaraan aan om te kan boer nie 'n reg is nie, dis 'n voorreg. Die besit van grond is wel 'n reg wat deur die Grondwet van die land aan u gegee word, maar wanneer ons hierdie twee nl. boerdery en grondbesit bymekaar bring, word dit 'n onderneming wat met groot verantwoordelikheid aangepak moet word en daarom is dit vir ons in die Wes-Kaapse departement van Landbou baie belangrik dat ons ook aan u die nodige ondersteuning moet bied om toe te sien dat u 'n sukses maak van u boerdery.
Waterverbruik en doeltreffende besproeiing is noodsaaklik en wat dit aan betref het ons program volhoubare hulpbron bestuur sowat R283 000 aan 'n watervoorsienings projek hier in u omgewing gespandeer en gaan ons seker oor die volgende paar jaar nog fondse bewillig om u omstandighede met betrekking tot water, te verbeter.
Volgens my inligting boer u met tamaties en skorsies om 'n inkomste te genereer. Dit is goed om te weet dat u nie sit en wag vir die plaas en die hoof boerdery om aan u 'n inkomste te verskaf nie. Ek glo dat ons na verdere maniere moet kyk om u te help deur middel van projekte soos wat ons verlede jaar op Murraysburg en ander plekke geloods het met groente tuine en hoenders.
Ek wil verder hê dat ons moet kyk na ons stelsels van waterbesparing en dit ook hier by u uitbrei. Water is skaars en ons moet altyd soek na metodes om dit te spaar. Ons kan dit egter nie alleen doen nie en ek wil 'n beroep op u doen om ons daarmee te help. Ek is dankbaar vir die inisiatief wat u hier geneem het om Omaza Trust in 2000 te registreer, nadat daar 'n behoorlike konsultasieproses plaasgevind het tussen die werkers en die plaaseienaars, Mnre Jan Louw en Truter Lutz.
Ek wil vir u sê dat een van ons belangrikste gevegte teen armoede, die opleiding van ons mense is en ek is dankbaar vir die inisiatief wat u ook op hierdie gebied geneem het en vir Mnr Gus Pickard bedank vir die rol wat hy hierin speel. Dit is goed om te hoor dat daar reeds mense is wat hulle matriek geslaag het deur middle van Adult Basic Education and Training (ABET). Dit behoort vir u 'n aansporing te wees sodat daar meer van u is wat u op hierdie wyse toerus. Ek weet ook dat u reeds verskeie kursusse op landbougebied deurloop het. Ook hier wil ek u uitnooi om gebruik te maak van die opleidingsfasiliteite van die Departement op Clanwilliam, wat spesifiek hiernatoe gebring is sodat u meer geredelik daarvan gebruik kan maak.
Hierdie projek wat u hier van stapel gestuur het, is 'n voorbeeld van wat vermag kan word wanneer produsent en werker hande vat om van die Wes-Kaap en spesifiek dan ook landbou, 'n ware tuiste vir almal te maak.
Die voorbeelde van u suksesverhaal is wyd in omvang. Ek kan nie anders om te glo dat hier ware bemagtiging plaasvind, as daar reeds twee van u as werkers is, wat eienaars van u eie trekkers is nie, of as reeds mede-aandeelhouers in 'n druiwe-oesmasjien is nie.
As ons wil slaag in ons doelwit om ware transformasie binne die landbousektor te weeg te bring, dan sal ons meer van hierdie tipe ontwikkelings moet hê, waarin daar op eie inisiatief voortgegaan word om hande te vat.
As departement is ons daartoe verbind om u op alle terreine binne ons mandaat by te staan en ek wil dan ook in hierdie verband ons dienste en kennis aanbied en u uitnooi om daarvan gebruik te maak.
Ek wil u weereens bedank vir die geleentheid en die hoop uitspreek dat u goeie tye sal belewe as bewerkers van die grond en dat u saam met ons die stryd sal stry om die draak van armoede die hoof te bied met die wonderlike geleenthede wat die goeie regering vir ons bied om te sorg dat die Wes-Kaap 'n tuiste vir almal sal wees.
Navrae:
