Ek is ingelig dat die Nasionale Seereddingsinstituut van Suid-Afrika (NSRI) plaaswerkerkinders in die gebiede van Worcester, Mosselbaai, die Kaapse Metropool en Knysna, bewus wil maak van water en hulle wil oplei in die veilige benutting van waterbronne. Met ander woorde, hulle wil julle leer hoe om op te tree op plekke soos damme en riviere waar julle met water in aanraking kom..
In hierdie wonderlike sonnige land van ons waar ons graag in die water wil baljaar, is dit tragies dat verdrinking die tweede hoogste rede vir sterfte as gevolg van beserings is. Volgens die Mediese Navorsingsraad kom 61% van verdrinkings in die see, damme, mere en reservoirs voor
Dit is veral by voorheen benadeelde en plaaswerkergemeenskappe waar die grootste risiko's voorkom en veral onder die ouderdomsgroepe van een tot vier jaar en dan weer in die groep van nege tot 14. Alkohol speel ook 'n baie groot rol by verdrinkings in Suid-Afrika.
Daar is feitlik elke dag insidente van verdrinkings of amperse verdrinkings. Daar is tot 700 vrywilligers by Sea Rescue op bystand 24/7/365 om mense en bote te hulp te snel, wat in die moeilikheid raak.
Ons sien baie hoe die Vodacom-Netcare Seereddings helikopters gedurig rondvlieg en besig is om tussen die see en damme rond te vlieg om mense te red, veral gedurende die somer.
Baie Suid-Afrikaanse jongmense en kinders word aan wateraktiwiteite blootgestel sonder dat hulle weet van die potensiële gevare van water in die see, damme, riviere, mere en reservoirs.
Daar is baie kinders wat verdrink terwyl hulle afkoel of speel op plekke waar daar water voorkom, net omdat daar geen toesig of beheer is nie, of omdat hulle nie die reëls vir die veilige gebruik van water ken nie. Baie kinders van die platteland verdrink wanneer hulle by die see kom omdat hulle nie bekend is met die toestande van die see nie.
Hierdie NSRI Water Wise projek bestaan uit 'n reeks werkswinkels wat daarop gemik is om kinders en jongmense op te voed wat met verantwoordelikheid en kennis die waterbronne kan geniet. Die werkswinkels is bedoel om basiese vaardighede oor te dra waaroor alle watergebruikers moet beskik. Hetsy dit in die see of 'n dam of by die gebruik van n boot is, is daar verskeie vaardighede waaroor mense moet beskik, naamlik:
Kennis van veiligheidsmaatreëls in en naby water ten opsigte van getye seestrome, windrigtings en plaaslike omstandighede.
Wat om in 'n noodgeval te doen; wie om te kontak en aksies wat geneem moet word terwyl daar op hulp gewag word.
Aksies by die omslaan van 'n boot en die toerusting wat nodig is.
Praktiese CPR opleiding. Elke kind kry n mondstuk en word aangemoedig om mond tot mond asemhaling op die pop te oefen.
Die werwing van die volgende generasie reddingswerkers en die kweek van 'n kultuur van vrywillige betrokkenheid om iets terug te gee aan die gemeenskap.
Noue samewerking met paramedici. Die werkswinkel leer van die basiese noodhulp aan pasiënte en die belangrikheid van die eerste paar minute wat krities is vir die pasiënt.
Die doel is om aan 5 000 kinders praktiese ondervinding van CPR te gee tydens die Water Wise werkswinkel.
Water Wise moet maklik toeganklik wees in die platteland en die doel is om dit deeglik bekend te stel in die Wes-Kaap oor 'n vyf jaar periode sodat die blootstelling aan die beginsels van veiligheid en CPR so wyd as moontlik sal wees.
Ek wil dankie sê aan Water Wise wat 'n nie winsgewende organisasie is en 'n vertakking van die NSRI is wat hierdie wonderlik werk gaan doen om aan julle en baie ander kinders op die platteland die beginsels van veiligheid in en om die water gaan leer. Dankie dat u bereid is om ook op hierdie manier vir ons kinders 'n geleentheid te bied vir veilige watergebruik in die Tuiste vir almal.
Tel: 483 4930
