Toespraak deur Cobus Dowry, Minister van Landbou in die Wes-Kaap by die Provinsiale Plaaswerker van die Jaar
Naas die begrotingspos van Landbou elke jaar, is die provinsiale plaaswerker van die jaar toekenningsaand, vir my persoonlik, een van die hoogtepunte op die kalender van landbou in die Wes-Kaap. Hierdie kompetisie wat ses jaar gelede klein begin het, in een streek, en nou sy tweede jaar op provinsiale vlak beleef, is ook besig om sy vlerke wyer te sprei na ander provinsies in die land. Ek wil almal wat by die organisasie en die borgskappe van die kompetisie betrokke is, bedank vir u toewyding om van die kompetisie 'n sukses te maak. Dit is vir my 'n teken dat landbou en die baie produsente aan u as plaaswerkers wil sê dat ons weet julle maak 'n groot bydrae tot die sukses van landbou in die Wes-Kaap. Ons wil n boodskap aan u oordra dat ons wil hê dat u vir u 'n toekoms moet sien waar u ware vennote in die landbou is. As u in die oggend opstaan moet u met 'n lied in die hart gaan werk. Die boerdery moet aan u 'n geleentheid bied om u totale menswees te kan uitleef.
Dit is ook om hierdie rede dat ons selfs internasionale ooreenkomste aangaan om plaaswerkers oorsee te neem en op te lei as wynmakers en kaasmakers. Ons het reeds 32 wynmakers en agt kaasmakers in Frankryk laat oplei en stuur volgende maand vier persone na Frankryk om ondervinding in vatmakery en die instandhouding van vate, te gaan opdoen. Ons is trots op die prestasies wat van hierdie mense al behaal het met kampioen wyne en kase.
Daar is baie mense wat namens u as plaaswerkers wil praat en wil voorgee dat hulle u omstandighede wil verander. Die feit is dat baie van daardie mense self nog nooit 'n dag se werk op 'n plaas gedoen het nie. Hulle wil nou skielik vir ons kom sê hoe ons moet maak om u lewensomstandighede te verbeter, terwyl ons reeds op 'n gestruktureerde manier saam met die plaaswerkers van hierdie provinsie die probleme geïdentifiseer het en die plan daargestel het om dit aan te spreek. Die regering van die Wes-Kaap wil saam met u en die produsente en ander welmenende organisasies werk om u lewensomstandighede te verbeter.
Die seisoen van hoop waarvan President Mbeki vroeër vanjaar gepraat het moet nie net vir u 'n droom bly nie, dit moet aan u die geleenthede bied om u lewensomstandighede te verbeter. Om ware gestalte te gee aan hierdie seisoen van hoop sal daar egter nog baie aanpassings en veranderings moet kom om dit 'n beter plek vir ons almal te maak. Dit kan net gebeur as ons bereid is om 'n rekonstruksie en ontwikkeling van ons denke en ons optrede toe te laat. Oud President Mandela praat van 'n "RDP of the soul".
Ons het nodig dat u u kinders moet lief maak vir landbou, sodat hulle hulleself kan bekwaam vir die landbou deur formele opleiding. Soos wat ons wil hê dat u gebruik moet maak van die Kaapse Instituut vir Landbou-opleiding, wil ons ook hê dat plaaskinders hulle op Elsenburg moet kom toerus om hulle plek vol te staan binne landbou.
Die jong mense van vandag is nie soos ons nie. Daar word gesê dat die jeug van vandag in hul lewe tot vyf keer van beroep gaan verander. Die jongmense van vandag is leergierig, heeltyd opsoek na nuwe uitdagings. Ons moet vir hulle wys watter wonderlike uitdagings en loopbane daar in landbou is.
Daar word so maklik gedink dat as jy in 'n landbou-rigting studeer of werk dat jy die een gaan wees wat net die vrugte moet pluk of die persoon wat die trekker moet ry. Dit is belangrik en nodig dat daar persone is wat daardie werke kan doen. Dit is ook nodig dat daar persone is wat die verskillende kultivars van vrugte kan verduidelik, navorsing kan doen, die grond kan ontleed en sê hoe dit verwerk moet word, die vrugte kan bemark en so kan ek aangaan. Dus, is dit uiters belangrik dat ons jeug besef dat beroepe in landbou, net soos in baie ander industrieë, sekere vaardighede benodig. Baie beroepe in landbou is 'n wetenskap en dit gaan verder as net op die plaas werk. Daar moet veearste, landbouingenieurs en voorligters wees om die landbousektor en sy werknemers te kan ondersteun. Vir baie van u is dit nog nie te laat om gebruik te maak van die opleidingsgeleenthede wat deur die departement aangebied word nie.
Die Kaapse Instituut vir Landbou-opleiding op Elsenburg is verantwoordelik vir die opleiding vir loopbane in Agritoerisme, Diereproduksie, Pomologie (studie van vrugte), Voorligting, Groenteverbouing, Agronomie, Wynkunde en Wingerdbou.
Kennis is mag. Kennis stel jou in staat om jou horisonne te verbreed. U wat aan hierdie kompetisie deelgeneem het, het getoon dat u bepaalde kennis het oor u vakgebied en u het dit duidelik gemaak dat u nog verder wil leer. Dit hoort so. U moet ideale hê. kan nooit ophou om hoër op die leer van kennis te wil klim nie.
Aan die wenners wil ek sê: Baie geluk. U moet weet dat die druk nou groot is en dat die uitdagings nou voorlê. Aan elke deelnemer, of jy gewen het of nie, wil ek sê: noudat jy op die leer van prestasie begin klim het, is daar nie ophou nie. Elke keer as jy dink jy is bo sal jy agterkom die leer het weer langer geword. So as jy bo gekom het, hou aan met klim. Jou beste prestasie nou, het jou net in posissie geplaas om die volgende uitdaging te oorkom.
