Toespraak deur Cobus Dowry, Minister van Landbou in die Wes-Kaap tydens oorhandiging van verskeie bemagtigingsprojekte in die Hexvallei
Landbou in die Wes-Kaap was die afgelope tyd baie in die spervuur oor verhoudings en die beweerde onmenslike behandeling van plaaswerkers deur produsente, en gepaardgaande onverantwoordelike optrede deur mense en instansies wat aan hulle self die reg toe-eien om van landbou ''n politieke speelbal te maak. Ek moes die afgelope ses maande by herhaling vrae beantwoord en debatte voer in die parlement oor grondhervorming en afsettings en die lewensomstandighede van mense op plase. Dit laat noodwendig by jouself vrae ontstaan oor mense se werklike motiewe en of ons uiteindelik daarin gaan slaag om die verlede uit te wis.
En dan beleef jy dae soos vandag waar jy ervaar wat ons in hierdie land kan vermag en waartoe ons in staat is wanneer ons hande vat in opregte pogings om bemagtiging 'n werklikheid te maak en dit te laat slaag.
In die projekte wat ons vandag oorhandig het is daar 'n verskeidenheid van inisiatiewe en modelle wat aan elke projek sy eie unieke karakter verleen. Ek dink dit is gepas dat ek kortliks na elkeen verwys.
Hoogland
In 2003 het die eienaar, Pieter Naude van Denau Boerdery, die Denau Werkers Trust gestig wat bestaan uit 118 begunstigdes. In 2005 is 'n maatskappy gestig wat handel dryf as Hoogland Boerdery. Die maatskappy het die plaas Kleinstraat, geleë tussen De Doorns en Touwsrivier, by Denau Trust gekoop. Die twee trusts het elk 50% aandeel in die nuwe maatskappy. Daar is reeds 24 ha tafeldruiwe onder net gevestig en 'n verdere 14 ha is ook onder net ontwikkel. Die mikpunt is dat oor 4 jaar 'n totaal van 50 ha ontwikkel moet wees.
Die projek bestaan tans uit 8 ha tafeldruiwe van verskillende kultivars. Die eienaar is Osplaas Brd Edms Bpk en bestaan uit 36 aandeelhouers. Die eiendom sal sy water verkry uit die nuwe Osplaasdam aanvullingskema wat teen Junie 2007 voltooi sal wees. Intussen voorsien die Hexvallei Besproeiingsraad water aan die groep uit hul bestaande bronne. Gedurende 2005 is die eerste stokkies geplant en vanjaar is die plaas vergroot na 8 ha. 'n Verdere 4 ha is beskikbaar vir uitbreiding.
André Thops is die alleeneienaar van die plaas Olyfkloof wat hy in 2004 gekoop het (42 ha). Die plaas het lank braak gelê nadat 'n varkboerdery daar ten einde geloop het. André is reeds die afgelope vier jaar besig om olyfbome op groot skaal te kweek. Op Olyfkloof is hy tans besig met die vestiging van ses ha olyfbome en een ha Colombar. Makadamia- en pekanneutbome en jojoba-struike is ook reeds geplant. Volgende jaar gaan die kwekery vergroot word om ook laventel, roosmaryn, hoodia en boegoe te kweek.
Uitkoms Boerdery
Die Uitkoms boerdery is in 2006 aangekoop deur twee kommersiële boere, Boetie Kriel en Theuns Rabie, met die uitsluitlike doel om 'n 40% aandeel aan die Osplaas Brd beskikbaar te stel. Dit verseker ook onmiddellike toegang tot pakfasiliteite aan die Osplaas aandeelhouers. Daar sal uiteindelik 16 ha tafeldruiwe ontwikkel word waarvan twee ha reeds in 2006 aangeplant is.
Die projek bestaan uit 1.7 ha Colombar wyndruiwe. Die eienaar is die Sandrift Nuwe Boere BK en bestaan uit drie lede naamlik Andries Francies, Arrie de Bruin en Andrew Kidelo. Die eiendom sal sy water verkry uit die nuwe Osplaasdam aanvullingskema wat teen Junie 2007 voltooi sal wees. Intussen voorsien die Hexvallei Besproeiingsraad water aan die groep uit hul bestaande bronne. Die groep het gedurende 2006 hul eerste oes van 6.52 ton afgehaal.
Die projek is in 2005 begin met nege aandeelhouers wat bestaan uit die personeel van die De Doorns Wynkelder. 1.8 ha wyndruiwe (Colombar) is net langs die Wynkelder gevestig op nuwe onbewerkte grond. Die verwagting is dat die eerste oes in 2007 gelewer sal word.
Siyazama beteken "nuwe begin". Die projek is in Augustus 2006 aangepak deur agt persone met Frans Hugo as mentor en behoort voor die einde van die jaar gefinaliseer te word. Op Klipland (23.9 ha) word met ses kultivars uitvoerdruiwe geboer. Hulle beoog ook om later ses ha wyndruiwe op oop grond te vestig. Die ander plaas, La Serene, word van die Breedevallei Munisipaliteit gehuur. Daar gaan 5.6 ha medisinale plante en later 9.6 ha wyndruiwe gevestig word.
