Op 14 November 2003 is Landbou met sy volledige waardeketting geïdentifiseer as een van die sleutelsektore in die ontwikkeling van strategieë wat 'n bydrae moet maak in die ekonomiese groei in die Wes-Kaap. Een van die belangrikste vereistes was dat die vier sosiale vennote, nl. regering, besigheid, arbeid en burgerlike samelewing ook deel van die proses moes wees wat hierdeur die nodige erkenning verleen aan die belangrike rol wat elkeen van die vennote in die ekonomie van die Wes-Kaap speel.
Die feit dat die strategie nie minder nie as 90 aksieplanne bevat is 'n teken van die verskeidenheid van Landbou en Landboubesigheid en die uitdagings en potensiaal wat daar binne hierdie sektor opgesluit lê, beide om nuwe stukrag aan die ekonomie te verleen en die klimaat en meganismes te skep wat sal bydra tot die verbetering van die kwaliteit van lewe van ons mense.
In 'n poging om opkomende boere te vestig en die ongelykhede van die verlede uit te wis, is die programme van die Departement grootliks op die transformasie van die landbousektor as geheel gefokus en moet ons baie sterk klem plaas op die behoorlike vestiging van hierdie nuwe boere.
Die rol van kommersiële boere mag egter nooit in die proses onderskat word nie en daarom kan die belangrikheid van navorsing as ondersteuning vir kommersiële boere nooit oorbeklemtoon word nie. Ek glo dat dit die plig van die regering is om te sorg dat ons deur navorsing aan die voorpunt bly. Navorsing en die toepassing van resultate het nie net direkte invloed op die bedryf nie, maar die ontwikkeling van die waardeketting help om ook meer werksgeleenthede te skep.
Ek is opgewonde oor die program vir die ontwikkeling van vleisbeesweidingproduksiestelsels wat hier op Outeniqua van stapel gestuur is. Die verdere ontwikkeling van die program sal baie bydra om nog meer in die behoeftes van opkomende boere in die area aan te voorsien.
Vleisbeesweidingsproduksiestelsels is veral belangrik teen die agtergrond van die toenemende diefstal van skape, hoë kapitale investering van nuwe melkerye, afskaling van die groentebedryfstak en die lewensvatbaarheid van alternatiewe bedrywe in die Suid-Kaap.
Die ontwikkeling van nuwe produksiestelsels om die weidingsproduksiepotensiaal en weikapasiteit van die vleisbeesproduksie-eenheid te verhoog sonder dat addisionele grond benodig word, is dus van onskatbare waarde.
Ontledings deur die Analitiese Laboratorium vorm deel van 'n totale inligtingspakkie van die Program Tegnologie, Navorsing en Ontwikkeling, wat ook onder andere bemestingsadvies, besproeiingsadvies en patologiese en entomologiese dienste insluit.
Die analitiese laboratorium van die Departement ontleed meer as 30 000 grond-, plant- en watermonsters jaarliks en is 'n onontbeerlike diens aan boere, adviseurs en ander rolspelers. Omdat hierdie laboratorium ook 'n kritiese rol gaan speel in die strategie van die Departement om die nadelige effekte van klimaatsverandering op landbou in die Wes-Kaap te buffer, is daar vanjaar toerusting van nagenoeg R2 miljoen vervang om steeds op die voorpunt van die nuutste ontledingstegnologie te bly.
U sien dus dat hierdie program Navorsing en Ontwikkeling 'n baie belangrike rol speel binne die totale bydrae van Landbou tot die die groei en ontwikkeling van die provinsie. Ek wil afsluit deur die personeel van Outeniqua te bedank vir hulle toewyding, nie net aan landbou nie, maar ook aan die mense van hierdie streek. Ek wil verder die hoop uitspreek dat u almal baat sal vind by dit wat ons vandag hier vir u gaan aanbied, sodat u hier sal weggaan in die wete dat ons saam met u wil verseker dat landbou daarin sal slaag om sy primêre doel te dien, naamlik om kos op die tafel te sit in die tuiste vir almal in die Wes-Kaap.
Navrae:
Tel: 483 4930
