Ek het so bietjie gaan rondsoek na 'n paar aanhalings oor varke en op 'n hele paar gesegdes afgekom soos: "hy gooi sommer met die hele vark", of, "hy skree soos maer vark", of, "hy het nie al sy varkies op hok nie", of, "where the hogs are many, the wash is poor". Ek glo dat die interessantste een is 'n aanhaling van Winston Churchill toe hy gesê het: "Ek hou van varke. Honde kyk op na ons en katte kyk neer op ons, maar varke behandel ons soos gelykes". Wat hy presies daarmee bedoel het, is ek nie so seker van nie. Wat ek wel weet is dat hoewel die aanhalings hierbo nie die vleiendste stellings is nie, is daar niks wat by varkvleis kom wanneer dit op jou bord is nie. Of jy nou 'n Duitser of Chinees of Suid-Afrikaner is, daar is bitter min mense wat nie van varkvleis in een of ander vorm hou nie. Varkvleis is wêreldwyd oral ewe gewild.
U bedryf is 'n baie belangrike rolspeler in die landbousektor in die Wes-Kaap. Landbou is die hoof steunpilaar in die provinsie se ekonomie, nie net om kos op die tafel te sit nie, maar in die verskaffing van werk, binne die bedryf en die gepaardgaande waardeketting.
Die Departement van Landbou in die Wes-Kaap en ekself plaas nie net 'n baie hoë premie op 'n goeie verhouding met u bedryf nie, maar strewe daarna om sover moontlik 'n groot ondersteunende rol te speel ten einde u produksie op te stoot en ook om u te beskerm teen ongewenste siektes.
U is almal bewus van die krisisse wat ons die afgelope jaar beleef het, beide wat varkboere en die volstruisbedryf aanbetref. Die wyse waarop ons mekaar se hande kon vat, om uit een mond te praat om sodoende die regte besluit te kon neem wat tot voordeel van die bedryf is, behoort te dien as voorbeeld van wat vermag kan word as ons saamstaan om oplossings te vind vir die uitdagings wat ons elke dag in die gesig staar.
In 'n poging om opkomende boere te vestig en die ongelykhede van die verlede uit te wis, is die programme van die Departement grootliks op die transformasie van die landbousektor as geheel gefokus en plaas ons baie sterk klem op die behoorlike vestiging van nuwe boere.
Die rol van kommersiële boere mag egter nooit in die proses onderskat word nie en daarom kan die belangrikheid van navorsing as ondersteuning vir kommersiële boere nooit oorbeklemtoon word nie. Ek glo dat dit die plig van die Regering is om te sorg dat ons deur navorsing aan die voorpunt bly as ons ons markaandeel wil vergroot, ook binne u bepaalde bedryf. Navorsing en die toepassing van resultate het nie net direkte invloed op die bedryf nie, maar die ontwikkeling van die waardeketting help om ook meer werksgeleenthede te skep.
Ten slotte wil ek u bedank vir die baie belangrike rol wat u speel om toe te sien dat ons voldoen aan die internasionale standaarde deur middel van u doelwitte wat u vir uself gestel het en die dienste wat u lewer ten opsigte van opleiding, voedselsekuriteit, tegniese en aanverwante dienste. Die feit dat u organisasie op soveel forums, beide nasionaal en internasionaal verteenwoordig is, is aanduiding van die groot waarde wat u toevoeg tot die uitbou, nie net van landbou nie, maar die ekonomie as geheel. Ek hoop dat hierdie jaarvergadering ook vir u suksesvol sal afloop.
Tel: 021 483 4930
