U dominansie in die stapelvoedselarena wat gerugsteun word deur u diep gewortelde ankers in die mielie- en koringbedrywe, as meulenaars, asook verskeie ander vertakkinge in die voedselbedryf, maak van u by uitstek 'n sleutelspeler ten opsigte van voedselsekuriteit in Suid-Afrika. Om hierdie rede is dit vir my 'n besondere eer om 'n paar gedagtes met u te mag wissel vanuit 'n landbou-oogpunt.
Daar is sekere universele uitdagings waarmee die breë landbousektor sal moet deel indien ons wil verseker dat daar volgehoue groei binne die sektor is. Van hierdie uitdagings is:
b die vervaardiging van genoegsame veilige, gesonde sowel as omgewings- en sosiaal vriendelike landbouprodukte c die hantering van uitdagings deur kompetisie van sommige van ons mededingers as gevolg van subsidies en tariefplafonne en die beskerming van bestaande buitelandse markte d toenemende nasionale en internasionale sensitiwiteit oor die veiligheid van voedsel van dier- en plantoorsprong.
e konstruktiewe bydrae tot die ontwikkeling van Afrika deur die Nuwe Vennootskap vir die Ontwikkeling van Afrika NEPAD.
Dit blyk duidelik uit beide die President en die Premier van die Wes-Kaap se openingsredes van die onderskeie parlemente dat die geveg teen armoede nou die fase bereik het waar dienslewering op alle vlakke daarop ingestel moet wees om die ekonomie te laat groei sodat ons nuwe werksgeleenthede kan skep wat die katalisator moet wees om die grense van armoede te verskuif.
In hierdie verband het President Mbeki reeds verlede jaar in sy openingsrede van die parlement die landbousektor geïdentifiseer as een van die sektore wat 'n beduidende rol moet speel in die bereiking van die regering se doelwit om die ekonomie met 6% te laat groei deur middel van die Versnelde en Gedeelde Groeistrategie(AsgiSA). Binne die Departement van Landbou is daar verskeie programme wat deur hulle bydraes die klimaat help skep om die grondslag vir sukses te lê. Die sukses van AsgiSA gaan afhang van die mate waarin ons in staat is om innoverend te dink sodat ons die kettings kan breek wat groei belemmer.
Dit is dus duidelik dat die skepping van inkomste- en werkgeleenthede in Suid-Afrika 'n hoë prioriteit in ontwikkelingstrategieë geniet. Hoewel landbou as 'n sleutelsektor beskou word, word die volle rol van landbou in so 'n ontwikkelingstrategie egter selde goed verstaan.
Omdat voedsel die oorgrote gedeelte van marginale uitgawes uitmaak onder laer-inkomstegroepe, bied boerdery die fisiese goedere om toenemende werksverskaffing, hoër looninkomste en verbeterde lewenstandaarde te verseker.
Toenemende landbouproduksie genereer beide indiensneming en inkomstebinding dwarsdeur die ekonomie, wat weer op sy beurt aangewend kan word in werkverskaffingstrategiëe in industrieë en besighede.
Die verhouding tussen landbouproduksie, ekonomiese groei, werkverskaffing en sosiale harmonie is duidelik: Indien 'n toename in werksgeleenthede, veral van laer-inkomstegroepe, nie saamval met gepaardgaande stygings in landbouproduksie nie, sal daar 'n ontoereikende vraag na voedsel en reële landbouproduksie en die verwante intersektorale skakeleffekte en vermenigvuldigers wees. Dit is belangrik om skepping van werksgeleenthede in verband te bring met entrepreneur-ontwikkeling, omdat dit reeds bewys is dat so 'n benadering 'n betekenisvolle bydrae lewer tot die skep van werksgeleenthede en inkomste. Deurlopende landbou-ontwikkeling is 'n voorvereiste vir hierdie bydraes. U maatskappy het myns insiens 'n baie groot rol te vervul in hierdie verband.
Dit is belangrik om die uitdagings wat landbou in die gesig staar meer breedvoerig aan te spreek aangesien die sukses van die totale landbousektor gaan afhang hoe spoedig ons hierdie uitdagings aanpak. Hierdie uitdagings is deeglik deurtrap saam met ons sosiale vennote tydens die samestelling van die landbousektorplan vir groei en ontwikkeling in die Wes-Kaap en sluit onder andere die volgende in:
Grondhervorming en Swart Ekonomiese Bemagtiging is tans die prioriteit van die regering op landbougebied met die oog op maatskaplike, politieke en ekonomiese stabiliteit, veral omdat die pas van grondhervorming tot nou toe baie stadig was. In die Wes-Kaap is daar in die eerste 12 jaar slegs 83 000 hektaar grond aan voorheen benadeelde persone oorgedra. Met ons verskerpte poging het ons egter verlede jaar 125 000 hektaar oorgedra. Dit is egter nog ver van die 383 000 hektaar wat ons jaarliks tot 2014 sal moet oordra indien ons die 30% doelwit wil bereik. Ons moet bou op die suksesverhale en groter klem lê op mentorskap as ons daarin wil slaag om nuwe boere volhoubaar te vestig.
Die veranderende omstandighede in die vraag na landbouprodukte beteken dat die prys van produkte onbepaald onder druk gaan verkeer. Die veranderende wisselkoers maak dit onmoontlik vir produsente om behoorlik te beplan, terwyl die penetrasie van tradisionele markte deur ander mededingers daagliks 'n faktor is waarmee rekening gehou moet word.
Die landbousektor is een van die primêre bewakers van ons natuurlike hulpbronne en biodiversiteit. Behalwe die verantwoordelike gebruik van ons hulpbronne, word die veranderende klimaatsomstandighede 'n al hoe groterwordende faktor in die volhoubaarheid en produksievermoë van produsente. Die ontwikkeling van nuwe programme is dus van kardinale belang. Ek wil vandag tot u 'n versoek rig om saam met ons in vennootskap te gaan om ons navorsingsinisiatiewe verdere stukrag te gee.
Voorsitter, ek wil afsluit deur u weer eens te bedank vir die geleentheid om met u te verkeer. Ek wil u gelukwens met u maatskappy se uitstekende resultate en die hoop uitspreek dat u u doelwitte vir die nuwe jaar sal bereik. Ek wil u egter met een laaste versoek laat, naamlik om met ons in gesprek te tree sodat ons as vennote saam kan werk om die primêre doel om landbou te beskerm naamlik om bekostigbare kos op die tafel te sit van al ons mense.
Tel: 483 4930
