Vanmiddag word nog 'n hoofstuk geskryf in die proses om die ongeregtighede van die verlede uit te wis en aan mense wat vir geslagte bygedra het tot die opbou van die landbousektor in Suid-Afrika, 'n regmatige plek binne die sektor te gee.
Twaalf jaar gelede het die regering begin om planne in werking te stel wat gehoor moes gee en uitvoering moes bring aan die selfopgelegde taak om toe te sien dat die grond en rykdom verdeel sal word tussen die wat dit besit, diegene wie dit help bewerk het, die wie 'n behoefte het om grond te besit en te bewerk, maar nog nooit 'n geleentheid gehad het om dit te doen nie .
Ons het dit vir onsself ten doel gestel om vir eens en vir altyd toe te sien dat rasgebaseerde beperking op grondeienaarskap tot 'n einde sal kom deur die nodige middele en infrastruktuur te voorsien. Ons wil dit moontlik maak vir elke Suid-Afrikaner om die eienaar van sy of haar stukkie grond te word, hetsy om daarop te woon of om dit te bewerk in 'n poging om 'n bestaan daaruit te maak en ook in 'n poging om hongersnood en armoede te beveg.
Die vryheidsmanifes sê dat die staat die kleinboere sal voorsien van implemente, saad, trekkers en damme om die grond te bewaar en die werkers te ondersteun terwyl vryheid van beweging gewaarborg sal word.
Dit is vir ons belangrik dat ons 'n nuwe generasie boere moet vestig wat toegerus sal word om volhoubaar te boer in 'n poging om nog meer werksgeleenthede te skep en sodoende 'n positiewe bydrae te lewer tot die bestryding van armoede. Ons by die Departement van Landbou in die Wes-Kaap het ook sekere aanpassings gemaak om suksesvol hierdie uitdagings te deel. Ons fokus baie ernstig op die voorsiening en voorligting; ondersteuning en fasilitering van opleiding van boere, met spesiale aandag aan opkomende boere in die implementering van grondhervormingsprogramme en landelike ontwikkelingsprojekte.
Ons het die afgelope jaar geweldig vordering gemaak ten opsigte van die uitbreiding van vaardigheidsopleiding aan plaaswerkers en hulpbronarm boere uit die historiese benadeelde gemeenskappe. Op hierdie manier is die regering van die Wes-Kaap saam met u besig om op 'n doelgerigte manier die ongeregtighede van die verlede uit te wis.
Vir ons is "Waardigheid, Billikheid en Welvaart" die pilare waarop IKAPA ELIHLUMAYO staan, in ons strewe om 'n tuiste vir almal in die Wes-Kaap te skep. Dit is net onder die vaandel van die ANC wat ons werklik ernstig besig is om armoede te bestry, ongelykhede uit te wis en sodoende die kwaliteit van lewe van al die mense te verbeter.
Hierdie tuiste wat die regering wil skep vir almal, beteken ook dat ons projekte, soos hierdie waarby u betrokke is, in ons gemeenskappe wil vestig om u deel te laat hê aan ekonomiese welvaart wat ons in die provinsie wil skep. Dit beteken dat u wat by hierdie projek betrokke is, op 'n waardige wyse ondersteun moet word om u regmatige plek binne die landbousektor te kan inneem.
Hierdie projek is 'n sprekende voorbeeld van wat vermag kan word wanneer kommersiële boere en werkers mekaar se hande vat vir die bereiking van die doelwitte wat die regering gestel het vir bemagtiging in die landbousektor. Dit is projekte soos hierdie wat ons sal help om die grondhervormingsdoelwit van 30% teen 2014 te behaal.
Môrester Landgoed is 'n familie-onderneming van bykans 95 jaar oud. Môrester is al baie jare besig om die kwaliteit van lewe van sy werknemers te verbeter deur opleiding, verskaffing van fasiliteite met o.a. 'n kliniek, bewaarskool, sportgronde en gemeenskapsentrum asook bemagtiging in die werksplek. In 2002 het Môrester besluit dat hy graag die proses van bemagtiging wil uitbou deur eienaarskap te vestig en het toe saam met die permanente personeel 'n werkerstrust nl. Harmony Trust gestig.
Hoewel u aansoeke vir die grondherverdelingsprogram vir landbou-ontwikkeling (LRAD) vir fondse ingedien het, het u nie agteroor gesit en wag vir die hulp van die staat af nie. U het voortgegaan om intussen op klein skaal in vennootskap te boer met groente en beeste. Ek verstaan u het intussen 'n stewige Bankbalans opgebou. Harmony Trust het nou die 1 084-ha plaas Harmonie gekoop en vandag besit die 84 begunstigdes 100% van die grond met 'n plaas as betaalde bate ter waarde van R2.8milj, met 'n stewige bankbalans en beeste ter waarde van R200 000, wat u sowat R3.12miljoen sterk maak.
Die plaas word verbou deur "Harmony Farming" wat 'n 50/50 vennootskap is tussen Harmony Trust en Môrester Landgoed.
U vennootskap is 'n bevestiging van die suksesse wat behaal kan word wanneer mentorskap behoorlik geïmplementeer word. Dit bevestig ook my siening dat elke bemagtigingsprojek gekoppel moet wees aan 'n volledige mentorskapprogram.
Ek wil glo dat die Môrester Landgoed se betrokkenheid as mentor daartoe bydra dat Harmony reeds 'n sterk "brand" gevestig het met aartappels en uie op die munisipale markte oor die afgelope drie jaar.
Ek wil u almal bedank vir die pragtige bydrae om te toon dat grondhervorming en bemagtiging binne landbou suksesvol kan plaasvind. Baie geluk met u prestasie tot dusver en alle sukses met u planne vir die toekoms. Ek wil die hoop uitspreek dat u nog van krag tot krag sal gaan en as een van die blink sterre binne landbou sal skyn.
Tel: 483 4930
