Toespraak deur Cobus Dowry, Minster van Landbou in die Wes-Kaap, by die gradeplegtigheid van Agriwetenskappe en Ingenieurswese, Universiteit van Stellenbosch
As ek vanoggend vir u sê dat dit werklik waar vir my 'n besondere eer en voorreg is om hier by u te wees, dan doen ek dit binne die konteks van transformasie en die geleenthede wat daar binne die nuwe Suid-Afrika vir ons almal behoort te wees. Ek sê dit omdat ek nooit kon dink dat ek eendag 'n gehoor van studente op Stellenbosch sou toespreek nadat ek in standerd sewe die skool moes verlaat en as 'n arbeider op 'n plaas hier in die Klapmuts-omgewing begin werk het nie. Ek staan vandag hier in nederigheid omdat ek deur die geloof wat ander mense in my gehad het, my Meestersgraad in Teologiese Etiek kon behaal. Vandag is ek bevoorreg om as Minister, die politieke funksionaris van landbou in die Wes-Kaap te wees.
Prof. Botman, ek dra graag die gelukwense vanaf landbou in die Wes-Kaap aan u oor met u aanwysing as nuwe rektor van hierdie Universiteit.
Laat my ook toe om u te bedank vir die wonderlike verstandhouding en gees van samewerking wat daar tussen hierdie Fakulteit en die Departement van Landbou in die Wes-Kaap, en in die besonder die Kaapse Instituut vir Landbou-opleiding, bestaan. Ons is trots op hierdie verbintenis en eweneens trots op die eerste 68 studente wat hier hulle B.Agric graad sal ontvang; 52 vandag en die ander 16 in Maart 2007.
Die uitdaging lê verder daarin dat ons as vennote ons programme so sal plooi dat ons te gelykertyd tred sal hou met die behoeftes en probleme van die bestaande industrieë deur middel van volgehoue doelgerigte voorpunt navorsing, terwyl ons die nodige ontwikkelingsgeleenthede skep vir jong groeiende toetreders soos fynbos, boegoe, rooibostee en essensiële olies.
U as afgestudeerde Landbou- en Ingenieurstudente het die rol om 'n betekenisvolle bydrae te lewer binne die waardeketting van landbou om sodoende volgehoue groei van die sektor en die ekonomie te verseker. Die vraag is waarvan moet u bewus wees. Ek noem graag vir u 'n paar.
a Grondhervorming en Swart Ekonomiese Bemagtiging in landbou AgriSEB.
b Die vervaardiging van veilige, gesonde sowel as omgewings- en sosiaal vriendelike landbouprodukte.
c Die toenemende nasionale en internasionale sensitiwiteit oor die veiligheid van voedsel van dier- en plantoorsprong plaas groot druk op die lewering van standaarde wat vereis word vir uitvoer sertifisering op hierdie produkte en vir verspreiding vir nasionale huishoudelike gebruik.
d As gevolg van die internasionale gemeenskap se sensitiwiteit oor die teenwoordigheid van chemikalieë en ander faktore wat gesien word as nadelig vir die omgewing en menslike gesondheid, word pro-aktiewe monitering van sulke stowwe n vereiste en sal ons moet verseker dat gesonde boerderypraktyke toepas word om rekords daar te stel wat bo verdenking is.
e Die hantering van uitdagings deur kompetisie van sommige van ons mededingers as gevolg van subsidies en tariefplafonne en die beskerming van bestaande buitelandse markte.
f Die skuif van kommoditeitsgedrewe produksie na die 21ste eeuse niche-produkte en -markte en die ontwikkeling en verowering van hierdie markte met landbouprodukte met 'n hoë voedingswaarde, met gepaardgaande waardetoevoeging deur middel van verwerking van die basiese produk.
g Konstruktiewe bydrae tot die ontwikkeling van Afrika deur die nuwe venootskap vir Afrika se ontwikkeling, NEPAD.
Ons sal op 'n effektiewe wyse tegnologiese ontwikkelings moet inisieer wat aan ons die nodige voorsprong in die volgende dekade sal voorsien ten einde volhoubare boerderypraktyke te verseker.
Klimaatsverandering vra van ons om proefnemings te doen met nuwe gewasse en variëteite en die aanwending van satelliettegnologie om weerstoestande en groeipatrone te bepaal. Ek is bewus daarvan dat u reeds ver gevorder is met u eie programme in hierdie verband. Ek wil die hoop uitspreek dat ons in die toekoms baie nou met mekaar sal kan saamwerk om hierdie program verder uit te bou.
Die vooruitgang van die landbousektor is direk gekoppel aan die mate waarin primêre produksie ooreenstem met die behoeftes van die ekonomie, sowel wat direkte verbruik van basiese kommoditeite as die vraag na landbouprodukte vir verwerking aan betref, asook grondstowwe in die vervaardigingsbedryf. Dit is daarom dat dit belangrik is dat die visie vir landbou binne die breër visie van die globale ekonomie gesien moet word, eerder as 'n beperkte fokus op basiese landbouproduksie.
Om hierdie rede is dit belangrik dat ons met mekaar in 'n vennootskap sal tree om saam met ons maatskaplike en besigheidsvennote daarna te streef dat landbou sy volledige bydrae kan maak tot ekonomiese stabiliteit en groei en ontwikkeling wat tot voordeel moet strek van almal in die land. Ek wil vandag aan u as graduandi 'n uitnodiging rig om van meet af aan deel te wees van hierdie vennootskap. Ons het u nodig.
Ek wil afsluit deur vir u te vra hoe gereed is u vir die opwindende uitdagings wat vir ons voorlê en hoe bereid is u om hierdie pad te stap. Ek wil u geluk wens met u akademiese prestasies en die positiewe resultate op u harde werk (miskien vir sommige minder hard as vir ander) en vir u alle seën toewens op u pad vorentoe.
Tel: 483 4930