Amandelrivier
Die huidige eienaar, Francois Jourdan Familietrust, het die huidige besigheid geherstruktureer sodat die al die werknemers van Amandelrivier nou 'n 30% aandeel in die besigheid besit. Die transaksie is gefinaliseer via 'n leningsrekening vanaf die huidige eienaar. Effektiewe datum van implimentering is 1 Julie 2006.
Mnr De Villiers Graaff het die plaas De Hoop in 2005 in die Hexvallei gekoop om 'n sinvolle bemagtigingsprojek daar te stel vir die mense wat al jare lank in die Graaffs se diens staan. 'n 60% aandeel is aan die 213 aandeelhouers verkoop. Die aandeelhouers is die werknemers van die plase De Hoop, The Pines, en Naudeshof van mnr Graaff asook die plaas Zandhoek van mnr A Reyneke, sy vennoot op The Pines. Die plaas bestaan uit 35 ha tafeldruiwe met 23 ha oop grond wat vir verdere ontwikkeling bestem is vanaf 2007.Die projek is reeds in volle gang met `n direksie wat maandeliks vergader en sake bestuur. Aandeelhouers ontvang gereeld opleiding rondom die projek.
Ek wil u almal wat op een of ander manier betrokke is by enige van die projekte bedank vir u bydrae en toewyding om van die projekte 'n sukses te maak. Ek weet daar is van die produsente wat werklik diep gedelf het in hulle eie sakke om die projekte te finansier en nog verder gaan terwyl hulle wag vir die staat se bydrae.
Ek wil hê dat hierdie poging 'n aansporing vir produsente moet wees om nie te sit en wag nie. Ek hoor dikwels mense sê hulle is gereed om bemagtiging te laat plaasvind. Die vraag is hoe lank wil diesulkes gereed wees voordat hulle oorgaan tot die implementering van projekte. Hier is van hierdie projekte wat in 'n rekordtyd afgehandel is. Die positiewe is dat almal wat bemagtig is, werkers op plase in hierdie streek is.
Die regering is op die oomblik baie ernstig oor versnelde implementering aangesien ons ver agter is op ons doelwit.
Dit is dan ook om hierdie rede dat die nasionale Minister van Landbou en Grondsake verlede week vir twee en 'n half dae met LURe, hoofde van departemente op nasionale en provinsiale vlak, hoof uitvoerende beamptes van staatsondersteunde entiteite en ander senior bestuurders, vergader het om:
voorraadopname te doen met betrekking tot die vordering wat gemaak is met die implementering van programme.
uitdagings te identifiseer;
programme in lyn te bring en lewering te bespoedig.(Die woord is eintlik fast track.)
Daar is gesamentlik besin oor die magdom uitdagings wat voorlê en vanaf regeringskant het ons ons verbind aan Siyagijima, wat letterlik beteken om te hardloop.
In lyn met die gees van Siyagijima is verskeie areas vir vinnige implementering oor die volgende vyf maande tot aan die einde van die boekjaar, geprioritiseer, asook vir die daaropvolgende twee jaar. Dit sal die volgende areas insluit:
Die finalisering van alle stedelike restitusie eise teen Maart volgende jaar en die afhandeling van alle landelike eise teen 2008 soos deur die President aangekondig tydens die opening van die Parlement in Februarie vanjaar.
Versnelling van die implementering van die besluite wat tydens die Grondberaad geneem is, met gepaardgaande terugrapportering aan belanghebbendes oor die vordering wat gemaak is.
Finalisering van die Swart Ekonomiese Beamgtiging vir die landbou (Agri-SEB) handves teen die einde van hierdie jaar. Transformasie in die landbousektor en die bemagtiging van vroue, die stedelike sowel as die plattelands armes en spesifiek die jeug moet groot momentum kry.
Biobrandstof - indien dit korrek ontwikkel word - hou groot groeipotensiaal in vir die landbousektor en behoort ook opkomende boere te ondersteun. Die regering is reeds besig om met opkomende boere in hierdie verband te onderhandel. Ek is baie ernstig daaroor dat die Wes-Kaap ook sy regmatige aandeel ten opsigte van die ontwikkeling van die biobrandstof bedryf sal kry.
Versnelling van die Ruimtelike Beplanningsproses om effektief met die uitdagings van die gebruik van landbougrond vir ander tipe ontwikkelings te deel en die bespoediging van die proses van grondvoorsiening vir behuisingsdoeleindes. Die huidige vestigingstendense moet hersien word om sodoende heeltemal te breek met die verlede.
Die bestaande akteregistrasiemetodes sal moet hersien word sodat die proses meer vaartbelynd sal wees om onnodige vertragings uit te skakel wat 'n negatiewe impak op groei het en gevolglik die teikens van die versnelde en gedeelde groei-initiatief vir Suid-Afrika (AsgiSA) negatief kan beïnvloed.
Landbank sal sy rol ten opsigte van sy mandaat moet vervul en sal gevolglik sy operasionele aanslag moet verander en baie meer verbruikersvriendelik raak, veral ten opsigte van opkomende boere en Agri-SEB projekte.
Ek wil weer eens die hoop uitspreek dat hierdie pragtige poging in die Hexvallei, soos in die geval van die plaaswerkerkompetisie, 'n aansporing sal wees vir ander streke om dieselfde te doen sodat ons die doelwit van 30% van die grond vir bemagtiging, teen 2014 sal bereik.
