Opening van laboratoriumgeriewe vir Veeartsenydienste van die Wes-Kaap deur Cobus Dowry, Wes-Kaapse Minister van Landbou
Die uitbreek van siektes onder diere en die gepaardgaande gevolge kan katastrofiese afmetings aanneem binne die landbousektor. Nie alleen kan dit vir boere miljoene rande se verlies aan inkomste veroorsaak nie, maar kan dit ook die verlies van duisende werksgeleenthede tot gevolg hê.
Ons weet almal dat die voëlgriep wat in Julie 2004 op twee volstruisplase in die Oos-Kaap gevind is, gelei het tot 'n 15-maande lange verbod op die uitvoer van volstruisvleis. Hierdie verbod het 'n R700 miljoen verlies tot gevolg gehad. Sowat 4 000 werksgeleenthede is ook in die proses verloor.
Die Wes-Kaap is die hartland van die Suid-Afrikaanse volstruisbedryf met sowat 70% van die totale produksie wat hier plaasvind. Die Suid-Afrikaanse volstruisbedryf verskaf werk aan sowat 16 000 mense en verdien R1,2 miljard per jaar aan buitelandse valuta vir die land. Dit is 'n bedryf wat 90% uitvoergerig is.
Die afgelope jaar, 18 maande het ons met verskeie ander dreigende rampe te make gehad, in die vorm van Europese varkpes en Afrika perdesiekte.
Siektevoorkoming en -beheer is in 'n groot mate afhanklik van goeie voorligting aan alle boere, beide gevestigde en nuwe toetreders. Terselfdertyd is vinnige optrede wanneer daar tekens van 'n moontlike uitbraak van een of ander siekte is, van kardinale belang.
Uitvoere is egter ook afhanklik van gereelde inspeksies van uitvoerslagfasiliteite deur beamptes van Veeartsenydienste waartydens voorgeskrewe monsters by hierdie fasiliteite geneem word vir laboratoriummonitering van higiëne. Sonder hierdie aksies word vleis nie aanvaar in lande waarheen dit uitgevoer word nie. Die gereelde monitering vir belangrike siektes soos voorheen genoem dra ook by tot die aanvaarding van ons vleisprodukte in die buiteland. Om kompeterend te wees in die internasionale arena is dit noodsaaklik dat ons op die voorpunt sal bly.
Ons het hierdie jaar R25 673 miljoen vir ons Veeartsenydienste in ons begroting toegeken sodat ons hoofsaaklik vyf baie belangrike aspekte kan aanspreek, naamlik: dieresiektevoorkoming en -beheer, voortdurende monitering vir verskeie belangrike siektes, uitvoerfasilitering, veiligheid van vleisprodukte en laboratorium- diagnostiese dienste.
Goeie, goedtoegeruste laboratoriums speel 'n belangrike rol in die effektiwiteit van ons dienste aan ons kliënte en daarom het ons dan ook ons laboratoriumfasiliteite uitgebrei en is dit vir ons aangenaam om hierdie fasiliteite vandag amptelik te open.
Nuwe tegnologie het tot gevolg dat nuwe tegnieke gesien word as die norm vir sekere diagnostiese toetse. PKR (polimerase ketting reaksie) toetse word gebruik vir die identifikasie van veral virusse. Die tegniek is nie goedkoper ten opsigte van reagense en toetse nie, maar is vinnig, meer sensitief en meer spesifiek. Hierdie nuwe seksie van die laboratorium is ook bedoel om die aangrensende provinsies te bedien as deel van die drie-provinsie samewerking. Omdat die laboratoriums wat die tegniek uitvoer beperk is, word daar tans dikwels vertragings ondervind met die verkryging van resultate. Weens die delikate aard van die prosedures is dit nodig om baie spesifieke beheer te verkry oor die toegang tot die verskillende vertrekke en hiervoor is daar 'n rekenaarbeheerde stelsel in plek geplaas. Daar sal begin word met toetse vir voëlgriepvirus en daarna vir Newcastle-siekte- en Afrika perdesiektevirusse. Hierdie seksie is reeds volledig toegerus met apparaat.
Weens die vereistes van die Europese Unie (EU) vir vleis en ook om die veiligheid van dierlike produkte vir interne gebruik te verseker is dit nodig om vir residue van middels en toksiese stowwe te toets. Tans word hierdie toetse by een of twee laboratoriums gedoen en duur dit tot 12 maande voordat resultate beskikbaar word. 'n Voorlegging is reeds na die EU-verteenwoordiger om fondse te beding vir die aankoop van toerusting. Die laboratoriumruimte is nou geskep om sulke toerusting te huisves. Hierdie is weer eens 'n aksie wat deel uitmaak van die samewerking tussen die provinsies.
Vir beide PKR-werk en residu bepalings word water suiwering van 'n besondere mate benodig. Ook hiervoor is ruimte beskikbaar en is die toerusting reeds in plek. In dieselfde vertrek word toerusting vir die vriesdroog van serum en isolate gehuisves.
Monsters waarop toetse uitgevoer word, moet behou word vir 'n periode sodat dit weer kan benut word indien hertoetsing of alternatiewe toetse benodig word. Die lengte van die periode hang af van die tipe monster en die toetse wat daarop uitgevoer word. Die berging van sulke monsters vind oral in die laboratorium plaas en yskaste en vrieskaste neem spasie in wat vir ander doeleindes aangewend kan word. Derhalwe is daar 'n inloop-yskas en inloop-vrieskas in die uitbreiding ingebou vir die kort-- en mediumtermyn berging van monsters. Hierdie kan ook beskou word as mediumtermyn argiewe vir monsters.
Ons het reeds goeie vordering gemaak met die dokumentasie wat nodig sal wees vir akkreditasie van verskeie toetse. Dit is egter nodig dat die beheer hiervan gesentraliseer word met beamptes wat spesifiek hierdie saak as hul verantwoordelikheid het en hiervoor is daar nou 'n "kwaliteitkantoor" beskikbaar gemaak sodat die werk in die regte omgewing gedoen kan word.
Ek is oortuig daarvan dat hierdie verbeterings en uitbreidings wat aangebring is, ons in staat sal stel om nog beter dienste aan ons kliënte te lewer. Dit sal ons verder op die voorpunt plaas in die voorkoming en beheer van die virusse en siektes wat toenemend voorkom en 'n bedreiging inhou, nie net vir die landbousektor nie, maar ook vir die verbruikers, plaaslik sowel as internasionaal.
Ek wil aan u vreugdevolle en vrugbare ure agter u mikroskope en tussen u serummonsters toewens en die vertroue uitspreek dat u sal voortgaan om u dienste wyer as die Wes-Kaap te lewer in belang van die totale landbousektor.
Navrae:
Tel: 483 4930
