Toespraak deur Cobus Dowry, Minister van Landbou in die Wes-Kaap by die Bio Brandstof Simposium
Ons het verlede Dinsdag 'n beraad gehou waartydens die landbousektor met my gepraat het oor die breë algemene posisie van landbou in die provinsie. Ons het ook indringend gekyk na die ekonomiese posisie van ons produsente en hulle bydrae tot die totale ekonomiese groei in die Wes-Kaap. Ek was gister in gesprek met die premier oor die beraad self en die pad vorentoe. Ek is van mening dat hierdie simposium vandag dus op 'n baie goeie tydstip plaasvind.
Verder het President Mbeki in sy openingsrede vanjaar die landbousektor geïdentifiseer as een van die sektore wat 'n beduidende rol moet speel in die bereiking van die regering se doelwit om die ekonomie met 6% te laat groei deur middel van die Versnelde Groei- en Ontwikkelingstrategie (AsgiSA). Ek glo dat die sukses van AsgiSA gaan afhang van die mate waarin ons in staat is om innoverend te dink sodat ons die kettings kan breek wat groei belemmer. Ek het in die landboubegroting vanjaar die volgende oor bio-brandstof gesê:
Wat is die geskiedenis hiervan?
Graan Suid-Afrika, by monde van mnr. Niekie Mouton het in die derde kwartaal van 2005 die Departement van Landbou: Wes-Kaap genader met 'n amptelike versoek om die lewensvatbaarheid van 'n bio-etanolbedryf in die Wes-Kaap te ondersoek.
n Model is deur ons landbou-ekonoom in samewerking met die Universiteit van Minnesota en die aanlegte ontwikkel. Die model stel ons in staat om die winsgewendheid van 'n etanolaanleg met mielies of koring as grondstof, wetenskaplik te ondersoek. Dit is 'n eerste vir Suid-Afrika.
Hoewel die Wes-Kaap provinsie nie 'n genoegsame hoeveelheid plantaardige olies soos kanola produseer om 'n grootskaalse bydrae tot energieverskaffing in die vorm van biodiesel te maak nie, bied die produksie van kleingrane soos koring, gars en veral korog 'n uitstekende geleentheid vir die vestiging van 'n etanolaanleg.
Die provinsie produseer die afgelope sewe jaar 'n gemiddelde surplus van 286 000 ton koring. Die koring word tans na ander bestemmings in Suid-Afrika uitgevoer. Dus sal die koringvoorraad wat vir menslike verbruik in die Wes-Kaap bestem is, nie deur die oprigting van 'n aanleg wat jaarliks 286 000 ton inneem, geraak word nie.
n Groot aantal van ons plaaslike bevolking (insluitende mans, vrouens, kinders en afgetredenes) is direk afhanklik van 'n bestaan uit hierdie streeksurplus koring. Die resultate van die gesamentlike Koringverslag van 2005 opgestel deur die Departement van Landbou: Wes-Kaap, Universiteit van Stellenbosch, Universiteit van Pretoria en die Universiteit van die Vrystaat, het duidelik onderstreep in watter benarde finansiële toestand hierdie bedryf verkeer.
Dié surplus koring is genoeg om jaarliks 102 miljoen liter etanol te produseer. Teen 'n insluitingskoers van ses persent etanol in petroleum behoort die koringbedryf in die verwagte vraag na etanol vir die provinsie te kan voorsien. Die Wes-Kaap verbruik nagenoeg 1 739 miljoen liter petroleum jaarliks. Hierdie syfer sluit die bydrae wat gars en veral korog tot die produksie van etanol kan maak, uit.
Die navorsingsresultate toon dat daar vir elke ton B3- en B4-graad koring wat aan die beoogde aanleg gelewer kan word, 'n direkte Randwaarde van R243 per ton toegevoeg word. Die aanleg toon 'n beraamde netto waarde van R69 miljoen in die eerste jaar. Hierdie syfer kan met R25 miljoen verhoog word, indien die aanleg etanol direk aan 'n petroleumaanleg lewer. Met ander woorde, indien dit nie nodig sou wees om 'n denaturant by die etanol te voeg voor lewering nie. Teen 'n eenmalige kapitaalbelegging van R302 miljoen realiseer die belegging 'n opbrengskoers van nagenoeg 30 %.
