Hierdie stelling is baie van toepassing op die mense op die Koebeeberg by Vanrhynsdorp. Vir baie jare gaan die boere in die area al gebuk onder 'n tekort aan drinkwater vir hulself, hul werkers en hul vee. 'n Oplossing is gevind deurdat die nasionale Departement van Landbou bereid was om te help en uiteindelik was ongeveer 50% van die befondsing deur hulle voorsien terwyl die res deur die Departement Landbou: Wes-Kaap bygedra is.
Die totale kapitaalkoste van die skema is ongeveer R2 miljoen. Vier pompe voorsien deur 18 kilometer pyplyn en 21 opgaartenks nou drinkwater aan nege plase met ongeveer 200 mense in seisoentyd asook die vee op die plase. Elke plaas het 'n watermeter en sal maandeliks 'n rekening vanaf die Watergebruikersvereniging kry vir die hoeveelheid water gebruik.
Die afgelope dekade is meer as 70 onsuksesvolle boorgate deur die agt grondeienaars laat boor in 'n poging om die tekort aan drinkwater op te klaar, maar ongelukkig sonder enige sukses.
Dit is ook nie toevallig dat hulle nie water gekry het nie. Die geologie van die gebied is sodanig dat die waterhoudende Peninsula-formasie van die Tafelbergsandsteen by die Kobeeberg baie diep geleë is en dit dus baie diep boorgate sou benodig om tot in die waterhoudende formasies te boor. Die koste van so 'n boorgat sou waarskynlik gelykstaande wees aan die koste van die hele skema wat nou voltooi is en geen grondeienaar sal dit kan bekostig nie.
Drinkwater vir mens en dier is dus vir baie jare oor groot afstande en teen groot koste en ongerief aangery, in sommige gevalle tot 50 km ver. 'n Kenmerk van die droë gebiede van ons land is dat die mense daar barmhartige Samaritane is wat bereid is om ander te help en wat hulle het, met ander te deel. So kon die mense bo-op die berg water verkry vanuit boorgate onder die berg, wat hulle self moes aanry.
Die grondeienaars het die departement genader om hulp, waarna die tegniese aspekte van die die voorgestelde projek ondersoek en ontleed was. Twee oplossings was moontlik, 'n diep boorgat soos hierbo beskryf of 'n boorgat onder teen die voet van die berg en 'n pomplyn om die water aan die plase te voorsien.
Laasgenoemde opsie was die beste oplossing en 'n boorgat is geboor, maar wat ongelukkig nie veel water gelewer het nie.
n Barmhartige Samaritaan, in die persoon van Johan Smith, het die boorgat op sy plaas beskikbaar gestel vir die skema en die beplanning en ontwerp van die pompskema kon begin. Weens die rotsagtige gebied loop die pyplyn oor groot gedeeltes bo-op die grond, wat weer eiesoortige probleme opgelewer het. Eerstens is die ultra-violetstrale van die son skadelik vir die pype self en brande sal groot skade aan die pyplyn kan aanrig.
n Oplossing vir die son se aanval op die pype is gevind deur hoëdigtheid-poli-etileen (HDPE) pype te gebruik, maar die pyplyn sal deur die grondeienaars met klippe toegepak moet word om brandskade te voorkom. 'n Groot uitdaging was wie eienaarskap vir die skema en die bedryf en instandhouding daarvan sou aanvaar. Die Vanrhynsdorp Watergebruikersvereniging het hulle bereid verklaar om die funksies te verrig en die enigste probleem wat oorgebly het was om die fondse vir die projek te bekom, makliker gesê as gedaan.
Tenders is ingewin vir die voorsiening en instalering van die toerusting en pype en weens die ontoeganklikheid van die gebied, moeilike omstandighede en kort konstruksie-periode voor die einde van die finansiële jaar, is slegs drie tenders ontvang, wat heelwat hoër was as wat verwag is. Gelukkig kon die addisionele befondsing bekom word deur die herprioritisering van projekte en die kontrak toegeken word.
Toe het die probleme die kontrakteur s'n geword. Bestellings kon teen einde November 2006 geplaas word vir aflewering in Januarie 2007, wat geen maklike uitdaging is nie, die hele land kom mos tot stilstand in daardie tyd. Verskaffers het hul deel gedoen en in Januarie kom konstruksie 'n aanvang neem, met eiesoortige probleme. Temperature van meer as 50° Celsius het veroorsaak dat die masjien wat die pyplasse moes doen, nie wou werk nie.
Die kontrakteur, Bergland Landboudienste, het egter nie moed opgegee nie en die skema betyds voltooi en vandag kan almal die vrugte pluk van die baie werk wat oor die afgelope twee jaar ingesit is om 'n sukses van die projek te maak.
Die Koebeebergskema is 'n bewys van wat vermag kan word as daar samewerking is tussen alle rolspelers en elkeen bereid is om sy deel by te dra. In dié geval was dit die grondeienaar wat sy boorgat tot beskikking van die gemeenskap gestel het, die Watergebruikersvereniging wat eienaarskap asook aanspreeklikheid vir die bedryf en instandhouding van die skema ontvang het, die samewerking tussen die nasionale en provinsiale departemente van landbou en 'n kontrakteur wat bereid was om die ekstra myl te loop om die projek betyds onder moeilike omstandighede te voltooi.
n Reusebydrae tot die sukses van die projek is ook gelewer deur die plaaslike ingenieurstegnikus van die departement wat baie ure ingesit het en altyd beskikbaar was om hulp te verleen.
Navrae:
