Toespraak deur Cobus Dowry, Minister van Landbou in die Wes-Kaap by die diplomaplegtigheid, Kaapse Instituut vir Landbou-opleiding
Aan die studente wil ek dankie sê dat u juis Elsenburg gekies het om u verder te bekwaam om in die toekoms 'n betekenisvolle bydrae tot landbou te lewer. Ook baie geluk aan u wat vandag hier u diplomas en toekennings ontvang. Ek hoop u gaan van tyd tot in u lewe terugkyk na die ervarings en wedervaringe wat u hier op Elsenburg gehad het, en dan vir uself sê dat dit "goed" was.
Ons by die Departement van Landbou in die Wes-Kaap en dan meer spesifiek, hier by die Kaapse Instituut vir Landbou-opleiding glo dat opleiding in al sy fasette 'n belangrike rol speel in ons strewe om die volhoubaarheid van landbou te verseker, deur gespesialiseerde landbou-opleiding en die ontwikkeling van persone wat by landbou betrokke is.
Die Departement van Landbou in die Wes-Kaap is daarop ingestel om gelyke toegang tot landbou te verseker en seker te maak dat elkeen wat by landbou betrokke is elke moontlike kans moet kry om hom of haar te bekwaam om die beste bydrae te maak. Die groot vennoot in hierdie proses is hierdie instelling waar u nou u kwalifikasie behaal het.
Die Departement van Landbou is baie ernstig oor ons bydrae om die Wes-Kaap 'n tuiste vir almal te maak. Soos wat die regering van ons verwag, sien ons dit as ons plig om aan al ons mense 'n geleentheid te bied om hulle self verder te bekwaam en ons wil veral die klem lê op mense uit die voorheen benadeelde gemeenskappe, sodat hulle ook hulle regmatige plek in die Landbousektor kan inneem. Ons doen dit omdat ons uit ons oortuiging glo dat ons met elke moontlike middel tot ons beskikking, daaraan moet werk om die ongeregtighede van die verlede uit te wis.
Net soos in elke ander beroep is dit waar dat 'n mens baie verder kom as jy kan bewys dat jy ook formele opleiding ondergaan het. Sonder gefokusde opleiding is dit nie moontlik nie. Ons glo dat pasgemaakte en behoefte-gedrewe opleiding steeds een van die belangrikste hoekstene tot die bevordering van volhoubare landboubeoefening is. Meer nog, dit is een van die kragtigste instrumente om gelyke toegang tot die landbou te verseker.
Landbou-opleiding beklee 'n belangrike plek in die diensleweringsketting aan begunstigdes van die regering se grondhervormingsprogram. Ons is trots op die Kaapse Instituut vir Landbou-opleiding wat, onder die vleuels van die Departement, die voorste verskaffer van kwaliteit landbou-opleiding in die provinsie is.
Hierdie instelling bestaan reeds vir meer as 100 jaar en het met die tye verander om tred te hou met die behoeftes van die landboubedryf.
Die filosofie van lewenslange leer en uitkomsgebaseerde onderrig vorm die hoeksteen van die opleiding wat in 'n verskeidendheid vorme aangebied word. Dit is dan ook om hierdie rede dat ons probeer om opleiding so na as moontlik aan die mense te bring deur middel van ons satelliet-opleidingsfasiliteite op George, Oudtshoorn, Clanwilliam en in die Overberg.
Opleidingskursusse aan hulpbronarm boere en plaaswerkers in 'n hele aantal vakgebiede soos diereproduksie, landbou-ingenieurswese, plantproduksie, finansiële bestuur, lewensvaardighede, wingerdbou en pomologie word in die vorm van kortkursusse op 'n gedesentraliseerde basis aangebied. Ons glo dat die kursusinhoud ook aangepas moet word volgens die behoeftes van kursusgangers, sodat elke kursusganger pasgemaakte opleiding ontvang.
Ons is ingestel daarop om landbou-opleiding aan studente uit voorheen benadeelde groepe van die samelewing beskikbaar te maak, maar die kostefaktor is nog altyd een van die groot struikelblokke. Daar is weer eens vanjaar miljoene rande deur middel van die nasionale finansiële hulpskema vir studente aan tersiêre instellings beskikbaar gestel. Dit is egter ontstellend om te weet dat studente wat aan landboukolleges studeer van hierdie hulpskema uitgesluit word. Die tragedie hiervan word eers besef as dit in aanmerking geneem word dat opleiding aan landboukolleges veral gemik is op die behoeftes van landelike gemeenskappe en die ekonomie van landelike gebiede. Ons by die Departement van Landbou in die Wes-Kaap stel al vir 'n tyd lank met groot sukses beurse aan studente beskikbaar en is voortdurend op soek na moontlike befondsingsmetodes om aan die behoefte te voorsien.
Daar is vir baie jare baie min gedoen vir die suksesvolle ontwikkeling en kapasiteitsbou van plaaswerkers. Ons het hierdie jaar op verskeie terreine geleenthede aan plaaswerkers gebied om selfs oorsee opleiding te ontvang.
As deel van ons ooreenkoms met die streeksregering van Boergondië het ons weer hierdie jaar 10 plaaswerkers gestuur om opleiding in die maak van wyn te ontvang. Ons het in terme van dieselfde ooreenkoms vyf aspirant kaasmakers na Beaune gestuur asook vyf persone wat opleiding in wynbediening ontvang het.
As deel van die vaardigheidsontwikkelingsprogram van die Instituut het ons in samewerking met die wynbedryf aan vyf persone in die wynbedryf geleentheid gebied om internasionale ondervinding op te doen met betrekking tot die bestuur en instandhouding van vate, met die klem op die invloed van hout (vate) op wynkwaliteit.
Ons is trots op ons internasionale verbintenis met die Universiteit van Wageningen wat ons in staat stel om deur middel van die NUFFIC Projek vyf MSc en twee PhD studente van Elsenburg vir verdere studie oorsee te stuur.
Ek kan nie nalaat om ook die studente wat daartoe bygedra het om Elsenburg se naam hoog te hou op die rugbyveld te bedank nie. Ons het hierdie jaar vir die 30ste keer as die kampioenspan van die veld gestap by die PANNAR Rugbyweek vir Landboukolleges. Nie alleen het ons die trofeë vir die wenner van die toernooi, die meeste drieë en die mees konstruktiewe rugby gespeel, verower nie, maar het ons ook nege spelers in die SA Landboukolleges span gehad. Die agterspeler van die toernooi kom ook uit ons span uit.
Ek wil graag my dank uitspreek teenoor elke personeellid wat daartoe bydra om van hierdie Instituut 'n uitstaande akademiese instelling te maak, wat reeds sy stempel afgedruk het binne die totale transformasie van die landbousektor in die Wes-Kaap. Dankie vir u visie en u toegewydheid om van landbou 'n ware tuiste vir almal te maak.
Weer eens geluk aan diegene wat vandag hier diplomas ontvang het. U moet trots wees op uself net soos wat ons trots is op u. Ek glo dat die opleiding wat u hier op Elsenburg voltooi het, die begin van 'n nuwe era vir u elkeen sal wees en dat die kennis wat u hier opgedoen het waarde sal toevoeg tot u eie volkome mens wees en dat u dit sal terugploeg om ons in staat te stel om landbou, veral in die Wes-Kaap, nog sterker te maak.