Die ontwikkeling van 'n etanolaanleg in die Wes-Kaap hou dus die volgende voordele in;
n Eenmalige kapitaalbelegging van R302 miljoen sal 'n bate vir die Wes-Kaap tot stand bring.
Nuwe werksgeleenthede sal in lyn met AsgiSA geskep word:
Tydens konstruksie sal 150 werkgeleenthede geskep word.
Om die aanleg te bedryf sal tot 50 nuwe gespesialiseerde werksgeleenthede geskep word.
Bykomend sal die oprigting van die aanleg tussen 560 en 750 nuwe werksgeleenthede in die ekonomie aanleiding gee.
In die koringbedryf sal 7 650 individue (insluitende mans, vrouens, kinders en afgetredenes) verseker wees van groter werkstabiliteit en 'n meer sorgvrye toekoms.
Die nasionale werkloosheidsyfer van 30 persent, wat sommige ontleders reken selfs hoër mag wees, kan dus effektief deur die ontwikkeling van 'n etanol aanleg verminder word.
Nuwe geleenthede vir Swart Ekonomiese Bemagtiging word ook geskep
Nuwe geleenthede vir entrepreneurs en opkomende produsente in die veevoer- en intensiewe veebedrywe (pluimvee, varke, vleisbeeste en suiwel) mag ontstaan. Die aanleg sal ongeveer 95 000 ton hoëproteïen-veevoer (gedroogde distileergraan met oplossings) produseer.
Met die groeiende mark vir koolsuurgas (CO2), veral vir toekomstige watersuiwering, sal die 95 000 ton koolsuurgas wat geproduseer gaan word, verwelkom word.
Vir die produksie van petroleum sal die plaaslike geproduseerde etanol Suid-Afrika minder afhanklik van ingevoerde ru-olie maak.
Wêreldwye kommer oor die verwarming van ons atmosfeer (veroorsaak deur die uitlaatgasse van voertuie wat koolstofdioksied bevat) word aangespreek deur meer etanol in petroleum in te sluit.
Internasionale ooreenkomste soos onder andere die Kyoto Protokol word in 'n toenemende mate nagekom. Etanol word nie, soos die ander oktaanverrykende bymiddels in petroleum, as 'n belangrike karsinogeen in uitlaatgasse beskou nie en sal ook nie grondwater besoedel nie.
Dit is belangrik om wyer te kyk as die tradisionele losstaande aanleg wat net etanol, voergraan en koolsuurgas (CO2) produseer. Ander tipe aanlegte moet ook ondersoek word. Dit is dus van belang om die bestaande investering in silo- en maalfasiliteite in ag te neem asook die produksie van produkte soos gluten, bio-gas, surplus elektrisiteit, organiese kunsmis en ammoniak.
Verdere landbou-ekonomiese navorsing sluit die evaluering van aanlegte in wat in hul eie energiebehoeftes (elektrisiteit) voorsien. Hierdie ondersoek word tans in samewerking met 'n Kanadese konsultasiemaatskappy gedoen. Verder heers daar onsekerheid oor die invloed wat 'n biodieselaanleg met ingevoerde sojabone as grondstof, op die lewensvatbaarheid van 'n etanolaanleg, asook die Wes-Kaap se ekonomie mag hê. Dit moet in die lig gesien word dat die neweprodukte van 'n etanol- en biodieselaanleg waarskynlik in die veevoermark sal meeding. Dit mag 'n onbekende impak op die kanola- en toerismebedryf in die Overbergstreek hê.
Ek glo dat die ontwikkelende etanolbedryf dus saam met die surplus kleingrane 'n uitstekende geleentheid vir groei en stabiliteit in die Wes-Kaap se ekonomie bied en is van mening dat ons die pas sal moet versnel in ons strewe om 'n voorloper in die bedryf te word.
Ek wil vir u baie sterkte toewens met die simposium en die hoop uitspreek dat u vandag daarin gaan slaag om heelwat stene te vorm wat as boublokke sal dien vir die toekoms.
Tel: 483 4930
