Baie dankie vir die uitnodiging om die opening van hierdie meerdoelige gemeenskapsentrum te kom waarneem. Ek beskou dit as 'n besondere eer en voorreg om saam met u hierdie geleentheid mee te maak, onder andere omdat hierdie projek deel is van die proses van lewering en die skep van gesonde volwaardige gemeenskappe wat moet deel aan die voorspoed wat die regering vir al die mense wil skep.
Daar was verskeie organisasies wat 'n rol gespeel het in die totstandkoming van hierdie projek.
Ek het reeds gesê die regering van die Wes-Kaap is ernstig oor die verdere ontwikkeling van ons mense en gemeenskappe en die bewys daarvan kan ook gesien word in die betrokkenheid van die Departement van Landbou binne hierdie gemeenskap. Daar is verskeie projekte wat op hierdie stadium in en om Kranshoek wat die Kranshoek gemeenskap raak. Hierdie projekte is onder andere; Die Kranshoek Boere, Ericaville Heuningbos tee en Jakalskraal melkery.
Die Kranshoek Boereprojek bestaan uit 15 plus agt persele wat deur Kranshoek inwoners bewerk word. Die beplanning vir die opgradering van infrastruktuur en die verskaffing van meganisasie is deur Cape Agency for Sustainable Integrated Development in Rural Areas (CASIDRA) afgehandel. Die Departement van Landbou het die besigheidsplan alreeds goedgekeur. CASIDRA moet slegs die projek implementeer en die kapitale items aankoop. Die projek behels die volgende:
omheining van die persele opgradering van besproeiingstelsels verskaffing van watertenks op persele vir veesuiping en benatting van klein groentepersele trekker ripper, grop en sleepwa kettingsaag en gereedskap.
Die Ericaville Heuningbosteeprojek is 'n Land Redistribution for Agricultural Development (LRAD) plaas waar heuningbostee geproduseer word. Die groep het aansoek gedoen vir finansiering vir die verpakkingsaanleg met toerusting. Die aansoek is in die finale stadium waar daar vir goedkeuring van die nasionale Departement van Landbou gewag word voor implementering.
Jakalskraal Gemeenskapplaas is 'n melkery wat vir baie jare deur CASIDRA bestuur is. Die plaas is reeds aan die gemeenskap oorgedra met CASIDRA wat nog steeds die plaas tegnies ondersteun. Die Departement van Landbou is behulpsaam met tegniese ondersteuning en opgradering van infrastruktuur.
Die eerste fase waarmee Departement van Landbou besig is, is om die nodige inligting te bekom en 'n volledige beplanning te doen. Hieruit kan bepaal word wat die grootste behoefte is in terme van die opgradering van infrastruktuur en verskaffing van tegniese ondersteuning.
Ten slotte wil ek 'n beroep doen op u as gemeenskap om nie net hierdie fasiliteit u eie te maak nie, maar om dit op te pas en te bewaar sodat u almal die voordeel daarvan kan benut.
Dit is dan nou vir my 'n voorreg om hierdie fasiliteit oop te verklaar.
Tel: 021 483 4930
