Toespraak deur Cobus Dowry, Provinsiale Minister van Landbou in die Wes-Kaap by die bekendstelling van die Sagtevrugte-ontwikkelingskamer, Wes-Kaap
Sagtevrugtebedryf ondersteun opkomende boere
Die meeste van u wat vandag hier teenwoordig is weet dat daar sekere uitdagings is waarmee ons binne die landbousektor moet deel indien ons wil verseker dat daar volgehoue groei binne die sektor is en terselfdertyd ook gehoor gee aan die regering se opdrag ten opsigte van die transformasie doelwitte. Van hierdie uitdagings is dan ook:
b dDie vervaardiging van genoegsame veilige, gesonde sowel as omgewings- en sosiaal vriendelike landbouprodukte.
c Die hantering van uitdagings deur kompetisie van sommige van ons mededingers as gevolg van subsidies en tarief plafonne en die beskerming van bestaande buitelandse markte.
d Daar is toenemende nasionale en internasionale sensitiwiteit oor die veiligheid van voedsel van dier- en plantoorsprong.
e Konstruktiewe bydrae tot die ontwikkeling van Afrika deur die nuwe vennootskap vir die ontwikkeling van Afrika, Nepad.
Grondhervorming en die bemagtiging van nuwe boere moet daarop ingestel wees om volhoubaarheid te verseker en nie net om groot getalle mense op grond neer te sit en dan na een of twee jaar weer te vind dat hierdie sogenaamde bemagtigdes die grond terugverkoop aan kommersiële boere nie.
In ons geveg teen armoede het ons nou die fase bereik waar dienslewering op alle vlakke daarop ingestel moet wees om die ekonomie te laat groei sodat ons nuwe werksgeleenthede kan skep wat die katalisator moet wees om die grense van armoede te verskuif en daarom is dit nodig dat ons voortdurend daarna sal streef dat die landbousektor 'n konstante groei sal toon.
U weet dat die landbousektor geïdentifiseer word as een van die sektore wat 'n beduidende rol moet speel in die bereiking van die regering se doelwit om die ekonomie met 6% te laat groei deur middel van die Versnelde Groei en Ontwikkelingstrategie (AsgiSA).
Binne die Departement van Landbou in die Wes-Kaap is daar verskeie programme wat deur hulle bydraes die klimaat help skep om die grondslag vir sukses te lê. Die sukses van AsgiSA gaan afhang van die mate waarin ons in staat is om innoverend te dink sodat ons die kettings kan breek wat groei belemmer.
Toenemende landbouproduksie sal beide indiensneming- en inkomste dwarsdeur die ekonomie genereer, wat weer op sy beurt aangewend kan word in werkverskaffingstrategiëe in industrieë en besighede.
Ek wil graag weer terugkom na grondhervorming toe aangesien grondhervorming en swart ekonomiese bemagtiging tans die prioriteit van die regering op landbougebied is, veral met die oog op maatskaplike, politieke en ekonomiese stabiliteit. Die pas van grondhervorming was tot nou toe baie stadig. In die Wes-Kaap is daar in die eerste 12 jaar slegs 83 000 hektaar grond aan voorheen benadeelde persone oorgedra. Met ons verskerpte poging het ons egter verlede jaar 125 000 ha oorgedra. Dit is egter nog ver van die 383 000 hektaar wat ons jaarliks tot 2014 sal moet oordra indien ons die 30% doelwit wil bereik. Ons moet bou op die suksesverhale en die groter klem lê op mentorskap as ons daarin wil slaag om nuwe boere volhoubaar te vestig.
Die veranderende omstandighede in die vraag na landbouprodukte beteken dat die prys van produkte onbepaald onder druk gaan verkeer. Die veranderende wisselkoers maak dit onmoontlik vir produsente om behoorlik te beplan, terwyl die penetrasie van tradisionele markte deur ander mededingers daagliks 'n faktor is waarmee rekening gehou moet word.
Vir die Departement van Landbou in die Wes-Kaap is die beginsel van vennootskappe een van die fondamentstene in die bereiking van ons doelwitte om opkomende boere so te vestig dat hulle volhoubaar kan boer.
Ek wil die Sagtevrugte Produsente Trust bedank vir sy visie en toewyding om seker te maak dat die sagtevrugtebedryf 'n voorbeeld stel wanneer dit kom by bemagtiging.
Tel: 021 483 4930
