Dit is amper asof die geskiedenis homself herhaal op dag en datum. Verlede jaar het ek op 24 November 2006 in amper soortgelyke projek in 'n ander deel van die provinsie, naamlik Op die Berg naby Piketberg, 'n behuisingsprojek aan 56 gesinne oorhandig. Wat nog meer merkwaardig is, is dat die twee projekte feitlik dieselfde naam het. Die ander projek staan bekend as die Oak View Village.
By daardie geleentheid het ek onder andere gesê, en ek haal aan: "Die afgelope twee weke was werklik waar 'n tydperk van hoogtepunte en laagtepunte vir ons in landbou. Twee Saterdae gelede het ons 'n wonderlike ervaring gehad waar ons nie minder as agt bemagtigingsprojekte aan plaaswerkers oorhandig het waar hulle nou ook volwaardig deel sal hê aan dieselfde boerdery-aktiwiteite waar hulle tot nou toe net werkers was.
Die Maandagoggend is ons almal geruk deur die grusame ongeluk waarin plaaswerkers hulle lewe verloor het op pad werk toe. In die twee weke tot nou toe het ons as provinsie en landbougemeenskap gewys dat elkeen vir ons belangrik is in hierdie groter familie. Die regering van die Wes-Kaap, private ondernemings, die breë gemeenskap en die landbougemeenskap het onmiddellik gereageer om die groot verlies vir die agtergeblewenes sowel as die geaffekteerde persone so lig as moontlik te maak."
U weet almal van die twee padongelukke wat die lewens van plaaswerkers die afgelope twee weke geeis het. Hierdie gebeure het ook weer eens die lot van plaaswerkers onder die soeklig gebring, en mense wat nie weet nie vra vir ons wat doen julle om plaaswerkers se omstandighede te verbeter.
Nog 'n belangrike fokus vir hierdie jaar sal die heropleiding van werklose uitgesette plaaswerkers wees. Hierdie groep is regtig kwesbaar en al is die bestuur of beheer van uitsettings nie ons mandaat nie, lê die verknorsing waarbinne hulle hul dikwels bevind, my na aan die hart. Vir hierdie rede gaan ons poog om aan hierdie groep mense nuwe vaardighede soos sweiswerk, basiese konstruksiewerk en instandhouding van besproeiingstelsels, te bied. Ook het ons vroeër hierdie week 'n uiters suksesvolle konferensie vir sowat 300 plaaswerkers, produsente en kundiges aangebied oor alkoholmisbruik onder plaaswerkers en die moontlike voorkoming daarvan. Ons help alreeds vir FASfacts, 'n nie-regeringsorganisasie wat op fetale alkoholsindroom fokus, 'n bydrae van R738 928 gegee om opleiding aan leerders sowel as volwassenes te bied. Hierdie is 'n vierjaar projek.
Een van die plaaswerker-ontwikkelingsinisiatiewe waarop ek geweldig trots is, is ferm gebou op vennootskappe. Die idee is om die lewensomstandighede van plaaswerkerkinders in die Aan De Doorns-omgewing te verbeter en die groot behoefte aan 'n veeldoelige gemeenskapsaal, 'n addisionele klaskamer, 'n crèche en sportfasiliteite aan te spreek. Die grond langs die Aan De Doorns Primêre Skool is deur die plaaslike boer, Steven Hugo, beskikbaar geste.
In die Wes-Kaap wil ons hê dat die woorde; "Waardigheid, Billikheid en Welvaart nie net dooie woorde sal wees nie, maar dat 'n lewende werklikheid vir elke inwoner van hierdie provinsie sal wees in ons strewe om 'n tuiste vir almal in die Wes-Kaap te skep. Binne in hierdie proses is dit egter so dat ons as Regering dit nie alles alleen kan doen nie, maar het ons almal se samewerking nodig om die ongeregtighede van die verlede aan te spreek en die regering se planne tot uitvoer te bring. Een van daardie doelwitte is om aan mense die reg te gee tot toegang tot huisvesting.
Hierdie tuiste wat die regering wil skep vir almal, beteken ook dat ons projekte soos hierdie waarby u betrokke is in ons gemeenskappe wil vestig om u deel te laat hê aan welvaart wat ons in die Provinsie wil skep. Dit beteken ook dat elkeen 'n blyplek van sy eie sal hê waarop hy of sy trots kan wees. Dit beteken ook dat baie van u wat u lewe hier deurgebring het nie hiervandaan hoef pad te gee nie.
As Minister van Landbou in die Wes-Kaap is ek bekommerd oor die bewerings dat daar toenemende voorvalle rondom uitsettings en die hele kwessie van verblyfreg is. Nie net bring dit onsekerheid by u as mense wat lank op 'n sekere plek gewerk het nie, maar bring dit ook spanning mee binne die landbousektor en meng dit in met die hooftaak van landbou, naamlik om toe te sien dat daar kos op die tafel van die mense van hierdie land is. Dit kan ook 'n verkeerde beeld skep by die mense in die buiteland waarna ons, ons produkte uitvoer en hulle mag net besluit dat hulle nie meer ons produkte wil koop nie. Die gevolg hiervan is dat daar 'n vermindering aan inkomste is wat daartoe kan ly dat mense afgedank word en hulle inkomste verloor.
Dit is vir ons aangenaam om te weet dat dit nie net die regering is wat by projekte betrokke is om die ongelykhede van die verlede uit te wis nie, maar dat kommersiële boere en georganiseerde landbou en privaat instansies, almal betrokke is om seker te maak dat ons 'n vennootskap het wat werk en wat toesien dat bemagtiging in Landbou in die Wes-Kaap behoorlik plaasvind. Hierdie projek is 'n sprekende voorbeeld hiervan.
Hoekom is ons saam met u bly oor wat vandag hier gebeur?
Vandag word die titelaktes van 107 huise aan inwoners oorhandig tesame met 'n ouetehuis met agt wooneenhede vir egpare. Daar is nog een bewoonbare eenheid wat nie vandag oorhandig gaan word nie.
Daar is ook ander geboue en fasiliteite wat aan die Oaks Village Korporasie oorgedra word.
Programdirekteur, ek wil afsluit deur vir u te sê dat met die oorhandiging van hierdie 107 huise en ander fasiliteite wys ons vir u wat gedoen kan word wanneer ons mekaar se hande vat. Hierdie is 'n gebeurtenis wat deur die regering saam met produsente geskep is om aan u te sê dat ons ernstig is om die ongelykhede van die verlede uit te wis. Ons wil hê dat u moet voel soos ware huisgenote in die tuiste vir almal wat deur die ANC regering in die Wes-Kaap gevestig word.
Ek wil my dank aan al die Molteno Broers Trust betuig vir die toewyding aan die projek, nie omdat u gedwing voel nie, maar omdat u glo dat dit die regte ding is om te doen deur ook aan ander die geleentheid te bied wat vir baie jare van hulle ontneem is. Ek wil ook my dank aan die amptenare van die Departement van Grondsake oordra vir die werk wat u ingesit het om die projek tot op hierdie stadium te bring. Ek wil ook in dieselfde asem vir die begunstigdes vra om hierdie bates wat julle nou bekom het, op te pas en te versorg sodat julle kinders en hulle kinders ook voordeel daaruit kan trek.
